Filippi

Filippi – Coen Slabber

Ons gaan voort met ons beskrywing van belangrike stede wat Paulus besoek het en waarin hy gemeentes gestig het. Vandag kyk ons na Filippi.

In Troas sien Paulus in die nag in ʼn gesig ʼn Masedoniese man wat by hom staan en smeek: Kom oor na Masedonië toe en help ons (Handelinge 16:9). Hy vaar van Troas na Samotrake en Neapolis en vandaar gaan hy na Filippi. Dit was in die jaar 49 of 50. In hierdie stad het ons ʼn paar dae gebly (16:12). Hierdie gemeente was die eerste gemeente op Europese bodem. Lukas se vertelling van Paulus se besoek fokus op drie persone: Lidia, ʼn Griekse slavin met ʼn waarsêersgees en ʼn Romeinse tronkbewaarder.

As Paulus ʼn plek soek om die evangelie te verkondig, doen hy dit uit ʼn strategiese hoek. Hy soek altyd ʼn groot of belangrike stad uit. ʼn Tweede vereiste was dat die stad ʼn sleutelrol in die omgewing moes gespeel het. Lukas beskryf Filippi as ʼn belangrike stad in daardie deel van Masedonië (16:12). Selfs vandag nog is baie van hierdie stede wat Paulus gekies het belangrike pad- en spoorwegaansluitings.

Filippi voldoen aan Paulus se vereistes. Daar was veral drie aansprake wat Filippi kon maak:

(1)    In die omgewing was daar goud- en silwermyne. Hierdie myne was sedert die tyd van die Fenisiërs ontgin. In Paulus se tyd word hulle nie meer aktief ontgin nie, maar hulle het gesorg dat Filippi ʼn belangrike handelsentrum in die antieke wêreld was.

(2)    Die stad is gestig deur en vernoem na Filippus II, die vader van Aleksander die Grote. Dit is geleë op dieselfde plek as die antieke stad Krënides (dit beteken die putte of fonteine). Filippus stig die stad in 368 vC, want dit was op ʼn baie strategiese plek geleë. Dit was geleë langs die Via Egnatia wat Filippi aan Neapolis (dien as Filippi se hawe) verbind het. Na die weste verbind hierdie hoofweg Filippi en Tessalonika.  Daar is ʼn reeks heuwels wat Europa van Asië, die Ooste van die Weste skei. By Filippi was daar ʼn pas deur hierdie heuwels. Die stad het die pad tussen Europa en Asië beheer, want reisigers moes deur hierdie pas gaan. Geen wonder dat een van die geskiedkundigste veldslae hier plaasgevind het nie – dit is hier waar Antonius vir Brutus en Cassius verslaan het –  ʼn beslissende veldslag wat die toekoms van die Romeinse Ryk bepaal het.

(3)    Filippi was ʼn Romeinse provinsie. Romeinse provinsies was nie provinsies soos ons dit ken nie – ʼn buitepos van die beskawing in onontwikkelde dele van die wêreld nie. Romeinse kolonies was militêr belangrik. Soldate wat hulle diensplig voltooi en Romeinse burgerskap verkry het, is deur Rome uitgestuur om hulle by hierdie strategiese padverbindings te vestig. Gewoonlik is hulle in groepe van 300 soldate met hulle vroue en kinders uitgestuur. Hierdie kolonies was die fokuspunte van die Romeinse padsisteem – ʼn padsisteem spesiaal so beplan dat militêre versterkings baie maklik van die een provinsie na die ander gestuur kan word. Hulle was dus baie belangrik vir die behoud van vrede in die Ryk. Aanvanklik het ons kolonies slegs in Italië gekry, maar mettertyd kom hulle verspreid oor die hele Romeinse Ryk voor. Later is die titel kolonie aan enige stad wat deur die regering vir getroue diens vereer is, toegeken. Kolonies was vrygestel van belasting en die Romeinse wet het gegeld.

Hierdie kolonies was in werklikheid klein stukkies van Rome. Hulle trots op hulle Romeinse burgerskap was hulle uitstaande kenmerk. Die taal, kleredrag, gebruike en seremonies was dié van Rome. Hulle sou nie daarvan droom om deel te word van die mense van hulle omgewing nie. Luister net na Paulus en Silas se aanklaers in Filippi: Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie (Handelinge 16:20 – 21). ʼn Romeinse burger het nooit vergeet dat hy ʼn Romein is nie. [Ons vergeet so maklik dat ons Christene is.] Nêrens was mense trotser op hulle Romeinse burgerskap as juis hier in die kolonies nie.

