2 Korintiërs (3)

2 Korintiërs (3) – Francois Malan

Die heerlikheid van Paulus se evangelie sigbaar in lewenswyse (4:1-5:10)

Deur Christus, wat die beeld van God is, het God sy lig in ons harte laat skyn om die heerlikheid van God, wat in Christus geopenbaar is, te ken. Dit is soos ‘n nuwe skepping van lig in ons lewe (vgl. Gen.1:3 ‘laat daar lig wees’; Joh.8:12 ‘Ek is die lig vir die wêreld). Paulus se evangelie en bediening gaan oor hierdie kennis. Sommige mense dink sy evangelie is versluier. Húlle verstand is deur die Satan verblind. Ten spyte van sy moeilikhede en lyding verkondig Paulus hierdie kennis van God, wat deur Christus geopenbaar is. Sy lyding weerspieël juis die lyding van Christus. Die swakheid van sy voorkoms, wat vergelyk word met erde kruike met ‘n skat in hulle, bewys dat die allesoortreffende krag van God af kom, nie van Paulus nie.

Die onsigbare ewige heerlikheid, wat reeds geskep word deur die tydelike verdrukking, laat Paulus volhard in sy apostoliese opdrag, verseker dat God vir hom en sy lesers uit die dood sal opwek om saam met Jesus te wees. Paulus verlang daarna om met sy hemelse woning beklee te word, en die Gees, wat in ons kom woon het, is God se waarborg daarvan. As ‘n gelowige sterf voor Jesus se koms, het hy/sy reeds ‘n ewige woning wat God vir ons gebou het om in die hemel om by Christus te wees. Paulus se doel is om Christus nou en hierna te behaag; Hý sal oordeel of Paulus se lewe goed of waardeloos was.

Die bediening van versoening (5:11-7:1)

Die sondelose Christus het Hom geïdentifiseer met die sondige mensdom en die straf vir hulle sonde aan die kruis gedra. So het God die verhouding tussen Hom en dié mense reggemaak wat aan Christus verbind is deur geloof. Christus se selfverloënende liefde dwing Paulus om vir Christus te lewe en te werk. Hy dring ook by sy lesers aan om as versoende kinders van God te lewe, nie meer vir hulleself nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. Hy verwys na sy aansienlike uithouvermoë onder baie slegte omstandighede, soos dienaars van God behoort te doen. Met sy voorbeeld probeer hy om sy liefde vir hulle te bewys, en vra ook dat hulle hom sal liefhê. Hy waarsku hulle dat die genade van God wat hulle ontvang het, tog nie tevergeefs moet wees nie, maar om die sedelike gevolge daarvan toe te pas, deur met die afgodery en boosheid van die heidendom te breek, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toe te wy.

Paulus se vreugde oor die gemeente se gunstige reaksie (7:2-16)

Nadat Paulus sy bediening van die wonderlike boodskap van God se vergifnis verdedig het, keer hy terug na wat hy in hoofstuk 2 geskryf het oor sy ‘tranebrief’ en Titus se besoek aan die gemeente. Titus se verslag oor hulle reaksie, dat hulle berou gehad het wat tot bekering gelei het, het vir Paulus groot verligting van sy bekommernisse oor hulle gebring, sowel as ‘n volle vertroue in die Korintiërs en uitbundige vreugde oor die versoening tussen hom en hulle.

Die kollekte vir die armes in Jerusalem (8:1-9:15)

Paulus moedig die Korintiërs aan om hulle gawes weer aan die gang te kry. Hy wys hoe die genade van God gewerk het in die vervolgde gemeentes van Masedonië, naamlik Filippi, Tessalonika en Berea. Hulle het hulleself aan die Here gegee en gesmeek om deel te neem aan die sorg vir die armes in Jerusalem. Uit hulle uiterste armoede, het hulle bo vermoë mild bygedra.

Paulus stuur Titus en twee medegelowiges om die Korintiërs te help om hulle bydrae te voltooi as ‘n bewys van die egtheid van hulle liefde vir ander gelowiges in nood. Hy herinner hulle hoe arm Christus geword het om hulle te verryk. Dit is ons voorbeeld. Elkeen se bydrae moet volgens sy middele wees. Hulle oorvloed moet Jerusalem se materiële tekort aanvul.

