Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (7) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Daar is nou soveel oor geloof, die nuwe koninkryk en Jesus gesê wat natuurlik alles met redding verband hou. Maar waarom is redding nodig? Waarvan moet mense gered word?

Die eerste ding wat Jesus doen nadat Hy gedoop is en sy openbare bediening so begin het, was om na die woestyn te gaan. Daar wag die duiwel Hom in en probeer Hom in versoeking lei. Dit beteken dat die duiwel Jesus van God se pad wil probeer afdwing en Hom wil probeer oortuig om nie met die heilsplan wat na die kruis toe lei, voort te gaan nie (sien Matt 16:23; Mk 4:15). Neem byvoorbeeld die derde versoeking volgens Matteus (4:8-10): 8Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” 10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Die duiwel bied Jesus hier koningskap aan oor al die wêreldse ryke, maar alleen as ‘onder-koning’ onder hom. Hy wil God se plek inneem. So sal Jesus hom dien en nie met die heilsplan en vestiging van God se koninkryk voortgaan nie. Jesus weer egter elke poging van Satan af. Die konflik tussen Jesus en die duiwel bly deel van die verhaal van Jesus tot Jesus die duiwel aan die kruis en met sy opstanding oorwin. Die duiwel en sy magte se teenwoordigheid word helder in die evangelies geskilder. In Markus (1:21-28) kom die eerste fisiese belydenis oor wie Jesus is, uit die mond van die man met die onrein gees, met ander woorde van die kant van die bose: Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God! Die duiwel en sy bose geeste weet dus baie duidelik met wie hulle in Jesus te doen het.

Veral Luk 10:17-18 is van besondere belang waar daar staan: En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam. Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ’n bliksem uit die hemel sien val. So word die neerlaag van die Satan beskryf. Sy invloed in die hemel is deur die koms van Jesus beeïndig. Die duiwels kan nie voor die koms van Jesus en sy volgelinge stand hou nie. Dit blyk ook uit die verhaal van die lam vrou wat genees is – Jesus verlos haar van die Satan wat haar vir agtien jaar gebind het (Luk 13:16) of van Jesus wat duiwels uitdryf (Matt 9:32-33, 15:22, 17:18; Luk 7:21, 8:2).

Die konflik tussen Jesus en die Satan word beskryf as ‘n konflik tussen twee magte. Die duiwel het sy bose geeste en duiwels wat as koninkryk of mag teenoor die Koning van die koninkryk staan (Matt 12:25-26 – Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan? – sien ook Matt 4:8). ‘n Ander naam wat vir Satan as die owerste van die bose koninkryk gegee word, is Beëlsebul (Mk 3:22 – En die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: Hy het Beëlsebul! en: Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit). Ons sal later ook by van die ander skrywers van die Nuwe Testament sien dat die bose magte as ‘n georganiseerde mag, koninkryk of weermag beskryf word wat teenoor God kom staan en Hom probeer onttroon. Uiteindelik sal dit die duiwel en sy magte wees wat finaal verslaan en veroordeel gaan word, saam met almal wat hulle aan die kant van die duiwel geskaar het (Matt 25:41): Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

Jesus verlos dus die gelowiges uit die mag van die Satan en sy magte. Maar wat dan van sonde? Daarna gaan ons die volgende keer kyk.




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (6) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Maar wat van nou, terwyl die golwe van die lewe slaan en hulle swaarkry? Weer help Jesus hulle. Matteus in 8:23-27 vertel van die dissipels wat Jesus in die skuit gevolg het. ‘n Swaar storm bedreig toe die skuitjie, maar Jesus kom tot hulle redding. Vir die wat gewillig is om Jesus tot in die storms te volg, sal kan staatmaak op sy reddende teenwoordigheid. Dus, vir die hede en die toekoms is dit die moeite werd om Jesus te volg.

Die beeld van navolging van Jesus open dus die oë vir die ryk werklikheid wat met die redding deur Jesus saamgaan. Dit gaan oor ‘n totale verandering wat tot her-sosialisasie van die navolger met Jesus en God lei.

Natuurlik verwys die sinoptiese evanglies ook na geloof in Jesus wat nodig is. Dit is ‘n ander manier om die relasie wat ontstaan tussen mense en Jesus te verduidelik (Mk 16:16 – 16Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. Sien ook Mk 9:23-24, 42; Luk 8:12, 50).  Markus vertel telkens hoe Jesus mense aanmoedig om te bly glo, met ander woorde, om Jesus te erken vir wie Hy is en ook van Hom die krag van God te verwag. Daarmee saam moet hulle natuurlik die boodskap van en oor Jesus aanvaar (Mk 1:15; Luk 24:25). In Mk 11:22 moedig Jesus die dissipels aan om te bly glo, omdat daar soveel krag in geloof is. Vir die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en wat deur die krag van Jesus genees is, sê Jesus: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!  (sien ook Mk 10:46-52). Hier is ook ‘n voorbeeld van waar die term ‘red’ op fisiese genesing kan slaan. God se koninkryk kom ook deur nou reeds mense se lewens te verander en dit deur die krag van Jesus – so word nuwe lewensmoontlikhede nou reeds vir mense geopen. Dit beteken egter nie dat die redding nou volledig is nie. Die finale afronding en hoogtepunt kom nog (Lk 21:28), soos Jesus belowe het: Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant (Mk 13:26). Dan sal die gelowiges vir ewig in die teenwoordigheid van God en Jesus wees.

Dit alles bring ons by ‘n baie belangrike vraag: Waarom moet die mens gered word?




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (5) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

 Hoe word mens deel van die koninkryk? Dit gaan natuurlik oor die herstel van die verhouding tussen God en mens.  Die sinoptiese evangelies as verhaal van Jesus het ‘n interessante manier om die begin en proses van verlossing mee te beskryf. Om gered te word moet ‘n persoon Jesus ‘navolg’ – dit is ‘n ekwivalent van wat Johannes of Paulus bedoel as hulle sê dat iemand in Jesus moet glo.

Matteus vertel hoe hy in die tolhuis gesit het toe Jesus daar verby kom en sê: ‘Volg my’. Hy het opgestaan en Jesus gevolg (Matt 9:9-13). In die res van die verhaal word vertel hoe Jesus saam met die tollenaars en sondaars geëet het om te wys dat Hy vir sondaars en so vir almal wat hom nodig het, gekom het. So het Matteus se lewe verander. Navolging het egter veel meer ingesluit as om net agter Jesus aan te loop. Jesus self stel dit so (Matt 16:24-25): 24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry (sien ook Mk 8:34-9:1).

Twee belangrike begrippe val hier op: a) die volgeling moet hom/haarself verloën, wat verduidelik word as dat die persoon bereid sal wees om sy eie lewe op te offer of te verloor. Dit gaan dus oor ‘n totale oorgawe aan Jesus waardeur Hy vir die persoon belangriker raak as wat die persoon vir hom of haarself is. Navolging beteken dus totale selfopoffering. b) Van die navolger word verwag om sy kruis op te neem en Jesus te volg. Hier moet onthou word dat die skadu van die kruis reeds oor Jesus val. Om vir die navolger te sê dat hy sy kruis moet opneem, beteken om van die navolger te verwag om die pad van lyding vir Jesus enduit te loop. Weereens word die totaliteit van oorgawe beklemtoon. Navolging impliseer totale en lojale binding aan Jesus. Op die manier word die lojale verhouding met Hom uitgedruk en deel mens ook aan die heil en lidmaatskap van die koninkryk. Dus, om gered te word, beteken om naby Jesus te wees, nee, meer, om in ‘n intieme lojale verhouding met hom te staan wat jou eie belange ondergeskik stel aan Jesus s’n. Dit wou die ryk man in Matt 19:16-26 nie doen nie. Hoewel hy al die wette formeel nagekom het, het hy sy eie skatte belangriker geag as die navolging van Jesus. Daarom lees ons (Matt 19:22-24): 22Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. 23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: ’n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. 24Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

As ‘n skrifgeleerde dus na Jesus toe kom en sê dat hy Jesus wil volg, antwoord Jesus hom (Matt 8:19-20): “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”. Die skrifgeleerde was onder die indruk van die krag van Jesus (die konteks van Matt 8-9 vertel van al die wonders wat Jesus gedoen het) en wou die geheim daarvan by Jesus leer. Jesus help hom reg deur te sê dat navolging van Jesus ook mag beteken dat jy nie eers ‘n plek het om jou hoof neer te lê nie, met ander woorde, slegter af is as die diere. Navolging van Jesus is nie net glorie nie, maar ook opoffering. Dit verduidelik Jesus direk daarna aan ‘n dissipel wat ook vra om Hom na te volg (Matt 8:21-22): “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” 22Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe”. Daar word baie oor die betekenis van hierdie woorde bespiegel, maar die essensie van die antwoord kom daarop neer dat die gelowige se plek by Jesus is. Waarskynlik verwys die ‘dooies’ wat die ander dooies moet begrawe na mense wat nie aan Jesus behoort nie, maar geestelik dood is. Al sou dit so wees, val Jesus se antwoord tog nog snaaks op die oor. Die dissipel het tog ‘n billike versoek, want om jou vader te gaan begrawe was destyds ‘n religieuse en sosiale plig. Tog weier Jesus hom dit. Dit intensifiseer net die belangrikheid en absolute aard van die navolgingskap van Jesus.

Geen wonder dat die dissipels begin wonder het oor of dit die moeite werd is om alles te los en Jesus te volg nie. Daarom vra hulle Jesus reguit (Matt 19:27-30): 27Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” 28Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. 29En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry. 30Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste”. Hieruit is duidelik dat die ‘navolging’ deurloop – soos Jesus op ‘n troon sal sit, sal die gelowiges ook op trone sit; die rykdom van Jesus sal hulle rykdom wees.

Dit alles is toekomsmusiek. Wat van nou?




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (4) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Maar wat is hierdie koninkryk van God waarop die redding van Jesus gemik is? Matteus beskryf dit in meer detail in Matteus 13:

  • Redding kom deur prediking van die goeie boodskap oor Jesus. Nie almal gaan ewe goed na die goeie boodskap luister of dit aanvaar nie. Diegene wat die boodskap wel gaan aanvaar, gaan die vrug daarvan pluk (die gelykenis van die saaier – Matt 13:3-9, 18-23).
  • Goeie en slegte mense gaan skouer aan skouer in die wêreld leef – dit gaan nie alles sommer net perfek wees nie. Maar die finale oordeel gaan die kaf van die koring skei (gelykenis van die onkruid tussen die koring – Matt 13:24-30).
  • Die goeie mense sal hulle invloed moet laat geld wat aanvanklik klein en onaansienlik mag lyk, maar tog vir groot en indrukwekkende resultate gaan sorg (gelykenisse van die mosterdsaadjie en suurdeeg – Matt 13:31-33).
  • Die koninkryk gaan tog alles in waarde oortref. Mense sal alles in hulle lewens herorienteer ten einde die skat van die koninkryk te kry (gelykenisse van die skat in die saailand en goeie pêrels – Matt 13:44-46).
  • Daar wag ‘n finale oordeel waar die geredde mense van die wat nie gered is nie, geskei gaan word (gelykenis van die vangnet – Matt 13:47-50).

Hierdie gelykenisse gee ‘n indruk wat presies Jesus bedoel as Hy sê die koninkryk het naby gekom. Mense sal die boodskap moet aanvaar – dit beteken egter nie dat hulle direk in die hemel beland nie. Hulle moet saam met ongelowiges in die wêreld leef en daarom soos suurdeeg hulle invloed laat geld. Hulle het immers die kosbaarste ding denkbaar om met ander te deel, die koninkryk. Immers, die lede van die koninkryk gaan met die koms van Jesus by God wees, terwyl God se oordeel die ander gaan tref. Dit gaan dus oor mense wat in hierdie wêreld gaan werk en leef met ‘n taak nou en ‘n hoop op die toekoms. Dit is wat dit beteken om gered te wees.

Nou dat ons weet wat die koninkryk van God is, is die volgende vraag: Hoe word ‘n mens deel van hierdie koninkryk?