Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

In die vorige artikel het ons gesien dat die Ou Testament voorspel het dat die Messias sou kom en dat dit gebeur het. Ons gaan nou verder met die beskrywing van redding in die sinoptiese evangelies.

  1. b) Jesus kom en die koninkryk is naby – die verhaal van Israel deur en in Jesus herdefinieer

 Met die koms van Jesus het die koninkryk van God (of die hemele) naby gekom. As Jesus sê dat die koninkryk van God naby gekom het, verwys Hy na sy eie teenwoordigheid. Die ‘koninkryk van God’ verwys na daar waar God regeer, en God regeer waar Jesus optree en preek.

Reg van die begin af, by die beskrywing van Jesus se geboorte, word sy rol in die koms van die koninkryk beskryf: Jesus kom om sy volk van hulle sonde te verlos, soos die engel aan Josef in Matt 1:22 sê: 21Sy (Maria) sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. Maar Jesus sal ‘n tweede naam dra (Matt 1:22-23): 22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: 23“Die maagd sal swanger word en’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. Hiermee die program wat die optrede van Jesus beskryf – Hy kom mense van hulle sonde verlos deur God tot by hulle te bring. Dit word deur die soldate by die kruis bevestig toe hulle bely dat Jesus wat aan die kruis hang werklik die Seun van God is (Matt 27:54).

Johannes die Doper eggo al hierdie boodskap nog voordat Jesus met sy openbare bediening begin. As hy oor Jesus praat, fokus hy volgens Matteus op die eskatologiese oordeelshandelinge van Jesus (Matt 3:11-12; sien ook Luk 3:16-17): 11Ek (= Johannes) doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand. Jesus sal dus skeiding bring tussen mense – ‘n deel wat gered gaan word en ‘n deel wat veroordeel gaan word. Hy kom inderdaad ‘n verskil maak. Hy het nie gekom om vrede te bring nie, maar skeiding.

Jesus word as redder, prediker en wonderwerker beskryf. In Matteus 4:23 word vertel wat Jesus gedoen het: Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. Sy verkondiging oor die koninkryk is natuurlik kragtig bevestig deur sy wonderdade. Deur hierdie reddingswerke het Jesus hom dus diensbaar gemaak vir mense sodat hulle gered kan word. Hy het dit so gestel (Mk 10:45): Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

Vir Matteus is die geskiedenis van Jesus ‘n geskiedenis wat vertel van God wat sy Verlosser as die opvolger van Moses stuur om sy volk Israel te verlos. Hy bring die goeie nuus van die koninkryk wat gekom het, en help die “kinders” om deel van die koninkryk van God te word.

Ons het nou baie gepraat van die koninkryk van God, maar wat is dit? Daarna kyk ons in die volgende artikel.




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

 

Ons kyk nou na die verskillende maniere waarop redding in die sinoptiese evangelies beskryf word.

  1. Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom!

Hoewel elkeen van die drie sinoptiese evangelies ook sy eie klem dra, gaan sekere punte van ooreenstemming as basis vir die beskrywing hier dien.

As die tema vir Jesus se prediking gegee word, word dit in terme van redding gestel: ‘Hy (Jesus) het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”’ (Mk 1:15). Ons het reeds in die eerste hoofstuk gesien waarom mense hulle moes bekeer  en die redes gaan daarom nie hier herhaal word nie. Die feit van die saak is dat dit nodig was vir die mense om ‘n ommekeer te maak, hul lewens in ‘n ander rigting te oriënteer. Wat het agter hierdie boodskap en oproep van Jesus gelê?

  1. a) Die Ou Testament het voorspel… en dit gebeur!

Die tyd het inderdaad aangebreek (Mk 1:15), God het naby gekom. Die Joodse geskrifte het dit voorsien. Die getuienis uit die Ou Testament vorm ‘n belangrike raamwerk waarbinne die reddingswerk van Jesus ontvou word. Bowendien dien die Ou-Testamentiese beloftes as bevestiging dat God aan die werk is in dit wat Jesus doen. Dit is die God van die Ou Testament wat in Jesus na sy volk toe kom en sy reddingsplan in Hom ontvou; Hy is en bly die bron van die redding.

Matteus en Markus lê klem daarop dat die Ou-Testamentiese beloftes dat God na Sion sal terugkeer en sy mense so sal red, op ‘n besondere manier in Jesus waar gemaak word. Soos ‘n nuwe Moses kom Jesus uit Egipte (Matt 2:19-23) na die volk toe en praat met hulle soos Moses van die berg af oor die verwagtinge wat God van hulle het as mense van sy koninkryk (Matt 5-7). So word die geboorte van Jesus in Matteus 1:22-23 direk met die vervulling van die Skrif in verband gebring:

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: 23“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring,en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Ook in Lukas lees ons van die lang geskiedenis van God met sy volk waarin daar ook beloftes oor die redding gemaak is (Luk 1:13-17; 2:9-14). Jesus self verwys daarna as Hy vir die Emmausgangers sê:

44Daarna sê Jesus vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.” (Luk 24:44; sien ook 24:25-26).

