Apologetiek: Petrus se toespraak op Pinksterdag (1)

Reason is the natural organ of truth; but imagination is the organ of meaning – C. S. Lewis

Apologetiek: Petrus se toespraak op Pinksterdag (1)

 [Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Die Christelike geloof het sy oorsprong in Judaïsme. Die verhouding tussen die Joodse en Christelike geloof was belangrik in die vroeë kerk. Christene glo dat die Christelike geloof aaneenlopend met die Joodse geloof was – die God van Abraham, Isak en Jakob was dieselfde God as die God van Christus.

Meeste van die eerste bekeerlinge na die Christelike geloof was Jode. In die Nuwe Testament lees ons gereeld van Christene wat in die sinagoges gepreek het. Die Romeinse owerhede het die Christelike geloof as ‘n sekte van Judaïsme hanteer. Hoe kan die evangelie dan aan Jode verkondig word? ‘n Sentrale saak is duidelik die identiteit van Jesus.

Kom ons kyk na Petrus se toespraak in Handelinge 2. Lukas sê wie die gehoor was: godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem – hulle het daar gewoon. Die dominante tema is die koms van Jesus – eintlik die hele verlossing wat die opstanding van Jesus en die gee van die Heilige Gees insluit. Die basiese struktuur van die toespraak is soos volg:

  • 2:14 – 21: Die merkwaardige gebeure wat voor hulle oë ontvou, kan net verstaan word in die lig van God se beloftes aan sy mense in die Ou Testament. Hierdie beloftes is nou vervul
  • 2:22 – 28: Die bevestiging van Jesus se verheerliking in ooreenstemming met Ou Testamentiese verwagtings Die kontinuïteit tussen die Ou Testament en die koms van Jesus word bevestig. Hierdie voortdurende verwysing na profesieë in die Ou Testament sou vir nie-Jode niks beteken het nie, maar vir Jode was dit van die allergrootste belang.
  • 2:29 – 36: Die bevestiging van die verheerliking van Jesus plus die teologiese interpretasie daarvan: Hierdie Jesus wat julle gekruisig het, is beide Here en Messias.
  • 2:37 – 40: ‘n Oproep tot bekering sodat hulle kan voordeel trek uit die verlossing wat volg.

Die eerste punt: Petrus se apologetiek hou direk verband met temas wat vir die Jode belangrik en verstaanbaar was. Die verwagting van die koms van die Messias was (en is) betekenisvol vir die Judaïsme. Kyk wat doen Petrus:

  • Hy wys dat Jesus aan die spesifieke verwagtings van Israel voldoen.
  • Hy verwys na spesifieke owerhede wat deur die gehoor as gesaghebbend aanvaar word.
  • Die gehoor sou sy taal en terminologie maklik aanvaar en verstaan. Sy verwysing na Jesus as Here en Messias sou sy gehoor verstaan – daarom verduidelik hy nie wat hy hiermee bedoel nie. Wat wel nuut was in Petrus se boodskap is sy aandrang dat die opstanding van Christus die basis is om Hom as Here en Messias te erken.

Let wel: Petrus bevestig nie alleen die dood en opstanding van Jesus nie – hy gee ‘n spesifieke interpretasie daarvan.

Volgende keer gaan ons verder na Petrus se toespraak kyk.




Petrus se dood

Petrus se dood – Francois Malan

Cap vra:

Wat het met Petrus gebeur? Hoe is hy dood ? 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Johannes 21:18-19 sê: ‘…maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie. Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik.’

Reeds in Johannes 13:36,37 is ‘n bedekte verwysing daarna in Jesus se voorspelling: ‘Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.’ En Petrus se belydenis: ‘…Ek sal my lewe vir U gee.’

