Die Openbaring aan Johannes – Die Ryk van 1,000 jaar (20:4-6) – Francois Malan

Die duisend jaar dui die volle tydperk aan van Christus se huidige geestelike heerskappy in die lewe van die gelowiges wat nog op aarde is en van dié wat gesterf het en reeds in die hemel by Hom is (vgl. 2:26 se mag oor die nasies; 3:21 saam met Christus op sy troon; en 2:10,11 se oorwinnarskrans).

Die drie standpunte oor die 1,000 jaar is ook van toepassing op die gelowiges wat saam met Christus regeer vir 1,000 jaar (20:4). Millenialiste vertolkdit letterlik, maar Openbaring gebruik getalle en beelde sinnebeelding.

Pre-millenialiste glo Christus sal terugkeer na Jerusalem en Israel as sy volk en groot getalle gelowiges uit die nie-Joodse volke by hulle aansluit. Gelowiges sal uit die dood opstaan en dié wat nog lewe sal verander word om 1,000 jaar saam met Hom op aarde te regeer. Vrede en regverdigheid sal dan op die aarde heers. Die antichris en sy helpers word verslaan. Na die 1,000 jaar sal die ongelowiges wat gesterf het opgewek word vir die finale oordeel. Gelowiges word deel van die nuwe hemel en die nuwe aarde, maar ongelowiges gaan die ewige straf in.

Die dispensialiste verwag dat Christus twee maal sal kom, sewe jaar na mekaar. Die gelowiges sal saam met Christus in die hemel regeer. Na sewe jaar kom Chrstus saam met sy volgelinge terug om te oordeel; dié wat deur die verdrukking van die sewe jaar tot bekering gekom het, word aangeneem, en dan begin die duisendjarige vrederyk op die aarde, terwyl die duiwel gebind is..

Post-millenialiste interpreteer die 1,000 jarige ryk as ‘n aardse koninkryk wat deur Christus uit die hemel regeer word, en sy volgelinge in vrede regeer op aarde deur die verkondiging van die evangelie, en deur onderrig en dissiplinering van die nasies, terwyl die Satan gebind is. Die latere vorm van pre-millenialisme verwag dat die mens self die vrederyk moet bewerk deur ontwikkeling en ewolusie om die mense te wen vir Christus. Die huidige tyd sal ontwikkel tot die nuwe tyd van vrede.

A-millenialiste sien die 1,000 jaar as simbolies vir die volle tydperk van die nuwe verbond van Jesus se menswording tot sy wederkoms; of as ‘n simbool vir die tyd wat Jesus op aarde was van sy geboorte tot sy sterwe aan die kruis waarin Hy die Satan gebind het met sy optrede deur die duiwel te weerstaan, sondaars te genees, siekes te genees as tekens van sy verlossing van die mens, en aan die kruis te sterwe vir die sonde van die wêreld .

20:4-10 word aangebied as een visioen (20:4 begin met ‘En ek het gesien;’ gevolg deur 20:11 ‘En ek het gesien;’).

20:4 God gee aan dié wat op die trone sit die mag om te regeer – aan alle getroue gelowiges wat nog op aarde lewe en dié wat reeds gesterf het, almal sonder die merk van die dier (13:16), die ‘144,000’ met die Naam van die Lam en die Vader op hulle voorkoppe/in hulle denke (14:1). Deur hulle verbondenheid aan Christus het hulle almal lewend geword om vir God te lewe en saam met Christus oor verleiding en sonde te regeer vir die volle tydperk (‘1000-jaar’) van Christus se opstanding tot sy wederkoms.

20:5a Terloops word gemeld dat die ander wat nie deur geloof aan Christus verbind is nie, nie lewend geword het nie totdat die tussentyd van Christus se opstanding tot sy wederkoms (‘1,000-jaar’) voltooi is nie (vgl. ook Luk. 16:23-23). Vir hulle wag die tweede dood van 20:14-15.

20:5b-6 Almal wat egter deur geloof aan die opgestane Christus verbonde is, het deur sy opstanding uit die dood deel aan die eerste opstanding (vgl. Romeine 6:3-11). Hulle is deur God geseën as sy kinders vir wie Hy sorg, en is daarom heilig deur saam met Jesus aan God toegewy te lewe. Oor hulle het die tweede dood van 20:14-15 nie mag nie. Met priesterlike bewoëndheid regeer hulle in liefde saam met Christus op aarde en in die hemel vir die volle tydperk (‘1,000-jaar’) van sy opstanding tot sy wederkoms.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die finale oorwinning oor die Satan en die finale oordeel (20:1-15) – Francois Malan

Hoofstuk 20 sit God se regstelling voort van die onreg in die wêreld, wat sedert hoofstuk 14 aan die orde gestel is.

20:1-3 Die Satan gebind

Johannes se wêreldbeeld het drie afdelings gehad: hemel-aarde-onderaardse dieptes. So word die Satan se afdaling beskryf: uit die hemel na die aarde (voor die skepping van die mens is hy al met ‘n derde van die engele uit die hemel uitgeskop weens hulle opstand teen God se alleenheerskappy (12:4), en met Christus se sterwe aan die kruis is die hemel vir hom en sy aanklagte teen die gelowiges toegesluit omdat Christus vir die sonde van die wêreld gesterf het (12:9). Hier in 20:3 word hy van die aarde af uitgegooi in die bodemlose diepte (vgl. 2 Petr 2:5), die woonplek van die bose geeste en demone wat daar gevange gehou word. Sy uitdrywing uit die hemel en die aarde skets die drama van sy totale neerlaag. Hy word uit elke gebied uitgeskop en aan die einde gegooi in die ewige strafpoel van vuur, wat God vir hom en sy engele gereedgemaak het (20:10; vgl. Mt 25:41).

Die engel het die sleutel van die bodemlose diepte (Die Griekse a-bussos sonder diepte wat gemeet kan word = Engelse ‘abyss’). Die sleutel van die bodemlose diepte wat die engel dra is die simbool van sy gesag ook oor die bodemlose diepte. Sy krag word geteken met die werkwoorde: hy gryp (arresteer) die Satan, bind hom vir 1,000 jaar met die ketting, gooi hom in die bodemlose diepte, sluit en verseël dit. Die 1,000 (kubus van 10x10x10) simboliseer die totale en volledige beheer oor die Satan (vgl. 144,000 vir totale getal lede van God se volk). Dit staan teenoor die regering van die gelowiges met Christus vir 1,000 jaar (20:4-7).

Daar is baie uiteenlopende verklarings vir die 1,000 jaar. Die verklarings kan hoofsaaklik verdeel word in drie groepe – die woord ‘millennium’ kom van Latyn mille vir 1,000 en annus jaar; ‘giliasme’ kom van die Griekse chilioi vir duisend – Giliaste verklaar die gedeelte letterlik, en put uit die apokriewe geskrifte vir hulle beskywings van die eindgebeure, terwyl Openbaring deurgaans beelde gebruik, veral uit die Ou Testament, om geestelike waarhede te probeer weergee, soos van Bo vanuit die hemel, gesien.

1 post-millennialisme ( post=ná-duisend jaar) dink dat God die kerk geleidelik tot herlewing lei, deur die verkondiging van die evangelie en ‘n wêreldwye uitbreiding deur evangelisasie tot die 1,000 jaar van vrede en geregtigheid aanbreek, waarin God sal regeer en die Satan gebind sal wees. Aan die einde van die 1,000 jaar word die Satan losgelaat, Christus keer terug, oorwin die Satan, oordeel oor alle mense, en die gelowiges word deel van die nuwe hemel en nuwe aarde.

2 pre-millenialisme (pre=vóór-duisend jaar) glo dat die samelewing en gedrag van die mensdom geleidelik agteruitgaan onder ‘n bose regering van die eindtyd, met groot verdrukking en vervolging van gelowiges. Ná die verdrukking kom Christus. Daar is hoofsaaklik weer drie takke van die pre-millenialisme:

Dispensasionalisme of bedelingspremillenialisme genoem: voor die 7 jaar verdrukking word die gelowiges deur Christus weggeraap en Christus kom hulle in die lug ontmoet (die eerste opstanding). Na die sewe jaar se heerskappy van die antichris, kom Christus, verslaan die antichritelike magte by Armageddon om vir 1,000 jaar op aarde te regeer oor Israel waarby alle ander gelowiges ingeskakel word. Na 1,000 jaar vaar Christus na die hemel met sy gelowiges. Die Satan word ‘n kort tydjie losgelaat om die wêreld te teister. Daarna kom Christus vir die tweede maal weer vir die tweede opstanding en die finale oordeel.

‘n Tweede groep (voor-die-toorn/midde-in-die-verdrukking) sien die wegraping na drie en ‘n half jaar se verdrukking (van Openb 11:2-3) voordat God se oordeel oor die volke uitgestort word.

