Hoekom is daar pyn en lyding in die wêreld? (2)

For, because all of us are inclined by nature to hypocrisy, a kind of empty image of righteousness in place of righteousness itself abundantly satisfies us.”  – Johannes Calvyn

Hoekom is daar pyn en lyding in die wêreld? (2)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Lyding is ‘n brandende smeltkroes. [Smeltkroes = omstandigheid wat deur beproewing ‘n suiwerende invloed het – HAT] Vuur is ‘n bekende beeld van marteling en pyn in die Bybel.

As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou redder (Jesaja 43:2 – 3); Verheug julle hieroor, al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word (1 Petrus 1:6 – 7); Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie (1 Petrus 4:12).

Die Bybelse smeltkroes is soos die vuur wat ons in ‘n smidswinkel sal kry. Dit is gevaarlik, maar as dit reg gebruik word, kan dit metale vorm, suiwer en reinig. As ons lyding in geloof verduur, maak dit ons net sterker.

Ons gaan nou na drie aspekte van die smeltkroes van lyding kyk;

Deel I: Verstaan die smeltkroes

Deel II:  Trotseer die smeltkroes

Deel III: Stap saam met God in die smeltkroes

Volgende keer gaan ons begin om die smeltkroes van lyding te verstaan. Ons gaan kyk na die kultuur van lyding.




Hoekom is daar pyn en lyding in die wêreld? (1)

If you want to make peace with your enemy, you have to work with your enemy. Then he becomes your partner. –Nelson Mandela

Hoekom is daar pyn en lyding in die wêreld? (1)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

 Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys (Psalm 34:2 – 4)

Lyding is oral; dit is onvermydelik; dit is dikwels oorweldigend.

Duisende mense sterf daagliks in onverwagse tragedies; baie kinders gaan slaap honger; baie mense slaap op ons strate; … Dit is nie meer hoofnuus nie, want pyn en swaarkry is die norm. Ons glo ook dat sulke dinge net met ander mense gebeur – mense wat nie die nodige voorsorgmaatreëls getref het nie, arm mense … Ons probeer swaarkry wegdink, maar dit help nie. Ons moet ons lewens leef teen hierdie agtergrond van tragedies en besef dat niemand immuun is daarteen nie.

Maak nie saak watter voorsorgmaatreëls ons tref nie, maak nie saak hoe gesond ons leef nie, maak nie saak hoeveel geld en besittings en mag ons het nie, maak nie saak hoeveel beplanning ons doen nie, dood en siekte en finansiële rampe kan ons nie verhoed nie. Ons lewens is onderworpe aan magte buite ons beheer.

As ons voor die uitdaging van pyn en lyding staan, besef ons dat ons nie net op ons eie hulpbronne kan staatmaak nie. Ons het ondersteuning van elders nodig om nie in wanhoop te verval nie. Ons besef gou dat hierdie ondersteuning geestelik moet wees: Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry sal dit hoor en daaroor bly wees. Dit voel vir ons asof God afwesig is as ons swaarkry. Dit is nie so nie: Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses (Psalm 34:19).

Ons hoor dikwels die vraag: Hoe kan ‘n God van liefde soveel swaarkry, lyding, ontbering, pyn en angs toelaat? Geen wonder dat baie mense begin glo dat God nie bestaan nie. Aan die ander kant is daar weer mense wat God in hulle smart en lyding vind – teenspoed bring hulle nader aan God. Probleme ruk hulle uit hulle geestelike selfgenoegsaamheid en lei tot ‘n ernstige soeke na God. As ons pyn en lyding ondervind, besef ons dat ons nie in beheer van ons lewens is nie – nooit in beheer was nie. Dan besef ons dat Jesus Christus al is wat ons nodig het … veral as Hy al is wat ons het.

Almal van ons gaan op een of ander stadium swaar kry – of kry reeds swaar. Dan kom allerhande filosofiese vrae by ons op: Hoekom laat God dit toe? Kon Hy dit nie verhoed het nie? Maar ons primêre kommer is nie filosofies nie, maar prakties: Sal ek dit oorleef? Daarom is dit so wreed om met iemand wat ly op ‘n afgetrokke filosofiese manier te praat.

Volgende keer gaan ons na lyding as smeltkroes kyk.