In Handelinge 1:15 word vertel dat Petrus  die leiding geneem het in die eerste byeenkoms van die gemeente in Jerusalem; in hoofstuk 2 hoe Petrus en die ander apostels op die Pinksterdag opgestaan het en die mense toegespreek het onder leiding van die Heilige Gees, en Petrus se antwoord op die eerste navrae oor sy preek (2:14,38); hoofstuk 3 oor die genesing van die verlamde man en Petrus se toespraak op die tempelterrein; hoofstuk 4 hoe hy en Johannes voor die Joodse Raad verskyn het; sy harde woorde aan Ananias en Saffira, genesings, en toespraak voor die Joodse Raad in hoofstuk 5; sy genesing van Eneas in Lidda, opwekking van Tabita in Joppe in hoofstuk 9; hoe die Here hom gelei het om die gelowige Kornelius uit die heidendom te doop en sy verantwoording daarvan voor die gemeente in Jerusalem in hoofstukke 10,11; sy wonderbaarlike bevryding uit Herodes se tronk in hoofstuk 12; Paulus se verwysing na Petrus se optrede in Antiogië (Galasiërs 2:11-14); sy rol by die vergadering in Jerusalem (hfs 15; vgl. Galasiërs 2:6-8); volgens 1 Petrus 1:1 het hy waarskynlik ook in Klein-Asië (huidige Turkye) opgetree. 1 Petrus 5:13 gebruik waarskynlik die naam Babilon vir Rome, waar Petrus en Markus saam is. Volgens 1 Korintiërs 9:5 het Petrus sy vrou op sy reise saamgeneem.

Clemens van Rome skryf tussen 75-100 n.C. aan die gemeente van Korinte om hulle te waarsku teen jaloesie en onderlinge twis: ‘Petrus, het nie net een of twee nie, maar baie ontberings gely as gevolg van ongeregverdigde jaloesie, en nadat hy so sy getuienis gelewer het, het hy gegaan na die plek van die heerlikheid wat hom toegekom het’ (1 Clemens 5.4).

Eusebius skryf sy Kerkgeskiedenis 300-315 n.C. Hy haal Papias (135 n.C.) aan, dat Papias sou geskryf het, dat Markus sy Evangelie geskryf het volgens wat Petrus vir hom vertel het (Kerkgeskiedenis III.39.15; vgl. die versoek van die gemeente aan Markus om dit te skryf in Kerkgeskiedenis II.15.1).

Eusebius skryf ook: dit word vertel dat Paulus in Rome onthoof is en so ook is Petrus gekruisig gedurende die tyd van keiser Nero (54-68 n.C.) vgl. Eusebius Kerkgeskiedenis II.25.5.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Liefde in Johannes 21

Liefde in Johannes 21 – Francois Malan

Andre vra:

in Johannes 21:15 vra Jesus vir Petrus 3 maal of hy Hom liefhet. Volgens n Baptiste Pastoor het Petrus die eerste maal gesê ” nee” ek het U nie Agape lief nie. Die 3de maal het Jesus sy standaard verlaag en gevra of hy hom filia liefhet, waarop Petrus ja geantwoord het. ( volgens die Grieks). As dit dan so is, hoekom is dit nie so in ons Bybels en in die Boodskap nie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord.

Die afwisseling van die twee Griekse werkwoorde ‘om lief te hê’, agapao (liefde agape) en fileo (filia liefde) in Jn 21:15-17 is waarskynlik ‘n retoriese wisseling om herhaling te voorkom  en nie soseer om verskillende betekenisse aan te dui nie.

So gebruik hierdie Evangelie bv. vir die liefde van God vir die wêreld agapao in 3:16 en sy liefde vir die dissipels fileo in 16:27; vir God se liefde vir die Seun agapao in 13:34 en fileo in 5:20; vir Jesus se liefde vir Martha, Maria en Lasarus agapao in 11:5 en vir Lasaraus fileo in 11:3; vir die liefde van gelowiges onder mekaar agapao in 13:34 en fileo vir wêreldse mense onder mekaar; vir die liefde van mense vir Jesus agapao in 8:42 en fileo in 16:27 vir die liefde van sy dissipels vir Hom; in 19:26 word agapao gebruik vir die dissipel vir wie liefgehad het en in 20:2 fileo.

Dié Evangelie gebruik bv. drie woorde as sinonieme vir vis: prosfagion in 21:5; opsarion in 21:9,10,13 (6:9,11) en ichthus in 21:6,8,11. Vir skape oppas/laat wei word twee woorde gebruik bosko 21:15,17 en poimaino in 21:16; vir skape word twee woorde gebruik arnia in 21:15; probata, benewens hoofstuk 2 en 10, ook in 21:16,17.