Elkeen moet self besluit hoeveel om te gee, nie met teësin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. Wie karig saai, sal karig maai; en wie volop saai sal volop maai. God kan hulle alles in oorvloed skenk om genoeg van alles te hê om volop by te dra vir elke goeie werk. Daardeur sal die ontvangers God oorvloedig dank.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




2 Korintiërs (2)

2 Korintiërs (2) – Francois Malan

Paulus se bediening versprei kennis van Christus soos ‘n geur (2:14-17)

Paulus dank God wat deur sy verkondiging die evangelie seëvierend laat voortgaan in die wêreld, terwyl sy verkondiging nie die evangelie verwater vir persoonlike gewin soos baie ander nie. God het hom bekwaam gemaak om God se woord in opregtheid (sonder bymotiewe), in verbondenheid met die opgestane Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God te bedien.

Deur Paulus maak God die kennis van Christus bekend. Dit is soos ‘n geur wat orals versprei. Vir God is die verkondiging van die evangelie die lieflike geur van Christus; vir die mense wat besig is om gered te word lei die geur tot die lewe saam met die opgestane Christus. Vir die ongelowiges, wat besig is om verlore te gaan, lei die geur van die evangelie tot ‘n dood sonder Christus, omdat hulle die dood van God aan die kruis, wat die straf op hulle sonde gedra het, verwerp.

Paulus se ‘aanbevelingsbrief’ (3:1-6)

Teenoor die predikers wat roem op hulle aanbevelingsbriewe van die Jerusalemgemeente, is die Korintiërs Paulus se ‘aanbevelingsbrief’. Hy dra hulle in sy hart. Hulle lewenswyse getuig van die goeie boodskap wat Paulus verkondig. Deur die lewende God se Gees, wat lewe gee, het Christus in hulle harte geskryf sodat hulle vir God lewe en wil lewe. Die ou wet van Sinai wat op klip geskryf was, het oortreders van die wet na die dood en verdoemenis gelei (Deutr.28:15,63).

Die heerlikheid van die nuwe verbond

Die allesoortreffende ‘heerlikheid’ van hierdie nuwe bediening van Paulus word gestel teenoor die verbygaande ‘heerlikheid’ van die ou bediening, wat Moses met ‘n sluier moes bedek.

Nadat die Israeliete vir Moses as leier verruil het met die goue kalf om hulle te lei, en hy die twee plat klippe met die tien gebooie stukkend gegooi het (Eks.32:1,19), het hy weer die wet by die Here ontvang. Toe hy daarmee terugkom het die Here sy gesig laat blink as getuienis dat God hom gestuur het. Volgens Eksodus 34:29-35 het sy gesig geblink, telkens nadat hy met die Here gepraat het. Maar nadat hy die Here se opdragte aan die volk oorgedra het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek, totdat hy weer met die Here gaan praat.

Paulus sê, Moses het dít gedoen, sodat hulle nie sou sien hoe die glans op sy gesig verdwyn nie. Soos die glans op Moses se gesig vervaag het, so verdwyn die heerlikheid van die ou bedeling onder die wet, en elke poging om die Wet te vervul om jouself te red. Die eie pogings versper die kennis van die waarheid van Christus. Deur Christus alleen ontvang ons die verlossing en heerlikheid van God uit genade. Elke keer as die Jode van Paulus se tyd die wet hoor, is daar ‘n sluier oor hulle verstand.

