Die Skepping – Francois Malan

Jan vra:

Gen 1: Dit was aand en dit was môre die volgende dag. Die son, maan en sterre is tot stand gebring op dag 4. Terwyl daar nog nie ‘n son was nie hoe is daar tot die gevolglike aand en môre gekom, asb.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die eerste skeppingsverhaal (Gen 1:1-2:3) is nie gewone geskiedenis nie, maar ’n soort kunsprosa ingedeel in sewe afsonderlike paragrawe ná die majestueuse inleiding oor God se skepping van die hemel en die aarde in 1:1-3. Die sewe daaropvolgende strofes, besing God se skepping en ordening van sy skepping volgens sy wil en deur sy Woord. Dit is afgebaken met ‘dit was aand en dit was môre.’ So vertoon die beskrywing van die skepping ’n goedgevormde eenheid, met die ooreenstemmende verbinding van God se skeppingswerke, op dag 1 & 4; dag 2 & 5; dag 3 & 6 wat funksioneel aan mekaar verbind is, elk met sy opdrag van God.

 

dag een: lig; skeiding van lig en duisternis; benoeming van dag en nag deur God as hulle Eienaar

dag vier: ligte aan die hemelruim om dag en nag te skei, as tekens wat seisoene, dae en jare op aarde aandui,  lig op aarde gee, die groot lig om te heers oor die dag en die kleiner ligte om oor die nag te heers.

 

dag twee: die gewelf wat die waters bo en onder die gewelf skei; benoeming van die hemelruim deur God as Eienaar daarvan –

dag vyf: voëls om onder die hemelruim te vlieg en seediere om in die onderste waters te krioel, met die opdrag  aan voëls en seediere om te vermeerder.

 

dag drie: (1) skeiding van water en droë grond; benoeming van aarde en see deur God as Eienaar daarvan;

(2) groenigheid, groen saaddraende plante, vrugtebome met saad in die vrugte (alles spesiaal met die oog op diere en mense)

dag ses: (1) wilde diere, mak diere, kruipende diere, met groen plante as hulle kos. (2) die mens man en vrou na God se beeld en gelykenis as sy verteenwoordigers, om te vermeerder, om die aarde (van dag 3) te bewoon en te bewerk, te heers oor voëls, visse, diere (van dag 6), met saaddraende plante en bome (van dag 6) as kos.

 

dag sewe: as gereelde rusdag vir die mens om hulle aan God te wy.

 

God is Skepper en Wetgewer, wat aan sy eiendom name gee. Die wêreld is ’n toonbeeld van sy Skepper en wys wat die mens is, dat alles vir die mens se beswil gemaak is, en dat hy soos sy Skepper sal werk en dit vir Hom sal doen en aan Hom toegewy sal rus.

Die verdeling van die skepping in ses dae beklemtoon God se sisteem en orde in sy skepping. Die skepping van die eerste drie dae voor die son en maan hulle opdrag van God gekry het, beklemtoon dit ook. God en sy skeppingswerk word besing met menslike woorde en begrippe, maar Hy is nie beperk tot ons begrip nie en ons hoef nie God se skepping tot ses van ons daglengtes te beperk nie (vgl. Ps 90:4: Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag. 2 Petrus 3:8: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag).

Maar die afgrensing van die verskillende skeppingsdae met die uitdrukking ‘en dit was aand en dit was môre’ is nie afhanklik van die bestaan van die son en die maan nie. In Gen 1:5 staan dat God op dag een reeds die lig ‘dag’ en die donker ‘nag’ genoem het. Daarna kan die skeppingsdae telkens op die duister van die nag volg soos die lig van dag een op die donkerte op die diep waters van vers 2.

Daarby het die moderne wetenskap sedert Einstein bewus geword dat klein ligpartikels ’n bestaan van hulle eie het. So ’n ligpartikel word ’n foton genoem. Uit hierdie wetenskap het o.a. laserstrale, fotochemie, hoë-resolusie mikroskope, optiese vesel, ‘skype’, ens. ontwikkel, alles sonder die lig van die son, maan en sterre.

Die stelling ‘en dit was aand en dit was môre’ het ook ’n geestelike betekenis dat God uit die duister en chaos van die nag die lig van elke dag in morele en godsdienstige sin skep, en dat Hy daagliks daarmee besig is. Johannes 1:4-5: ‘in Hom (Jesus die Woord van God) was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie oorweldig nie.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Wat sê Genesis 1 – 2 oor God?

A Christian is not a person who has made a new start in life, but a person who has received a new life to start with. —John Blanchard

 Wat sê Genesis 1 – 2 oor God?

Soms kry debatte oor ‘n sekere teks soveel aandag dat ons skoon van die teks self vergeet. Temper Longman (What Genesis 1 – 2 Teaches) se artikel in hierdie boek is waardevol – noodsaaklik om weer ‘n slag die groot prentjie te sien. Hy begin deur te sê dat die Bybel waar is. Die vraag is egter wat is die waarheid wat in ‘n spesifieke gedeelte geleer word. Genesis 1 – 2 vertel ons van God en dat God geskep het. Dit vertel ons niks van hoe God geskep het. Daar is ‘n groot verskil tussen die twee,

 

 Eerstens moet ons vasstel watter soort literatuur – genre – Genesis 1 – 2 is. Dit is duidelik ‘n verhaal, maar nie alle verhale is noodwendig historiese verhale nie. Sommige verhale is fiksie. Ons moet ook let op die teenwoordigheid van beeldspraak (die dae, Adam se rib, ens). Daar is sterk verbintenisse met ander skeppingsverhale uit die antieke Nabye-Ooste. Die orde van die gebeure in Genesis 2 laat ons dink dat ons hier met twee skeppingsverhale te doen het en nie een verhaal wat net saamgevoeg is nie. Hulle is nie identies nie.

 Wat leer Genesis 1 – 2 vir ons? God, die God van Israel, die enigste God, het alles geskep – insluitend sterre en mense. Die skepping is van God afhanklik, maar God is nie van die skepping afhanklik nie. God is betrokke. God het nie ‘n geslag nie, maar die mens het wel. Mense het ‘n verhouding met God en met mekaar. Die verhouding man-vrou is wederkerig en gelyk – nie meerderwaardigheid nie. Mense is beelde van God op die wêreld geplaas as sy verteenwoordigers.

 Daar is baie verslae van die skepping in die Bybel (Psalms 8, 19, 136, 24 ,33, 104; Spreuke 3:19 – 20. 8:22 – 31; Job 38:4 – 11). Hulle verskil in presies wat daar gebeur het. Daar is baie beeldspraak. Nie een van hulle vertel vir ons hoe God geskep het nie. Al wat hulle sê, is dat dit God is wat geskep het.




Alle Paaie lei na Jesus: Die Heilige Gees

Alle Paaie lei na Jesus: Die Heilige Gees – Adrio König

4.13 Die Heilige Gees

Omdat ons nie apart na die Gees in die Ou Testament gekyk het nie, gaan ons hier na die hele Bybel kyk. Maar ons wei uitvoerig uit oor die Gees se vermeende betrokkenheid by die skepping in Hoofstuk 10 waar ons met die Name en benamings van God besig is (kyk onder 10.4).

Die Heilige Gees word baie minder met die skepping in verband gebring as wat ’n mens sou dink (10.4.2). In sowel Hebreeus as Grieks beteken die woord vir Gees ook gees, lewe, asem, wind. Dit lê dus voor die hand om te dink dat die Gees direk met asem en lewe in verband gebring sal word. Die belydenis van Nicea verwys dan ook na Hom as “die Gees wat lewe gee”, maar dit sien waarskynlik meer op geestelike lewe, nuwe lewe. Maar in die Ou en Nuwe Testament word die Gees meer dikwels met gewone natuurlike lewe as met die skepping self in verband gebring (Job 33:4; 34:14-15; Ps 104:27-30; Pred 12:7; Eseg 37).

 

Die rol van die Gees by die skepping en in die res van die Ou Testament word breedvoeriger bespreek in hoofstuk 10.4 waar die vraag aan die orde kom of ons alreeds in die Ou Testament van die drie-enige God lees. Daar sal ons sien Genesis 1:2 en 1:26 (“Laat Ons mense maak”) gee nie oortuigende grond om te aanvaar dat dit inderdaad die Gees van God is wat by die skepping betrokke was nie.

 

Alle paaie lei na Jesus

Soos al die groot temas van die Bybel lei ook die skepping ons na Jesus. Saam met die Vader is Hy die Skepper. Hy ken dus die mens. Hy het die eerste een gemaak. Trouens Hy ken ons nog beter. Hy weet nie net hoe ons is nie. Hy is selfs een van ons. Hy het ’n mens geword, en deel gekry aan ons versoekings en lyding. Die Hebreërbrief verseker ons Hy is met ons swakhede bekend. “Hy is immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp” (4:15). “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (2:18). Hy weet dus uit ervaring wat ons behoeftes én ons moontlikhede én ons tekortkomings is.

 

Ons is nou klaar met die skepping. In die volgende gedeelte kyk ons na die mens.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Psalms, Profete en Wysheidsliteratuur (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Psalms, Profete en Wysheidsliteratuur (3) – Adrio König

4.8.3 Die Wysheidsliteratuur

Twee skeppingsvoorstellings wat ons reeds oor en oor gekry het, kom ook hier voor: stryd by die skepping, en die skepping as God se handewerk.

 

Ons gaan nie nou breedvoerig hierop in nie, omdat hier nie nuwe gesigspunte na vore kom nie. Vir die strydvoorstelling: Job 9:8; 26:12 ev; 38:8-11; Spreuke 8:29. Die voorstelling van die skepping as God se handewerk kom algemeen voor. Daar is egter twee nuwe perspektiewe oor die skepping: Die skepping as ’n gebou, en die betrokkenheid van die wysheid by die skepping.

 

Oor die skepping as ’n gebou is daar ’n paar sydelingse verwysings (Job 9:6; 26:11; Spr 8:29), maar in Job 38 word dit breër uitgewerk. Al die elemente van die voorbereiding vir die bouwerk word genoem: die fondamente is gelê, die gebou is afgemeet, die maatlyn is gespan, die fondamente is versterk, die hoeksteen is gelê (NJB). In vers 7 volg dan die fees wat gevier word as die hoeksteen gelê is.

 

Direk hierna kom die beroemde voorstelling dat God toe die see moes inperk “agter slot en grendel” omdat dit die land bedreig (38:9-11). Onthou die land is die mens se woonplek. Skepping en beskerming word dus aan mekaar verbind. Ons het dit ook in ’n minder opvallende vorm in Genesis 1 gekry in die skeidingsmotief. Die volgorde is belangrik: eers skepping, dan beskerming van die skepping.

 

In Spreuke kry ons ook dié twee elemente, maar in omgekeerde volgorde. Hier word die see eers hokgeslaan en dan volg die bouwerk (Spr 8:29). Dit herinner ons nog ’n keer daaraan dat ons nie uit die skeppingsvoorstellings direkte afleidings kan maak oor hoe alles geskep is nie.

 

Die vroulike figuur “wysheid” en haar betrokkenheid by die skepping is die belangrikste bydrae van die Wysheidsliteratuur. Daar is heelwat korter verwysings na haar (Job 12:13; 28:20-28; Spr 3:19-20; 4:5-9; 7:4; 9:1-6), maar Spreuke 8 is die belangrikste hoofstuk oor haar. Dit is interessant dat daar ook heelwat oor haar geskryf is in die Apokriewe boeke (Die Wysheid van Sirag 24, Die Wysheid van Salomo 7, Barug 3, 4). Nog voor ons na Spreuke 8 kyk, weet ons al sy is ’n uiters belangrike figuur. In Job het ons gelees net God ken die pad na haar (28:23), maar sy is vir mense ’n beskermende metgesel wat hulle veilig sal bewaar (Spr 4:5-6). ’n Mens moet haar jou suster maak, want sy sal jou teen die slegte vrou beskerm (7:4-5). Sy berei ’n wonderlike fees en nooi almal wat wysheid kortkom om by haar te kom eet (9:1-6).

 

In Spreuke 8 word veral haar besondere verhouding met God en haar betrokkenheid by die skepping besing. In vers 1-21 het ons ’n lied oor haar belangrikheid. Lees dit gerus! Ons lees hier onder andere dat sy “berei”, “geformeer” én “gebore” is – drie uiteenlopende voorstellings (1953-vertaling). Dit sê opnuut dat ons nie uit die skeppingsvoorstellings kan aflei hoe alles geskep is nie.

 

Dan kom haar skeppingsbetrokkenheid (22-31). Sy is die eerste skepsel, selfs die “eersteling” (firstborn NJB), gemaak voor enigiets anders (21-26). Sy was teenwoordig en betrokke by die

skepping (27-30a). Sy was selfs God se vreugde. Dit kan ons natuurlik nie ontgaan dat sommige van hierdie begrippe ook vir Jesus gebruik word in die Nuwe Testament nie. Dáár sal ons hier op terugkom.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König