Die skrywer het skynbaar daarvan gehou om sinonieme te gebruik. Daarom vertaal die Afrikaanse Bybels ook agapao en fileo albei hier met ‘liefde.’

Die betekenisse van die twee woorde oorvleuel mekaar tot op groot hoogte in die meeste verbande. Daar is egter in sekere ander verbande ‘n klein onderskeid tussen die twee: fileo/filia fokus op liefde of toegeneentheid op grond van omgang tussen persone; agapao/agape fokus op liefde of toegeneentheid op grond van hoë waardering en agting. Albei groepe woorde word egter gebruik vir die volle spektrum van liefhebbende verhoudings tussen persone, tussen mense en God, en tussen God en Christus.

Hier in Jn 21:15-17 is die gebruik van die twee woorde soos volg:

21:15 ‘Simon, seun van Johannes (soos by sy roeping 1:42, sonder Petrus/Rots, om ‘n nuwe begin met Petrus te maak), het jy my lief/agapao, meer as hulle hier? – volgens 13:37 was hy bereid om sy lewe vir Jesus af te lê; vgl. ook Mat 26:33 ‘Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.’ En daarna het Petrus vir Jesus drie maal verloën Mat.26:34,75.

Ja Here, U weet dat ek U liefhet/fileo – Jesus ken die harte van mense Jn 2:25.

‘Laat my lammers wei’ – die swakkes in die geloof, wat soos Petrus gefaal het, Luk 22:31.

21:16 ‘Simon seun van Johannes het jy my lief/agapao?’ – nie in vergelyking met ander nie maar in sy eie hart?

‘Ja Here, U weet dat ek U liefhet/fileo – hy laat die beoordeling aan Jesus oor.

‘Laat my skape wei’

21:17 ‘Simon seun van Johannes het jy my lief/fileo?

Petrus word bedroef, nie omdat Jesus ook sy belydenis van fileo bevraagteken nie, maar ‘omdat Jesus hom die derde maal (dieselfde vraag) gevra het’ – sy oormoedige grootpratery voor die kruisiging is weg. Hy doen nou ’n beroep op die Here se alwetenheid, ook van wat in sy eie hart aangaan:

Here U weet alles.U weet dat ek U liefhet/fileo’.

‘Laat my skape wei.’

Petrus word in sy amp herstel as herder van die Here se kudde. Daarvoor is ‘n onbreekbare liefdesband met Jesus die noodsaaklike vereiste wat drie maal onderstreep word. Hierdie liefde het ook Petrus se marteldood gekos (21:18-19).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Timoteus 2:8

Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Timoteus 2:8 – Kobus Kok

1 Timoteus 2:11 en 12: Ek vra interessantheidshalwe: Het Paulus nie hier teenstrydig met die genade wat hy so baie verkondig het,opgetree nie? Is sy standpunt nie hier “wetties” nie? Dan ook nog: Hoekom het hy nog altyd net “Die Broers aangespreek? Dis vir my vreemd dat hy Petrus aanspreek oor sy Optrede oor die ou tradisie maar hy doen dit ook? Ek is ‘n ywerige Bybelleser en waarlik gelowig [70jr oud.} Sou graag u opinie wou hoor? Sterkte en seen.

Antwoord:

Was Paulus meer konserwatief as Petrus? ‘n Uitleg van 1 Tim 2:8

Op sommige plekke wil dit voorkom of Paulus meer konserwatief was as Petrus! Dieselfde Petrus teen wie Paulus homself teen ongeveer 48 n.C. openlik verset het omdat Petrus homself onttrek het van die heiden Christene in Antiogië toe lede van die moederkerk in Jerusalem wat nog streng aan die Joodse gebruike vasgehou het, daar aangekom het (lees Galasiërs 2:11-14). In die vroeë geskrifte van Paulus, te wete Galasiërs 3:28 en 1 Korintiërs 12:13, en latere geskrifte soos Kolossense 3:11 lees ons hoe Paulus dit duidelik maak dat daar nie onderskeid gemaak word tussen mense nie. Of jy nou ‘n Griek of Heiden, slaaf of vry, man of vrou is maak nie saak nie omdat almal in Christus gelyk is. Dit was die revolusionêre boodskap wat saam met die evangelie verkondig is wat Paulus van Christus ontvang het (Galasiërs 1:11). In Galasiërs 3:28 lees ons: 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één”. In die antieke tyd was mans baas. Dit was grootliks ‘n paternalistiese sisteem waarin mense hulle plek geken het. Vrouens se plek was by die huis en het in ‘n ondergeskikte posisie teenoor die man verkeer. Slawe en eienaars het ook nie met mekaar op sosiale vlak verkeer nie. Daar was streng onderskeid tussen verskillende groepe en eervolle mense het nie die grense oortree nie. Die boodskap van die evangelie was revolusionêr van aard en het teen die grein van die wêreld se manier van doen ingegaan. Aanvanklik was dit vir die eerste Christene baie bevrydend dat man en vrou, slaaf en vry, heiden en Jood as een voor God kon verskyn.

Volgens navorsing wil dit egter voorkom of dit soms probleme veroorsaak het. Sommige vroue het hulle grense so oortree dat dit eintlik skande gebring het oor die vroeë Christene. In die antieke tyd moes vroue hoofbedekkings dra. Vroue wat in die publiek sonder ‘n hoofbedekking verskyn het was meestal prostitute. In die konteks van die huis kon die vrou egter haar hoofbedekking afhaal. Die vroeë Christene het in huise bymekaar gekom. Tegnies was dit dus private ruimte en vroue kon hulle hoofbedekkings afhaal. Met tyd het die huiskerke nie meer net private ruimte gebly nie en eintlik die karakter van ‘n publieke ruimte gekry. Nou het dit ‘n etiese vraag geword. Moet vroue hoofbedekkings dra of nie? Indien mense van buite die kerklike gemeenskap dit sien kan hulle vinnig verkeerde afleidings maak en dink dat die Christene die grense van moraliteit en etiek verbreek. Paulus was ook sensitief daarvoor. Die laaste ding wat hy wou doen was dat Christene deur hulle lewenswyse aanstoot moes gee aan mense. Daarom het hulle op ‘n stadium besluit dat vroue eerder maar hoofbedekkings in die huiskerk moet dra omdat die huiskerke publieke ruimte geword het. In 1 Korintiërs 11:5 sien ons duidelik hoe die kwessie van eer en skaamte ter sprake kom: “5Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ‘n vrou wie se hare afgeskeer is”. Paulus moedig hier sy gemeentelede aan om sensitief te wees vir die kulturele waardes van hulle tyd, eerder as om aanstoot te gee en oneer oor hulle te bring. In 1 Timoteus 2:8, wat ons die pastorale briewe noem en waarskynlik laat in die geskiedenis van die vroegste kerk van die eerste eeu geskryf is, sien ons dat daar nog steeds ‘n oproep gemaak word vir kulturele sensitiwiteit: 9Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, 10maar goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. 11’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. 12Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. 13Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. 14Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. 15Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ‘n heilige lewe, en daarby beskeie bly.”

In die antieke tyd is geglo dat ‘n eervolle vrou beskeie en ingetoë moet wees. Aggressiewe vroue was met agterdog bejeën en het grense oortree. Dit mag dalk gebeur het dat sommige vroue die nuwe vryheid wat hulle in Christus beleef het volgens sommige te ver gevat het. Sulke vrouens het dan oneer oor hulle mans en oor die vroeë Christene as groep gebring. Daarteen het die vroeë Christene, en veral Paulus, gewaak.

Die implikasie daarvan is dat ons vandag ook sensitief moet wees vir ons eie kulturele konteks. Indien mens vandag sendingwerk in Mosambiek gaan doen, moet mens byvoorbeeld in gedagte hou dat eervolle vrouens in daardie land altyd rokke dra. Indien ons wat uit Suid Afrika kom daar sendingwerk doen, sal ons vroue natuurlikerwyse dikwels kort broeke of langbroeke dra. Vir die mense van Mosambiek is dit oneervol en hulle sal nie met die Christene wil assosieer nie. Die evangelie kan alleen met integriteit daar gebring word indien mens in daardie kultuur met sensitiwiteit en integriteit optree. Net so het dit in Paulus se tyd gebeur. Paulus was nie konserwatief nie, net sensitief.

 

Skrywer: Dr. Kobus Kok