Die derde groep (historiese/na-verdrukking) meen die wegraping vind plaas na die 7 jaar se verdrukking, die gelowiges ontmoet Christus in die lug en kom saam met Hom om deel te wees van sy 1000-jarige vrederyk op aarde, terwyl die satan vir die 1,000 jaar gebind is. Ná die 1,000 jaar se vrederyk word Satan losgelaat, hy voer oorlog teen God, word verslaan en in die vuurpoel gegooi. Ongelowige gestorwenes word opgewek vir die oordeel, en gelowiges word deel van die nuwe hemel en nuwe aarde.

3 a-millennialisme (a=sonder ‘n letterlike 1,000jaar). Soos alle getalle en beelde in Openbaring simbole is vir ‘n geestelike werklikheid, is die duisend jaar ‘n simbool vir ‘n afgeronde tyd (vgl. bv. Openb 7:4 se 144,000 wat al die gelowiges uit die Ou Testament en die Nuwe Testament simboliseer), Vir die hele tyd, ván Christus se eerste koms tót by sy wederkoms, sal gelowiges en goddeloses langs mekaar lewe (vgl. Mt 13:30). Volgens Mt 12:28-29 dryf Christus die demone uit deur die Gees van God en bind ‘die sterk man,’ die owerste van hierdie wêreld’ om hom van sy volgelinge te beroof. Hy kan nie meer die nasies op ‘n dwaalspoor lei nie, want ná Jesus se opstanding het God aan Hom alle mag gegee in die hemel en op die aarde, en Hy stuur sy volgelinge uit om dissipels te maak van al die nasies; en Hy is met hulle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (Mt 28:18-20). Die ‘aanklaer,’ die Satan, is gebind – hy kan die gelowiges nie meer voor God aankla nie, want Christus het hulle sondeskuld op Hom geneem. Die binding van Satan word dan ook gesien as God se beskerming van die gelowiges teen die verleidings van die Satan (vgl. Joh 10:28-29).

Vir die kort tydjie wat die Duiwel losgelaat word, vgl. by die verklarring van Openb. 20:7. Sommige a-millenialiste sien die 1,000 jaar van Satan se binding as die volmaakte tyd toe Jesus op aarde was en die Satan gebind het met sy uitdrywings, en dat ons ná Jesus se hemelvaart in die kort tydjie lewe waarin die Satan nou losgelaat is.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die groot maaltyd van God (19:17-21) – Francois Malan

‘n Nuwe visioen begin met die roofvoëls en eindig met ‘n makabere toneel wat met ‘n kilheid omweef is (19:17, 21).

19:17 ‘n Engel wat in die son staan dat almal hom kan sien, het met ‘n kragtige stem uitgeroep dat almal hom kan hoor. Hy roep al die voëls in die lug op tot die groot feesmaal van God. Dit is ‘n grusame parodie waar die ‘gaste’ op die spyskaart is. Dit is die teenoorgestelde van die ander parodië in die boek: die draak wat God se mag en heerskappy namaak, die dier uit die see wat Christus na-aap, en die dier uit die aarde wat die Heilige Gees se werking in die kerk se profetiese getuienis met ‘n vals getuienis vervang. Die prostituut Babel is die teenpool van die bruid van die Lam, en Babilon van die Nuwe Jerusalem. So is hierdie groot feesmaal van God ‘n karikatuur van die bruilofsfees van die Lam. Soos die bose die goeie probeer nekomdraai, word die bose hier omgekeerd die slagoffer.

19:18 Die gastelys van hierdie banket sluit alle lae van die samelewing in, geringes en magtiges, vrymense en slawe (sosiale groepe), konings (maghebbers), soldate en hulle perde (militêre groepe), die vleis van hulle almal word ‘n feesmaal vir die voëls. Die woord ‘vleis’ word vyfmaal genoem in vers 18.

19:19 Die dier en sy volgelinge trek op vir ‘n oorlog teen die Ruiter op die witperd en sy volgelinge (vgl. Ps 2:2). Maar geen veldslag word beskryf nie, want die veldslag is reeds aan die kruis gelewer soos die bloed op die Ruiter en sy klere getuig – ‘Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God die Almagtige trap’ (19:15; vgl. Jes 63:2-3). Sy teenwoordigheid as leier van die leërs van die hemel bewys sy opstanding uit die dood. Johannes gebruik beelde uit die Ou-Testamentiese oorlogstaal om die finale oorwinning van God en die Lam te beskryf (vgl. Jes 31:8 sy swaard is nie die swaard van ‘n mens nie; Eseg 38:21-22 Gog se manskappe sal mekaar met die swaard aanval. Ek sal hom tref met pes en dood, wolkbreuke, hael en brandende swael (vgl. Gog in Openb 20:8).

