Verassing

Verassing – Kobus Kok

Johan vra: 

Ek lees die artikel oor verassing met al die tekse daarby, maar ek kry nie ‘n direkte antwoord nie, is verassing verkeerd, sondig of is dit in vandag se lewe ‘n regte wyse om tot stof te vergaan 

Antwoord:

Prof Kobus Kok antwoord:

My eerlike opinie is dat daar geen bewyse is dat verassing vanuit ‘n Christelike perspektief sonde is nie. Ons sien in die navorsing wel dat die Jode van die Ou Testament gesê het dat mens die beendere van ‘n dooie mooi moet bêre omdat God die liggaam weer gaan verenig en vleis aan die dooie beendere sit (Lees gerus Eseg 36-37). In die Nuwe Testamentiese tydperk het dit minder belangrik geword. Vandag besef ons dat God se herskepping nie afhang van die aanwesigheid van ons dooie beendere nie. Hy gaan alles nuut maak (Lees gerus Openb 21). Dit maak dus nie saak of ons begrawe of veras word nie. Stof was ons en tot stof sal ons terugkeer.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Straf God sonde op aarde? (2)

Straf God sonde op aarde? (2) – Francois Malan

Jan Smith vra: 

In die artikel Straf God Sonde op Aarde? sê prof Malan onder meer: “mense wat nie aan Jesus behoort en Hom volg nie, word gestraf”. Vir mense wat glo dat Jesus God is en in ons plek die sondestraf aan die kruis gedra het “verander die straf in tug”. Verder: “Met allerhande beproewings word die egtheid van ons geloof getoets —“. Kan mens dan sê die ongelowige word met kanker “gestraf” en die gelowige daardeur “beproef”?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Toe die mens soos God wou wees (Gen 3:5-6) en God se wyse gebod (2:17) oortree het (3:11,17), het lyding en dood deel geword van die mens se bestaan (Gen.3:16-19). Die Bybelskrywers sien siekte, lyding en dood as die straf van God op die sonde van die mense teen Hom deur die oortreding van sy gebooie. Deur sy gebooie wys Hy vir ons die ware lewe aan, die lewe wat God vir ons bedoel het (vgl. bv. Genesis 2:17; Psalm 51:5-7; Markus 2:2-5; Johannes 5:14).

Deur God se genade het die mens nie dadelik gesterf nie. So is die mens se lyding nie net straf op die sonde nie, maar ook ‘n middel van sy genade. Die doel van straf is om die reg van God te herstel, wat deur  die sonde geskend is, om oortredings wat begaan is te herstel (Deutr.13:5; 17:12; 24:7) en toekomstige oortredings te voorkom (Deutr.13:11; 17:13; 19:20; 21:21). Die lewende, heilige God behandel die skuldige nie as ‘n onskuldige nie, voor Hom is die hele wêreld strafwaardig (Rom.3:19), Hy trek niemand voor nie, maar vergeld elkeen volgens sy dade (Rom.2:1-11).

Lyding is dikwels die gevolg van ‘n persoonlike sonde of ‘n sondige lewenswyse, soos bv. dronkenskap of onsedelikheid, roekeloosheid, ens., of die gevolg van ‘n hele familie of geslag of volk of van die mensheid se oortreding van die wil van die Here, en kan ‘n pes bv. uitbreek as gevolg van die mens se besoedeling van die water. So is daar ook ‘n verband tussen die gevalle mens en die verwoeste aarde (vgl. Gen 3:17-18; Rom 8:19-22).

Die strawwe wat God in hierdie lewe op die mens se sonde en selfsug ingestel het, is die mens se wete van sy skuld voor God, sy fisiese of geestelike lyding, die dood (plotseling of uitgerek) en die heerskappy van die satan as die owerste van hierdie wêreld (2 Kor 4:4).

Die Nuwe Testament sien ook die mens se sonde en die duiwel se werking agter siekte en lyding en dood. Jesus sê die duiwel was van die begin af ‘n moordenaar (Joh.8:44). Jesus verlos mense van hulle sonde en genees hulle. Vir die verlamde wat bedlêend was sê Hy: jou sondes word vergewe, en om sy volmag om sonde te vergewe te bewys beveel Hy om op te staan, en die verlamde staan op en loop (Mat.9:1-7). ‘n Man wat stom was omdat hy in die mag van die duiwel was, word genees deurdat Jesus die duiwel uitdryf (Mat.9:32-33). Jesus verkondig die evangelie, die goeie boodskap, deur mense te leer en elke soort siekte en kwaal gesond te maak (Mat.9:35). Self loop Hy die lydensweg tot in die dood, om die dood vir ons ‘n deurgang te maak na die lewe saam met Hom.

Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh.1:29). Hy dra die straf op ons sonde, en die mense wat in God glo wat vir Jesus uit die dood opgewek het, word deur God as sy kinders aangeneem en hulle word vrygespreek van hulle sonde (Rom.4:25-25). Ons skuld maak lyding tot straf. Maar omdat ons skuld op Jesus gelaai is, verander die karakter van ons lyding. Die dood bly vir gelowiges en ongelowiges dieselfde, maar vir ongelowiges is dit straf en vir die gelowiges ‘n deurgang na die ewige lewe saam met Jesus. Siekte tref gelowiges en ongelowiges, maar God spaar ook ongelowiges (Gen.18:26); Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges Mat.5:45) en Jesus genees tien melaatses waarvan net een terugdraai om aan God die eer te gee en gered word (Luk 17:11-19).

Die lyding van die gelowige is dikwels nie die gevolg van sy persoonlike sonde nie, maar van die sonde van die mensheid; en die doel daarvan die heil van die mensheid en die eer van God. Lyding is nie slegs ‘n vergelding nie, maar is ook ‘n beproewing en dissipline (Deutr.8:5; Spr. 3:12; Hebr.12:6-11; Openb.3:19), ‘n versterking en bevestiging (Ps.119:67,71; Rom.5:3-5; Jak.1:2-4), ‘n getuienis vir die waarheid (Ps.44:23; Hand.5:41; Flp.1:29) tot verheerliking van God (Joh.9:2). In Christus is lyding die weg na heerlikheid (Rom.8:17). Die kruis wys heen na die kroon (2 Tim.4:6-8).

Uit die lyding wat vir iemand tref, kan nie afgelei word dat dit ‘n straf is op ‘n spesifieke sonde van die persoon nie (vgl. Jesus se woorde in Lukas 13:1-5, en sy antwoord in Joh.9:1-3). Gelowiges en ongelowiges word verkoue of kry kanker as die natuurlike verloop in ons sondige wêreld. Vir die gelowige is dit egter nie net ‘n straf nie, maar ‘n beproewing en opvoeding van die Here. God laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28) en niks kan ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie, nie lyding of selfs die dood nie (Rom 8:31-39). Daarom kan jy nie sê kanker of verkoue of watter siekte of gebrek ook al is ‘n straf of ‘n tug van God op ‘n bepaalde persoon nie. Maar jy kan wel sê dat God by die gelowige is in sy lyding.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Hoekom sê Johannes ‘n Christen kan nie meer sondig nie?

Hoekom sê Johannes ‘n Christen kan nie meer sondig nie? – Kobus Kok

Francois vra:

‘n Kind van God sondig nie meer nie. Hoe moet 1 Joh 1:8 (as ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself) en 1 Joh 5:18 (Ons weet dat iemand wat ‘n kind van God is,nie meer sondig nie) verstaan word?  

Antwoord:

 

Dr Kobus Kok antwoord:

Hoekom se Johannes ‘n Christen kan nie meer sondig nie?

Die antieke mens het geglo dat dit wat jy doen sê wie jy is. Jou dade is dus gesien as ‘n voortsetting van jou identiteit. In Johannes se denke is daar twee families: Die familie van God (Joh 1:12) en die familie van die Satan (Joh 8:44). Mense se optrede is ‘n bewys van hulle identiteit. In hierdie sin stel Johannes dit duidelik dat ‘n Christen nie sonde kan doen nie omdat die saad van God (Grieks: sperma toe theo) in hom is. Net soos ‘n getroude mens nie kan egbreuk pleeg nie omdat hy/sy getroud is, net so kan ‘n kind van God nie sondig nie. Johannes sê ‘n kind van God kan nie sondig nie, bedoelende hy/sy wil nie, sal nie, en het geen begeerte om dit te doen nie. Op ander plekke in 1 Johannes sê die skrywer dat indien ons beweer daar is nie sonde in ons nie dan jok ons en maak ons God tot leuenaar omdat almal sondig is. Maar, indien ons ons sondes bely, is Hy getrou en regverdig en vergewe ons. Die punt wat Johannes met ander woorde wil maak is dat kinders van God nie meer kan voortgaan om doelbewus en opsetlik te sondig nie omdat hulle nie wil nie, omdat dit teen hulle aard as kinders van God inbeweeg. Ons is immers kinders van God en God is lig en daar is geen duisternis in hom nie – daarom moet ons ook as kinders van die lig leef.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




My gedagtes is vol van ander dinge

My gedagtes is vol van ander dinge – Francois Milan

Willie vra:

Ek verwys na Rom 8 vers 5. Die mense wat deur hulle sondige natuur beheers word , hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge .Maar die wat deur die Gees beheers word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees bly maak . Waarmee ek worstel is die feit dat my gedagtes baie maal juis nie vol van die dinge is wat die Gees sal bly maak nie. Soms as ek huis toe ry dan veg ek gevegte in my kop ( en deel sommer ‘n paar klappe ook uit ) – dit maak ‘n mens ongelukkig . Hoe hanteer ek dit – hoe kom ek by n punt uit waar my gedagtewêreld wel soos Rom 8 lyk? Die is iets wat ek asseblief mooi wil verstaan, want dit raak my lewenskwaliteit.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Paulus het ook dieselfde moeilikheid. In Romeine 7:15-24 bely hy dat hy self nie begryp wat hy doen nie, want, wat hy wil doen, dit doen hy nie, maar wat hy haat, juis dit doen hy (v15). Dan verduidelik hy dat ons gelowiges nog steeds deel is van die ou bedeling waarin ons vir onsself lewe en dood gaan, al is ons reeds deel van die nuwe bedeling wat Jesus vir ons gebring het met sy dood vir ons sonde en sy opstanding wat die dood en sonde oorwin het. Daarom kan ons nie langer tevrede wees as ons toegee aan ons selfsugtige begeertes nie (vv17-23). Op sy vraag wie hom sal verlos van hierdie doodsbestaan (v24), antwoord hy : Aan God die dank! Hy doen dit deur Christus Jesus ons Here (v25). Met sy gees dien hy die Here, maar in sy doen en late bly hy vir homself lewe deur sy sondige natuur te gehoorsaam.

En dan wys hy hoe God hom deur Jesus Christus verlos in hoofstuk 8. Dit gebeur deurdat die Heilige Gees permanent in my kom woon. Hy het in my gewerk sodat ek begin glo het in Christus se verlossingswerk aan die kruis. Die Gees verbind my aan Christus, sodat Christus in my kom bly deur sy Gees (vv9,10), sodat ek al meer soos Jesus sal word (vgl. 1 Kor 1:18).

Omdat Christus die Seun van God is, en ek aan Hom verbind is, leer die Heilige Gees my ook om God my Vader te noem, soos Jesus (vgl. Abba Vader in Romeine 8:15 met Markus 14:36), God het my aangeneem as sy kind wat Hy liefhet en Hy sorg vir my (vgl. ook Romeine 8:31-39). Al is ek nog steeds ‘n sondaar, is die Heilige Gees, wat in my woon, sterker as my sondige natuur, en kan ek met sy krag nee sê vir my selfsugtige begeertes en gedagtes. Maar dit bly ‘n stryd totdat ek die dag doodgaan. Dan sal my sondige natuur nie meer krag hê oor my nie, en sal ek ten volle aan Jesus se opstanding verbind wees om saam met Christus ewig te lewe by God. Daarvan oortuig die Heilige Gees my, en daarvan is Hy die waarborg dat dit sal gebeur. Nou het ons nog deel aan Christus se lyding, maar dan sal ons deel hê aan sy heerlikheid (v17). Die lyding wat ons nou moet verduur, weeg nie op teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (v18). Oor Christus se lyding sê Hebreërs 4:15 dat ons Hoëpriester medelye het met ons swakhede omdat Hy immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp was, maar Hy het nie gesondig nie. En Hebr. 5:8 sê: Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is (vgl. sy stryd in Getsemane, Matteus 26:39-44).

God het die hele skepping aan verydeling onderwerp, alles gaan dood saam met die mens (Genesis 3:17-19). Daarom sug die hele skepping en sien met gespanne verwagting uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Wanneer God ons van die verganklikheid bevry sal die skepping daarmee saam van die verganklikheid bevry word. Maar nou sug ons nog van frustrasie omdat ons lewe in die Gees nog nie ten volle tot volle oorwinning kan kom in ons tydelike bestaan nie. Ons gesug in ons stryd teen die sonde is egter ‘n teken van die Gees se teenwoordigheid. Hy skep in ons die hoop op ‘n beter lewe. Die Gees help ons in al ons swakhede, juis in ons verbondenheid aan ons sondige natuur. In ons hulpeloosheid voor God is dit die Gees wat vir ons intree by God (8:19-27). Juis wanneer ons erken dat ons geheel en al van God afhanklik is om ons deur ons versoekings te dra, kan God sy wil met ons bereik. Hy sal alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, want Hy het ons geroep om sy kinders te wees (8:28).

In die tussentyd lewe ons in die daaglikse stryd teen ons self en ons sondige natuur. Maar ons het die versekering van Romeine 8:1 ‘daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.’ En 8:31-39 God is vír ons, en niks kan ons skei van sy liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan