Sabbat of Sondag – Francois Malan

Franco vra:

In sy antwoond skryf hy dat “By die skepping het God die Sabbat as gawe aan die mens gegee, nie as ‘n wet nie….”
Waar kom prof Francois Malan aan die stelling want volgens Eksodus 20: 9-11 (Die 10 gebooie) verstaan ek dit anders. Help asseblief.
Ek verstaan ook nie die sewende dag as ons eerste dag nie… Hoe werk dit en waar in die Bybel staan dit..Ek kort hulp ..

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Vraag 1: “By die skepping het God die Sabbat as gawe aan die mens gegee, nie as ‘n wet nievolgens Eksodus 20: 9-11 (Die 10 gebooie) verstaan ek dit anders.

Vergelyk Jesus se verklaring van die Sabbat: ‘Die Sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie, daarom is die Seun van die Mens Here, óók van die Sabbat (Markus 2:27-28). Die passiewe vorm van die werkwoord ‘is gemaak’ impliseer dat dit God is wat die Sabbat vir die mens gemaak het om gereeld op dié dag sy daaglikse arbeid te onderbreek; en dit te heilig beteken dat die mens homself op die dag spesiaal aan die Here en sy diens sal wy. Volgens Jesus se uitspraak dat Hy die Here is wat die seggenskap oor die Sabbat het en oor al die dae van die week, soos geïmpliseer in ‘óók,’ beteken dit dat dit ’n dag is wat Hy elke week aan ons skenk om ons daaglikse werk te onderbreek en ons aan Hom te wy.

Volgens Genesis 2:3 het God die sewende dag geseën en geheilig. Die seën van die dag wat God vir die mens gee is dat God met die mens gemeenskap wil hou, om saam met God fees te vier, en ons met sy liefdeswoord te versterk vir die week wat voorlê se arbeid. Eers dankbaar saam met God feesvier om van sy skepping en sy woord te geniet en daardeur versterk te word vir werk in sy tuin; eers vryheid en dan arbeid; eers die vrde van God geniet en dan die stryd van die week aan te pak.

Dat God die dag geheilig het beteken dat die Here die dag vir Hom opeis as sy dag, die dag van die Here, waarop Hy die mens wil beskerm, en ongestoord met hom wil praat, en van sy genade en liefde wil oortuig (vgl. Eks 34:5-7).

Volgens Deuteronomium 5:15 is dit om ook ons werksmense die rus te gun. In Deutr. 5:15 herinner die Here die Israeliete dat hulle in Egipte slawe was wat sewe dae ’n week moes werk en dat die Here hulle met sy groot krag en magtige dade daaruit bevry het. Daarom het Jesus die Sabbat verander van ’n wet na ’n geskenk van God aan die mensdom soos dit van die begin af was.

In Markus 3:4 daag Jesus die Fariseërs uit met die vraag: ‘Is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen of sleg te doen, om ’n lewe te red of dood te maak?’ Toe maak hy die man met die verdorde hand daar in die sinagoge gesond en die Fariseërs gaan uit en begin dadelik op die Sabbat planne beraam om Hom dood te maak. Sommige van die Fariseërs het ook gesê ‘Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie,’ en dit omdat Hy die blindgebore man op die sabbatdag genees het (Johannes 9:16).

Net voor Jesus se verklaring in Markus 2:33-38 (ook in Lukas 6:1-5) dat Hy die Here is oor die Sabbat, het Jesus twee gelykenisse vertel om te verduidelik dat Hy met ’n nuwe lewenswyse en gebruike kom, en dat jy nie ’n nuwe lap op ’n ou kledingstuk kan werk nie, en nie nuwe wyn in ou leersakke kan gooi nie (Markus 2:18-22; Lukas 5:37-39). Hebreërs 8:8-13 praat van die nuwe verbond die Here, wat die verouderde wettiese verbond van Eksodus 20 wat by Sinai met hulle gesluit is, vervang omdat Israel dit verbreek het. En wat verouderd verklaar en afgeleef, is naby aan verdwyning. In die nuwe verbond gee die Here sy wette in ons verstand en graveer dit op ons harte dat Hy ons God is en ons sy volk. Dit is die Here se verbond van genade om nie meer aan ons sondes te dink nie. Paulus sê: As ons op grond van die wet vrygespreek wil word, is ons van Christus afgesny en verbeur ons die genade van God (Galasiërs 5:5).

 

Vraag 2. ‘Ek verstaan ook nie die sewende dag as ons eerste dag nie… Hoe werk dit en waar in die Bybel staan dit..Ek kort hulp ..