Filippi was nie ʼn groot stad nie. Dit is omring deur groot landerye. Die inwoners was ʼn mengsel van veteraan soldate, Grieke, Masedoniërs en vreemdelinge. Die Via Egnatia het dwarsdeur die stad geloop. Langs die hoofpad kry ons die forum – die handel- en regeringsentrum. Daar was verskeie tempels en twee gemeenskaplike baddens. Die stadsmure en ʼn indrukwekkende teater dateer uit die tyd van Aleksander die Grote.

In meeste stede van destyds was daar ʼn groot aantal kultiese praktyke beoefen – so ook in Filippi. Soos ʼn mens sou verwag van ʼn Romeinse kolonie, was die keiserkultus belangrik. Die tempels by die forum was aan Augustus, Livia, Claudius en Rome gewy. Ons moet onthou dat die keisers destyds verantwoordelik was vir die handhawing van vrede, die administrasie van die reg, bystand in tye van swaarkry (byvoorbeeld hongersnood). Hulle het dus die funksies verrig wat mense destyds van gode verwag het.

Daar was ook tempels vir die tradisionele Griekse gode (Zeus, Apollo, Artemis, ens.). Die Filippense het selfs kultusse uit die Ooste (soos die Egiptiese kultusse van Isis en Osiris) verwelkom.

Was daar ʼn Joodse gemeenskap in Filippi? As ons Lukas se beskrywing in Handelinge 16 lees, kry ons die indruk dat Paulus-hulle die eerste paar dae gesoek het na ʼn sinagoge – sonder sukses. Lukas sê dat hulle tot die sabbatdag gewag het en toe na ʼn rivier buite die stadspoorte gegaan het – omdat ons gedink het daar sou ʼn Joodse bidplek wees. Hierdie sogenaamde proseuche was ʼn Joodse bymekaarkomplek (nie noodwendig ʼn gebou nie) vir gebede op die Sabbat en vir onderrig in die tora. Die rivier is waarskynlik vir rituele reiniging gebruik.

Na so ʼn nederige begin, is dit verbasend dat Paulus met soveel blydskap vir hulle kon bid:

Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie (Filippense 1:3 – 5).

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Kolosse

Kolosse – Coen Slabber

Ongeveer 150 km vanaf Efese, in die vallei van die Lykus-rivier, was daar eens drie belangrike stede: Laodisea, Hiërapolis en Kolosse. Hulle was deel van die Romeinse provinsie Klein-Asië. Hiërapolis en Laodisea was weerskante van die rivier geleë ongeveer 10 km uitmekaar. Kolosse was ongeveer 18 km stroom op en geleë op die hoofroete van Efese en Sardis na die Eufraat en sy wolindustrie. Kolosse was die oudste van die drie stede en is oorspronklik deur die Frigiërs gevestig en bewoon. [Dit was naby Denizli in die teenswoordige Turkye.]

Hierdie vallei het twee uitstaande kenmerke gehad:

(a)    Aardbewings het algemeen in hierdie gebied voorgekom. Laodisea is meer as een keer deur ʼn aardbewing verwoes. In 60/61 het ʼn aardbewing die stede in die vallei erg beskadig. Paulus maak geen melding hiervan in sy brief nie. Die brief is daarom waarskynlik voor die aardbewing geskryf.

(b)   Die water van die rivier en sy sytakke was ryk aan kalk.

 

Hierdie was ʼn ryk gebied en bekend vir twee beroepe:

(1)    Vulkaniese grond is altyd baie vrugbaar. Groot troppe vee het in die omgewing gewei. Die wolbedryf was baie belangrik. Veral Laodisea was bekend vir hoë gehalte kledingstukke. Daar was ook die gewone landbouprodukte van destyds – vye, olywe en druiwe.

(2)    Die kleuring van materiaal.  Die kalkwater was besonder geskik vir die kleur van materiaal. Kolosse was bekend vir wolstof wat skarlaken gekleur was.

 

Aanvanklik was hierdie drie stede ewe belangrik. Mettertyd word Laodisea die politieke sentrum en finansiële hoofkwartier vir die hele streek. Hiërapolis was ʼn handelsentrum. Daar was ook ʼn baie bekende spa. In hierdie vulkaniese gebied was daar baie fonteine – party met warm water. Hulle was bekend vir hulle genesende eienskappe. Mense het van heinde en verre gekom om hier te bad en van die water te drink.

