NEHEMIA – PROBLEEMOPLOSSING (3)

He who does not think of the world to come, he who is a Christian for any other reason than that he may receive God’s ultimate promises, is not yet a Christian. Augustinus

 

Nehemia – Probleemoplossing (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #9: Probleemoplossing … verfyn jou leierskap

Die verkeerde manier om ‘n probleem te hanteer

Aäron is ‘n goeie voorbeeld van hoe om nie ‘n probleem te hanteer nie.

Terwyl Moses op Sinai-berg was om die tien gebooie te ontvang, was Aäron in bevel van die Israeliete. Moses was 40 dae weg en die mense raak ongeduldig met God wat hulle nie kon sien nie. Hulle vra vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak, want Moses talm om terug te kom (Eksodus 32). Hulle wil ‘n god hê wat hulle kon sien.

 

Aäron was onwillig om die probleem op te los – hy probeer nie eers die mense oortuig dat om ‘n afgod te maak nie ‘n goeie idee was nie. Hy gee toe aan hulle versoek. Dikwels is die maklikste oplossing die verkeerde oplossing. Aäron vra die volk om hulle goue oorringe af te haal en vir hom te bring. Aäron verwerk dit en maak daarvan ‘n beeld in die vorm van ‘n bulkalf. Aäron se oplossing was onverantwoordelik – dié van ‘n lafaard. Die gevolg is dat duisende mense sterf in God se oordeel.

 

Wat leer ons van Aäron? Elke probleem moet versigtig, maar met moed hanteer word. Wat na ‘n klein probleempie lyk, kan maklik ‘n krisis word.

 

Die leier en probleemoplossing

Probleemoplossing is een van die moeilikste take wat ‘n leier moet hanteer. Elke probleem is uniek.  Hoe ontwikkel ek goeie vaardighede om probleme op te los?

 

Beskou elke probleem as ‘n geleentheid.

Probleme is die prys wat ons moet betaal vir vooruitgang. As jy probleme as geleenthede sien, sal jy hulle as groeigeleenthede beskou. Probleme gee aan jou die geleentheid om jou vaardighede as leier te slyp. Probleme is ook geleenthede om jou geloof en vertroue in God te demonstreer.

 

Erken die probleem

Baie min probleme gaan sommer weg. Erken daar is ‘n probleem en begin onmiddellik soek na ‘n oplossing.

 

Definieer die probleem

Jou doel is om die probleem op te los – nie om mense gelukkig te hou nie. Moenie dat die mense wat die probleem veroorsaak jou intimideer nie. Dit gaan nie oor die maklikste uitweg nie, maar oor die waarheid. As jy die werklike feite geïdentifiseer het, kan jy na ‘n oplossing begin soek. A problem defined is half solved. Oppas: jy mag dalk uitvind dat jy die probleem is!

 

Ontwikkel oplossings vir die probleem

 As jy weet wat die oorsaak van die probleem is, kan jy begin kyk na ‘n oplossing – watter stappe moet geneem word om die probleem op te los. Soek die advies van ander wat min of meer dieselfde probleme moes hanteer het.

 

Los die probleem op

Klink maklik, maar jy sal nie slaag voor jy in gebed deur die proses geloop het nie – wat is die regte stappe om te neem. Kyk na die gevolge van elke moontlike oplossing voor jy finaal besluit.

 

‘n Leier definieer homself deur sy vermoë om probleme op te los – is hy gewillig om sy moue op te rol en in die loopgraaf te klim en die moeilike probleme aan te pak? Hoe moeiliker die probleem, hoe meer moet die leier betrokke wees. Jy kan nie alle probleme vermy … of delegeer nie. Onthou dat God die groot probleemoplosser is. Daarom is gebed so belangrik as ons probleme oplos.

 

Volgende keer kyk ons na die tiende kenmerk van ‘n leier: konflikbestuur.




NEHEMIA – PROBLEEMOPLOSSING (2)

If truth were told, most of us spend longer each day on personal cleanliness than on practical godliness. —Alistair Begg

  

Nehemia –  Probleemoplossing (2)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #9: Probleemoplossing … verfyn jou leierskap

Interne struweling: die oplossing.

Toe Nehemia die klagtes van hierdie drie groepe mense hoor, was hy hewig ontsteld (5:6). Hy lê die skuld op die vooraanstaande burgers en ampsdraers. Hulle buit die armes uit deur buitensporige rente op die lenings te hef. Jode mag nie rente gehef het op lenings aan ander Jode nie. Geen wonder Nehemia was ontsteld nie. Hierdie interne stryd bedreig die herbou van die muur.

 

 

Nehemia definieer versigtig die probleem (5:1 – 5).

Nehemia moes eers luister na die klagtes van die mense. Probleme kom dikwels op die mees ongeleë tye – soos hier die geval is. Nehemia is besig met ‘n groot bouprojek. Hy maak tyd om te luister, want sy prioriteit was mense eerste en die projek tweede. Los hy die probleem, mag dit tot ‘n opstand lei of ten minste die bouprojek vertraag. Die probleem is nie hongersnood nie – dit was slegs die simptoom van ‘n groter probleem. Die kernprobleem was geld en gierigheid. Die rykes buit die armes uit; dit lei tot klagtes en frustrasie. Dit is interessant in hoe baie probleme geld ‘n rol speel.

