Psalm 119:44

 ‘n Vrou vra vir George Whitefield waarom hy so baie preek oor die woorde: You must be borm again.

Whitefield antwoord: Because, Madam, you must.

 

Psalm 119:44

Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou (NAV)

Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd (OAV)

My hele lewe lank wil ek net doen wat U in u wet vir ons sê (Die Boodskap)

 

 

Is dit moontlik om God se wet my hele lewe lank te onderhou? In die OAV word die idee van ewige gehoorsaamheid herhaal: altyddeur … vir ewig en altyd. Is die psalmis nie dalk ‘n bietjie naïef nie? Te optimisties nie? Dink die psalmis dat ‘n eed van gehoorsaamheid aan die wet God se guns sal wen?

 

Om hierdie vers te verstaan, moet ons dink aan wat onderhou beteken en dit dan interpreteer in die lig van hoe die psalmis homself, God en God se woord in die res van die psalm sien. Dan maak hierdie vers wat met die eerste oogopslag dalk oormatig optimisties klink, sin.

 

Die woord wat hier met onderhou vertaal word kan ook beteken kyk of waghou wat inpas by die res van die psalm. Die psalmis fokus op God se woord. Kyk net na hierdie gedeelte van hierdie psalm (die Wau-gedeelte van vers 41 – 48):  die psalmis vertrou op God se woord (vers 42); stel sy vertroue op God se bepalings (vers 43);  vra steeds na God se bevele (vers 45); haal God se verordeninge met vrymoedigheid aan (vers 46);  verlustig hom in God se gebooie (vers 47); dink na oor God se voorskrifte (vers 48).

 

Vir die psalmis beteken onderhou dus vertrou op, vra na, verlustig in en nadink oor God en God se gebooie. Hierdie is nie ‘n soort wettisisme nie, maar ‘n passie vir God en sy wet. Hier sê die psalmis dat om God se wet te onderhou ‘n lewenslange obsessie by hom sal wees.

 

As dit is wat die psalmis bedoel as hy sê dat hy God se wet sy hele lank wil onderhou, behoort dit mos ook vir ons ‘n lewenslange doel te wees.

Here, ons het u hulp nodig as ons u wet ons hele lewe lank wil onderhou. Help ons asseblief daarmee. Amen

 

 

 




Psalm 119:43

In coming to understand anything we are rejecting the facts as they are for us in favour of the facts as they are. —C.S. Lewis

 

Psalm 119:43

Weerhou my tog van alles wat onwaar is. In u bepalings stel ek my vertroue (NAV)

En onttrek die woord van waarheid nie geheel-en-al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek (OAV)

Help my om net die waarheid te praat. Dag en nag luister ek fyn na u stem (Die Boodskap)

 

 

Vrees en hoop. Beide emosies is op die toekoms gerig, maar is teenoorgesteldes – vrees verwag die slegte en hoop verwag die goeie. Ons wil almal graag hoopvol wees, maar dit is ‘n stryd om nie te vrees nie. Die psalmis is bang dat hy van die waarheid ontneem sal word. In die konteks van die hele psalm is hierdie waarheid God se woord.

 

Maar hoekom sou God sy woord van die psalmis ontneem? Is die psalmis se vrees nie irrasioneel nie? In baie gevalle is ons vrese irrasioneel; ons sukkel om rasioneel te dink as ons bang is. Wat is die teenmiddel van vrees? Hoop. Die psalmis se hoop – dit waarin hy sy vertroue plaas – is God se bepalings.

 

Het die psalmis nog hoop? Beslis. Hoekom anders sou hy aanhou bid? Psalm 119 is in werklikheid een lang gebed oor God se woord – 176 verse lank.

 

Vrees is nie vir ons iets vreemd nie. Almal van ons ondervind dit op een of ander stadium. God se woord dryf die vrees weg en gee weer hoop aan ons.

 

 

 

 




Psalm 119:42

When prophets and teachers have to do with a teachable people, they have no need to fight: but when there is no fear of God, and no regard for him, yea, when men are led away by the violence of their lusts, no godly teacher can exercise his duty without being prepared for war. — John Calvin

 

Psalm 119:42

Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord, want ek vertrou op u woord (NAV)

Sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord (OAV)

Dan sal ek nie bang wees vir almal wat met my spot nie, want ek hou net vas aan wat U sê (Die Boodskap)

 

 

Iemand het die psalmis vals beskuldig of gespot. Die dan aan die begin van die vers koppel dit aan vers 41 waar die psalmis gepraat het van die liefde en redding van die Here. Dan alleen sal hy ‘n antwoord hê vir diegene wat hom beskuldig of met hom spot.

 

Hoe antwoord ek iemand wat my vals beskuldig? Deur te sê: God het my lief en Hy red my. Is dit nie goed as ons duidelik kan sê wat ons van God weet en wat ons verhouding met Hom is nie? Die doel van ‘n vals beskuldiging is om ons te verkleineer. As ek weet dat God my liefhet en red, gee dit vertroue aan my.

 

Die laaste gedeelte van vers 42 is die sleutel tot die verstaan van vers 41 en 42: Want ek vertrou op u woord. As gevolg van hierdie vertroue weet die psalmis dat hy vals beskuldigings kan hanteer. Die psalmis weet dat God se woord betroubaar is.

 

God gee aan ons vertroue in u woord, u liefde en u redding sodat ons nie ontmoedig word nie. Amen.

 

 

 




Psalm 119:40

The more we know of God, the more unreservedly we will trust him; the greater our progress in theology, the simpler and more child-like will be our faith.” –J. Gresham Machen

 

Psalm 119:40

Ek wil u bevele nakom. Hou my in die lewe, want U is getrou (NAV)

Gewis, ek het ‘n begeerte tot u bevele; maak my lewendig deur u geregtigheid (OAV)

Daar is net een begeerte in my hart: om te doen wat U sê. Beskerm my, want U doen wat U belowe (Die Boodskap)

 

Die King James Version begin hierdie vers met behold.

Dit is nie ‘n woord wat vandag nog algemeen gebruik word nie. Ons sou eerder sê: kyk. Die psalmis probeer hier God se aandag trek. Sê ons ooit vir God: “Kyk. Ek het ‘n begeerte tot u bevele?” Sê ons ooit: “Kyk, God, ons verlang na U en u woord?”

 

In 119:20 het ons gelees: Ek kwyn weg van verlange na u bepalings. Jy verlang nie na God se bevele of bepalings as jy nie werklik ernstig is nie – as jy nie werklik ‘n verterende passie daarvoor het nie. In 119:37 het ons gelees: Laat my leef op die weg wat U aanwys. Hier vra die psalmis basies dieselfde ding. Vir die psalmis is God alles in sy lewe – God se woord en God se wette.

 

Hierdie is die laaste vers in die He gedeelte van Psalm 119.