Geografiese plekke in die Bybel – Hermie van Zyl

Liesl vra:

In watter stad/dorp is Stefanus gemartel en waar staan dit in die Bybel? In watter stad/dorp het Petrus sy visioen gehad en waar staan dit in die Bybel?

Wie was die gehoor vir wie die volgende Bybelboeke geskryf is: Genesis, Numeri, Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, Esra, Nehemia, Ester, Job, Psalms, Spreuke, Hooglied, Jesaja, Klaagliedere, Miga, Habakuk.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Stefanus se martelaarskap: Stefanus was een van die sewe wat gekies is om te help met die versorging van die Griekssprekende weduwees (Hand 6:1-6). Ons lees van sy martelaarskap in Handelinge 7 (7:54-60 om presies te wees). Hierdie gebeure het in Jerusalem plaasgevind (vgl Hand 8:1). Trouens, al die gebeure van die begin van Handelinge tot en met hoofstuk 7 speel in Jerusalem af. Eers van hoofstuk 8 af versprei die evangelie (en gelowiges) na die omringende gebiede, soos Judea en Samaria. En van Handelinge 13 af versprei die evangelie na buite Palestina, na die (destydse) uithoeke van die bewoonde wêreld rondom die Middellandse See. Hierdie verspreiding is ook in ooreenstemming met die “program van aksie” wat in Handelinge 1:8 aangekondig word.

Visioen van Petrus: Petrus het sy visioen oor die rein en onrein diere in Joppe gehad. Ons lees daarvan in Handelinge 10:5-16. Joppe (vandag Jaffa) was ’n belangrike kus- en hawedorp van Palestina, ongeveer 50 km suid van Sesarea en 50 km noordwes van Jerusalem. Sesarea was die stad waar die Romeinse prokurator wat oor Judea geregeer het, sy hoofkwartier gehad het.

Gehoor (eerste leserskring) van Bybelboeke: Hierdie is ongelukkig nie ’n vraag wat maklik afgehandel kan word in die bestek van hierdie antwoord nie. Dit vereis ’n taamlik omvangryke beredenering. Die beste is om ’n Bybelkommentaar te raadpleeg, soos Die Bybellennium. ’n Eenvolume-kommentaar. Redakteurs: Fika J van Rensburg en Marius Nel. Uitgegee deur Christelike Uitgewersmaatskappy. Daarin word by elke Bybelboek volledige inligting gegee oor die skrywer, gehoor, tyd en plek van ontstaan. En dit bevat ook kosbare uitleg oor die inhoud van elke Bybelboek.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Stefanus word gevange geneem – Francois Malan

Liesl
vra:

In watter stad/dorp is Stefanus
gevange geneem????

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Toe daar in die gemeente in
Jerusalem klagtes van die Griekssprekende weduwees gekom het, is sewe mans uit
die gemeente gekies om die apostels te help. Stefanus was een van hulle
(Handelinge 6:5). Toe hy egter in die Joodse sinagoge van die Libertyne in
Jerusalem met hulle begin redeneer het, het hulle hom by die Joodse Raad gaan
aankla, wat hom verhoor het (Hand 6:6-15). Nadat hy die Joodse Raad toegespreek
het (Hand 8:1-53) was hulle briesend kwaad vir hom; hulle het hom uit die stad
Jerusalem gesleep en hom gestenig (Hand 7:58).

Skrywer: Prof Francois Malan




Wat kan ons by Stefanus leer?

 

Wat kan ons by Stefanus leer?

Die evangelie herrangskik ons waardesisteem. Dit is presies wat ons kry as ons na die lewe van Stefanus kyk. Hy was gewillig om die evangelie te verkondig en was gewillig om sy lewe op die spel te plaas om dit te verkondig. Dit is deur die voorbeeld van gewone mense soos Stefanus dat die vroeë kerk gegroei het. J. D. Greear sê dat ons vyf lesse uit die lewe van Stefanus kan leer.

  • Die kern van die Christelike toewyding is diens

Christene dien. Hoekom? Hulle verstaan dat daar ‘n behoefte is. Almal van ons moet plek in ons lewens inruim om dinge te doen wat ons aanvanklik nie baie opgewonde maak nie. Ons moet die gesindheid van ‘n dienaar hê; niks is benede ‘n Christen nie. Ons moet elke geleentheid om te dien soos Stefanus benader: “Dit gaan nie oor my nie. As dit is hoe ek die liggaam van Christus kan dien, doen ek dit met graagte.”

  • Niks is belangriker as die woord van God nie

Daar moet mense wees wat hulle op die verkondiging van die woord toespits. Dit kan net gebeur as die ander take in die gemeente deur ander mense gedoen word. Dit is wat Stefanus in Handelinge 6 doen. Hy was een van die sewe diakens wat gekies is om die behoeftes van die Griekssprekende weduwees te hanteer. Dit beteken nie dat gelowiges nie gereed moet wees om enigeen te antwoord as hy vrae oor die evangelie vra nie.

  • God doen sy grootste werk deur gewone mense

Die verspreiding van die evangelie hang tot ‘n groot mate van gewone Christene af. Gewone mense vol van die Gees kan enigiets doen wat ‘n leraar kan doen. Jesus het selfs vir sy volgelinge gesê dat hulle groter dinge as Hy sal doen, want Hy gaan na die Vader toe en stuur sy Gees na ons toe.

  • Christene is teenstrydigheid in die wêreld

Christene klink verwarrend vir die wêreld, want hulle praat genade en die waarheid. Ons sien dit in Stefanus se lewe: die een oomblik wys hy met sy vinger na die godsdiensleiers en noem hulle moordenaars van die waarheid. Die volgende oomblik, as hulle hom stenig, bid hy vir hulle vergifnis. In die gemeenskap is daar nie ‘n kategorie van die profetiese waarheid met genade praat nie. As Christene dit doen, krap die wêreld sy kop. Maar, al praat jy die waarheid met genade, sal die wêreld jou haat. Jesus en Stefanus het die waarheid en genade verkondig … en die wêreld het beide doodgemaak. Sommige mense sal altyd klippe na Christene gooi, maar ander soos Paulus sal tot bekering kom.

  • Soms is God se wil vir ons martelaarskap

Stefanus doen alles reg … en hulle maak hom dood. Hoekom het God hom nie gered nie? Ons weet nie hoekom God mense laat ly nie. Stefanus se grootste bydrae tot die koninkryk van God kom deur sy martelaarskap. Ons weet dat al verwerp die wêreld ons, die hemel ons sal verwelkom.

Uit die lewe van Stefanus kan ons ‘n paar belangrike lesse leer.