 

Nehemia hanteer die probleem openlik (5:6 – 7)

Baie leiers probeer probleme vermy – hulle ignoreer dit of hulle herdefinieer dit. Intussen hoop hulle die probleem verdwyn. Jy moet probleme konfronteer en oplos – soos Nehemia doen. Hy storm nie sommer in nie – hy oorweeg eers alles. Eers daarna tree hy op: hy pak die skuld op die vooraanstaande burgers en ampsdraers: Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!

 

Nehemia bespreek die probleem ten volle (5:6 – 10)

Hy oorweeg die probleem volgens God se woord. Daarna belê hy ‘n groot volksvergadering om die probleem met sy mense te bespreek. Hy daag die vooraanstaande burgers uit om God se wet en standaarde te handhaaf. Hulle moes ook die wingerde, lande, olyfboorde en huise wat hulle so onregmatig bekom het, teruggee. Hy moedig hulle aan om reg te doen: Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede.

 

Nehemia los die probleem suksesvol op (5:11 – 13)

Nehemia stel die voorbeeld: hulle moes ook aan die mense geld en koring leen. Maar laat ons tog die uitbuiting staak. Goeie leierskap begin bo. Jy kan nie vir ander vra om iets te doen wat jy nie bereid is om self te doen nie. Deur ‘n voorbeeld te stel, bemoedig jy ander om dieselfde te doen.

 

Volgende keer kyk ons na verkeerde maniere om probleme te probeer oplos.




NEHEMIA – PROBLEEMOPLOSSING (1)

Sometimes the poor are praised for being thrifty. But to recommend thrift to the poor is both grotesque and insulting. It is like advising a man who is starving to eat less. Oscar Wilde, The Soul of Man under Socialism

 

Nehemia – Probleemoplossing (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #9: Probleemoplossing … verfyn jou leierskap

Na  ek dit oorweeg het, het ek die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers gelê en vir hulle gesê: “Julle is besig om julle volksgenote uit te buit (Nehemia 5:7).

 

Nehemia is bemoedig met die vordering van die muur, maar van die mense bring nou ‘n nuwe klagte na vore. Nou is die probleem nie buite nie, maar verdeeldheid en twis onder die Israeliete self. Die vyande besef dat interne twiste kan bereik wat hulle nie kon doen nie – staking van die bou van die muur. Die Israeliete is nou hulle eie grootste vyand. Die vooraanstaande burgers en ampsdraers word vir Nehemia ‘n groot probleem. Ons en ons volksgenote, hulle seuns en ons seuns, is tog een, maar ons moet van ons seuns en ons dogters laat slawe word (5:5). Reeds vroeër het ons van die mense van Tekoa gelees: Maar hulle vooraanstaande mense was nie gewillig om swaar werk te doen vir hulle Here nie (3:5).

 

Juda was ekonomies in groot moeilikheid. Armoede en hongersnood was algemeen – selfs voor Nehemia daar aangekom het. Met die fokus op die herbou van die muur, kon mense nie die lande bewerk nie. Hulle het net nie genoeg kos vir hulle gesinne geproduseer nie. Desperaat nader hulle vir Nehemia. Daar was drie groepe mense:

Groep #1: Die arbeiders wat die velde bewerk het. Hulle het gesinne gehad en daarom het hulle kos nodig gehad. Hulle hulpbronne word uitgeput terwyl hulle aan die muur gewerk het. Hulle was opstandig: Ons moet koring in die hande kry om te eet en te lewe (5:2).

Groep #2: Hierdie mense besit ‘n klein stukkie grond,  maar hulle moes geld leen en hulle besittings verpand om koring is die hande te kry (5:2). Die Israeliete was baie geheg aan hulle familiegrond. As mense hulle huise en grond sou wegneem van hulle sou dit ‘n nasionale tragedie gewees het.

Groep #3: Mense het geld geleen om hulle belasting te betaal. Hulle inkomste is te min om hulle skuld af te betaal en weereens is daar die gevaar dat hulle hulle grond mag verloor. Hulle moes selfs hulle kinders as slawe verkoop (5:4 – 5).

 

‘n Ou probleem

We have met the enemy, and they is us (Pogo).

Ons is dikwels ons ergste vyande. Dit is ‘n ou probleem. Kom ons kyk hoe party mense interne struweling hanteer het

  • Abraham – Abraham en Lot se skaapwagters bots (Genesis 13). ‘n Skandaal dreig wat die Naam van God kon beswadder. Abraham ontlont die spanning deur vir Lot die keuse te gee om eerste te kies.
  • Petrus – die meeste van die vroeë Christene was Jode. Petrus sien ‘n visioen en word na die huis van ‘n heiden gestuur (Handelinge 10). Hy besef dat God ook heidene na Christus wil trek. Later ontstaan daar ‘n twis: moes Christene wat uit die heidendom bekeer is die Joodse gebruike nakom? Petrus vertel vir die Jode dat hy ook vroeër vir die heidene bang was, maar tot sy verbasing het hulle ook die Heilige Gees ontvang.
  • Paulus – later bots Paulus en Petrus oor hierdie selfde saak. Paulus weier om die probleem te ignoreer – hy loop vir Petrus tromp-op (Galasiërs 2:11 – 14).