Welwillende en vyandige seksisme

Welwillende en vyandige seksisme – Francois Malan

Norma vra:

Ek het dievolgende wat ek moet voorberei vir ‘n werksgroep. Ek het nasorg gedoen, maar soek meer. Die onderwerp is “hostile Sexsim” Vyandige sesisme en “benevolent sexism”welwillende seksisme. Ek is besig om n studie te doen oorbevryding en alhoewel nie een van bostaande iets is waarvan ek vrymaking het nie, is dit my verstandhouding dat ons leier juis daarom vir my die opdrag gegee het. Dit is vir my selfsprkend wat die kenmerke van albei is, en die antwoord vir my is, dat God ons man en vrou gelykstaande gemaak het, omdat ek bewus is daarvan dat die twee uiteenlopende gevalle ‘n groot nagevolg kan hê, want dit lei van die een vraag na die ander waarvan verskeie bindige aangespreek kan word. Ek is n persoon wat die oorsaak van die bindinge aanspreek en omdat ek nog nie met die bogenoemde direk met so ‘n persoon gehanteer het nie, maar bewus is van die implikasie van vleeslike mense, waarmee ek daagliks te doen kry, weet ek dat bogenoemde versigtig gehanteer moet word, so om nie die gebinde op sy aanvallende aksies op die eerste besoek teen die aspek van verskillende bindinge wat daartoe kan aanleiding die skrik op die lyf te jaag nie. Is daar enige insette wat vir my riglyne kan gee. Ek is bewus dat die Geilige Gees altyd deur Christus vir my intree, maar die is iets nuuts.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

  1.  Welwillende seksisme

Volgens Efesiërs 5:1-33 word die gemeentes opgeroep om navolgers van God te wees. Hy het ons as sy kinders lief. Daarom moet ons in liefde vir mekaar lewe, soos Christus ons liefgehad het en Homself vir ons oorgegee het – die oorgawe in liefde aan mekaar is vir God ‘n vreugde as sy kinders so lewe (vv1-2). Dié wat in Christus is, is die lig vir die wêreld, deur alles wat goed en reg en waar is, te doen – hulle is vir die Here ‘n vreugde (vv8-11; vgl. Mat.5:14). Daarom moet ons versigtig lewe, as wyse mense (v15) wat verstaan wat die wil van die Here is, nl. om deur die Heilige Gees vervul te wees (v18) – die Heilige Gees is God wat in ons kom woon het (Rom.8:9), wat geloof in Christus in ons kom bewerk (Ef.2:8), wat besig is om ons al meer te vorm om soos Christus te word (2 Kor.3:18), en daarom aan mekaar onderdanig is (Ef.5:21).

Dit word in Ef.5:22-33 uitgespel ten opsigte van die verhouding tussen man en vrou in die huwelik: die vrou onderwerp haar aan die man se leiding as die hoof van die gesin; die man het sy vrou so lief soos Christus wat vir ons sy lewe gegee het, om haar al mooier te laat ontwikkel, sonder vlek of rimpel, onder sy opofferende liefde, waarin hy haar net so lief het as wat hy vir homself is. Die vrou word geroep om so ‘n soort man te respekteer. En hulle word opgeroep om mekaar lief te hê soos Christus ons liefhet.

In 1 Kor 7:2-5 word die seksuele verhouding in die huwelik uitgespel as die kersie op die koek van hulle liefde vir mekaar:

  •  v2 elke man moet sy eie vrou , ‘n eufemisme vir seksuele gemeenskap, en elke vrou haar eie man – daarmee word alle seks buite die huwelik afgewys. Die man gaan met sy seksuele begeerte na sy eie vrou en sy met haar seksuele begeerte na haar eie man.
  •  v3 die man gee aan sy vrou haar huweliksregte en die vrou aan die man – wanneer die man na sy vrou toe kom met sy seksuele begeerte, het sy nie verskonings, of weier sy nie, maar verwelkom dit. Net so verwelkom die man sy vrou se seksuele begeerte.
  •  v4 die vrou het nie meer seggenskap oor haar eie liggaam nie, maar haar man; en die man het nie meer seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou – daarom kan die vrou of die man nie na iemand anders met seksuele begeerte kyk of dink nie. Vgl Jesus se woorde in Matteus 5:27,28 dat elkeen wat na ‘n vrou met begeerte kyk, reeds met haar egbreuk in sy hart teenoor sy vrou en haar man gepleeg het.
  •  v5 waarsku dat man en vrou nie lank van mekaar af wegbly nadat hulle saamgestem het om ‘n kort rukkie nie gemeenskap te hê nie, want dan kry die duiwel ‘n vatplek aan hulle. Dit veronderstel gereelde seksuele omgang binne die huwelik. Egbreuk en egskeiding word deur die Here afgewys in Eks.20:14; Mark.10:11-12; 1 Kor.7:10-11.

In 1 Kor.7:36-38 word verloofdes wat nie die gawe van onthouding het nie aangeraai om te trou, so ook vir wewenaars en weduwees (7:7-9).

In 1 Tes.4:3-8 word jongmense aangesê om hulle huweliksmaats in heiligheid en eer te bekom, nie deur seksuele begeertes soos die heidene nie. Heiligheid beteken volgens die wil van die Here, met ander woorde deur mekaar lief te kry deur ‘n vriendskapsverhouding te bou. Eer beteken dat jy ook die meisie die man se liggaam, en die man die meisie se liggaam sal eer en dit nie vir seksuele begeertes misbruik nie, maar te wag totdat julle trou.

  1.  Vyandige seksisme

Efesiërs 5:3,12 sê: egbreuk en alle seksuele onreinheid of misbruik van iemand se liggaam moet nie eers onder gelowiges genoem word nie. Filippense 4:8 sê ons moet ons gedagtes vul met alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is. Ek weet nie waarom julle die vyandige seksisme moet besturdeer nie.

1 Kor.6:9-11 sê dat onsedelikes, afgodedienaars, dronkaards, egbrekers, seksuele perverte wat homoseksualiteit beoefen, nie deel kry aan die koninkryk van God nie.

Romeine 1:18 sê dat God sy toorn uit die hemel openbaar oor al die goddeloosheid en onregverdigheid van mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid onderdruk. Van vers 24-32 spel hy uit hoe God se toorn werk: Hy gee die mense oor aan hulle eie begeertes en luste om mekaar se liggame te onteer, vrouens het seksuele gemeenskap met vroue, en mans met mans, en ‘n hele reeks van onbetaamlike dinge wat mense aan mekaar doen – daaraan gee God hulle oor, omdat hulle Hom nie as hulle God dien en gehoorsaam nie (verse 19-23).

Vergelyk ook 2 Timoteus 3:1-9 oor die hoe mense leef in die laaste dae waarin ons leef tussen Christus se eerste koms en sy wederkoms.

  1.  Bindinge

Galasiërs 5:1 sê Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie. Lees Galasiërs 5:13-25 oor wat die werke van die mens is, teenoor die vrug van die werk van die Heilige Gees wat in ons werk. Gal.6:1-5 gee raad hoe om met mense te werk wat deur verkeerde dinge oorval is, in ‘n gees van sagmoedigheid en mekaar se sondelaste te dra. Efesiërs 6:10-20 wys hoe ‘n gelowige moet lewe om weerstand te bied teen die magte van die bose.

 

Skrywer: Prof Francois Malan