Was Paulus ‘n apostel?- Francois Malan

As PAULUS n apostel was,was daar tog 13 apostels. Is it korrek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord apostel in die Nuwe Testament kom van die Griekse woord apostéllō wat beteken om iemand te stuur of om ’n boodskap te stuur.’ Die woord apóstolos beteken ’n gestuurde of ‘n boodskapper.

In Handelinge 22:21vertel Paulus dat die Here Jesus aan hom in die tempel van Jerusalem verskyn het en gesê het: ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur (apostéllō) na die heidene.’ In Handelinge 26:17-18 vertel Paulus aan koning Agrippa en die hele saal vol mense in Sesarea van sy roeping toe die Here Jesus aan hom op die pad na Damaskus verskyn het (vgl. Handelinge 9:1-6). Hy was op pad om die Christene in Damaskus te gaan arresteer. Op pad het  Jesus aan hom op die middag verskyn in ’n lig uit die hemel wat skerper was as die son. Die Here het vir hom gesê: ‘Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur (apostéllō) om hulle oë op te maak, sodat hulle van die duisternis na die lig kan kom, en van die mag van die Satan na God, en ook dat hulle deur geloof in My vergewing van sonde, asook ’n erfdeel saam met die geheiligdes, kan ontvang. Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie…’ 

In sy briewe aan die gemeentes  begin Paulus altyd sy brief ‘Paulus, ’n dienskneg van Christus Jesus, ’n geroepe apostel (apóstolos), afgesonder vir die evangelie van God (Romeine 1:1). ‘Paulus, deur die wil van God ’n geroepe apostel (apóstolos) van Christus Jesus..’(1 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’ (2 Korinthiërs 1:1). ‘Paulus, ’n apostel – nie op gesag van mense of deur ’n mens nie, maar wel deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het…’  (Galasiërs 1:1). ‘Paulus, ‘n apostel (apóstolos) van Christus Jesus deur die wil van God…’  (Efesiërs 1:1), ensovoorts.

In Handelinge 14:14 word Barnabas ook ’n apostel (apóstolos) genoem saam met Paulus, al was Barnabas nie een van die twaalf nie.

Volgens Lukas 6:13 het Jesus, na ’n nag van gebed op die berg, sy dissipels (volgelinge) nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle apostels (apostóloi) genoem. Een van die twaalf was Judas Iskariot, wat Hom sou verraai (Lukas 6:16). Na Judas se dood, en na Jesus se dood en opstanding en hemelvaart het Petrus die 120 broers verwys na Psalm 109:8 ‘Laat ’n ander sy amp as opsiener oorneem. In Judas se plek het hulle twee manne voorgestel, en in gebed  die Here gevra om een aan te wys wat die Here gekies het om die taak  van hierdie diens van apostel (apóstolos) oor te neem waarvan Judas afvallig geraak het. Toe het hulle geloot en die lot het op Mattias geval. Hy is daarop by die elftal apostels (apostóloi) gevoeg.

Openbaring 21:12-14 verwys na die Nuwe Jerusalem se 12 poorte waarop die name van die twaalf stamme van Israel op gegraveer is, en die twaalf fondamente van die stadsmuur met die name van die twaalf apostels (apostóloi) van die Lam op gegraveer.

Die Openbaring aan Johannes is egter ’n boek van simbole. Hier word die name van die twaalf stamme van Israel gebruik om aan te toon dat al die gelowiges uit die Ou Testament deel sal wees van die Nuwe Jerusalem. Die Nuwe Jerusalem is egter ’n simbool van die ewige lewe saam met God. So is die twaalf name van apostels ’n simbool vir al die gelowiges van die Nuwe Testament wat in die Lam van God, sy Seun Jesus Christus glo, wat deel het aan die ewige lewe saam met God. Want Jesus, as God wat ons menslike natuur aangeneem het, het gesterf vir die sonde van die ganse mensdom van die Ou Testament en van die Nuwe Testament (vgl. Johannes 1:1-5,9-14,29,36). En elkeen wat in Jesus glo word deel van die ewige lewe saam met God. (vgl. Johannes 3:16).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Griekse invloed in Paulus se tyd – Francois Malan

Willie vra

Kan n mens die afleiding maak dat Paulus ʼn Hellinistiese Christen was,eerder as n Hebreeuse Christen in aggenome sy vermoë om te kon redeneer en dat sommige van sy skrywes ingewikkeld is, maar ook dat die Griekse invloed wel baie groot was in Israel?

Kan n mens die Griekse invloed sover as die Israeliete in ballingskap terugneem en op grond van dit aanvaar dat die meeste Israeliete ( na die balingskapperiode a.g.v Griekse wêreldoorheersing in daardie tyd) wel Grieks magtig was en op grond van dit kan aflei dat Petrus tog wel instaat was om n goeie Grieks te praat en skryf en nie noodwendig iemand nodig gehad het om uit Hebreeus of Aramees te moes vertaal nie ? Sy broer se naam wil tog die indruk gee dat dit Grieks is – ANDREAS ( FONETIES GRIEKS=ANDREAS?)

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Aramees het reeds in Abram se tyd (1750v.C.) in Mesopotamië vanuit Ur tot in Haran die ou taal Akkadies begin verdring (vgl. Gen. 10:22; 22:21 vir die voorvader van die Arameërs). Dit was die taal van die Assiriërs wat die tien stamme in 622v.C. in ballingskap weggevoer het en in Mesopotamië verstrooi het (2 Kon 18:11).

In 597v.C. het Nebukadnesar vir Jojagin en die leiers van Juda weggevoer na Babel, en vir Sedekia as regent aangestel. Sedertdien het Aramees ook in Palestina die handels- en politieke taal en van die administrasie geword. Met Sedekia se opstand teen Babel is Jerusalem in 587v.C. verwoes en die res van die Jode na Babel geneem, waar Aramees Hebreeus as volkstaal gedurende die ballingskap verdring. Na die ballingskap, toe Kores die Pers met sy verdraagsame beleid die Assiries-Babiloniese ryk in 539v.C. oorneem, die Joodse ballinge in 538 v C toelaat om na Jerusalem terug te keer en die tempel te herbou, is die tempeldiens in Serubbabel se tyd heringestel. Aramees is egter as algemene spreektaal gevestig. Slegs as Bybeltaal en in die kultus sou Hebreeus voortbestaan. Ook Jesus en die vroegste kerk het Aramees gebesig.

In 332v.C. verower Alexander die Grote Jerusalem sonder slag of stoot. Hy gee die plaaslike godsdienste, politieke instansies en kulture soveel moontlik ruimte. In sy voetspore volg die Hellenisme, die magtige Griekse kultuurbeweging wat die gebiede rondom die Middellandse See vir baie eeue sou oorheers. Sedertdien begin die vereenvoudigde Grieks-Attiese spreektaal (koine) spoedig die algemene kommunikasie-medium van die groot kosmopolitaanse wêreld word waaroor die opvolgers van Alexander bewind gevoer het. Die boeke van die Nuwe Testament is in koine geskryf en het die evangelie vir groot dele van die destydse wêreld toeganklik gemaak. Selfs as Paulus aan die Christene in Rome skryf, kan hy dit in Grieks doen. Naas Grieks het die plaaslike tale egter bly voortbestaan (vgl. Hand 14:11). In Palestina het Aramees naas Grieks as gesproke taal bly voortleef.

Die Betsaida waar Petrus grootgeword het (Joh 1:44) lê in Galilea, 9km noord van Tiberias. Van Petrus en Johannes sê Hand. 4:13 dat hulle ongeletterd is. Hulle was vissers wat nie skool gegaan het nie. In Galilea het hulle Aramees gepraat maar kon waarskynlik Grieks verstaan. Hoewel 1 Petrus in goeie Grieks geskryf is, sê Petrus self in 1 Petr 5:12: ‘Ek het deur Silvanus..kortliks aan julle geskryf…’ Daarom sal die goeie Grieks van die brief van Silvanus kom, oor die dinge wat Petrus vir hom vertel het. So is die kerklike tradisie ook dat Markus sy Evangelie geskryf het omdat die gemeente in Rome hom gevra het om die verhale oor Jesus, wat Petrus aan hulle vertel het, op te teken.

Toe Tiglapeleser in 622v.C. die bevolking van Galilea, wat reeds soos die heidene geleef het (2 Kon 17:15), na Assirië weggevoer het (2 Kon 15:29), word die oorblywende bevolking met heidene vermeng (2 Kon 17:24). In Petrus se tyd het egte Jode die inwoners van Galilea geminag oor hulle gemengde bevolking en lewenswyse (Joh 1:47; 7:52). Matteus 4:13-15 haal Jesaja 8:23-9:1 aan oor Jesus se verblyf in Kapernaum in ‘Galilea van die heidene.’ Petrus se provinsiale uitspraak van Aramees vestig die aandag op hom as Galileër, soos op Jesus (Mat 26:73; Mark 14:70).