 

In die gebied van die drie stede was daar baie Jode. Baie jare tevore (in ongeveer 200 vC) het Antiogus die Grote twee duisend Joodse families van Mesopotamië  en Babilon in hierdie gebied hervestig. Hulle moes die gebied stabiliseer. Hierdie Jode was voorspoedig en daarom het ander van hulle volksgenote hulle ook mettertyd hier gevestig. Kolosse het waarskynlik in die omgewing van 3000 Joodse inwoners – insluitend hulle gesinne – gehad.

 

Op ʼn stadium was Kolosse net so groot soos die ander twee. Kolosse was teen die Kadmus-berge geleë. Dit was ʼn belangrike stad, want dit het al die passe deur die berge beheer. Xerxes en Cyrus het met hulle invallende leërs daar oorgebly. Mettertyd het Kolosse egter agteruitgegaan. Vandag nog sien ons die ruïnes van Hiërapolis en Laodisea, maar daar is geen oorblyfsels van Kolosse nie – ons raai maar waar die stad geleë was.

 

Dit was die tuiste van die kultus van Sibille, die moedergodin. Aanbidding van hierdie godin het vrugbaarheidsrituele, maar ook asketiese en rituele verminking ingesluit. Op muntstukke van Kolosse  kry ons ʼn aanduiding van ʼn hele reeks ander kultusse – Isis (ʼn Egiptiese godin), Sarapis, Mitras, Demeter, Helios (die son), Selene (die maan) en ook Artemis van Efese.

 

Die gemeente in Kolosse is nie deur Paulus gestig nie; Paulus self het nooit, sover ons weet, die gemeente besoek nie. Paulus sê dat hy hom vir hulle en vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander wat my ook nog nie persoonlik gesien het nie beywer (Kolossense 2:1). Die evangelieverkondiging van Epafras het waarskynlik die fondament vir die gemeente gelê. Epafras was ʼn inwoner van Kolosse en het waarskynlik tot bekering gekom tydens Paulus se verblyf in Efese. Nog ʼn inwoner van Kolosse was Filemon.

 

Gedurende Paulus se drie jaar in Efese is die hele provinsie Asië met die evangelie bedien. Daarom glo hy dat die gemeente in Kolosse binne sy apostoliese gebied geval het. Wat ons hier sien is die resultaat van Paulus se sendingstrategie. Hy vestig ʼn sentrum vir evangelisasie in ʼn groot stad (soos Efese). Individue en spanne gaan dan daarvandaan uit na die stede in die omgewing.

 

Hoe groot was die gemeente in Kolosse? In Filemon lees ons van die gemeente wat gereeld in jou huis bymekaargekom het. Hoeveel huiskerke daar was, weet ons nie. As ons Kolossense 2:1 lees, kry ons die indruk dat die huiskerke in Laodisea as deel van hierdie geloofsgemeenskap gefunksioneer het. Uit Kolossense 3:18 – 4:1 kan ons aflei dat slawe en kinders lede van die gemeente was.

 

Die kerk in Kolosse het meestal uit nie-Jode bestaan. Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse (1:21) – dit is die taal wat Paulus dikwels gebruik om na mense wat nie deel van die verbond was nie, te beskryf. In 3:5 – 7 gee hy ʼn lys van hulle sondes voordat hulle Christene geword het. Dit is die sondes wat ons by nie-Jode verwag.

 

Die brief wat Paulus aan die gemeente in Kolosse geskryf het, moes ook in die gemeente in Laodisea voorgelees word. In Kolossense 4:16 verwys Paulus ook na ʼn brief wat aan die gemeente in Laodisea gestuur is. Ongelukkig het ons nie meer hierdie brief nie.

[Ek gaan van die veronderstelling uit dat Paulus hierdie brief geskryf het, alhoewel dit nie ʼn uitgemaakte saak is nie.]

 

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Tessalonika

Tessalonika – Coen Slabber

Hoe het die stede gelyk wat Paulus besoek het? In hierdie kort reeks gaan ons kyk na enkele van hierdie stede. Die briewe aan die Tessalonisense was van Paulus se vroegste geskrifte. Ons begin dus by Tessalonika.

Tessalonika is ongeveer 160 km wes van Filippi geleë. Dit is ʼn baie ou stad – in Paulus se tyd was dit reeds meer as drie eeue oud. In 168 vC kom die Romeine daar aan.  Dit word in 146 vC die hoofstad van Masedonië. Tessalonika was langs die bekende hoofweg die Via Egnatia – die groot handelsroete wat Rome met die Ooste verbind het – geleë. Hierdie  was ʼn belangrike stad vir oos-wes en noord-suid verkeer. Omdat dit so ʼn belangrike handelstad was, kan ons aanvaar daar was ʼn betekenisvolle aantal Jode in die stad – meestal handelaars.  In Tessalonika het die Ooste en die Weste bymekaar gekom. As die Christelike godsdiens daar ʼn vastrapplek sou kry kon die na die Ooste en die Weste versprei.