 Jesus verduidelik dan self vir hulle watter fasette van sy lewe deur die Skrifte in die vooruitsig gestel is: 45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ (Luk 24:45-47).

 Die rol van hierdie aanhalings uit die Ou Testament was vir die vroeë Christene belangrik. Vir gelowiges vandag is dit ‘n uitgemaakte saak dat Jesus die Messias is, maar vir die mense wat saam met Jesus geleef het, was dit nie so vanselfsprekend nie. Ons lees dat daar verskeie persone beweer het dat hulle die verwagte Messias was. Hoe moes mense weet? Hulle het veral twee maatstawwe gehad:

  1. As iemand die messias was, moes hy God aan sy kant gehad het en dit moes duidelik word uit die bo-menslike dinge wat hy kan doen, met ander woorde, die krag van God moes deur hom sigbaar word. Dit het Jesus natuurlik gewys toe Hy siekes gesond gemaak het en duiwels uitgedryf het.
  2. Om as die messias te kwalifiseer moes die persoon binne die ewige plan van God inpas. Die plan sien ons reeds uitgespel in die Ou Testament waar God deur sy profete oor sy planne praat. Jesus moes dus binne hierdie planne inpas en het ook. Om dit te bewys word uit die Ou Testament aangehaal, om te wys hoe Jesus binne die planne inpas en die planne inderdaad verder laat ontplooi.

As Jesus dus aan die Emmausgangers die Skrifte verduidelik, toon Hy daarmee aan dat God se planne in Hom hul voortgang het. Dit is nie altyd duidelik waarna daar verwys word as daar gesê word dat die Skrifte Jesus se dood en opstanding voorspel het nie. ‘n Messias wat sou sterf was nie eintlik wat verwag is nie. Van die min, maar belangrike dele wat hiervoor kwalifiseer is Jesaja 53 waar daar oor die lydende kneg gepraat word.

Lukas gee ‘n goeie voorbeeld van hoe Jesus in die geskiedenis van Israel ingepas het. Geïnspireer deur die Heilige Gees sê Sagaria, Johannes die Doper se pa: Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. 69’n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. 70So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: 71om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; 72om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou. 73Met ’n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, 74gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien 75in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe. (Luk 1:68-75). Uit die woorde is dit duidelik dat die God van Israel weer sy mense opgesoek het en sy belofte by monde van die heilige profete dat ‘n nasaat van die top koning van Israel, Dawid, weer sal kom regeer, gehou het. Hy het sy verbond met Abraham nie gebreek nie en hulle kom red van hulle vyande. Om dus die betekenis van die koms van Jesus reg te verstaan moet Hy ingebed word in hierdie geskiedenis. As Hy kom, is Hy die uitloper van hierdie geskiedenis van God met sy volk.

Die verwysings na die Ou-Testamentiese geskiedenis het natuurlik nie alleen in die sinoptiese evangelies ‘n belangrike rol gespeel nie, maar ook in die ander boeke van die Nuwe Testament. Johannes sê byvoorbeeld dat Moses van Jesus geskryf het en dat die Skrifte van Jesus getuig (Joh 5:39, 46-47). Petrus stel dit nog sterker in 1 Pet 1:10-11: 10In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word… 12Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle…

 Jesus en sy boodskap word dus deur die verwysings na die Ou-Testament aan God se reddingsplan verbind. Jesus is inderdaad deel van God se geskiedenis (Luk 1:47; 3:20).

In die volgende artikel sal ons sien dat met Jesus se koms die koninkryk van God naby gekom het.




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die verskillende aspekte van die breër verhaal van redding word natuurlik deur die verskillende skrywers op verskillende maniere uitgedruk en beskryf. Ons gaan by die eerste drie Evangelies (sinoptiese evangelies) begin. Ons begin daar omdat die drie nou verwant is, aangesien Matteus en Lukas beide vir Markus en nog ‘n ander bron, naamlik die sogenaamde Q-bron gebruik het om hulle boodskappe weer te gee. Daar is natuurlik nuanseverskille omdat die drie Evangelies aan verskillende groepe in verskillende situasies geskryf is, maar in breë trekke vloei die boodskap van redding van die drie Evangelies binne dieselfde stroom.

Wat met die Evangelies onthou moet word is dat dit verhale oor die lewe van Jesus is. Dit is nie uitgewerkte opstelle oor redding nie, maar die goeie boodskap van redding word in die verhaal van Jesus en sy dissipels ingevleg. Daar kan dus baie oor redding geleer word, deur na die optrede, relasies en woorde van die karakters in die verhale te kyk. As Jesus iemand genees, is Hy besig met redding – terloops die Griekse woord vir redding word dikwels gebruik om sulke genesings te beskryf. Matteus die tollenaar staan op uitnodiging van Jesus op en volg Hom – so word sy redding in die verhaal beskryf (Matt 9:9-13). Saggeus, nog ‘n tollenaar, klim uit die boom uit en ontvang Jesus in sy huis – so is hy gered (Luk 19:1-10).

