Die leë graf: historiese geloofwaardigheid

 

God promises the Christian heaven after death, not before it. —John Blanchard

Die leë graf: historiese geloofwaardigheid.

William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.

 

Die mense in Jerusalem het geweet waar Jesus begrawe is – Jode en Christene. Jesus is immers deur ‘n lid van die Joodse Raad begrawe – Josef van Arimatea. Die vroue wat Jesus gevolg het, het sy begrafnis waargeneem. Maar toe die apostels begin verkondig dat Jesus opgestaan het, moes die graf leeg gewees het.

  • Die volgelinge van Jesus sou tog nie geglo het dat Hy opgestaan het as sy lyk nog in die graf gelê het nie. Dit is tog verregaande om te verkondig dat iemand opgestaan het en sy dooie liggaam lê nog in die graf.
  • Al het die volgelinge van Jesus verkondig het dat die graf leeg was, sou niemand anders dit tog geglo het nie. Maar die aantal gelowiges in die stad waar Hy in die openbaar gekruisig is, het vinnig gegroei.
  • Al het die mense geglo dat Jesus opgestaan het, sou die Joodse owerhede die “gerug” vinnig in die kiem gesmoor het. Hulle sou na die graf gewys het of selfs die graf oopgemaak het  om die lyk vir die mense te wys. Geen so ‘n dispuut het plaasgevind nie.

Ons kan nie sê dat die Joodse owerhede nie die Christelike beweging ernstig bejeën het en hulle daarom nie aan die storie van die leë graf gesteur het nie. Hulle het dan juis vir Jesus aan die Romeinse owerhede oorgegee vir teregstelling. Hulle het selfs die Fariseër, Saulus van Tarsus, opdrag gegee om die Joodse Christene te vervolg. Die Joodse owerhede in Jerusalem wou hierdie Jesus-beweging uitroei.

Kritici beweer dat Jesus nie werklik begrawe is nie. Is dit waar? Nee.

  • Jesus se begrafnis word in baie vroeë, onafhanklike bronne beskryf. Markus is die vroegste evangelie en is waarskynlik voor 70 nC geskryf. Baie teoloë glo dat Markus ‘n nog vroeër bron gebruik het toe hy oor Jesus se lyding en dood geskryf het. Paulus in 1 Korintiërs 15:3 – 5 vertel dat die belangrikste wat hy aan die gemeente oorgedra het, het hy ook ontvang. Hy het dit waarskynlik tydens sy besoek aan Jerusalem ontvang. Paulus is in 33 bekeer en sy besoek aan Jerusalem was waarskynlik in 36. Dit is binne vyf jaar na Jesus se dood. In hierdie gedeelte kry ons ‘n opsomming van die sentrale punte van die Christelike geloof:
  1. oHy is begrawe.
  2. oHy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk.

Hierdie vier stellings van Paulus kry ons ook in die evangelies en in Handelinge. [1 Korintiërs 15:3 – 5; Markus 15:37 – 16:7 en Handelinge 13:28 – 31.] Hierdie merkwaardige ooreenstemming oor die basiese gebeure, is bewys daarvan dat hulle eg is. Daar is dus heelwat vroeë bronne wat getuig dat Jesus wel begrawe is.

  • Josef van Arimatea. Die Bybel beskryf hom as ‘n ryk man, ‘n lid van die Joodse Raad wat Jesus veroordeel het. Die Joodse Raad was ‘n soort van ‘n hoë hof. Die lede was prominente Joodse leiers. Daar was ‘n verstaanbare antagonisme onder die vroeë Christene teenoor hierdie Raad. Christene het die Raad daarvan beskuldig dat hulle Jesus se moord deur die Romeine georganiseer het. God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak (Handelinge 2:36). Dit was deel van Petrus se toespraak op die eerste pinksterdag. Die Christene sou tog nie ‘n storie opmaak van ‘n lid van die Joodse Raad wat aan Jesus ‘n behoorlike begrafnis gegee het nie.

Ons het nou gesien dat Jesus begrawe is. Watter bewyse het ons dat die graf leeg was?




Het Jesus waarlik opgestaan?

You never have to drag mercy out of Christ, as money from a miser. —C.H. Spurgeon

 

Het Jesus waarlik opgestaan?

William Lane Craig William Lane Craig is Navorsingsprofessor in Filosofie aan die Talbot School of Theology. Ek gaan baie gebruik maak van sy boekie: Did Jesus Rise from the dead.

Die Christelike geloof is op ‘n merkwaardige aanspraak gebou – ‘n historiese persoon, Jesus van Nasaret, het uit die dood opgestaan. Is dit ‘n geloofwaardige aanspraak? As ons hierdie aanspraak benader, doen ons dit gewoonlik met sekere aannames. In hierdie geval is daar twee van belang:

  • Die bestaan van God – daar is ‘n God.
  • Ons het heelwat agtergrondinligting oor die historiese Jesus – sy onderrig, sy lewe en sy kruisiging.

Enige studie oor die opstanding van Jesus moet twee stappe insluit:

  • Watter feite is daar wat verduidelik moet word?; en
  • Is Jesus  se opstanding die beste verduideliking van hierdie feite?

Daar is basies drie belangrike feite waaraan ons aandag moet gee:

  • Die ontdekking van Jesus se leë graf deur ‘n groep vroue die Sondag na sy kruisiging.
  • Jesus verskyn aan verskeie individue en groepe na sy dood.
  • Die vroeë dissipels se geloof dat God vir Jesus uit die graf opgewek het.

Alle historici aanvaar dat hierdie Jesus deur die Romeine tydens die Joodse Paasfees gekruisig is – hierdie is dus ‘n gegewe historiese feit. Wat het na Jesus se kruisiging plaasgevind? Hieroor is daar van vroeg af reeds ernstige meningsverskil.

Ons begin volgende keer deur na die leë graf te kyk.




Daarom praat ons

“When you approach the church purely as a consumer, eventually you will decide to stop buying”. – Jordan Ballor

 

Daarom praat ons

Ek het geglo, daarom het ek gepraat. Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook (2 Korintiërs 4:13)

Die rede wat Paulus gee om te praat te midde van al die swaarkry en lyding wat dit tot gevolg het, is sy absolute vertroue in ‘n toekomstige opstanding. Hy, en ons, weet dat dieselfde God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. In Paulus se verkondiging van die evangelie staan die opstanding sentraal.

Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:3 – 4). Dit was die refrein van Paulus se verkondiging: Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig (1 Timoteus 2:8).

In hierdie gedeelte beskryf Paulus die opstanding as ‘n vreugdevolle, gedeelde gebeurtenis wat Jesus, ons (Paulus en sy geselskap) en julle (die Korintiërs) insluit. Die opstanding van die gelowiges in Korinte is net so seker soos Jesus se opstanding. Dit is hierdie hoop op die toekomstige opstanding wat Paulus die krag gegee het om te volhard.

Ons sien dus dat dit wat Paulus oor die toekoms glo, bepaal het hoe hy nou lewe. Baie Christene glo nie werklik in ‘n toekomstige opstanding nie. As hulle wel glo, sien hulle dit as ‘n vae gebeurtenis ver in die toekoms wat nie relevant vir ons lewe vandag is nie. Hoe ons die toekoms sien is ‘n beslissende vraag Ons gee baie meer aandag aan aftrede en hoe om ons gesondheid en rykdom vir die laaste 20 jaar van ons lewe te beskerm as ons ewige bestaan. As ons lewe soos ons behoort te lewe, moet ons fokus op ons toekomstige opstanding en verheerliking.

 




Drie dae tot opstanding

Drie dae tot opstanding – Francois Malan

Linelle vra:

Met Jesus se dood het die voorhangsel geskeur en sommige grafte oopgegaan met die opstanding van die gelowiges. Wat het in die 3 dae tot Jesus se opstanding gebeur? Waar was hierdie gelowiges voor hulle Jerusalem binne gegaan het?(met verwysing na Matt.27:52)

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Matteus gee nie vir ons die antwoord op vraag waar die opgewekte gelowiges vir die drie was nie. Dit het baie spekulasies deur die eeue ontlok, maar dit bly spekulasies.

Dwarsdeur Matteus word telkens verwys na Ou Testamentiese tekse en beloftes om die Joodse Christene, vir wie Matteus skryf, te oortuig dat Jesus die profesieë van die Ou Testament kom vervul het. Soms word die profesieë aangehaal, soms word op hulle gesinspeel.

Matteus vertel van ‘n aantal wonders wat gebeur het rondom Jesus se dood en opstanding. Sy boodskap daarmee is die belangrike.

 

Skrywer: Prof Francois Malan