Die woord sabbat beteken eintlik ‘ophou,’ en Genesis 2:2 se digvorm kan eintlik vertaal word met:

En op die sewende dag was God klaar

met die taak wat Hy verrig het;

en op die sewende dag het Hy opgehou

met die hele taak wat Hy verrig het.

Dan beteken dit dat God nie ophou werk het op die sewende dag nie, maar dat Hy met die skeppingstaak opgehou het. Daarom kan Jesus in Johannes 5:17 sê: ‘My Vader is tot nou toe steeds aan die werk, en Ek is ook aan die werk.’ Dit het Hy gesê as regverdiging vir sy genesing van die siek man by die bad van Betesda op die Sabbat.

Die Here het volgens Genesis 2:2 op die sewende dag opgehou met al sy skeppingswerk, en die dag daarom geseën en dit geheilig (Genesis 2:2-3). God het die mens aan die einde van die sesde dag gemaak (Gen 2:24-31). Daarom was God se sewende dag die eerste dag van die mens se lewe op God se aarde, die dag wat deur die Here geseën is en aan God gewy is. Ná die mens se eerste dag, op die dag toe God opgehou het met sy skeppingstaak, het die mens uit dankbaarheid vir ses dae gaan werk, om die tuin wat die Here vir die mens gemaak het te bewerk en op te pas (Gen 2:8,15).

Jesus is op Sondagmôre uit die dood opgewek en het op dié eerste dag van die week reeds aan sy dissipels verskyn (Matteus 28:1; Markus 16:1-6; Lukas 24:1-7; 13-40; Johannes 20:1,2,19). Die christene het die opstandingsdag van Jesus die ‘dag van die Here’ genoem (Openbaring 1:10). Volgens Handelinge 20:7 en 1 Korinthiërs 16:2 het die gelowiges op die eerste dag van die week, op Sondae, bymekaargekom vir hulle gemeenskaplike maaltyd en nagmaal.

Die woord Pinkster kom van die Grieks vir 50 (pentekoste). Op die vyftigste dag na Paasfees het die Jode hulle dankfees vir die oes gehou, die dag na die sewende Sabbat vanaf die fees van die eerstelinge (Levitikus 23:15-16). Op die vyftigste dag, op Sondag, is die Heilige Gees uitgestort en het die kerk eintlik begin funksioneer as ’n gemeenskap van gelowiges in Christus Jesus onder die leiding van die Heilige Gees (Hand.2:1-4).

Wanneer Paulus in ‘n stad by die Jode begin met sy sendingwerk, gaan hy na die sinagoge op ‘n Sabbatdag (Handelinge 13:14-15), maar vir die gelowige gemeentes preek hy op Sondag (Handelinge 20:7). Aan die bekeerlinge uit die nie-Jode het Paulus nie die onderhouding van die Sabbat verkondig nie, hoewel hy Christene wat nog die Sabbat hou nie veroordeel nie (Romeine 14:1,5-6, hoewel hy hulle as swak in die geloof beskou; ook Kolossense 2:16-17, wat egter ook sê dat die Sabbat ’n skaduwee is van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus). Eintlik verkondig Paulus vryheid van die Joodse wette en gebruike soos die Sabbat, vasdae, feesdae en -jare, en ‘n lewe wat aan Christus verbind is (Galasiërs 4:9-11; Romeine 14:8-9). By die vergadering van apostels en gelowiges in Jerusalem is die onderhouding van die Sabbat nie een van die vier dinge wat hulle onder leiding van die Heilige Gees van die bekeerlinge uit die nasies gevra word nie (vgl. Handelinge 15:28-29).

In Kolossense 2:16-17 reageer Paulus teen die dwaalleraars wat o.a. die onderhouding van die Sabbat as ‘n maatstaf van ware godsdienstigheid vereis. Paulus beskou dit as ‘n skaduwee van Christus wat sou kom, en dat dit nou die betekenis van Christus verduister. Die voorskrifte en gebooie van die Ou Testament was die skaduwee wat die buitelyne van Christus vertoon het. Maar nou het Hy gekom, en moet ons nie langer aan die skadubeeld vashou nie, maar in liefde en dankbaarheid saam met Hom en vir Hom lewe (vgl. ook Hebreërs 8:5-6,13 wat sê dat die ou verbond met sy wette vervang is deur die nuwe verbond van genade wat Christus gebring het).