In hierdie gedeelte gaan ons na die volgende vrae kyk:

  • Op watter maniere beskryf die sinoptiese evangelies redding?
  • Wat is die koninkryk van God?
  • Hoe word ‘n mens deel van die koninkryk van God?
  • Wat van nou?
  • Waarom is redding nodig?
  • Wat dan van sonde?

In die volgende artikel gaan ons begin kyk na die verskillende maniere waarop redding in die sinoptiese evangelies beskryf word




Mense en Redding: Inleiding (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Voordat daar verder in meer detail in hierdie plan van verlossing ingegaan word, is enkele algemene opmerkings eers nodig.

  • Waaroor praat ons presies as ons oor soteriologie (redding) praat? Ons kan natuurlik konsentreer op die oomblik van redding, wanneer ‘n persoon se lewe van ‘n negatiewe na ‘n positiewe situasie verander word. Woorde soos genesing, bekering of wedergeboorte word byvoorbeeld vir die oomblik van omkeer gebruik. Ons kan egter ook praat oor die gevolge van die oomblik van verandering, met ander woorde, die nuwe lewe wat mens kry, versoening wat mens voortaan in vrede laat leef. Dan sluit soteriologie veel meer in as bloot die oomblik wanneer mens uit die negatiewe situasie gered word. ‘n Mens se hele lewe word dan eintlik deel van soteriologie, want jy is ‘n geredde mens. Wat vir gelowiges in die toekoms wag, kan ook as deel van soteriologie gesien word – die nuwe Jerusalem, Jesus wat ons finaal uit hierdie verganklike wêreld kom red.

Ons gaan in hierdie gedeelte meer klem laat val op die oomblik van verandering, hoewel die ander fasette nie uitgesluit gaan word nie.

  • Die Nuwe Testament bestaan uit ‘n verskeidenheid boeke wat aan verskillende groepe vir verskillende redes oor ‘n periode van sestig jaar geskryf is. In die verskillende boeke van die Nuwe Testament word daar dus op verskillende maniere oor die maniere waarop mense se lewens verander word, gepraat. Die een skrywer praat van wedergeboorte, die ander een van versoening of loskoping, die ander een van navolging. Die verskillende beskrywings mag nie sommer net deurmekaar gegooi word nie. Byvoorbeeld, (weder)geboorte is deel van ‘n groter beeldkompleks waar geboorte lei tot nuwe (ewige) lewe, wat veronderstel dat mens as deel van God se familie leef. Net Johannes en Petrus maak werklik van die uitdrukking gebruik. Regverdigmaking het weer met regspraak deur ‘n regter te doen. Dit gaan oor skuld wat vrygespreek moet word. Die beeld wat gebruik word om te beskryf wat gebeur is dus heeltemal anders en Paulus is veral lief om die beskrywing te gebruik. ‘n Mens moet dus versigtig wees om nie sommer wat Johannes sê met Paulus se beskrywings te vermeng nie. Daarom gaan die bespreking van die soteriologie hier die verskillende boeke of groepe boeke van die Nuwe Testament bietjie uitmekaar hou en afsonderlik bespreek. Daar gaan egter nie op al die detail gekonsentreer word nie, maar tog probeer word om die hooflyne van hoe die verskillende skrywers oor redding gedink het, te beskryf.
  • Die idee moet nie ontstaan dat die skrywers van die Nuwe Testament heeltemal van mekaar verskil het en elkeen sy eie kop gevolg het nie. Hulle was immers deel van dieselfde Christelike tradisie. Hulle het gevolglik sekere breë sienings oor die redding van die mens gedeel – ‘n mens kan praat van ‘n “meesterverhaal” wat basies deel was van elke skrywer se denke.

Die skrywers van die Nuwe Testament gaan uit van ‘n negatiewe beeld oor die mens opsigself. Die mens verkeer in ‘n negatiewe situasie omdat daar geen verhouding met God bestaan nie. Hulle vervreemding van God is duidelik uit die manier waarop hulle teenoor God, hulleself en ander optree (sien Rom 1-3:20). Hulle is vasgevang in hulle sondige situasie. Mense kan hulleself nie uit hierdie negatiewe situasie red nie, wat natuurlik om redding ‘van buite’ vra.

Dit is waar die genadige en liefdevolle God in aksie kom. Deur Jesus skep God die geleentheid vir mense om in ‘n verhouding met Hom te tree. Dit vind deur geloof in Jesus plaas. Deur sy dade en boodskap bemiddel Jesus die redding aan mense wat glo. Die nuwe verhouding wat tot stand kom tussen God en die gelowige kom neer op ‘n proses van hersosialisering waar die gelowige binne die raamwerk van God se koninkryk of familie nuwe lewensmoontlikhede kry en nuut kan leef. So verkry die gelowige ook die hoop op ‘n ewige toekoms saam met God en Jesus, soos Openbaring sê, in die nuwe Jerusalem. Intussen word van die gelowige verwag om volgens die wil van God in lojaliteit en gehoorsaamheid te leef.

 In die volgende artikel gaan ons begin kyk na hoe die sinoptiese evangelies redding beskryf.