Straf God sonde op aarde?

Straf God sonde op aarde? – Francois Malan

‘n Leser vra:

Wat is u mening: straf God sonde op aarde?

Antwoord 

Prof Francois Malan antwoord: 

God het vir die mens gesê: van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy (Gen.2:17), maar nadat Adam en Eva daarvan geëet het om soos God te word, het God in sy genade die mens nog ‘n tyd gegee om te lewe voordat hy gesterf het. Maar die vrou se geboorte-gee aan kinders is met pyn en risiko gelaai as haar straf, en die aarde is vervloek om met distels en dorings die man se arbeid met moeite te belas as straf op sy sonde. Sedertdien sterf alle mense nog altyd. Rom.5:12 sê: deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Rom.8:19-22 sê die skepping is aan verydeling onderworpe, alles gaan dood, omdat God dit aan die dood onderwerp het met die mens se sondeval, en sal van die verganklikheid bevry word wanneer God bekend maak wie sy kinders uit die mense is. Dood is straf op sonde.

Die Here straf Kain om ‘n swerwer te word, nadat hy sy broer Abel vermoor het, maar uit sy genade gee die Here ‘n teken aan Kain sodat niemand wat hom raakloop, hom sal doodmaak nie (Gen.4:10-15).

Toe die Here die mens se groot verdorwenheid sien, dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, het die Here alle mense en diere met die groot vloed uitgewis, maar uit genade vir Noag en sy gesin gespaar (Gen.6:5-8:18).

Toe die Egiptenaars die Israeliete verdruk het en harde slawe-arbeid laat verrig het onder slawedrywers wat hulle geslaan en gemoor het, het die Here Egipte met 10 plae gestraf (Eks.3:7-12:30).

Toe Israel weier om in die beloofde land in te trek, het die Here besluit om hulle met ‘n pes uit te roei, maar op Moses se gebed het die Here hulle 40 jaar lank in die woestyn laat rondswerf, tot hulle almal gesterf het, en net hulle kinders in die land kon intrek (Numeri 14).

Toe Moses ongehoorsaam was, die rots met sy kierie geslaan het om water vir die volk te lewer, en nie met die rots gepraat het, soos die Here beveel het nie, is hy nie toegelaat om in die beloofde land in te gaan nie (Num.20:1-13).

Toe Dawid egbreek gepleeg het met Batseba, en haar man Uria laat doodmaak het, was die Here se straf vir hom: die swaard sal nooit uit jou huis weggaan nie (2 Samuel 12:10). Daarna het Dawid se seun Ammon sy halfsuster Tamar onteer, en het haar broer Absalom vir Ammon laat vermoor (2 Sam.13), Absalom kom in opstand teen Dawid en word in ‘n bloedige geveg wat baie lewens geëis het, doodgemaak (2 Sam.18). En tog gaan die geslag van Dawid voort deur sy seun Salomo wat hom opvolg, volgens die Here se genade oor Dawid (2 Sam.7:12).

Dwarsdeur die geskiedenis van Israel straf die Here uiteindelik die sonde van die betrokke koning en die volk, tot Hy die 10 stamme in ballingskap na Assirië laat wegvoer nadat hulle deur oorlog verteer is, omdat hulle afgode dien en die Here verlaat het (vgl. Hosea 11). Maar omdat die Here sy volk lief het, sal Hy hulle nie uitwis nie, en as hulle geleer het om na die Here terug te kom en om Hom lief te hê, sal hulle weer na hulle land toe terugkom (Hosea 14).

Ook die Juda-stam, wat al meer die afgode begin dien, word 100 jaar later ook vir 70 jaar na Babylon in ballingskap weggevoer, voordat die Here die pad oopmaak vir al twaalf stamme om terug te kom na die beloofde land (Jesaja 40; Esra en Nehemia).

En dan stuur God uit sy groot liefde sy Seun, om God se straf op die sonde van die hele wêreld, van Adam se tyd af tot Christus weer kom, te dra (Joh.1:29) en elkeen wat in Hom glo sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê (3:16). Maar wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh.3:18). Wie in die Seun glo, het (reeds) die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Joh.3:31).

Mense wat nie aan Jesus behoort en Hom volg nie, word gestraf. God openbaar Homself in die hele skepping, maar die mense aanbid dinge wat die Here geskep het in plaas van die Skepper, en lewe vir hulleself as hulle eie god. Daarom openbaar God vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. God se straf op sulke mense is: Hy gee hulle oor aan die drange van hulle hart en aan sedelike onreinheid, aan skandelike drifte, aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is, bv. onsedelikheid, perversiteit, hebsug, gemeenheid, moord, bedrog, ens. (Romeine 1:18-32). As God sê, doen wat jy wil, is dit sy straf. Daarmee vernietig die mens homself, en beland hy ook in die ewige straf.

Maar vir mense wat glo dat Jesus God is, wat in ons plek die straf op ons sonde aan die kruis gedra het, en daarom ons lewe aan Hom wy, verander die straf in tug. Die Here tug hulle om hulle tereg te wys as hulle afdwaal, Hy tug hom wat Hy liefhet, en straf elkeen wat Hy as kind aanneem (Spreuke 3:11,12; Hebreërs 12:4-8). Met allerhande beproewings word die egtheid van ons geloof getoets sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus (1 Petr.1:6-7). God het die Heilige Gees gestuur het in elke gelowige te kom woon en werk (Joh.14:15-17; 16:7-11; Rom.8:13-17), om aan hulle die geloof in Christus te gee, en hulle lewens al meer te verander om soos Jesus te word (2 Kor.3:17-18).

Jesus het ook die dood van die gelowiges verander. Dit is nie meer ‘n straf op ons sonde nie. Jesus het dit nou vir ons die deurgang na die hemel gemaak. Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan (2 Kor.5:1-2). Ons sterflike liggaam word met onsterflikheid beklee, en dan sal die woord vervul word wat sê: Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal…ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning oor die sonde gee deur ons Here Jesus Christus (1 Kor.15:54-57).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Adam se sonde

Adam se sonde – Jan van der Watt

Andre vra:

Iemand vra my: Is dit dan reg dat omdat Adam gesondig het en as straf vir die res van sy dae in die sweet van sy aangesig sy brood moes verdien, hoekom word ons vir sy sonde gestraf om ook in die sweet van ons aangesig ons brood te verdien?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die situasie in Genesis, waar Adam in die Paradys was impliseer dat hy ’n vriend van God was wat in sy direkte teenwoordigheid kon wees. Sy sonde en rebellie het egter die verhouding bederf en God kon nie toelaat dat sonde deel van sy Paradys en hemel word nie. So het God sy eie heiligheid beskerm. Daarom kon Adam nie meer al die voorregte geniet wat die Paradys gebied het nie. Hy moes nou vir homself sorg met die skepping wat God hom gebied het. Hy moes nou werk vir sy kos en was nie meer ’n gas in die Paradys nie.

Nou hoekom moet ons ook ly soos Adam? Die argument is gebaseer op die groepsgedagte. As die kaptein die loot verloor verloor die hele span die loot omdat hulle deel van die groep van die kaptein is. As Adam nie meer in die Paradys is nie, kan die kinders nie verwag om daar te wees nie. Hulle moet dan saam met Adam hulle kos en brood verdien. Daarom deel ons aan Adam se swaarkry. Dieselfde geld vir die nuwe Adam (Jesus – Romeine 5 byvoorbeeld). As ons aan Jesus behoort deel ons ook aan dit wat Hy het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Ek wil gedoop word maar bly saam met my ou – wat nou?

Ek wil gedoop word maar bly saam met my ou – wat nou? – Kobus Kok

Alet vra: 

Ek en my vriend bly saam. Ons staan nou voor die keuse om gedoop te word. Ek weet egter nie of ek moet nie. Mag ek gedoop word as ek weet ek gaan verder in sonde saam leef?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Ek wil gedoop word maar bly saam met my ou – wat nou? Dr. Kobus Kok 

Die doop is ‘n teken of seël van die feit dat iemand Jesus as verlosser aangeneem het. Dit veronderstel dat jy jou ganse lewe aan God oorgegee het en dat jy begeer om volgens Sy wil te leef. Wanneer mens tot wedergeboorte kom, is dit die Gees wat werksaam in jou is. Die Gees oortuig jou ook van wat reg en eerbaar is in God se oë (Joh 3:3-6). In Romeine 12:1-2 maak Paulus ‘n oproep op gelowiges om hulle liggame as heilige en lewende offers aan God te gee en om nie aan hierdie sondige wereld gelyk te word nie. In plaas daarvan om gelykvormig te word aan hierdie wereld moet die Christen haar denke laat vernuwe. Indien mens toelaat dat God jou denke vernuwe, se Paulus, sal mens ook vinnig weet wat vir God goed en aanneemlik en volmaak is. Die vraag is dus: Wat dink jy eerlik is die wil van God in hierdie situasie? Doen dan die wil van God – die Gees sal jou duidelik wys wat die antwoord is. Wees gehoorsaam aan God!

 

Skrywer: Dr Kobus. Kok





Sonde teen die Heilige Gees

Sonde teen die Heilige Gees – Francois Malan

Christa vra: 

Wat presies is: “Sonde teen die Heilige Gees”

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die kort antwoord is: Dit is die moedswillige veragting van en volgehoue weerstand teen Christus en die genade van God se liefde, wat die Heilige Gees vir ons aanbied en in ons wil toepas. (Iemand wat nog daaroor bekommerd is, het nog nie die sonde teen die Heilige Gees gepleeg nie).

In Markus 2:28 verwys Jesus na Homself as die Seun van die mens in sy vernederde toestand as mens. 3:1-6 vertel dat Jesus op die sabbatdag in die sinagoge die man met die gebreklike hand genees het. Daarna het Hy baie mense gesond gemaak (v10), en selfs die bose geeste wat Hy uitgedryf het, het gesê: U is die Seun van God (v11). Van die duidelike tekens dat die Gees van God deur Jesus werk sê die skrifgeleerdes egter ‘dit is met die hulp van die aanvoerder van die duiwels, naamlik Beëlsebul, dat Hy die duiwels uitdrywe (3:22). Daarop waarsku Jesus hulle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige en lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie (v28,29).

Nadat Jesus in Matteus 12:8 gesê het die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat, vertel Matteus 12:22-32 dat Jesus op die sabbat in die sinagoge die blind en stom man, wat in die mag van die duiwel was, genees het. Van die duidelike teken dat Jesus die duiwels deur die Gees van God uitdryf, sê die Fariseërs: Hy dryf duiwels alleen uit met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die duiwels. Daarop waarsku Jesus: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie; as iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.

Lukas 11:14-23 verbind dit aan die genesing van stomme uit wie Jesus ‘n duiwel uitgedryf het, en party van die mense dit aan die hulp van Beëlsebul toegeskryf het. Jesus waarsku: Aangesien Ek dus deur die vinger van God duiwels uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (v20).

In Lukas 12:1-12 waarsku Jesus teen die huigelary van die Fariseërs. Hy waarsku die mense om nie vir mense bang te wees nie, maar vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp (v5). Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God. Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie (v10).

Na Jesus se hemelvaart kom die Heilige Gees bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, omdat hulle nie in Jesus glo nie; dat die reg aan Jesus se kant is, want Hy gaan na die Vader toe; en dat die oordeel al gekom het, want die owerste van hierdie wêreld, die Satan, is klaar veroordeel (Johannes 16:8-12).

Nadat die Joodse Raad vir Jesus skuldig bevind het aan godslastering, en hom van opstand teen keiser voor Pilatus aangekla het, het die Heilige Gees gekom om die valsheid van daardie verhoor te ontbloot. In werklikheid was dit ‘n hofsaak teen die wêreld voor God se hof in die hemel. Die Heilige Gees gebruik die getuienis van die apostels (soos dit in die Bybel opgeteken is; Efesiërs 6:17 noem die woord van God die swaard van die Gees) en die getuienis van die gelowiges, om vir die wêreld die ware aard van sonde, geregtigheid en oordeel aan die lig te bring. Dit het God deur Jesus gedoen, en die Heilige Gees kom die implikasies daarvan vir mense duidelik maak. Die vernaamste sonde is ongeloof, die verwerping van die verkondiging van evangelie van Christus. Die reg is aan Jesus se kant, want deur sy dood en opstanding het Hy ons verhouding met God reggestel om kinders van God te wees as ons in geloof aan Christus, God se Seun, verbind is. Die oordeel het al gekom, aangesien die ‘owerste van hierdie wêreld, nl. die Satan, al klaar geoordeel is. Toe Jesus aan die kruis verhoog is, is God se oordeel oor ons sonde aan Jesus voltrek, aan Hom vir wie die wêreld aan die kruis vermoor het, en vir wie God uit die dood opgewek en verhoog het tot aan sy regterhand. Daarmee word ons vrygespreek en ons verhouding met God reggestel. Daarmee word Satan as die owerste van die wêreld onttroon, en Jesus aangestel as die heerser oor die wêreld. Hy is nie meer die verborge Seun van die mens nie, maar geopenaar as waarlik die Seun van God. En die mense wat weier om in Hom te glo, weerstaan die werking van die Heilige Gees.

Daarom waarsku Hebreërs 10:26-31: wanneer ons opsetlik bly sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie (v26). Hy verwys na die verskriklike oordeel van God as ons die Seun van God verag, die bloed van die verbond (aan die kruis) waardeur Hy geheilig is, geminag het, en die Gees van genade beledig het (v27-29).

Hebreërs 6:4-6 waarsku: wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het, en dan nog afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak Hom in die openbaar tot bespotting.

Maar Hebreërs waarsku juis so ernstig, sodat mense tot bekering kan kom voordat hulle Christus heeltemal en permanent verwerp.

Die permanente verharding noem 1 Johannes 5:16 die sonde wat tot die dood lei.

In Handelinge 5:1-11 word die skielike dood van Ananias en sy vrou Saffira daaraan toegeskryf dat hulle vir die Heilige Gees gelieg/bedrieg het v3).

In Efesiërs 4:30 waarsku Paulus: Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag (as Christus weer kom; vgl. Efesiërs 1:14). Die Gees van God kom in ons woon om ons deur ons hele lewe te lei tot Jesus weer kom om te oordeel. Intussen kan ons seker weet dat ons kinders van God is juis omdat die Gees in ons woon (Romeine 8:14-17).

In 1 Tessalonisense 5:19 waarsku Paulus: Moenie die Heilige Gees teenstaan nie. Hy gee ons die krag om nee te sê vir die sonde, en om God se wil te soek en te doen (vv21-24).

Efesiërs 3:5-6 sê dat God die geheim van sy verlossing deur Christus, aan ons bekendmaak deur die Gees wat Hy aan sy apostels en profete gee; en 5:8 sê: laat die Gees julle (alle gelowiges) vervul. 1 Korintiërs 6:19 sê die Heilige Gees woon in ons, ons is God se tempel, ons behoort nie aan onsself nie, maar God het ons gekoop met die dure prys van sy Seun aan die kruis.

 

Skrywer: Prof Francois Malan