Skrywer: Prof Francois Malan




Ons rabbi se Naam – Francois Malan

Deon vra:

  1. Is ons Rabbi se naam Jesus of is Sy Naam vertaal
  2. Watter dag is die Sabbat

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Die naam Jesus is die Germaanse weergawe van die Griekse Jêsous van die Nuwe Testament, wat ‘n transkripsie is van die Hebreeuse Jihoosji‘a (die twee i’s word uitgesprek soos in dik), in Afrikaans: Joshua. Die weergawes in aldrie die tale beteken ‘Jahweh/die Here is hulp/verlossing/redding’ (Jahweh is die Hebreeuse vorm van ‘Ek is’ van Eksodus 3:14, wat nie eintlik ‘n naamwoord is nie maar ‘n werkwoord, as aanduiding dat die Here altyd aktief teenwoordig is in sy skepping, en ook saam met Moses na Egipte sal gaan om sy volk te verlos).

Soos Joshua beteken die naam Jesus ook ‘die Here is verlossing.’ In Matteues1:21 sê die engel van die Here vir Josef het moet die seuntjie wat gebore gaan word Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. Die engel Gabriël sê dieselfde vir Maria in Lukas 1:31: Jy moet Hom Jesus noem (vgl. Luk. 2:21).

Jesus is egter nie slegs ons Rabbi/leermeester nie (rabbi is die Hebreeus vir ‘my grote’), maar ons verlosser, omdat Hy die Seun van God is wat self God is. Hy is die Woord van God deur wie die Vader alles geskep het,wat mens geword het om ons te kom verlos en van ons kinders van God te maak (vgl. Johannes 1:1-3,14), deur self as God die straf op ons mense se sonde te dra aan die kruis en aan ons die ewige lewe te gee (vgl. Joh 3:16).

 

2  Die Hebreeuse woord sjabbat word gebruik vir die rusdag en ook vir ‘n week van sewe dae. Dit kom van die Hebreeuse werkwoord sjabat wat beteken ophou/voltooi of rus; en hang saam met die Hebreeuse woord sjab‘ kompleet/voltooid, en die Hebreeuse sjêba‘ sewe. Daarom is die sabbat op Saterdag die sewende dag van die week wat met Sondag begin het, deur die Jode gehou.

Toe Jesus na die wêreld gekom het, het Hy egter op die Sabbat mense genees en gesê: My Vader is tot nou toe steeds aan die werk, en Ek is ook aan die werk (Joh 5:17). Hy het ook gesê: Die Sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie; daarom is die Seun van die Mens Here óók van die Sabbat (Markus 2:27-28).

Jesus is op Goeie Vrydag gekruisig, wat in Johannes 19:31 die Voorbereidingdag vir die Sabbat genoem word. Op die eerste dag van die week (Sondag) het Hy uit die dood opgestaan (Joh 20:1). Later het die kerk op die opstandingsdag as die voltooiing van Jesus se werk, bymekaar gekom om die nagmaal te vier (Handelinge 20:7) en die erediens te hou (vgl. Hand. 16:2). Hulle het die Sondag die dag van die Here genoem (Openbaring 1:10).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Varkvleis, Sabbat, nuwe Maan

Varkvleis, Sabbat, nuwe Maan – Francois Malan

Rina vra:

Is daar n verband oor wat in Kolossense 2 staan oor die sabbat, nuwe maan, eet en drink ens en Jesaja 66 wat praat van wanneer die Here in vuur en vlamme kom om te oordeel oor die wat varkvleis eet en die laaste verse waar almal op die Sabbat en nuwe maan sal kom om te aanbid.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Varkvleis

Jesaja 66 is gerig teen Israeliete wat ná die terugkeer uit Babilon wel sê dat hulle die Here dien, maar wat nog voortgaan met die afgodsgebruike wat hulle in Babilon aangeleer het. In Jes 65:4; 66:3,17 word verwys na die offers van varkvleis. Die verbod op die eet van varkvleis kom voor in Lev 11:7 en Deutr 14:8 as onrein diere omdat varke nie herkou nie. Varkvleis en hulle spek is ook deur sommige van Israel se bure gebruik as offers aan hulle afgode. Daarby het varke se manier om in modder te rol en afval kos eet ‘n teensin gewek (vgl. Spr.8:11 die skoonheid van ‘n dom vrou is soos ‘n goue ring aan ‘n vark se snoet; Mt 7:6 moenie julle pêrels voor die varke gooi nie).