19:20 Die regverdige Regter sit alles weer op hulle regte plek deur die dier uit die see en die dier uit die aarde wat die mensdom mislei het, te vang en in die vuurpoel met brandende swawel te gooi, wat ook beskryf word as die tweede dood (20:14; 21:18). Die dier uit die see word net genoem. Die dier uit die aarde word beskryf met drie van sy kenmerke: (i) vals profeet (soos in 16:13); (ii) hy doen wondertekens voor die aangesig/op gesag van die dier uit die see; (iii) hy mislei dié wat die merk van die dier (gewilliglik) ontvang het – hulle is aktief aandadig; betower deur die wondertekens, wil hulle die merk ontvang (in 13:16 is hulle verplig om die merk te laat aanbring). Die wat die merk ontvang het, aanbid die dier se beeld.

19:21Die res van die mense verwys na die konings en hulle leërs (v19). Hulle word verslaan deur die woord van God, die swaard uit sy mond (13,21). Teenoor Jesus as die vernietigende Woord van God staan die getuienis oor Jesus se woorde en lewe en dood en opstanding, wat die Gees van die profesie is, wat deur die gelowiges gehuldig word (19:10). Vir hulle is Hy die Woord van God wat mens geword het om God aan ons te kom openbaar. Openb 1:16 en 2:12 sê daar kom ‘n swaard met twee snykante uit sy mond; Hebr 4:12-13 sê die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes…Dit is Hy voor wie ons ons moet verantwoord.

Al die voëls het hulle dik gevreet aan die vleis van die lyke van die konings en hulle leërs (vgl. Eseg 39:17-20). Deur die eeue het die lyke van die soldate op die slagvelde gelê, soos die volke van die aarde mekaar uitroei. Volgens 20:13-14 word al die dooies opgewek; elkeen word volgens sy dade beoordeel, en ongelowiges word, netsoos die duiwel, in die ewige vuurpoel, by die twee diere uit die see en die aarde, gegooi (20:10).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die Ruiter op die wit perd (19:11-16) – Francois Malan

19:11-16 Johannes sien die hemel geopen, en nie slegs ‘n oop deur in die hemel, soos in 4:1 nie. Die hemel is oopgemaak vir die wit perd wat die leërs van die hemel uitlei. Die ruiter op die witperd is bekend vir sy getrouheid en waarheid, en dat Hy met regverdigheid oordeel en oorlog maak. Dit is die derde groot gestalte van Christus in Openbaring (1:13-20: Iemand soos die Seun van ‘n mens = ‘n menseseun, met ‘n menslike gestalte. 5:1-14 ‘n Lam wat geslag is maar wat en staan). Die soldate-gestalte op die witperd is ryk, misterieus en kompleks.

Johannes sien eers die perd dan die een wat daarop sit (soos hy eers die troon gesien het en dan die een wat daarop sit, 4:2). Die wit perd is simbool van oorwinning (teenoor die bose ruiter wat verwoes, op ‘n wit perd sit, in 6:1-2). Hierdie ruiter oorwin met ‘n swaard wat uit sy mond kom en ‘n kleed wat bevlek is met sy eie bloed. (19;13,15). Sy kleed is met bloed bevlek nog voor die geveg begin, en sy oorwinning is nie op die tradisionele manier van doodmaak met die swaard nie, maar deur die getuienis van die Lam wat geslag is uit liefde vir die wêreld.

In 3:14 was Hy die ‘getroue en ware getuie’; hier die ‘getroue en ware’ regter en krygsman, wat ‘n regverdige oorlog voer; teenoor die dier en sy bondgenote wat ‘n onregverdige oorlog met geweld voer.

Die ruiter se , wat die venster na sy innerlike self is, is soos ‘n vlammende vuur, soos die Seun van die mens beskryf is in 1:14; 2:18. Daarmee kan Hy dwarsdeur die valshede en leuens van mense kyk en die waarheid aan die lig bring – met regverdigheid oordeel. Hy voer juis oorlog teen die valshede, misleidings en leuens van die dier en sy geselskap, wat die waarheid van God se goeie skepping verwring. Die deurdringendheid van sy oë word in 5:6 beskryf as die Lam se sewe oë – die sewe Geeste van God, nl. die Heilige Gees se veelvuldige en omvattende werking. Waar die sewe oë van die Lam ‘n aanduiding is dat Hy alles kan sien, is die oë soos ‘n vlammende vuur Christus se vermoë om deur die pretensies en valshede van hierdie wêreld te sien.

Baie koninklike krone op sy kop is simbole van sy mag. In die Nuwe Testament word net drie maal na ‘n koninklike kroon (diadema) verwys, al drie in Openbaring (12:3van die draak se sewe krone; 13:1 van die dier uit die see se 10 krone; 19:12 van Christus se baie krone, wat die draak en die dier se pertensie van wêreldregering troef). Die ander dra ‘n stefanos, ‘n oorwinnaarskroon van lourier gevleg: die heiliges (2:10;3:11), die ouderlinge (4:4,10), die ruiter van 6:2, die bose sprinkane (9:7), die vrou van 12:1, en in 14:14 die Seun van die mens.

Christus het ook ‘n misterieuse Naam, wat slegs Hy ken (v12; vgl 2:17). In dié gedeelte word vier van sy karaktertrekke beskryf: ‘getrou en waar’ (v11; vgl. 1:5 en 3:7), met ‘n geheime naam (v12), ‘Die Woord van God’ (v13; Jn 1:1) en op sy heup, waar ‘n soldaat se swaard gewoonlik hang, en op sy kleed ‘Koning van die konings en Heerser van die heersers’ om sy wêreldwye heerskappy aan te dui (v16; soos die letterlike Deutr 10:17; Mt 28:18). Slegs Christus ken die misterie van sy wese, wat die menslike verstand te bowe gaan, maar waarvan Hy iets aan ons openbaar met dié name.

Die leërs uit die oop hemel volg Hom ook op wit perde (v14) in sy aanslag om alles op hulle regte plek terug te sit soos God dit bedoel het. Die ruiters is almal geklee soos die bruid, Christus se volgelinge (19:8). Hulle is waarskynlik die getroue gelowiges met wit rein linne klere wat gewas en gebleik is in die bloed van die Lam (7:13-14) om die Lam te volg waar Hy ook al gaan (19:14; 14:4). Hulle is egter nie vegtende soldate nie, maar oorwinnaars, want die stryd is klaar gewen deur die regverdige Regter-Soldaat vir wie hulle volg.

Soos hierdie geveg eienaardig is, is sy wapens ook eienaardig: ‘n vlymskerp swaard (19:16; soos in 1:16; 2:12,16; vgl. Jes 49:2), Christus se woord en getuienis, wat die valshede van hierdie wêreld verslaan, is ‘n kragtiger wapen as die dier se leuens en misleidings, wat ineenstort en verkrummel wanneer dit met die waarheid gekonfronteer word.

Die ysterstaf waarmee Hy die nasies regeer (die woord vir regeer poimainoo word ook gebruik vir oppas deur ‘n herder), verwys na Ps 2:9 wat reeds in Op 12:5 bespreek is: Die herderstaf met ‘n ysterpunt beskerm die skape teen wilde diere, daarmee word afgedwaaldes skape teruggebring, en dit word op reise gebruik vir verdediging (Mk 6:8). Die Griekse woord vir ‘n staf, hrabdos word ook gebuik vir ‘n septer, die simbool van regering, die teken van die heerser se gesag. Die ystersepter waarmee sy volgelinge beskerm en gelei word, spel die oordeel uit oor die ongelowiges, die heidennasies (ta ethne), soos oor die ongelowiges in Tiatire (Op 2:27, waar Ps 2:9 ook aangehaal word).

‘Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap’ – Op 14:19-20 ; vgl. Jes 63:1-3 wat verwys na ‘n oorwinning oor Edom (beteken ‘rooi,’ Gn 25:25,30). Edom het die Jode aangeval, maar die Persiese goewerneur Megabusos het Edom, sonder die hulp van die Jode, met geweld onderdruk. Dit word as ‘n ingrype van die Here beskou. Edom word dan die verteenwoordiger van almal wat die Here as hulle God verwerp (Eseg 25:12-13; 32:29; hfs. 35-36; Amos 1:11-12; Obadja 8; Mal 1:4). Jesus het die toorn van God oor die sonde aan die kruis gedra, en wie in Hom glo het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, bly onder die toorn van God (Jn 3:36).

Skrywer:  Prof Francois Malan