Die Jood Paulus kom van Tarsus (Hand 9:11) in die Klein-Asiese provinsie, Silisië, ’n burger van ’n nie onbelangrike stad nie (Hand 21:39), vermaard deur sy skole wat wedywer met Atene en Alexandrië. Hier het die ou Oosterse beskawing en die nuwe Griekse kultuur saamgekom. Hulle godsdienstige lewe was treurig met Baäl-Tars as hoofgod. Of Paulus hier op skool was, weet ons nie. Maar volgens sy eie getuienis is hy Jerusalem toe om by die gematigde Gamaliël opgevoed te word streng volgens die wet van die voorvaders, dit wil sê die Ou Testament (Hand 22:3). Gamaliël was ’n volgeling van Rabbi Hillel, bekend om sy soepelheid en vredeliewendheid (vgl. Hand 5:34-39 oor Gamaliël se optrede), teenoor die skool van die strenge rigoris Rabbi Sjammai.

Paulus se briewe, in koine Grieks geskryf, getuig van sy wye kennis van die Ou Testament. Sy aanhalings is meestal uit die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, wat 200 jaar voor Christus uit die Hebreeus vertaal is, en wat die Bybel van die eerste Christelike gemeentes in die Grieks-Romeinse wêreld geword het.

Paulus roem daarop dat Hy ’n Fariseër is, die seun van Fariseërs (Hand 23:23:6) . Die Fariseërs het o.a. geglo dat die geskiedenis deur die goddelike voorsienigheid bepaal word, terwyl die Sadduseërs gesteld was op die vryheid van die indiwidu om sy lewe en geskiedenis te bepaal.

Die Fariseërs glo aan ’n opstanding na die dood, en ’n buitewêreldse bestaan waar die mens beloon of gestraf word volgens sy optrede in hierdie wêreld. Hierin is hulle grotendeels beïnvloed deur Persiese en Hellenistiese denke. Die Sadduseërs het die opstanding verwerp en gehou by die leer oor die doderyk (vgl. Hand 23:8).

In Jerusalem verdedig hy hom voor die volk in die Hebreeuse dialek, dit is in Aramees (Hand 22:2). Vir die Jode het hy soos ’n Jood geword om Jode te wen….vir diegene sonder die wet soos iemand sonder die wet (maar onder die wet van Christus) om hulle wat sonder die wet is, te wen (1 Kor 9:20-21).

Hieruit kan nie afgelei word dat hy eerder ’n Hellenistiese Christen was as ’n Hebreese Christen nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die vrou Petla – Francois Malan

Adri vra:

Die vrou Petla in die Apokriewe boeke. Radio FM het op Sondag 28 Mei in ‘n praatjie daaroor gepraat.

Boodskap Teks:

Ek soek inligting oor Petla en haar geskiedenis.

Ek weet nie van ’n vrou Petla wat in die apokriewe boeke genoem word nie, maar wonder of die praatjie nie van Tekla gepraat het nie.

Antwoord

Pof Francois Malan antwoord

Aan die einde van die tweede eeu na Christus skryf Tertullianus dat ’n ouderling in Klein-Asië uitgevang is dat hy die boek Die Handelinge van Paulus geskryf het oor dinge wat met Paulus sou gebeur het. Hy het gebieg dat hy dit geskryf het omdat hy so lief vir Paulus was.  Dit is waarskynlik ’n versameling van legendes wat in die skrywer se omgewing bekend geword het. Tertullianus het al gesê die legendes is nie betroubaar nie.

Drie dele van die boek in Grieks het tot ’n mate behoue gebly. Die eerste deel daarvan handel oor Paulus en die pragtige Tekla wat onder Paulus se prediking in die huis van Onesiforus in Ikonium tot bekering kom en besluit om nie met Tamuris, met wie sy sou trou, te trou nie. Hy kla haar en Paulus by die goewerneur aan. Paulus word met ’n sweep geslaan en sy word na die brandstapel gestuur. Sy word wonderbaarlik gered, kom weer by Paulus uit, gaan saam met hom na Antiogië, waar ’n belangrike man Alexander op haar verlief raak. Sy wil niks met hom te doen hê nie, verneder hom in die openbaar, en word veroordeel om vir die wilde diere gegooi te word. Sy word weer wonderbaarlik gered, en ook ’n volgende keer. Daarna gee Paulus haar die opdrag om te gaan preek in Seleusië.

