Die Samaritane

Die Samaritane – Coen Slabber

In Johannes 4 lees ons van Jesus en die Samaritaanse vrou. In haar gesprek met Jesus sê sy onder andere: Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid (vers20). Wie was hierdie Samaritane en wie/wat het hulle aanbid?

Wie was die Samaritane?

Ons is nie seker wanneer die Samaritane ontstaan het nie. Daar is veral twee sienings oor hulle oorsprong:

(a)    Die Jode het vas geglo dat die Samaritane se voorouers immigrante uit vreemde lande was. Na die Assiriërs van die inwoners van die Noordryk in ballingskap weggevoer het, lees ons in 2 Konings 17:24 – 41: Die koning van Assirië het inwoners van Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim af gebring, en hulle in die stede van Samaria gevestig in die plek van die Israeliete … Hulle het die Here vereer en ook hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die heidennasies waaruit hulle weggevoer is. Toe die Jode uit die ballingskap teruggekeer het, het hulle die tempel herbou. Daar kom toe mense (? Samaritane) wat aangebied het om hulle te help met die herbou van die tempel – ons vereer dieselfde God as julle. Ons bring vir Hom offers. Serubbabel en Jesua weier egter dat hulle help: Ons alleen sal vir die Here die God van Israel bou (Esra4:1 – 3). Die Jode het die Samaritane nie as ras egte Jode beskou nie. 

(b)    Die Samaritane, daarenteen, hou vol dat hulle ‘n oorblyfsel van die ware Israeliete was wat die ontheiliging van Israel se geloof soos gevind in Jerusalem teengestaan het. Hierdie ontheiliging het plaasgevind toe die plek van aanbidding van Sigem na Silo en uiteindelik na Jerusalem verskuif is. Hulle glo hulle het die enigste wettige plek van aanbidding – die berg Gerisim – en die ware priesterskap. Josefus, die bekende Joodse geskiedskrywer, beskryf die uitwerping van ‘n priester uit Jerusalem. Sy skoonvader, Sanballat, bou toe vir hom ‘n heiligdom by Gerisim. 

Baie teoloë verwerp die verband tussen die Samaritane aan die een kant en 2 Konings 17 en Esra 4 aan die ander kant. Hulle glo dat die Samaritane ‘n klein groepie konserwatiewe noordelike Israeliete was wat nie in ballingskap weggevoer is nie. Na Aleksander die Grote se geweldadige onderdrukking van ‘n opstand (331 vC) migreer hulle na Sigem. By hulle sluit ‘n aantal priesters wat uit Jerusalem verban is, aan. Hierdie verbanning het gebeur tydens die streng hervormings van Esra en Nehemia. Iewers in die vierde eeu vC bou hulle ‘n tempel by Gerisim. Daar kom ‘n duidelike skeiding tussen die Samaritane aan die een kant en die tempel en priesterdom in Jerusalem aan die ander kant (Johannes 4:19 -24).

Spanning tussen Jode en Samaritane

Daar was van die begin af spanning tussen die Noord- en Suidryk toe Israel na die dood van Salomo verdeel is in twee ryke. Met die terugkeer van die ballinge uit Babilon (ongeveer538 vC) het die spanning weer opgevlam. Voor die terugkeer van die ballinge was die hele gebied deur Sanballat (onder gesag van die Perse) uit Samaria in die noorde regeer.Die terugkeer van die ballinge, en veral hulle besluit om die tempel in Jerusalem te herbou, was ‘n bedreiging vir Sanballat.

Aanvanklik was die spanning polities gedrewe, maar later was dit hoofsaaklik godsdienstig. In die Wysheid van Ben Sirag lees ons: Daar is twee nasies wat ek haat; die derde een is nie eers ‘n nasie nie: die mense wat in die berge van Samaria leef (die Edomiete); die Filistyne en die onnosel nasie wat in Sigem leef (50:25 – 26). Hy sien die Samaritane in ‘n slegter lig as die Edomiete en Filistyne – hulle is ‘n onnosel nasie!

Die Jode se minagting vir die Samaritane het toegeneem toe die Samaritane nie die veldtog teen Antiogus Epifanes se bevordering van die Griekse godsdiens in Palestina teengestaan het nie. Antiogus het onder andere die tempel in Jerusalem as ‘n aanbiddingsplek vir die Griekse god Zeus ingerig. Dit lei tot die Makkabese opstand waaraan die Samaritane nie deelgeneem het nie.

Opsommend: daar was verskeie redes vir hierdie spanning:

(1)  Die Jode het nie die wettigheid van die Samaritaanse priesters aanvaar nie.

(2 ) Die Jode het geglo dat God slegs in Jerusalem waarlik aanbid kan word – Gerisim is nie erken as heiligdom nie en beslis nie as ‘n plek waar offers gebring kan word nie

(3)  Daar was ook verskille oor tradisies en die interpretasie van die Skrif.

Hierdie spanning was altyd onderliggend teenwoordig, maar het elke af en toe openlik uitgebars. ‘n Paar voorbeelde is:

(i)  In 128 vC neem Johannes Hirkanus Sigem in en verwoes die Samaritaanse tempel by Gerisim.

(ii)  In 52 vC kry ons die massamoord op Joodse pelgrims wat van Galilea na Jerusalem gereis het. Hulle moes of deur of om Samaria reis om by Jerusalem te kom.

(iii)  In 5 – 6 vC word die tempel in Jerusalem ontheilig deur tydens die Paasfees mensbeendere op die terrein te stooi. Dit was waarskynlik die werk van Samaritane wat die tempel as ‘n vals kultiese sentrum beskou het. Die tempelowerhede in Jerusalem het hulle ook verbied om in sekere gedeeltes van die tempel te kom.

Die gevolg was dat huwelike tussen die twee groepe verbied is en sosiale interaksie was baie beperk: Die Jode en Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie (Johannes 4:9). Die woord Samaritaan is dikwels minagtend gebruik. So sê die Jode vir Jesus: Ons het mos gesê jy is ‘n Samaritaan en van die duiwel besete (Johannes 8:48).

Wat was Jesus se houding teenoor die Samaritane?

In Matteus 10:5 lees ons van Jesus se opdragte aan die twaalf voordat Hy hulle uitstuur. Een van die opdragte is: Moenie in ‘n dorp van die Samaritane ingaan nie. In Lukas 9:51 – 53 lees ons dat Jesus deur ‘n Samaritaanse dorp verwerp is. Jesus verwys ook na die Samaritaan, een van die tien melaatses wat Hy genees het, as hierdie man wat nie eers ‘n Jood is nie (Lukas 17:19).

Was Jesus dus negatief teenoor die Samaritane ingestel? In Lukas 10 lees ons die bekende gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die priester en Leviet word in ‘n baie negatiewe lig geskilder, maar die Samaritaan word baie positief beskrywe. Jesus breek hier deur die bestaande vooroordele.

Ons moet aanvaar dat Jesus se gesindheid teenoor die Samaritane radikaal verskil het van dié van die Jode. Toe ‘n Samaritaanse dorp Jesus verwerp het, wou Jakobus en Johannes vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer. Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys (Lukas 9:54 – 55). Hy het ook nie geweier om die Samaritaanse melaatse te genees nie.

Die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou is interessant. Nie alleen kon Jesus onrein verklaar word nie, maar Hy bly twee dae in die dorp Sigar – ‘n Samaritaanse dorp. Jesus herdefinieer geregtigheid: nie afkoms of godsdienstige praktyke is belangrik nie, maar geloof in Hom. Hiermee verwerp Hy die ras- en kultuurverskille van destyds.

Wat het die Samaritane geglo?

Hulle glo dat daar net een God is en dat Hy sy wet aan die volk deur Moses gekommunikeer het. Hulle glo egter dat Gerisim die enigste heiligdom is waar offers gebring mag word. Hierdie gevolgtrekking berus op gedeeltes in Eksodus en Deuteronomium in die sogenaamde Samaritaanse Pentateug. Hulle glo dat Gerisim die plek is waar Abel sy altaar gebou het (Genesis 4:4), waar Noag geoffer het na die sondvloed (Genesis 8:20), waar Abraham en Melgisedek ontmoet het (Genesis 14:18), die plek waar Isak geoffer sou word (Genesis 22) en ander.

Hulle het slegs die eerste vyf boeke van die Bybel aanvaar. Dit het hulle teologie bepaal, maar hulle ook van die Jode onderskei. Moses is nie alleen as die belangrikste profeet gesien nie, maar ook as die lig van die wêreld. Hulle het nie aanvaar dat die Messias uit die huis van Dawid sou kom nie, want die Pentateug maak geen melding daarvan nie.  Hulle glo dat die Messias sal kom: Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak (Johannes 4:25). Hulle het die Messias gesien as ‘n eindtyd profeet, soos Moses, gegrond op Deuteronomium 18:15 – 18). Hierdie Messias sou egte aanbidding by Gerisim herstel.

Gevolgtrekking

Die Samaritane kan waarskynlik ten beste as ‘n konserwatiewe vorm van Judaïsme beskryf word, alhoewel dit nie deur almal aanvaar word nie.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber


 




Die Groot Geloofswoordeboek: Samaritane

Die Groot Geloofswoordeboek: Samaritane

Samaritane

Die Samaritane is die afstammelinge van die vermenging van Jode en hoofsaaklik Kutiërs. Daar het Jode in Samaria agtergebly na die *ballingskap van die noordelike stamme in 722 vC. Die veroweraars het ander mense, veral mense uit Kuta, ingevoer om die stede van Samaria te bevolk, en hierdie mense en die Jode wat agtergebly het, het ondertrou. Hulle was dus ‘n gemengde bevolking wat die naam van die streek gekry het: Samaritane van Samaria. Hulle het ook ‘n vermengde godsdiens beoefen. Die Kutiërs is “geëvangeliseer” om die God van Israel te dien, maar het ook aangegaan om die gode wat hulle saamgebring het te dien. Dit is die rede waarom die Jode so op die Samaritane neer­gesien het. Hoe erg hulle die Samaritane geminag het, is duidelik in die beskuldiging van die Jode aan Jesus waar hulle “Sama­ritaan” en “duiwelbesetene” as sinonieme gebruik (Joh 8:48). En die Samaritane het natuurlik op “paslike” wyse teen die Jode gereageer (Luk 9:51-55). Die ontstaan van hierdie volk vorm ‘n baie interessante geskiedenis (2 Kon 17:24-41).

 

Skrywer: Prof Adrio König