Maar die Gees lei ons om in Christus te glo, en is voortgaande besig om alle gelowiges te verander na die beeld van God wat Christus vertoon het. Die Gees laat ons die heerlikheid van God aanskou deur die spieël van die evangelie van Jesus Christus, wat ons deur sy selfopofferende liefde van ons self en ons sonde verlos. Die Gees gebruik die evangelie, soos Paulus dit met woord en daad verkondig, om die selfopofferende liefde van Christus te weerspieël. So gebruik die Gees die Woord van God (die Bybel) om ons te verander om al meer uit liefde vir God en ons medemens te lewe. Die heerlikheid van die nuwe bedeling is dat ons al meer aan die beeld van Christus se nederige liefde gelyk word, en dit in die wêreld weerkaats. God het die mens na sy beeld geskep, maar omdat die mens soos God self wou word, het hy sy eie god geword wat vir homself lewe. Die Heilige Gees kom verander ons om weer vir God en ons medemens te lewe. Dit doen die Here wat die Gees is deur sy inwoning in ons, deur die studie en verkondiging van sy Woord, en deur ons lewe in die krag van God se liefde. Die Heilige Gees maak ons deel van die liefde tussen die Vader en die Seun en die Gees deur ons aan Christus te verbind met geloof in Hom en liefde vir mekaar.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




2 Korintiërs(1)

2 Korintiërs – Francois Malan

2 Korintiërs is die brief met die meeste persoonlike gegewens oor Paulus. Die groot saak van die brief is dat God ons met Homself versoen het, deurdat Jesus Christus ons sondaars se plek ingeneem het en ons in sy geregtigheid laat deel. Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die liefde van Christus dwing ons om ons met God te versoen, en ons met mekaar te versoen, deur mekaar te vergewe en lief te hê. 

 

 

Paulus se kontak met die gemeente (3 besoeke, 5 briewe)

 

  1. Op sy twee sendingreis stig Paulus die gemeente in Korinte tydens ‘n verblyf van amper twee jaar, 50-52 n.Chr. (Hand. 18:11,18).
  2. Op sy derde sendingreis stuur hy van Efese af die ‘vorige brief’, wat ons nie het nie (1 Kor. 5:9 verwys daarna),
  3.  By Chloë se mense hoor hy van probleme in die gemeente (1:11), ook by verteenwoordigers van die gemeente (16:17). Per brief bevraagteken die gemeente sy aanwysings (vgl. 1 Kor 7:1). Hy stuur Timoteus(1 Kor 4:17;16:10), en skryf 1 Korintiërs uit Efese in 54 n.Chr.
  4. ‘n Krisis ontstaan, gelei deur ‘n belhamel wat Paulus en sy apostelskap aanval (2 Kor 2:5-11). Timoteus kon nie die saak oplos nie, en keer terug Efese toe met dié slegte nuus (1:1; vgl. 1 Kor. 4:17; 16:10). Toe Paulus sy verslag hoor, gaan hy Korinte toe, wat vir hom op ‘n kort pynlike besoek uitloop (2 Kor 2:1).
  5. Hy skryf vir hulle ‘n brief ‘onder baie trane’, en stuur die brief wat ons nie het nie saam met Titus (2 Kor 2:3-4; 7:8,13 verwys daarna).
  6.  Bekommerd, ontmoet Paulus vir Titus in Masedonië, bly om te hoor die opstand is onderdruk (2:12-13; 7:6-16). In Masedonië skryf Paulus 2 Korintiërs 1-9, wat hy saam met Titus na hulle toe stuur (12:18).
  7.  Daarop hoor Paulus van valse apostels wat sy apostelskap betwis, en ‘n ander evangelie aan hulle verkondig (11:4-15). Hy skryf 2 Korintiërs 10-13, nog in 55 n.Chr. [Sommige verklaarders meen dit was nog voordat die eerste deel weggestuur is].
  8. Daarna besoek Paulus die gemeente vir ‘n derde keer (13:1).

In hoofstukke 1-7 verdedig Paulus sy boodskap, optrede en apostelskap.

Hoofstukke 8-9 handel oor die kollekte vir die armes in Jerusalem (Sommige navorsers beskou die twee hoofstukke as twee aparte briewe).

In hoofstukke 10-13 verdedig Paulus homself en sy werk, en roep die gemeente op om hulle lewe te verander [Sommige verklaarders plaas die laaste deel vroeër as die eerste deel].