Die hele legende van 43 afdelings is in Afrikaans vertaal, en is opgeneem in Jan van der Watt en Francois Tolmie se boek van 2005: Apokriewe. Ou en Nuwe Testament. Verlore boeke uit die Bybelse tyd. Bladsye 565-581. Uitgegee deur CUM-boeke.

Skrywer: Prof Francois Malan




Paulus in die tronk – Francois Malan

Willie vra:
Kan n mens aanvaar dat Lukas by Paulus was tydens sy gevangeneskap tot en met sy dood is ? Indien wel , weet ons of hy dalk in meer detail hieroor geskryf het wat nie in die Bybel opgeneem is nie.. Indien hy nie hieroor geskryf het nie, weet ons hoekom nie?

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Handelinge is nie ’n lewensgeskiedenis van Paulus nie, maar verkondiging van hoe God te werk gegaan het om sy heilsplan vir die mensdom uit te voer deur Christus se getuies, onder leiding van die Heilige Gees, en hoe hulle die boodskap uitgedra het tot in Rome. Aangesien Lukas waarskynlik saam met Paulus op sy laaste reise was, en by hom persoonlik baie gehoor het, word baie vertel van die Heilige Gees se werk deur Paulus se arbeid, sonder om volledig te wil wees.

Vir sy teenwoordigheid op die reise vergelyk die ‘ons’ gedeeltes: Hand. 16:10,15; 20:6; 21:1-25; 27:1-28:16, wat moontlik kan aandui dat Lukas daardie gedeeltes van die reise saam met Paulus was. Vergelyk Paulus se eie verwysings na Lukas in Filemon 24; Kol 4:14; 2 Tim 4:11.

Volgens Handelinge 28:19,30 het Paulus in Rome vir twee jaar onder bewaking op sy eie gewoon, terwyl hy, op sy eie appel, sonder ’n klagskrif, op die keiser gewag het (vgl Hd 25:11,27; 26:32; 27:24).

Moontlik is die briewe aan Filemon en aan die Kolossense (en Efesiërs?) gedurende hierdie twee jaar geskryf – al drie uit gevangenisskap (Flm 9,13;  Kol 4:18; Ef 3:1, ens).  Sommige teoloë meen dat die briewe of uit Efese of uit Sesarea se twee jaar gevangenskap geskryf is.

1 Klemens 5:5-7 (96 n.C.)  noem Paulus saam met Petrus as groot voorbeelde van uithouvermoë onder jaloesie en twis wat na ’n reeks ontberings vir die evangelie, hierdie wêreld verlaat het vir die heilige plek. Die kerkgeskiedskrywer Eusebius het in die laaste gedeelte van die vierde eeu n.C. geskryf (II:12:2): die tradisie vertel dat Paulus na die twee jaar vrygesgepreek is en weer voortgegaan het met sy bediening, en toe vir ’n tweede keer na Rome toe is en as martelaar gesterf het onder Nero. In II:25:5 skryf hy dat Paulus onthoof is. In die tyd toe hy bevry was, het hy moontlik 1 Timoteus en Titus geskryf, en toe hy weer gevang is, het hy 2 Timotheus geskryf as sy laaste brief (2 Tim 4:6-7). (Sommige teoloë betwyfel die ou tradisie van Paulus se outeurskap van die drie Pastorale briewe.)

2 Timoteus 4:11 verwys na Lukas se teenwoordigheid by Paulus tydens sy laaste gevangenisskap in Rome: ‘Net Lukas is by my.’ Maar Lukas het niks verder geskryf waarvan wat weet nie as slegs tot by die twee jaar in Rome toe Paulus nog baie besoeke ontvang het.

Die onbetroubare apokriewe boek Die Handelinge van Paulus, met ’n klomp legendes oor Paulus, is waarskynlik deur ’n ouderling geskryf, wat later aan Tertullianus gebieg het dat hy die dinge oor Paulus geskryf het omdat hy so lief vir Paulus was. Die boek is tussen 150-200 n.C, geskryf (Paulus is waarskynlik voor Julie 64 n.C. dood). Die boek vertel van Paulus se marteldood en die wonders wat daar sou plaasgevind het, van Nero se christenskinker wat uit die dood opgestaan het nadat hy by die venster uitgeval het, en hoe dit aanleiding gegee het dat al die christene vir die leeus gegooi is, en hoe daar by Paulus se onthoofding melk in plaas van bloed by sy nek uitgespuit het. Na sy dood sou Paulus aan Nero verskyn het, wat so bang geword het dat hy die ander christene in die tronk vrygelaat het. Hierdie gegewens is egter fantasie en nie werklikheid nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan