Is Covid-19 ’n teken dat die einde van die wêreld op hande is? – Hermie van Zyl

Gerugte doen soms op sosiale media die rondte dat die Covid-19-pandemie ’n teken is dat die einde van die wêreld aangebreek het. Dis nou net ’n kwessie van tyd. Want, word gesê, pandemies is deel van die tekens van die eindtyd waarvan ons lees in Lukas 21. Wat moet ons met dié gerugte maak? Moet ons dit ernstig neem?

Die antwoord hierop is ja en nee. Ja, Covid-19 ressorteer onder die “epidemies” waarvan in Lukas 21:11 sprake is, en as sodanig is dit ’n teken van die eindtyd. Maar nee, dis nie ’n teken van die einde soos die sosiale media dit voorhou nie; dis nie ’n aanmoediging om die dag en datum van die einde te probeer bereken nie; dis nie deel van die sensasie rondom Covid-19 nie; dis nie deel van die bangmaakstories wat ons bewend in ’n hoeke wil laat wegkruip, wagtend op die einde nie. Maar goed, indien mens jou nie aan die bangmaakstories hoef te steur nie, hoe móét ons dan hierdie Bybelgedeeltes wat oor die tekens van die eindtyd handel, vir vandag verstaan? (In hierdie bydrae sal spesifiek gekonsentreer word op Lukas 21 aangesien dit net hier – in Lukas 21:11 – is waar die woord “epidemie” as deel van die tekens van die eindtyd genoem word. Maar wat geld vir Lukas 21 geld mutatis mutandis ook vir die parallelle in Matteus 24 en Markus 13.)

Vooraf net eers twee inleidende opmerkings: Lukas 21 (en die parallelle in Matteus en Markus) is van die moeilikste gedeeltes in die Bybel om te verklaar, omrede: a. Daar is nie netjiese antwoorde vir elke stukkie detail nie. Tog is daar ’n groot mate van sekerheid oor die hooflyne van interpretasie. En dít is waarop ons sal konsentreer. b. Jesus se oorspronklike profetiese uitsprake word deur die Evangelieskrywers enersyds getrou oorgelewer, maar andersyds aangepas vir hulle lesers, veertig tot vyftig jaar nadat Jesus op aarde hierdie uitsprake gemaak het. Ons sien hierdie aanpassings byvoorbeeld in hoe die Evangeliste verskil in hulle rapportering van Jesus se uitsprake – die basiese inligting is dieselfde, maar tog is daar verskille. En dis juis uit hierdie verskille dat ons agterkom waarin die beklemtoning of unieke boodskap lê wat elke Evangelieskrywer by sy lesers wou tuisbring. Dít is die werkwyse wat ons probeer volg in Lukas 21.

  1. Watter soort tekens is ter sprake?

’n Mens kan die tekens soos volg klassifiseer:

  • Vers 12-19: Die vervolging van die kerk (ek noem dit eerste, want volgens v12 gebeur v12-19 se tekens vóór dié van v8-11)
  • Vers 8-11: Onrus onder die volke; natuurrampe
  • Vers 20-24: Die val van Jerusalem en die tempel
  • Vers 25-28: Kosmiese tekens direk voor die koms van die Seun van die mens

As mens die tekens mooi bekyk, is dit opvallend dat hulle baie algemeen of non-spesifiek is. Dit gaan hier oor rampe en swaarkry wat almal met reëlmaat in die wêreldgeskiedenis voorkom; daar is niks spesifiek of besonders aan hulle waaruit ons presiese berekenings kan maak oor wanneer einde sou aanbreek nie. Neem hulle maar almal:

  • Aardbewings, hongersnood, oorloë, opstande, epidemies, vervolging van gelowiges, die val van groot en belangrike stede en vestings
  • Kosmiese tekens: dinge soos sons- en maansverduisterings, komete wat kom en gaan, warmer en kouer tydperke, ensovoorts, kom gereeld voor

Al dié “tekens” het nog altyd voorgekom, en steeds staan die aarde! So, hoe kan ons uit hulle enigiets aflei omtrent wanneer die einde presies sal kom? Geen wonder nie dat Jesus waarsku oor misleiding: Pas op dat julle nie mislei word nie; pasop vir die vals profete wat sê: “Dit is ek; die tyd het aangebreek” (v8). En in v9 waarsku Hy verder dat dit nog nie dadelik die einde is nie. Die punt wat Jesus maak, en later ook Lukas aan sy lesers, is: Moenie op loop sit nie; moenie berekenings probeer maak nie; moenie angstig raak nie; moenie God se raad probeer peil nie. Dis nie waarvoor die tekens bedoel is nie; die bedoeling lê elders (later meer hieroor).

Ons moet dus nie ons ore uitleen aan sensasiesoekers vandag wat mense op ’n knop probeer jaag met bangmaakstories oor die einde van die tyd wat op hande is nie: dit berus nie op goeie Bybeluitleg nie.

  1. Katastrofes is deel van die wêreld waarin ons leef

Covid-19 het die hele wêreld in sy greep, dis ’n katastrofe van wêreldomvang; geen wonder nie dat mense dink dis die einde van die tyd. En dit kwalifiseer ongetwyfeld as een van daardie “epidemies” waarvan Lukas 21:11 praat as teken van die eindtyd. Maar dit beteken nie dat ons aan elke aardse katastrofe ’n apokaliptiese kleur moet gee wat ons met angs en bewing vervul en verlam laat nie. Dis gewoon onverantwoordelik; dis vals profesie. Dan tree ons op soos sommige mense wat op ’n histeriese manier van elke ding wat verkeerd loop by die huis of by die werk ’n verskriklike ding maak, dit buite alle proporsies opblaas en net die ergste verwag. Ons hoor dikwels sulke mense sê: Dis nou die einde van hierdie huis of verhouding of besigheid. In plaas daarvan dat hulle sê: Kom ons maak dinge reg wat verkeerd geloop het sodat ons beter kan funksioneer in die toekoms; kom ons beskou dit as ’n geleentheid vir leer en groei. Dus, in stede daarvan om gebeure te “apokaliptiseer”, moet ons dit eerder sien as deel van die lewe en dit afbreek na hanteerbare groothede.

’n Goeie voorbeeld van ’n aardse katastrofe wat Lukas so weergee dat dit nie net ’n teken van die eindtyd is nie, maar ook as deel van die verloop van die lewe gesien moet word, is die lotgevalle van Jerusalem (v20-24). Jerusalem (en die tempel) is deur beide Jode en Jode-Christene beskou as ’n vesting van veiligheid en sigbare teken van God se teenwoordigheid in hulle midde. Solank Jerusalem en die tempel staan, is alles wel; maar die einde van Jerusalem sou so ongeveer gelyk wees aan die einde van wêreld. In v20-24 handel Lukas nou oor Jerusalem en die tempel se einde. Maar, ons moet onthou, soos reeds aan die begin genoem, die Lukasevangelie is geskryf ná die verwoesting van Jerusalem en die tempel deur die Romeinse leër van generaal Titus in 70 nC. Lukas verstaan en rapporteer Jesus se woorde dus in die lig van hierdie historiese gebeure. Vir sy lesers was dit reeds bekende gebeure wat deel van die geskiedenis geword het.

Verder, hierdie gedeelte (v20-24) kom nie só uitgebreid voor by Matteus en Markus se parallelle nie. Dis nou een van daardie verskille tussen die Evangelies waaruit dit duidelik blyk dat Lukas hierdie katastrofe meer as die ander Evangelies beklemtoon. Ons kan dit so verstaan: Lukas gebruik Jesus se profesie oor die verwoesting van Jerusalem om te sê dat Jesus se profesie reeds in vervulling gegaan het. En almal weet – ook sy lesers – hoe katastrofies Jerusalem se val beleef is. Dit was ’n skok vir die geloof; mense het gedink dis die einde van die wêreld; hulle kon hulle nie die pad met God sonder Jerusalem en die tempel voorstel nie. Dit was die einde van die “normale lewe” soos hulle dit geken het. En tog, na alles was dit toe nie die einde van die wêreld nie; die lewe het voortgegaan. Trouens, daardie gebeure het deel van die geskiedenis geword; dit het hulle “nuwe normaal” geword. Hulle het geleer om sonder die geestelike stabiliteit en veiligheid wat Jerusalem gebied het, voort te gaan. Hulle het geleer om die toekoms in God se hande te laat en nie op ’n alarmerende manier dinge vooruit te loop nie

So moet ons ook oor Covid-19 dink. Ja, dis ’n katastrofe; dit het alles verander; niks is meer dieselfde nie. Dit voel of al ons sekerhede en stabiliteit daarmee heen is; alles is op losse skroewe: ’n Mens kan niks beplan nie, want netnou het ons ’n derde vlaag van die virus en dan is alles weer op sy kop gekeer. Maar ons leer ook hoe om daarmee saam te leef; dat die lewe vol onsekerhede en broosheid is; dat dít is hoe die lewe, die geskiedenis is; dat dit nie die einde van die wêreld is nie; dat die lewe voortgaan. Ons leer ons moet eerder op die uitkyk wees vir die nuwe geleenthede wat God vir ons oopmaak as om te konsentreer op wat ons verloor het.

En dit bring ons by die eintlike betekenis van die tekens van die tyd.

  1. Opskerping tot waaksaamheid en roeping op aarde

 Ek het vroeër gesê: Die doel van die tekens is nie om ons angstige berekenings te laat maak of te verlam vir die lewe nie. Maar wat is die doel dan? Kort gesê: Die doel van die tekens is om ons op te roep tot voortdurende bekering. Bekering waartoe? Die eenvoudige antwoord is – tot waaksaamheid en roepingsvervulling.

 Waaksaamheid: Nadat oor die tekens van die eindtyd gehandel is, kom v34-36 tot die slotsom: Wees op julle hoede. Wat behels dit? Twee dinge: wegkeer en toekeer.

  • Wegkeer: Bly weg van onmatige etery en drinkery, en moenie toelaat dat julle deur die sorge van die lewe afgestomp word nie, sê v34.
  • Toekeer: Wees waaksaam; bid altyddeur, sê v36, dit wil sê: lewe in voortdurende gemeenskap met God.

Dus, die doel van die tekens is nie om ons in koorsagtige angs en benoudheid oor die aanstaande einde te dompel nie, maar om ons uit te bring by die alledaagse lewe: ’n voortdurende wegkeer van die sonde en ’n toekeer na God. So berei ons voor op die einde – of dit nou die wederkoms of ons persoonlike einde (die dood) is.

Roepingsvervulling: Vers 24b is hier belangrik: “Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is”. Letterlik staan daar: “… totdat die tyd van die nasies vervul is”. Hierdie frase kan op verskillende maniere verstaan word, maar een betekenis is duidelik: met die val van Jerusalem word die nasies tot op die drempel van die gelowiges gebring, bedoelende: die tyd vir die evangelieverkondiging aan die nasies het nou aangebreek. Dis die taak van die kerk. Ja, vir seker sal dit allerlei probleme en moeilikheid inhou, soos in v12-19 beskryf word: vervolging, opsluiting, gevangenisskap, selfs verdeeldheid in eie geledere. Maar terselfdertyd is dit ook ’n geleentheid om te getuig. En hierdie verhaal van getuienislewering word deur Lukas in die boek Handelinge beskryf. Baie geleerdes sê dat Lukas 21:12-19 ’n subtiele verwysing daarna is. Wat Lukas in hierdie verse net op sinspeel, word in Handelinge volledig beskryf. En vir hierdie taak durf die kerk nie wegskram en terugdeins nie, want ons sal die woorde van wysheid daarvoor ontvang (v15). Ons moet maar net die geleenthede raaksien en te baat neem. Ons moet daarmee volhard totdat hierdie taak ook afgehandel en “die tyd van die nasies vervul is”. Soos Matteus 24:14 dit stel: Hierdie taak moet voortgaan totdat almal die evangelie gehoor het. En eers dan sal die einde kom.

Dít is waartoe die tekens van die tyd ons oproep: verbintenis tot die lewe, ’n lewe saam met God op aarde. En so is ons gereed wanneer die einde kom. Dis amper soos dit gegaan het met die meisies in die gelykenis van die tien meisies wat wag op die bruidegom om te kom (Matteus 25:1-13). Wanneer die Bruidegom kom, moet jou lampie brand. En die manier hoe ons ons lampies aan die brand hou, is om besig te wees met die dinge van die koninkryk van God. Dan is jy gereed vir die einde. ’n Mens is gereed deur gereed te lewe.

Want die einde sál kom.

  1. Tekens van die tyd is tekens van die koms van die koninkryk

 Die waarheidselement in die standpunt dat Covid-19 ’n teken van die naderende einde is, is dat dit inderdaad ’n teken van die einde is. Al die tekens wat in Lukas 21:8-28 genoem word, word afgesluit en saamgevat met die woorde van Jesus in v29 wanneer Hy die tekens vergelyk met wat met die vyeboom gebeur: As dié begin uitloop, is dit ’n teken dat die somer naby is. Net so is die tekens van die tyd ’n aanduiding dat God se somer – die finale koms van sy koninkryk – aan die kom is. Dis net, hierdie finale koms kan nie bereken word nie; dis nie ons taak nie, dit word deur God bepaal. En omdat ons nie weet wanneer die einde kom nie, is die einde altyd naby. Die nabyheid van die finale inbreek van die koninkryk van God is dus ’n blywende eienskap van die koninkryk. En dis al so sedert die eerste koms van Jesus wat “geëindig” het met die hemelvaart van Jesus. Van toe af is die tweede koms – of wederkoms – van Jesus naby (vgl die belofte in Handelinge 1:11). Van toe af lewe ons in die eindtyd. En elke keer as mens die tekens van God se komende somer waarneem, dan word jy daaraan herinner: die einde is aan die kom, dit is naby.

Daarom, katastrofiese gebeure – soos Covid-19 – ruk ons uit ons daaglikse groef, roetine en vals sekerhede en rig ons oë opnuut op wat kom: die einde. Ook Jerusalem se einde, soos beskryf in v20-24, het hierdie betekenis gehad: dit was tegelyk deel van die geskiedenis én teken van die einde. Let op hoe v24 naatloos oorgaan na v25-28 waar die einde – die koms van die Seun van die mens – beskryf word. Daarmee wil Lukas sê: so seker as wat die profesie van Jesus omtrent die val van Jerusalem in vervulling gegaan het en die lesers dit beleef en dit deel van die geskiedenis geword het, so seker sal die belofte omtrent die wederkoms van Christus in vervulling gaan. Jerusalem se val het so ’n teken en simbool van die sekerheid van die wederkoms geword.

So ook met Covid-19: Die geweld waarmee hierdie pandemie ons tot stilstand geruk en ons hele lewe op sy kop gekeer het, is ’n seker teken van die totale omkeer wat die wederkoms van Christus teweeg sal bring. Die bedoeling is egter nie dat ons op loop gejaag word en in allerlei berekenings verval of totaal verlam raak nie. Dit sou ’n verkeerde lees van hierdie teken wees. Nee, die korrekte lees hiervan is dat dit ons uitdryf na die lewe – na ’n wegkeer van die sonde, na ’n lewe in verbondenheid aan God en sy Woord, na ons daaglikse taak en roeping op aarde. Dit roep ons op om voortdurend gereed te lewe.

As Covid-19 dít by ons bewerk, het ons dié teken reg gelees.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




COVID 19 – Hermie van Zyl

Bertus vra:

As die Corona-virus nie deur die Here geskep is nie, wie het dit dan geskep en onder die mensdom ingestuur? Satan? Maar waarom laat die Here dit dan toe, want ons Here Jesus Christus is tog in beheer, nie waar nie? Ons lewe in die laaste dae en Jesus het gewaarsku dat in die laaste dae hier op aarde rampe en pessiektes sal wees. Net wedergebore, bloedgewaste kinders van die Here kan hulle op die beskerming van die bloed van Jesus beroep. Ongereddes is onder die beheer van Satan en blootgestel aan die toorn van God. Verkondig in die koerant redding sodat mense die Here by die kruis kan ontmoet.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar lê ten minste drie vrae opgesluit in die vraagsteller se uiteensetting hierbo: 1. Wie is die oorsaak van die Covid-19 pandemie wat tans die wêreld teister? 2. Is hierdie pandemie ’n teken dat ons in die “laaste dae” is? En 3. Is die kinders van die Here gevrywaar van God se oordeel, alternatiewelik: van hierdie pandemie?

Ek probeer so kort as moontlik op hierdie vrae antwoord.

Eerstens, wie is die oorsaak van die Covid-19 pandemie? Hierdie vraag het nie net betrekking op Covid-19 nie, maar slaan op al die vorme van lyding wat in die wêreld teenwoordig is, soos oorloë, peste, natuurrampe, sonde, ensovoorts. Wie is daarvoor verantwoordelik? God? Satan? As ons uitgaan van die veronderstelling dat God in beheer van alles is, beteken dit dan dat Hy agter alles sit wat op aarde gebeur, ook die allerverskriklikste dinge, soos dat duisende mense aan hierdie pandemie sterf? Maar as ons dit aanvaar, hoe bring ons dit in verband met God as ’n God van liefde? Verder, as Hy liefdevol én almagtig is, kan Hy dan nie verhoed dat so ’n pandemie hoegenaamd uitbreek nie?

Daar is nie eenvoudige antwoorde op hierdie vrae nie. Bowendien is dit vrae wat gelowiges al lank besig hou. In die verlede was daar allerlei pogings gewees om die voorkoms van rampe en peste, wat soveel lyding veroorsaak, met God se beheer oor en bestuur van die wêreld te versoen. Die twee gewildste pogings is om te sê (a) dat ons alles uit God se hand moet aanvaar as sy wil (Calvyn), of (b) die sagter opsie dat God nie alles wil nie, veral nie slegte dinge nie, maar dat laasgenoemde ook nie buite sy wil om gebeur nie; Hy laat dit daarom wel toe (Arminius). By beide hierdie oplossings is die kwelvraag egter waarom ons God dan nog as liefdevolle en almagtige Vader kan vertrou as Hy hierdie dinge kán keer maar dit nie dóén nie? (By Calvyn is hierdie kwelvraag net meer prominent teenwoordig as by Arminius.)

Die antwoord wat deesdae as die mees gangbare deur teoloë aanvaar word, is dat ons nie die wreedhede, rampspoed en lyding van die lewe (waaronder ook pandemies soos Covid-19) voor God se deur kan lê nie, nie direk nie (Calvyn), ook nie indirek nie (Arminius). God is nie verantwoordelik daarvoor nie. Ja, Hy is almagtig, maar ons moet die manier waarop God sy almag uitoefen, ook reg verstaan. Hy bewys sy almag veral daarin deur die skepping uit niks daar te stel, en deur in die geskiedenis (soos onder andere in die Bybel beskryf) sy uiteindelike doel met Israel te bereik ten spyte van hulle weerstand en ongehoorsaamheid. Dit maak dat ons kan glo dat Hy ook sy uiteindelike doel van ’n nuwe hemel en aarde sal bereik. Daaraan kan ons onwrikbaar vashou en ons kan ons geloof daarop bou. Maar intussen het Hy die skepping so gemaak, of dit het so geword (hoekom weet ons nie, dis ’n misterie), dat daar ook dinge gebeur wat téén sy wil is en al die ellendes tot gevolg het. Daar is met name ook ander rolspelers in die wêreld teenwoordig, elk met sy “eie agenda”, naamlik die mens, die bose en “die natuur” wat téén God kan werk en dit inderdaad doen. En om een of ander rede kies God om sy almag nie so te gebruik dat Hy in elke moontlike geval van onreg of lyding ingryp en dit keer nie. Veral wat die mens betref, verkies Hy om eerder sy sagte, oorredende mag – die mag van die liefde en die plaasvervangende lyding van sy Seun – te gebruik om die mens te oortuig van sy goedheid, barmhartigheid en liefde. So daag hy as ’t ware die mens uit en maak Hy dit deur sy Gees moontlik dat ons Hom daarin kan volg om van die wêreld ’n beter plek te maak.

Omdat dit waar is, kan ons sê dat God se almag in diens van sy liefde staan. God is liefde, Hy wil daarom nie die kwaad en lyding nie, dit mag onder geen omstandighede op God se rekening geplaas word nie. Omdat God liefde is, het Hy deur sy almag die wêreld in aansyn geroep, en onderhou en bestuur Hy dit steeds op weg na sy eindbestemming. En Hy het ook die mens gemaak, na sy beeld, sodat dié sy Skepper en medemens in vryheid kan dien. Maar die mens draai téén God en sy medemens, en is daarom (ook onder aanhitsing van die Bose, wie se ontstaan in duister gehul is) vir baie van die lyding verantwoordelik. Verder, klaarblyklik is die skepping, die natuur, ook nog nie afgerond nie. Allerlei peste broei uit – letterlik, soos hierdie Covid-19 pandemie – wat groot ellende veroorsaak. God is dus ook met die natuur nog op weg na die volmaakte. Maar waarvan ons seker kan wees, is dat God dit net goed met ons bedoel en dat Hy sy almag so aanwend dat Hy uiteindelik sy liefdesdoel met ons sal bereik, op die nuwe hemel en nuwe aarde waar daar geen teenspraak meer tussen God se almag en liefde sal wees nie.

En intussen kan ons weet dat God selfs uit die grootste lyding, wat téén sy wil is, die goeie kan voortbring. Daaruit blyk sy liefde én almag. Daarom kan ons seker wees dat wanneer die ongeluk ons tref, soos nou met Covid-19, Hy by ons teenwoordig is om ons te omvou met sy liefde (Matt 10:29). En Hy is só teenwoordig dat daar selfs iets goeds uit die pyn en leed kan voortspruit (vgl Rom 8:28). Om net een ding te noem: Hoewel ons nog midde-in die Covid-19 pandemie is, kan mens al klaar sien hoeveel innoverende denke, aksie en uitreiking hierdie uitbreking by mense ontlok. Die liefde en die lewe seëvier te midde van die ellende. En dáárin kan en moet ons die almag van God aan die werk sien. Hy los ons nie in die ellende nie, maar skep daaruit nuwe lewe met die oog op die toekoms waarheen Hy met sy skepping op weg is.

Die tweede vraag wat voortvloei uit ons vraagsteller se stellings aan die begin, is die volgende: Is hierdie pandemie ’n teken dat ons in die “laaste dae” is? Hierdie vraag het as agtergrond ’n teks soos Lukas 21:11 waar daar melding gemaak word van hongersnode en epidemies wat op baie plekke sal voorkom. Dis ’n uitspraak van Jesus wat ons aantref in sy sogenaamde profetiese rede oor die eindtyd (vgl ook die parallelle in Matteus 24 en Markus 13). Hieroor kan ons baie sê, maar kortliks net die volgende:

Die basiese gedagte van die profetiese rede is dat gelowiges nie weet wanneer die einde kom nie en dat mens dit ook nie uit allerlei voortekens kan bereken nie (Lukas 17:20). Die doel van die tekens van die tyd is dus nie dat ons berekenings moet maak nie, maar dat ons altyd gereed sal wees. Met die tekens wil Jesus ten diepste die gelowiges se houding en gedrag bepaal terwyl hulle wag op die einde. Die klem lê op hierdie lewe, nie op die einde van hierdie lewe nie. Ja, daar sal ’n einde wees, maar dis nie vir ons om die tyd en omstandighede te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie (Handelinge 1:7). Ons fokus moet op hierdie lewe wees. Die klem van die tekens van die tyd verskuif dus weg van berekening na voortdurende bekering. In elk geval is die tekens nie goed vir berekening nie, want hulle is uiters non-spesifiek. Die rampe en ander gebeure wat genoem word is dinge wat met reëlmaat in die geskiedenis van die wêreld voorkom. Daar is niks uniek aan hulle nie. Daar was byvoorbeeld al baie sulke pandemies in die wêreld soos Covid-19. Dink maar aan die Groot Griep van 1918 wat miljoene mense afgemaai het. Ons mag dus nie op hol gaan elke keer as daar ’n groot natuurramp plaasvind of epidemie uitbreek nie. Natuurlik, dit mag ons nie koud laat nie – inteendeel – maar dit moet die regte reaksie by gelowiges tot gevolg hê, naamlik dat die einde inderdaad aan die kom is, maar dat die dag en datum hiervan nie vir ons beskore is om te weet nie; dit lê in God se mag. Ons taak is net om gereed te lewe. En die manier hoe ons gereed lewe, is om elke dag God se wil en liefde uit te lewe. Dan is ons gereed vir die einde.

Die derde vraag: Is die kinders van die Here gevrywaar van God se oordeel, alternatiewelik: van hierdie pandemie? Dis nie duidelik nie uit die vraagsteller se formulering of hy bedoel dat die kinders van die Here nie deur die laaste oordeel getref sal word nie, met ander woorde, dat hulle ewige heil verseker is omdat hulle onder die bloed van Jesus verkeer, en of hulle beskerm word teen die Covid-19 pandemie. Ek vermoede eersgenoemde. Indien wel, is dit uiteraard reg. Dit is inderdaad so dat ons as kinders van die Here deel het aan die ewige lewe en dat niks of niemand ons daarvan kan beroof nie (Johannes 10:28; Romeine 8:31-39). Ons hoef daarom ook nie die laaste oordeel te vrees nie, maar kan dit met vrymoedigheid tegemoet gaan, omdat ons bedek is met die bloed van Christus (Johannes 3:18; 5:24). Maar indien die vraagsteller bedoel dat die kinders van die Here teen die Covid-19 pandemie beskerm word, kan dit nie aanvaar word nie. Gelowiges was nog nooit gevrywaar van aardse gevare, pyn en leed nie. Dit behoef nie ’n lang betoog nie; die Bybel is boordensvol van gelowiges wat allerlei lyding, pyn en selfs die dood moes trotseer. Om maar net een te noem: Paulus vertel in 1 Korintiërs 4:9-13 en 2 Korintiërs 11:23-29 van al die ontberings wat hy moes deurmaak ter wille van die evangelie van Christus. En uiteindelik het hy, volgens kerklike tradisie, die martelaarsdood gesterf in Rome. En dan praat ons nie eens van Job in die Ou Testament nie wat die allerverskriklikste lyding moes deurmaak. Nee, die bloed van Christus is nie ’n “teenmiddel” teen die Corona-virus nie, of teen watter gevaar of lyding ook al nie. Om bedek te wees met die bloed van Christus is ’n Bybelse metafoor wat sê dat ons deur die geloof deel gekry het aan die lewe en dood van Christus, en so vir tyd en ewigheid geborge is in Hom.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Geloofsvrae: Siekte

Geloofsvrae: Siekte – Adrio König

Siekte

Dit het alreeds duidelik geword dat die dood ‘n baie ingewikkelder verskynsel is as wat ons normaalweg daaronder verstaan: die beëindiging van ons lewe. Dit is sowel ‘n bose mag wat ons in sy greep kry as die plek van verskrikking: die doderyk.

Siekte voeg nog by by die ingewikkeldheid van die dood. Ons kan siekte ‘n voorvorm van die dood noem, ‘n manier waarop die dood alreeds gedurende ons lewe op ons begin beslag lê. Volgens die OT is iemand wat ernstig siek is, alreeds `in die dood’ of `in die kuil,’ en iemand wat weer gesond word, word `weer lewendig gemaak.’ Die OAV is oor hierdie saak nader aan die oorspronklike tale as die NAV omdat die NAV so seker was dat ons as moderne Westerlinge dit nie sal verstaan nie, dat hulle dit toe maar met Westerse begrippe weergegee het. Vergelyk hieroor Ps 30:4 wat die getuienis is van iemand wat siek was: `Die Here het my opgelig uit die doderyk, my lewendig gemaak uit die wat in die kuil (die dood) neergedaal het‘ (OAV).

‘n Mens kan nie alle sieninge van siekte wat daar in die Bybel is, onder een noemer bring nie. Daar is hoofsaaklik twee oortuigings: die een is dat die Here mense siek maak (die berustingstandpunt) en die ander een is dat dit die duiwel is (die dramatiese standpunt).

Die eerste standpunt lui dat die Here mense siek maak óf as straf op hul sonde, óf met een of ander goeie doel.

Die tweede standpunt is dat die duiwel mense siek maak as deel van sy omvattende aanslag op die skepping van God, en dat God die Geneesheer is.

Beide standpunte aanvaar dat die Here mense weer gesond maak, maar die tweede standpunt het ‘n baie aggressiewer houding teenoor siekte, en daarom word dit die dramatiese standpunt genoem. Die mense wat deur Jesus gesond gemaak is, was onder die mag van die duiwel (Hand 10:38), en daarom moet die duiwel teengestaan word en die sieke in die Naam (d.i. deur die gesag van Jesus) genees word. Dit is ‘n stryd teen, en ‘n oorwinning oor Satan.

Daarteenoor staan die berustingstandpunt. Daar word wel vir die sieke gebid, maar omdat die Here ‘n onbekende goeie doel met die siekte kan hê, is dit ‘n baie terughoudender gebed wat graag eindig met `as dit volgens u wil is’.

Die berustingstandpunt beroep hom hoofsaaklik op die OT, en die dramatiese standpunt op die NT. Die berustingstandpunt pas goed in by die vroeg-Outestamentiese oortuiging, wat ons ook die profetiese standpunt kan noem, dat die Here alles doen. Hy seën én Hy straf. Daar is nog min sprake van die duiwel, en in elk geval nie van sy gedaante in die NT van radikale opstand teen God nie. Hy is nog eerder die `onskuldige’ aanklaer, een van die `hemelwesens’ (Job 1:6).

In die vroeër OT het ons nog ‘n `natuurlike’ wêreldbeeld. Net soos God die volk se gehoorsaamheid met allerlei natuurlike seëninge beloon soos goeie oeste of oorwinning oor hul vyande, straf Hy hulle sonde met allerlei natuurlike rampe soos droogte, hael, sprinkane en vyande. Een daarvan is siekte. Maar as hulle gehoorsaam is, sal geen siekte hulle tref nie, en as hulle hulle bekeer, is die Here in elk geval ook hulle geneesheer (Eks 15:26). (Vir voorbeelde van mense wat gestraf word vir hul sonde, lees veral Num 12:1ev; 1 Sam 25:37ev; 2 Kon 1:16ev; 5:26ev; 21:15ev; vir die Here se waarskuwings Num 32:23; Deut 28:59ev; 29:21).

Daar is natuurlik ook die ander gedagte (43.3) dat die dood ook ‘n bose mag is wat mense in sy greep kry. As siekte ‘n voorvorm van dood is, kan daar min twyfel bestaan dat die OT natuurlik ook die mag van die dood betrokke gesien het by siekte. Daarmee saam was daar ook nog die chaosmagte wat al in die voorstelling van stryd by die skepping ‘n rol gespeel het. Maar alhoewel die gelowiges bely dat God mag het oor die dood (Deut 32:29; 1 Sam 2:6; 2 Kon 5:7), en ook ‘n paar dooies weer lewendig gemaak het (1 Kon 17:20ev; 2 Kon 4:33ev), bly dit ‘n selfstandige lyn wat nie versoen word met die oortuiging dat die Here mense siek maak nie. Die gelowiges aanvaar siekte uit die hand van God, en bid tot Hom om uitredding.

In die NT tree radikale veranderinge in. Dat God mense siek maak, tree heeltemal op die agtergrond. Die duiwel kom na vore as die bewerker van siekte, terwyl Jesus die Geneesheer is. Jesus kondig die koms van God se heerskappy (koninkryk) aan, en ‘n wesenlike deel van sy werk is om mense te genees wat onder die mag van die duiwel is, omdat God met Hom is (Hand 10:28). In die Sinoptiese Evangelies word aan geen ander faset van Jesus se bediening soveel aandag gegee as aan sy wondergenesings nie. Daardeur bevry Hy die mense van die duiwel wat hulle van God gesteel het (Luk 11:14-23). Die genesings en die boodskap oor genesing gaan in Handelinge voort (o.a. 5:12-16).

Jesus sien sy genesings as oorwinnings oor die duiwel wie se mag oor die mense en die natuur gebreek moet word. Daarom praat ons van die dramatiese siening. Jesus se genesings het nie soseer etiese betekenis nie. Hy leer die mense nie dat hulle siekte God se straf op hul sonde is en dat hulle hul moet bekeer en God dan vra om hulle te genees nie. Daar is ook nie enige vaste orde van eers geloof en dan genesing of vice versa nie. Trouens in talle genesings is daar hoegenaamd nie van geloof sprake nie. Dit gaan in Jesus se wonders om die koms van die koninkryk, om die vestiging van God se heerskappy deur die verbreking van die duiwel se mag oor die mense en die natuur.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die verband tussen dood, siekte en hel

Geloofsvrae: Die verband tussen dood, siekte en hel – Adrio König

Die dood

Die verband tussen dood, siekte, hel

Tradisioneel word die dood en die hel in die leer oor `die laaste dinge’ behandel. Dit is egter beter om dit onder die sonde te doen omdat dit nie deel is van God se skeppingsdoel nie, maar eerder deel van die mislukking van sy doel met ons. As ons onder die voleinding die verwesenliking van God se skeppingsdoel verstaan, is dit dus nie gepas om die mislukkings wat mense deur hul sonde veroorsaak, daarby in te sluit nie. Daarom hoort siekte, dood en hel tuis onder ons sonde.

Die dood en die hel is in werklikheid presies die teenoorgestelde van wat God met ons bedoel het. Hy het ons bedoel as bondgenote, as mense wat die sin van hul lewe in verhoudings vind, en dan juis in die liefdesverhouding met Hom, met ander, en met die natuur. Die dood is juis die teendeel van dit alles, die verbreking van alle verhoudings en die beëindiging van alle gemeenskap, en daarom die beëindiging van alle sin en betekenis in ons lewe. Daarom is die dood ‘n skrikwekkende gedagte. En die hel is niks anders as die uiterste konsekwensie en finale verseëling van die dood nie: finaal uit die gemeenskap van God uitgesluit, finaal van die sin van ons lewe (bondgenote van God) vervreem.

Siekte is ‘n voorvorm van die dood, dit is die begin van die dood se oorwinning oor ons. Daarom word dit saam met die dood en die hel behandel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König