Moeilike Skrifgedeeltes

“In a world of choice, obligatory religions are not faring well.” – Diana Butler Bass

Moeilike Skrifgedeeltes

Hierdie woord is moeilik; wie kan daarna luister? (Johannes 6:60). [Dit is die direkte vertaling uit die Interliniêre Bybel.] Selfs Petrus sê dat daar dinge in Paulus se briewe is wat moeilik is om te verstaan. Oningeligte en onverstandige mense gee daaraan ‘n verkeerde uitleg, soos hulle trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang  (2 Petrus 3:16).

 

Joe McKeever noem vyf sulke tekste:

  •  Esau was tog Jakob se broer, sê die Here, en tog het Ek vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat (Maleagi 1:2 – 3).
  • Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het, en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring (Hebreërs 6:4 – 6).
  • Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dit wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie (Johannes 10:28 – 29).
  • Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun (Romeine 8:29).
  • En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig (1 Petrus 3:19).

McKeefer gee ‘n paar riglyne oor hoe ons hierdie moeilike gedeeltes moet benader.

  • Dit is nie nodig om die definitiewe antwoorde op elke probleem oor Skrifgedeeltes te hê nie. Wees geduldig en eerlik. Dit is egter nie ‘n verskoning vir luiheid nie.
  • Ons moet ons daaraan toewy om God se woord te ken – ook die probleme oor die sogenaamde moeilike teksgedeeltes.  Werk hard; studeer. Ongelukkig is dit net nie moontlik om al die bronne te raadpleeg nie. soek die beste bronne en kry ‘n paar mentors om jou te help as jy vashaak.
  • As jy ‘n gedeelte bespreek, bring self die probleem na vore – moenie wag tot ander vra nie. Wat beteken dit? Goeie voorbereiding en gebed.
  • As jy vasgevra word, sê dat jy nie weet nie, dat jy dit sal naslaan en weer na die persoon sal terugkom. Een vangplek: as jy dit sê, moet jy terugkom.
  • Gee kort antwoorde op ingewikkelde vrae. Niks frustreer mense soos ‘n ellelange antwoord op ‘n vraag wat jy met ‘n ja of nee kon geantwoord het. As jy bang is vir vrae, antwoord elke vraag 15 minute lank – mense sal te bang wees om weer te vra!



Woorde uit die Bybel – Die Skrif

Marin Luther King Jr

Woorde uit die Bybel – Die Skrif

Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan. J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 

Die Skrif

Op die webblad is daar baie artikels oor die Skrif/Bybel en die kanon. Ek gaan min sê oor hierdie woord.

Bybel is nie ‘n woord wat ons in die Bybel kry nie – daar word Skrif(te) gebruik. Die Bybel is in werklikheid ‘n biblioteek van 66 afsonderlike boeke. Dit is oorspronklik in drie tale geskryf – Hebreeus, Aramees (klein gedeeltes) en Grieks. Dit is oor ‘n tydperk van meer as ‘n duisend jaar geskryf. Daar is ‘n groot verskeidenheid boeke: geskiedenis, briewe, liedere en ‘n liefdeslied. Maar Christene beskou dit as ‘n enkele boek – ‘n eenheid.

Die kerk het nog altyd die Bybel as gesaghebbend beskou. Maar wat beteken dit?

  • Die Skrif is ‘n geskiedkundige rekord van God se openbaring.

  • Die Skrif is ‘n openbaring in die vorm van ‘n geskiedkundige rekord.
  • Die Skrif is beide deur mense en deur God geskryf. Die skrywers was mense, maar die eintlike Skrywer was die Heilige Gees. Vir Jesus en die apostels was dit wat die Skrif (Ou Testament) sê deur God self gesê. Daarom is die Skrif heilig – dit skryf nie net oor heilige dinge nie, maar omdat die heilige God die ware Skrywer is. Dit beteken nie dat die skrywers wat God gebruik het nie feilbaar en onvolmaak was nie. God het egter verseker dat hulle nie feite vervals of God se doel en karakter verdraai het nie. Die geloofwaardigheid van God waarborg die getrouheid van die Skrif. Christus en die apostels het die waarheid van die Ou Testament aanvaar.

    Ons het ‘n behoefte aan die Skrif: U woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ‘n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap (Psalm 119:105). Die lewe is ‘n reis; ons kan verlore raak tydens hierdie reis. Nou sê die psalmis dat ons ‘n lig het om te verseker dat ons kan sien waar ons gaan. Stap vir stap gaan ons vorentoe. Rondom ons, waar die lamp nie skyn nie, is dit steeds donker. Die vraag is egter of ons hierdie woord ken. Weet ons van die krag van die Skrif om mense se deurmekaar lewens te hervorm en te vernuwe? In ‘n nuwe rigting te stuur? Kom ons met verwagting na sy woord om te hoor wat Hy vir ons te sê het? Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe (Psalm 119:131).

    Volgende keer gaan ons na die woord Here kyk.