 

Jes 65:4 verwyt die ballinge wat teruggekeer het dat hulle nog voortgaan met die offerandes aan ander gode; dat hulle die wette oor rein en onrein voedsel ignoreer en daarom onrein is in hulle aanbidding van die Here. Al praat hulle oor hulle godsdienstigheid, sny hulle hulleself van die Here af. Volgens Jes 66:4 offer hulle bulle, skape en graan, maar ook menseoffers, honde en varkbloed, hulle afgodsoffers word met hulle offers aan die Here vermeng. Die dubbelhartigheid word deur die Here verwerp, en vir hulle optredes kondig Jes 66:17 aan dat hulle uitgeroei gaan word.

 

Die Here het in Jesaja 1:11-14 al, voor die ballingskap, aan Juda en Jerusalem gesê Hy is sat van hulle offers, dat Hy ‘n afsku het aan hulle nuwemaansfeeste en sabbatsvierings wat Hy haat en Hom moeg maak.  

 

In Hosea 6:6, wat nog voor Jesaja geprofeteer het, sê die Here: Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers (vgl. Ps 40:7 Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie, U wil gehoorsaamheid hê; vgl. 1 Samuel 15:22-23).

 

Volgens Matteus 9:13 en 12:7 haal Jesus Hosea 6:6 aan: Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.

 

Vir die Kolossense skryf Paulus dan: julle moet nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie….dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom, die werklikheid is Christus (Kol 2:16); in Kolossense 1:20: deur Christus het God alles met Homself versoen; deur die bloed van God se Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Christus het God alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Hebreërs 10:14: Deur die één offer het Jesus Christus dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volome van sonde vry gemaak. Daarmee is die offer van diere uitgedien en vervang deur Jesus se liefdesoffer aan die kruis: 1 Kor 5:7: Want ook ons paaslam, Christus, is geslag (Jes 53:7: ‘soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei is…’).

 

            En wat die eet van varkvleis aan betref verwoord Paulus in Kolossense wat in Markus 7:18-19 staan: ‘Begryp julle dan nie dat niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit die liggaam uitgaan? Daarmee het Jesus alle kos rein verklaar.’

 

Vraag: Kolossense 2 oor sabatte en nuwemaan – Jes 66 ‘die laaste verse waar almal op die Sabbat en nuwe maan sal kom om te aanbid?’ 

 

‘n Letterlike vertaling van Jesaja 66:23 is: En dit sal gebeur dat van nuwe maan tot nuwe maan (of ook: van maand tot maand), en van sabbat tot sy sabbat (of ook van rusdag tot rusdag) sal alle vlees (mense) kom om hulle voor my te buig, sê die Here.

 

            Dit verwys nie na die sabbatdag wat elke sewende dag gehou word nie, of na die nuwemaanfees wat elke maand gehou word nie, maar dat alle mense elke dag van die week en van die maand hulle voor die Here sal verootmoedig.   

 

            So sê Kolossense 2:16-17 dat niemand vir die gelowiges ‘moet voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse fees of die nuwemaanfees of die sabbatdag moet vier nie (letterlik vertaal: moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of die Sabbat nie). Hierdie dinge is net ‘n skaduwee van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.’ 2:20: Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die godsdienstige wettiese reëls van hierdie wêreld. 3:1 ‘aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is…’

 

            Dit beteken, soos Jes 66:23, dat ons elke dag sal lewe voor die aangesig van God om te doen wat Hy wil. In Johannes 13:34 en 15:12 het Jesus duidelik uitgespel hoe ons moet lewe: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Netsoos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. God vra liefde vir Hom en vir mekaar en nie die onderhouding van reinheidswette en spesiale dae nie om daarmee iets te verdien nie. Kolossense 1:22-23: ‘Maar nou het God se geliefde Seun julle deur sy liggaam met Homself versoen, sodat Hy deur sy dood julle heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel. Maar dan moet julle in die geloof bly, gegrondves en onwrikbaar, en nie losgeruk word van die hoop wat die evangelie bring nie.’ En daarom die vermaning in 2:16: ‘Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of die Sabbat nie…’

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (9)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (9) – Adrio König

2.6 En Sondag?

Nêrens in die Nuwe Testament word ons beveel om die eerste dag van die week, Sondag, te vier nie. En nêrens in die Nuwe Testament word Sondag met die vierde gebod in verband gebring nie. Ons Sondagviering is iets anders. Die vierde gebod het nie net verskuif van Saterdag na Sondag nie. Dit het verruim van Saterdag na elke dag. Sondag het bygekom as iets nuuts.