Tessalonika was die naam van Aleksander die grote se half-suster. Sy was getroud met Cassander wat in 315 vC die stad herbou het. Dit was ʼn “vry stad” – dit beteken daar was nooit enige Romeinse troepe in die stad gestasioneer nie. Die stad het baie van sy ou Griekse identiteit behou – selfs na die oorname deur die Romeine. Die stad het in wese ʼn Griekse grondwet gehad. ʼn Raad (bestaande uit plaaslike aristokrate) en ʼn gimnasium vir die opvoeding van jong mense het die Griekse kultuur, godsdiens en spele bevorder. Die stad het ook sy eie magistrate gehad. Op ʼn stadium het dit ʼn bevolking van 200 000 gehad. Tessalonika het in 42 vC vir Octavius en Antonius teen Brutus en Cassius gesteun.

Tessalonika is een van die gemeentes wat tydens Paulus se tweede sendingreis gestig is (ongeveer in die jaar 50). Paulus volg hier sy bekende benadering: Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen (die Joodse sinagoge) gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif uitgelê (Handelinge 17:2 – 3).

Lukas beskryf die patroon van Paulus se besoek: aanvanklike belangstelling en ʼn positiewe reaksie onder Joodse en nie-Joodse simpatiseerders; Joodse teenstand;  burgerlike onrus;  Paulus en Silas verlaat Tessalonika in die donker!  Kort daarna skryf hy sy eerste brief aan die gemeente om hulle geestelik te versterk.

Tessalonika was egter nie net  ʼn florende handelstad nie. Dit was  ʼn stad vol afgode. Die mense wat tot bekering gekom het, moes hulle rug op al hierdie afgode draai. Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien (1 Tessalonisense 1:9). Keiseraanbidding was algemeen, maar hulle het ook die Grieks-Romeinse afgode aanbid. Veral Dionusius is aanbid.

Paulus se winkel was waarskynlik in ʼn insula – woonkwartiere op die boonste vlakke en jou winkel op die grondvloer. Jy kon van die straat af in die winkel instap. Hierdie was natuurlik ʼn gebied waar baie mense rondbeweeg het. Paulus het toegang gehad tot die ambagsmanne wat daar gewerk het en die mense wat kom koop het. Dit was ʼn goeie plek om die evangelie te versprei.

Die gemeente groei as gevolg van Paulus se leierskap en Jason se gasvryheid. Dit bestaan meestal uit nie-Jode. Ambagsmanne en handearbeiders was sekerlik deel van die gemeente (4:11). Wie was Jason? Hy was waarskynlik bekend, want Lukas stel hom nie verder bekend nie – hy het geen bekendstelling nodig nie. Ons weet nie eers of hy ʼn Jood of nie was nie. Sy naam is Grieks, maar baie Jode het ook Griekse name gehad. Jason is die Griekse weergawe van Josua. Hy was waarskynlik ʼn ryk man, want  sy huis was groot genoeg om sulke byeenkomste te huisves.

Die gelowiges in Tessalonisense het in baie moeilike omstandighede … die woord aangeneem met ʼn blydskap wat van die Heilige Gees kom (1 Tessalonisense 1:6). Wie was hierdie mense wat die lewe so moeilik vir die vroeë Christene in Tessalonika gemaak het? Julle moes van julle eie volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. Dit is die Jode deur wie  die Here Jesus en die profete doodgemaak is en ons vervolg is (2:14 – 15).

Volgens Lukas het Paulus se sending gefokus op die sinagoge net drie sabbatdae geduur. Daarna het hulle na Jason se huis verskuif. Meeste kenners vermoed dat Paulus ʼn paar maande in Tessalonika gebly het. Uit 1 Tessalonisense 1:6 en 2:14 – 16 lei ons af dat Paulus se prediking veral nie-Jode getrek het. Dit lei tot Joodse teenstand en gegriefdheid.

 

[Ons weet nie soveel van Tessalonika nie, want die moderne stad beperk uitgrawings. Salonika is vandag ʼn florende moderne stad, die grootste in Griekeland naas Atene en die regeringsentrum van Noord-Griekeland.]

Outeur: Dr Coen Slabber