Die soewereiniteit van God (2)

 —Thomas Brooks

Die soewereiniteit van God (2)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Ons kom nou by die tweede groep waarhede wat mekaar balanseer: God is ‘n soewereine dog lydende God. Die Bybel sê dat God almagtig en soewerein oor die gebeure van die geskiedenis is. God is goed en liefdevol en kom in ons wêreld in waar Hy aan pyn, lyding en die dood onderwerp word – erger as wat enigeen van ons nog ondervind het.

 

Wat beteken dit as ons sê dat God soewerein  oor die geskiedenis – en daarom ook oor lyding – is? God is volkome in beheer oor wat in die geskiedenis gebeur en tog oefen Hy sy beheer so uit dat die mense verantwoordelik is vir sy optrede en die gevolge daarvan – die mens het die vryheid om te kies. Hierdie menslike vryheid en God se rigtinggewing oor die gebeure van die geskiedenis is verenigbaar met mekaar. God se plan werk deur ons keuses en nie ten spyte van ons keuses nie. God dwing ons nie om sekere dinge te doen nie.

In Jesaja 10:5 – 7 lees ons dat God Assirië as sy stok gaan gebruik om Israel mee te straf. God stuur Assirië uit om Israel te beroof en te plunder. Maar dit is nie wat Assirië in gedagte het nie. Assirië se motivering is ‘n wrede passievolle begeerte om ander nasies te oorheers. Daarvoor sal God hulle verantwoordelik hou al is hulle  die werktuig van my toorn. Hier sien ons iets van die balans waarvan ons praat.

Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooraf al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit (Efesiërs 1:11). Hieruit kan ons aflei dat alles in harmonie met God se plan gebeur. Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom (Spreuke 16:33). Dit sluit ook slegte dinge in: U het ons verstoot, o God, ons uitmekaar geskeur. U was kwaad vir ons (Psalm 60:3). Lyding is deel van God se plan. Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het (Handelinge 4:27 – 28). Ongelooflik. Jesus se dood was ‘n groot ongeregtigheid, maar tog het God dit beskik – dit was deel van sy plan.

 




Die soewereiniteit van God (1)

. —C.H. Spurgeon

Die soewereiniteit van God (1)

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

Hier is twee balanse waarna ons moet kyk as ons lyding wil verstaan:

  • Lyding is regverdig en onregverdig; en
  • God is soewerein en ook ‘n lydende God.

Hierdie twee pare waarhede lei tot my verstaan van die oorsake van lyding. Die basiese les: nie een grootte pas almal nie.

(a) 

Genesis 1 – 3 maak dit duidelik dat lyding die gevolg van sonde is. Die mens het sy rug op God gedraai. Alles begin toe die mens sy verhouding met God verbreek het en Adam en Eva uit die tuin gegooi word. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid  waaraan die kinders van God deel sal hê (Romeine 8:20 – 21).

Die huidige wêreld voldoen nie aan sy oorspronklike ontwerp nie. Die mens was nie gemaak om dood, pyn, lyding, hartseer, teleurstelling, siekte, natuurrampe te beleef nie. Hierdie oordeel beteken nie dat God ons aan ons lot oorgelaat het nie. Terwyl Hy die wêreld oordeel, het Hy reeds sy plan vir die versoening van alle dinge in plek.

Toe die mense hulle rug op God gedraai het, het Hy twee keuses gehad:

  • Onmiddellike en totale vernietiging van die mens; of
  • ‘n Pad wat deur lyding, hartseer en pyn – vir die mens, maar ook vir God – na verlossing lei.

(b)Lyding is die gevolg van die mens se sonde in die algemeen. Individuele gevalle van lyding is nie noodwendig die gevolg van ‘n spesifieke sonde van daardie individu nie. Dink maar net aan Job. Sy vriende was oortuig dat sy swaarkry die gevolg van sy sonde was. Aan die einde van die boek verwerp God self hierdie siening.

Lyding word nie op ‘n proporsionele, regverdige manier versprei nie. Mense wat erge lyding ondervind, is nie noodwendig mense wat sleg leef nie. Job is ‘n voorbeeld van iemand wat goed leef en tog erg ly. Die beste voorbeeld hiervan is natuurlik Jesus Christus – Hy het erg gely sonder dat Hy enige sonde gedoen het. Die Prediker besef dit: Verder het ek in hierdie wêreld gesien: waar daar reg moet geskied, is daar onreg; waar daar geregtigheid moet wees, is daar oortreding (3:16).

In Johannes 9 lees ons van die man wat blind gebore is. Onmiddellik vra die dissipels vir Jesus: Deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n? Maar Jesus verduidelik vir hulle dat dit nie deur sy of sy ouers se sonde is dat hy blind is nie.  Hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word. Jesus maak dit baie duidelik dat mense wat ly nie outomaties vir hulle toestand blameer kan word nie.

Ons wil natuurlik graag glo dat mense kry wat hulle verdien. Hoekom? Daar is ‘n behoefte by die mens om te glo dat hy in beheer van sy lewe is. Die waarheid is egter dat baie van die lyding wat ons sien onregverdig en ‘n misterie is.

Daar is dus twee waarhede wat ons kan aflei uit wat ons tot dusver gesê het:

  1. Algemene lyding is regverdig – dit is die gevolg van die sonde van die mens. As ons hierdie waarheid ignoreer, lei dit tot selfbejammering wat die goedheid – selfs die bestaan – van God verwerp.
  2. Spesifieke lyding is dikwels onregverdig. As ons hierdie waarheid ignoreer mag ons in skuldgevoelens vasval en selfs glo dat God van ons vergeet het.

Wat kan ons van die alles sê? God is regverdig en sal sy finale geregtigheid bring as Hy weer kom … al is die lewe dikwels onregverdig. Volgende keer kyk na die tweede groep: God is ‘n soewereine en lydende God.