Baie van ons voorouers het dit nie só verstaan nie. Hulle was oortuig dat die Sabbat van die Ou Testament oorgegaan het na die Sondag van die Nuwe Testament. Alles sou net dieselfde gebly het, al die bepalings oor die Sabbat wat ons in die Ou Testament kry, sou nog van krag gewees het, maar dit sou alles net oorgeskuif het na die eerste dag van die week, Sondag.

 

Vir eeue lank het baie Christene nog probeer om die Sabbatswette van die Ou Testament op Sondag te hou. Hulle het Saterdag kos gemaak wat Sondag geëet is, hulle het nie op Sondag gekoop nie, nie (onnodig) gery nie, geen sport beoefen of koerante gelees nie, nie geswem as hulle by die see vakansie hou nie, en nog duisend ander dinge nie gedoen nie.

 

Dit het hulle taamlik weerloos gelaat teen die Sewende Dag Adventiste wat gevra het waar hulle dié verandering in die Nuwe Testament gekry het. Volgens die Adventiste het hierdie Christene presies reg opgetree, maar hulle moes dit net op die regte dag doen, Saterdag, die Sabbat. Die sewende dag  is die Sabbat. 

 

Maar intussen het dit tog duidelik geword dat die Nuwe Testament nie ‘n verband lê tussen Sondag en die vierde gebod nie. Nêrens in die Nuwe Testament word die Sondag in terme van die Sabbat uitgedruk nie. 

 

Sondag het skynbaar spontaan en onbepland gegroei. Kyk na die eerste spore van iets besonders op die eerste dag van die week.

  • Dat Jesus op die eerste dag van die week opgewek word.
  • Dat Jesus dan die aand aan sy dissipels verskyn.
  • Dat Hy dan juis agt dae daarna weer aan hulle verskyn (Joh 20:19, 26).
  • En dat die Gees ook op hierdie dag uitgestort is.
  • Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus om elke Sondag iets vir die armes opsy te sit (1 Kor 16:2).
  • Hy spreek die gelowiges in Troas op die eerste dag van die week toe (Hand 20:7-14).
  • Later begin die Christene hierdie dag “die dag van die Here” noem wat die besondere betekenis beklemtoon wat hierdie dag gaandeweg vir hulle gekry het. Johannes is op “die dag van die Here” deur die Gees meegevoer om die wonderlike gesigte te sien (Openb 1:10).

 

Kom ons kyk in meer besonderhede na ‘n paar van hierdie sake.

 

Dit hoef nie op sigself so opvallend te wees nie dat Jesus die aand van sy opstanding aan sy dissipels verskyn nie, maar Johannes se besondere beklemtoning dat dit juis die eerste dag was, is opvallend. Johannes skryf: “Op die aand van daardie dag” wat sy opstandingsdag is, en dan voeg hy nog by: “die eerste dag van die week” (20:19).

 

Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus om elke Sondag iets vir die armes opsy te sit (1Kor 16:2). Maar kyk presies hoe skryf hy dit. Hy sê nie hulle moet dit saamvat “kerktoe” nie. Hy sê hulle moet dit “tuis” opsy sit. Waarom? Die heidene het nie besondere betekenis aan die eerste dag gegee nie, die gelowige bediendes het nie spesifiek op die eerste dag van die week hulle loon gekry nie, trouens dis waarskynlik so dat hulle glad nie eens weekliks loon ontvang het nie. Waarom dan juis op hierdie dag tuis iets opsy sit? Ek weet van geen ander rede nie as dat hierdie dag toe alreeds vir hulle ‘n besondere godsdienstige betekenis moes gehad het. 

 

En dan die byeenkoms die Sondag in Troas. Paulus is so haastig om betyds vir die pinksterfees in Jerusalem te wees (20:16) dat Éfese se ouderlinge spesiaal kus toe moet kom om hom te ontmoet. Hy het nie tyd om in die binneland by Efese na hulle te reis nie. Maar intussen wag hy sewe dae in Troas om die gemeente die eerste dag van die week te ontmoet! (20:6-7) Waarom? Seker omdat hulle net op Sondae bymekaar gekom het.

 

Dit alles beteken dat Sondag nie ‘n vervanging van die Sabbat is nie. Dis ‘n ander dag, ‘n nuwe dag, die dag van Jesus se opwekking, die dag toe die betekenis van sy kruisdood deur God bevestig is. Dis ‘n dag wat werd  is om te vier, met gejuig.

 

Skrywer:  Prof Adrio König