Ek voel skuldig … en nou?

Of all sad words of tongue or pen,

The saddest are these: “It might have been.”

John Greenleaf Whittier

 

Ek voel skuldig … en nou?

God wil nie hê dat sy kinders skuldig moet voel nie. Tog het meeste van ons op een of ander stadium skuldgevoelens. Hoe kan ons vry kom van hierdie skuldgevoelens?

  • Identifiseer die oorsaak van jou skuldgevoelens

Maak seker; maak seker of jou skuldgevoelens nie vals is nie. God veroordeel ons nie vir dinge buite ons beheer nie. Jy moet eers jou skuldgevoelens in die oopte lê voordat jy hulle kan hanteer.

 

  • Besef dat God se genesing van sonde volledig is.

Dit geld ook vir sondes van die verlede. Julle was mos eers geestelik dood. Almal kon die sien uit wat julle verkeerd gedoen het. Op daardie stadium het Christus nog nie van julle sondige natuur ontslae geraak nie. Julle was geestelik nog nie besny nie. Toe verander dinge! Soos God Jesus lewendig gemaak het, het Hy julle saam met Hom lewe gegee. “Maar wat van alles wat ons verkeerd gedoen het?” kan julle vra. Wel, genadiglik hou God niks meer teen ons nie (Kolossense 2:13). God gee dus aan elkeen van ons ‘n tweede kans. Ek sal al die dinge oorsien wat hulle verkeerd gedoen het en hulle foute sal My nie meer pla nie (Hebreërs 8:12); En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat julle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie” (Hebreërs10:17). Soos ons rekenaars het God ‘n delete sleutel.

 

  • Dank God vir jou vergifnis al voel jy nog skuldig

As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons sondes vergeet. Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan Hy nie hou nie. Glo dit maar,want God bly getrou aan sy beloftes en doen wat reg is (1 Johannes 1:9). Vergifnis is wat God reeds gedoen het om die verhouding tussen ons en Hom te herstel. Reiniging (skoon was) is dit wat God doen om seker te maak dat ons weet dat ons vergewe is.

 

  • Soek genesing in al jou persoonlike verhoudings

Om ons verhouding met God te herstel, is primêr. Dit moet egter daartoe lei dat ons ons verhouding met ons naaste ook regstel.

 

Skuldgevoelens is ‘n groot probleem – vir ons gesondheid, maar veral vir ons geestelike welstand. Stel vas presies hoekom jy skuldig voel en gaan na God daarmee … sy genesing is volledig.

[Alle teksaanhalings kom uit Die Boodskap.]

 




Skuldgevoelens

Those who are strong only in fervor and sharpness, but are not fortified with solid doctrine, weary themselves in their vigorous efforts, make a great noise, rave, [and] make no headway because they build without a foundation. — Johannes Calvyn

Skuldgevoelens
Richard Coeken (in The Big Fight waarvan Richard Perkins en Tim Thornborough die redakteurs is) het ‘n interessante gedeelte oor skuldgevoelens geskryf. Hy beklemtoon vier aspekte:

(1)    Mense voel nie skuldig voor God nie al behoort hulle skuldig te voel. In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord. Die goddelose het geen vrees vir God nie en praat net goed oor homself. Hy is altyd daarop uit om kwaad te doen en om te haat (Psalm 36:2 – 3). Baie mense soek nie die Verlosser nie, want hulle vrees nie vir God soos hulle behoort te doen nie. Hoekom? Hulle voel nie skuldig oor hulle sonde nie.
(2)    Baie gelowiges voel skuldig voor God oor dinge wat nie verkeerd is nie! Paulus waarsku teen dwaalleraars: Hulle verbied mense om te trou en bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik (1 Timoteus 4:3). Goeie voorbeelde hiervan is die voedselwette van die Jode, die vastye van die Moslems en Katolieke monnikke wat nie mag trou nie.
(3)    Baie mense voel skuldig voor God wanneer sy Gees hulle oortuig van hulle behoefte aan ‘n Verlosser. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het (Johannes 16:8). Die Heilige Gees oortuig ons deur die Skrif dat ons onder God se wet skuldig is, en dat ons Hom nodig het. Dit gebeur dwarsdeur ons lewens as gelowiges. Ons bewustheid van skuld is ‘n bemoedigende teken van die Heilige Gees se werking in ons lewens.
(4)     Gelowiges moenie aanhou skuldig voel nie, want ons is van ons sondes gereinig. Laat ons nou tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water (Hebreërs 11:22). Soos ‘n hoëpriester God nader met die bloed van offers vir sy mense, so is Jesus permanent in die teenwoordigheid van God as ons Hoëpriester nadat Hy sy eie bloed aan die kruis vir ons sondes gestort het. Ons kan dus nou sonder skuldgevoelens in die teenwoordigheid van God lewe – indien ons in Jesus Christus en dit wat Hy gedoen het, glo.

Elkeen van ons kan hier iets leer.