Psalm 119:35

The design of the Lord is to exercise the patience of his servant by adversity; Satan endeavours to drive him to despair–  Johannes Calvyn

Psalm 119:35

Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde (NAV)

Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae (OAV)

Laat my elke dag loop op die pad wat U voorskryf, want dit maak my baie gelukkig (Die Boodskap)

 

 

Onthou julle nog daardie eenvoudige liedjie van Peter Pan? “We’re following the leader, the leader, the leader. We’re following the leader wherever hy may go.” Dit is nogal toepaslik op hierdie vers wat fokus op hoe om die leier te volg.

 Die probleem is dat mense vandag nie sommer volg nie. Almal bied leierskapskursusse aan, maar niemand leer mense hoe om te volg nie. Mense wil leiers wees – nie volgelinge nie. Om ‘n volgeling te wees, klink vir ons moderne oor ‘n bietjie negatief.

 Maar om die leier te volg is ‘n belangrike tema in die Skrif. Wat is die eerste ding wat Jesus vir sy dissipels sê? Volg My! Die psalmis verstaan dat om God se leiding te volg belangrik is vir mense wat in ‘n verhouding met Hom staan. Om te volg is soortgelyk aan gehoorsaamheid, maar om te volg dui meer op ‘n verhouding. Om te volg beteken dit jy gaan in dieselfde rigting – jy loop dieselfde pad – as die leier.

 Die psalmis versoek dat hy volgens God se gebooie sal loop. Dit klink nou nie baie aantreklik nie, maar juis daarin vind die psalmis sy vreugde. Om vreugde in God se gebooie te ondervind, is ‘n belangrike tema van Psalm 119. Die psalmis verstaan dat God lei op die pad en al is dit soms moeilik om Hom te volg, lei dit tot vreugde en ‘n dieper verhouding met God.

 

Here, help ons om u leiding te volg. Laat ons vreugde in U en u Woord ondervind. Amen.

 

 




Psalm 119:34

“It is more important for a pastor to prod and empower than to pacify. Conflict… is an expected, necessary byproduct of transformative leadership in the name of Jesus. The church begins (Acts 2) in fire and earth trembling; the church dies by files and regulations.” Will Willimon

Psalm 119:34

Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart onderhou (NAV)

Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja dit kan onderhou van ganser harte (OAV)

Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet! Dan sal ek heeltyd doen wat U sê (Die Boodskap)

 

Hoe voel jy as jy iets nie verstaan nie? Gefrustreerd? Verward? Kwaad vir jouself of vir die persoon wat jy blameer omdat jy nie verstaan nie? Bang jy lyk dom of onbekwaam?

Die psalmis verlang insig/verstand, nie om verwarring te vermy nie, ook nie om slim te lyk nie, ook nie om verleentheid te voorkom nie, maar om God te gehoorsaam. Hy wil verstaan, sodat hy God se wet met sy hele hart kan onderhou.

 

Wat moet ons verstaan? Dat God se wet ‘n vorm van genade is. Die psalmis het verstaan dat God se wet ‘n manier is om die mens te seën. Ons sien dit in elke vers van Psalm 119 – die psalmis is bly in God en God se wet. Daarom vra hy voortdurend hulp om gehoorsaam te wees. Hy besef dat die goeie uit gehoorsaamheid sal voortspruit.

 

Is Psalm 119 nie ‘n bietjie oorbodig – te veel – nie? Die Skrif is soms vir ons ‘n bietjie oorbodig. Is Rigters nie oorbodig nie? Is vier evangelies nie oorbodig nie? Maar dit is reg so, want dit is goed om belangrike dinge te herhaal. Daarom herhaal die psalmis gereeld dat om God se wet te ken, goed is. Dit maak die punt duidelik.

 

God, help ons om die geheimenisse van u wêreld te verstaan en gee aan ons die vermoë om in genade op te tree. Amen.




Psalm 119:33

There is not one blade of grass, there is no color in this world that is not intended to make us rejoice. —John Calvin

Psalm 119:33

Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek tot die einde toe daaraan kan hou (NAV).

Here, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan hou (OAV)

Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra (Die Boodskap)

Waarvoor bid jy? ‘n Nuwe werk? Gesondheid?

 

 

Die psalmis bid dat God vir hom sy voorskrifte/insettinge sal leer. Hy vra nie net dat God hom hierdie voorskrifte moet leer nie, maar ook hoe om hulle uit te voer. In die OAV praat hy van ‘n weg – ‘n reis, ‘n pelgrimstog van gehoorsaamheid. Waarheen lei hierdie weg? Nader na God toe. Die psalmis gaan hier ‘n ooreenkoms met God aan: As God hom die weë van sy wet leer, sal hy tot die einde daaraan vashou. Dit gaan hier oor die einde van die pad – die einde van die psalmis se lewe. Wat ‘n geweldige doelwit: Ek gaan God se voorskrifte gehoorsaam tot aan die einde van my lewe. Die psalmis wil voltooi wat hy begin het.

 

Vers 33 is die eerste vers van die He gedeelte (119:33 – 40). In hierdie gedeelte begin elke vers met die Hebreeuse letter He.

 

God, leer my om u pad te volg. Ons wil hulle tot aan die einde van ons lewe hou.