Inleiding

In die adres (1:1-2) beklemtoon Paulus sy gesag as apostel, wat lewe en werk as gestuurde van Christus, volgens die wil van God; dat die gemeente aan God behoort, en uit ons Vader en die Here Jesus se genade en vrede behoort hulle en al die gemeentes in die provinsie Agaje heilig te lewe.

In Paulus se lof aan God (1:3-11) sien hy die Vader van Christus se doel met lyding ter wille van die evangelie. In sy barmhartigheid staan God ons in elke moeilikheid by. Daarom kan ons ander in al hulle moeilikhede bystaan, soos Paulus die Korintiërs bystaan, en deur lyding leer hulle om ander by te staan. In Asië het God vir Paulus uit doodsgevaar gered. As hulle nou vir hom bid, sal baie mense God dank vir sy genade aan Paulus.

Paulus verdedig sy optrede en bediening as apostel (1:12-2:13)

Paulus verdedig hom teen die Koritiërs se kritiek. Deur God se genade het hy altyd by hulle opgetree in opregtheid en met integriteit wat van God kom, en hy vertrou dat hy en hulle mekaar al beter sal verstaan en vertrou. Paulus word beskuldig dat hy wispelturig is, omdat hy nie sy beloofde besoek nagekom het nie. Dit maak egter nie sy boodskap ongeldig nie. Sy boodskap se egtheid word bekragtig deur God, wat steeds vir Paulus saam met die Korintiërs in gemeenskap met Christus as sy kinders bevestig, en hulle toerus met sy Gees wat in hulle woon as waarborg van sy seën.

Hy wou ‘n herhaling vermy van sy vorige besoek, wat ‘n hartseer geleentheid was. Daarom het hy onder baie hartseer trane vir hulle geskryf om sy liefde vir hulle te betuig. Aangesien die gemeente nou opgetree het teen die man wat die opstand teen Paulus gelei het, vra Paulus hulle om die belhamel te vergewe en hulle liefde vir dié man te bevestig.

Deur vergifnis en liefde word die eenheid van die kerk herstel.

 

Skrywer: Prof Francois Malan





Wie rokkel Paulus se gemeentelede af

Wie rokkel Paulus se gemeentelede af? – Jan van der Watt

Erika vra:

Volgens Filippense was daar mense wat Paulus se gemeentelede afgerokkel het terwyl hy in die tronk was. Wie was die mense en van watter geloof was hulle dan nou? Was dit dalk soos in vandag se tyd waar daar so baie kerke is wat aanspraak maak dat hulle almal in Jesus glo, maar ons is net nie een kerk nie of was dit mense wat nie in Jesus geglo het nie?

Antwoord:

 

Prof Jan van der Watt antwoord:

Wie was Paulus se opponente in Filippi? Dit is nie so maklik om te beantwoord nie. Die een basiese probleem is dat Paulus nooit werklik sy opponente identifiseer nie. Hy sê nie wie dit is nie, maar vertel wel wat hulle doen. Die rede is omdat daar in die tyd van die Bybel gevoel is dat sodra jy iemand by die naam noem, jy aan daardie persoon erkenning en eer gee. Om nie sy naam te noem nie, beteken dat jy so wys jy dink nie veel van die persoon of persone nie. Daarom noem Paulus nie sommer die name van sy opponente nie. Hy wil nie te veel prominensie aan hulle gee nie. Ons weet daarom ook nie altyd na wie hy verwys nie.

Daar is verskillende teorieë oor wie die opponente kon wees, maar dit is waarskynlik ‘n groep wat gevoel het Paulus is te liberaal en dat Christene meer ‘Joods’ moes wees, met ander woorde, die groot getal Joodse wette moes nakom. Dit is nie dat hulle nie in Jesus geglo het nie, maar dat hulle gevoel het dat dit tog nodig is om die klomp ekstra wette te hou. Paulus het natuurlik gesê dat ons vry is van al die wette. Die meer Joodsgesinde mense het Paulus waarskynlik oral gevolg en sy gemeentes probeer oortuig om meer Joods te wees en het so gemeentelede afgerokkel. Hulle was gedeeltelik suksesvol, hoewel Paulus se siening uiteindelik die siening van die Christelike kerk geword het.  

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt