Mense ná die sondvloed – Hermie van Zyl

Van: Michele

Onderwerp: Mense ná die sondvloed

Boodskapteks: As ek reg verstaan, was dit net Noag se familie in die ark. Waar het al die mense en nasies dan later vandaan gekom?

Antwoord

Voor ek by die spesifieke vraag en antwoord uitkom, laat ek eers iets in die algemeen verduidelik omtrent die aard van die Genesisverhaal.

Met die eerste oogopslag lyk dit of Genesis vir ons akkurate, historiese feite gee omtrent die ontstaan van die heelal, die eerste mense en die aartsvaders. Maar dis slegs oënskynlik so. In werklikheid is Genesis wat ons noem etiologiese (= verklarende) geskiedskrywing. Dit wil sê dit probeer die geskiedenis so vertel dat dit aan latere geslagte verklarings bied vir veral politieke en sosiale verdelings in hulle eie tyd. Dit hou in dat die geskiedenis wat ons in Genesis aantref nie kille, eksakte feite omtrent die geskiedenis is nie, maar geskryf word vanuit die perspektief, konteks, probleme en ervarings van veel later geslagte. Die meeste kenners is daarom van mening dat Genesis (saam met die ander boeke van die sogenaamde Pentateug – dit is Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium) eers hier teen 1000 vC skriftelike beslag begin kry het, en sy finale afsluiting eers ná die ballingskap in die 6e eeu vC gehad het. Dit beteken dat daar aanvanklik ‘n sekere geskrewe historiese kern was (wat op sy beurt teruggaan op ou mondelinge volksvertellings), maar dat hierdie kern verskeie redaksionele fases deurloop het aan die hand van baie skrywers en invloede voordat dit sy finale beslag gekry het.

Hierbenewens is die inhoud nie ‘n kille, objektiewe inventaris van gebeure nie, maar in verhaalvorm geskryf. Dit wil sê, die verskillende skrywers het ‘n seleksie van gebeure gemaak en hierdie seleksie vanuit ‘n bepaalde perspektief geskryf om sekere teologiese oogmerke te dien – wat ook al van tyd tot tyd in die volk Israel se geskiedenis en verstaan van God belangrik was. Daarom kan mens sê dat ons in Genesis twee visies op die oergeskiedenis kry: dit bied ‘n venster waardeur ons kyk na die verlede – ‘n venster wat die verhaalskrywers vir ons ontwerp het – maar terselfdertyd werk hierdie venster ook soos ‘n spieël: ons herken daarin die weerkaatsing van die verskillende skrywers(groepe) vanuit latere tye, wat hulle perspektiewe en voorkeure was. Verder, hierdie twee visies op die verlede – venster en spieël – is ineengestrengel teenwoordig in die Genesisverhaal sodat dit soms baie moeilik is om agter te kom wat is geskiedenis en wat is die eietydse konteks en perspektiewe van die skrywers. Die hele rede vir dié soort geskiedskrywing was dat geskiedenis vir die antieke mens nie oor die objektiewe feite as sodanig gegaan het nie – bloot om uit te vind wat presies gebeur het nie – maar oor die toeëiening van die verlede vir hulle eie tyd. Die verlede moes die hede meer verstaanbaar maak.

 

Kom ons pas nou hierdie stukkie teoretiese agtergrond toe op ons vraagsteller se navraag. In Gen 6:1 lees ons dat die mense op die aarde baie begin word het, maar dat die boosheid ook toegeneem het, waarop die Here besluit om die mens weg te vee van die aarde af (6:7) – behalwe Noag en sy gesin, wat genade gevind het in die oë van die Here (6:8). Hy sou Noag, sy vrou en die egpaar se gesin (seuns Sem, Gam en Jafet, en dié se vroue) gebruik om die aarde te herbevolk. Hulle oorleef dan in die ark die groot vloed (saam met die diere). Ná die vloed herhaal die Here gevolglik die opdrag wat Hy reeds aan Adam gegee het, naamlik om te vermenigvuldig en die aarde te vul (9:1,7; 1:28). Uit hierdie gesin is die hele aarde weer bevolk (9:19).

Die volgende wat ons kry is die nageslag van Sem, Gam en Jafet in Gen 10. Ewe skielik is daar ‘n klomp mense op die toneel; dit staan bekend as die volkeretafel of volkekaart. Dit is duidelik dat die skrywer(s) hier veel meer in die oog het as bloot net die nageslag van Sem, Gam en Jafet. Wat eintlik gebeur, is dat die volkeretoneel soos dit bekend was in die gebiede rondom die Middellandse See in die tyd toe Genesis sy aanvanklike beslag gekry het in ongeveer 1000 vC, hier ingelees word in en teruggevoer word na die nageslag van Noag en sy seuns. Daarom is die persoonsname wat hier voorkom eintlik ‘n manier om na latere volke en plekke te verwys. Vergelyk ook 10:32 waar die skrywer(s) se perspektiewe en oogmerke pertinent genoem word, naamlik die beskrywing van die stamme en nasies se herkoms. So kan latere lesers – met name die volk Israel – ingelig word oor waar hulle inpas in die geskiedenis van volke en nasies. En so word dit ook duidelik wat vroeër opgemerk is omtrent die aard van Genesis, dat geskiedenis en latere perspektiewe inmekaarvloei.

Naas bogenoemde is daar twee teologiese perspektiewe wat helder uitstaan in die volkeretafel van Genesis, en dit is (a) dat die menslike geslag één is. Net soos almal teruggevoer kan word na die eerste mensepaar, Adam en Eva (vgl ook Hand 17:26), so kan al die nasies van latere tye op hulle beurt teruggevoer word na die nageslag van Sem, Gam en Jafet. En (b), die skrywer werk ook met die konsep dat die geskiedenis wat hy beskryf, uitloop op die volk Israel. Dit word sigbaar uit die feit dat Noag se seuns in Gen 10 in omgekeerde volgorde genoem word, naamlik Jafet, Gam en Sem. Die gewone volgorde is Sem, Gam en Jafet (vgl 5:32). Hierdie volgorde dui nie noodwendig die volgorde aan waarin hulle gebore is nie; volgens 9:24 en 10:21 is die volgorde van geboorte eerder Jafet, Sem Gam. Hoe dit ook al sy, met die omkeer van die gebruiklike volgorde (Sem, Gam en Jafet) wil die skrywer aantoon dat God ‘n bepaalde geslagslyn gebruik om sy heil aan die wêreld bekend te maak, naamlik dié van Sem – Abraham – Israel. Daarom begin hy by Jafet om dan op te werk na, en die klem te laat val op Sem wat die voorvader is van Heber (waaruit die Hebreërs sou kom), wat ons dan lei na Peleg en uiteindelik Abraham (11:16-26).

Die vraag oor waar al die mense in Gen 10 so skielik vandaan kom, word dus beantwoord wanneer ons bostaande uiteensetting in gedagte hou. Die skrywer wil aantoon wie almal uit Noag se familie voortgevloei het. En hiervoor gebruik hy die volke- en plekname van sy eie tyd om aan te toon waar almal vandaan kom, dat hulle teruggevoer kan word na Noag se seuns, Sem, Gam en Jafet. Maar so toon hy ook aan hoe die klem val op Sem se nageslag, want daaruit sou Israel se geskiedenis voortvloei, wat natuurlik vir sy lesers van groot belang was.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Hoekom is daar nog so baie sonde?

Hoekom is daar nog so baie sonde? – Francois Malan

Pieter vra:

Indien al die mense en hulle sondes op die aarde vernietig was met die sondvloed, behalwe die 8 mense op die Ark, hoekom is daar dan nog so baie sonde op die aarde vandag? Of is dit die sondige natuur van die mense wat saam met die 8 gekom het? En ons as mens maar net eenvoudig te goed in onsself is om te luister?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die manier waarop Genesis 3:5-6 die sondeval beskryf, beklemtoon dat die slang se versoeking aan die mens was dat ‘julle soos God sal wees deur dat julle alles sal ken. Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik is omdat dit kennis kan gee.’ En dit is vandag nog elke mens se probleem: ons wil soos God wees en daarom ons eie god wees – selfsugtig, dit gaan om ‘ek’, ons lewe draai om ons self, en is nie op God gerig nie.

Toe die volk in vrees vir God se verskyning in donderslae en weerligte  vir Moses gestuur het om na Hom te gaan luister (Eksodus 20:18-21), en Moses 40 dae op Sinaiberg bly om die voorskrifte van God te ontvang, vra hulle vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak om hulle te lei (32:1). ‘n god wat hulle op hulle skouers kan tel en met hom loop waar hulle wil.

Samuel sê vir Saul wat deur God uitverkies is as koning en toe ongehoorsaam geword het aan God se opdrag: weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery (1 Samuel 15:23).

In Galasiërs 5:16-21 verduidelik Paulus wat alles die gevolg is van ons sondige natuur wat in stryd is met wat die Gees van God vir ons wil leer.

In Romeine 1:18-32 verduidelik Paulus: omdat die mense God nie as God eer en dank nie, maar in plaas van die heerlikheid van die onverganklike God dien hulle beelde van verganklike mense of voëls of diere of slange – die grootste afgod wat ons dien is ek self – daarom gee God in sy toorn oor die sonde van die mense hulle aan hulle eie begeertes oor, om te maak soos hulle wil, en dan volg die lys sondes wat hy uitstippel.

Dit het Jesus kom verander, en die Gees van God wat in die gelowige kom woon het, verbind ons aan Jesus wat Homself in liefde geoffer het vir ons sonde, sodat ons ook ons self aan God kan gee en vir Hom en vir ons naaste in liefde te lewe (Romeine 8:1-17).


Skrywer: Prof Francois Malan




Die Groot Geloofswoordeboek: Sondvloed

Die Groot Geloofswoordeboek: Sondvloed

Sondvloed

Sondvloed is ‘n verkorting van sondevloed; dit beteken die vloed wat deur die sonde van die mense veroorsaak is. Daar is allerlei teorieë dat die hele aarde deur water bedek was. Veral die feit dat baie volke verhale oor ‘n groot vloed het, versterk hierdie oortui­ging. Maar die verhaal in die Bybel hoef nie noodwendig só verstaan te word nie. “Die hele wêreld/aarde” beteken dikwels in die Bybel die hele aarde soos die mense dit toe geken het. Paulus praat van die evangelie wat “in die hele wêreld” vrug dra, maar hy bedoel die hele wêreld waarvan hy geweet het (Kol 1:6). (*Histories-kritiese uitleg, *Heidensending)

Skrywer: Prof Adrio König