Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood?

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? – Kobus Kok

Piet vra:

Wanneer gaan ons hemel toe? Ek dink die oomblik as ons sterf, is ons in die hemel. Daar is nie ‘n tydsverloop in die terme wat ons tyd verstaan nie. Ek dink die tydsbegrip bestaan net vir ons as lewende mense en na ons gesterf het , gaan ons in ‘n ander dimensie in waar tyd nie bestaan nie. Daarom kan ons dan vir ewig lewe, want daar is nie ‘n tydsfaktor verbonde nie. U kommentaar asseblief.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Hoe vinnig gaan ons hemel toe na ons fisiese dood? 

Die Nuwe Testament gee nie vir ons duidelike antwoorde oor presies wanneer ons hemel toe gaan nie. Sommige tekste soos die van Lukas se verhaal van Lasarus en die ryk man (Luk 16:19-31) laat dit voorkom of ons dadelik in die hemel gaan wees en ander mense dadelik sal kan herken. Aan die ander kant vertel Jesus hier ‘n gelykenis, en dit moet nie letterlik verstaan word nie. Ander tekste, soos dié wat ons in Paulus vind (vgl. 1 Thes) skep die indruk dat mense in die grafte bly en dan met die wederkoms uit die grafte sal opstaan.

Piet slaan die spyker op sy kop en gee eintlik die regte antwoord in sy eie vraag. Die oomblik as ons sterf, verlaat die gees die liggaam. Die oomblik as dit gebeur, is tyd en ruimte eintlik nie meer van toepassing op ons nie. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, sal die dooie nie eens die tyd tussen sy/haar eie dood en die wederkoms noodwendig beleef nie – dit sal soos ‘n oogwink voel.

Hierdie dinge is egter almal spekulasie, omdat die Nuwe Testament dit nie vir ons eksplisiet verduidelik nie.  Die Gereformeerde kerklike tradisie onderskei haarself duidelik van sommige ander kerklike denominasies wat glo dat mense na hulle dood in een of ander tussen-tydperk gaan verkeer. Ons glo dat ons dadelik by God gaan wees, en indien ons nie dadelik by hom gaan wees nie, gaan ons nie eens weet dat tyd verloop het nie. Tyd gaan relatief wees na die dood.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Wat gebeur met die mens na sy dood?

Wat gebeur met die mens na sy dood? – Jan van der Watt

Roelf vra:

Wat gebeur met ‘n mens (a) gelowige en (b) ongelowige wanneer hy/sy sterf. 1. Die sterwensproses, 2. Direk na die dood. (5 Minute)?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag wat gebeur met ons as ons sterf is moeilik om te beantwoord, omdat dit nie reguit in die Bybel gesê word nie. Daar is dele soos Jesus wat aan die man langs Hom aan die kruis sê dat hy vandag saam met hom in die paradys sal wees (Luk 23:43), Lasarus is na sy dood by Abraham terwyl die ryk man swaarkry in die doderyk (Luk 16:19-31), of die gedeelte in Filippense  1:23 waar Paulus sê dat dit vir hom beter is om te sterf en by Christus te wees waaruit afgelei word dat gelowiges na hulle dood by Jesus sal wees. Aan die ander kant lyk dit of die gelowiges wat dood is nie by Jesus is nie, want volgens 1 Tessalonisense 4:16 moet hulle eers opstaan uit die dood om Jesus tegemoet te gaan. Die Bybel is dit egter redelik eens dat mense wat sterf na die doderyk toe gaan tot Jesus weer kom. Jesus is self na die doderyk (gevangenis) toe hy gekruisig is (1 Petrus 3:19). Dan sal hulle opgewek word en voor die regterstoel van God verskyn (bv. Openbaring 20). Die kinders van God sal na die nuwe Jerusalem gaan en die ander na die ewige doderyk.

Wat direk na die dood gebeur sê die Bybel niks oor nie. As mense dink hulle weet dit, is dit maar net hulle eie spekulasie. Kyk ook die ander artikels oor die tussentoestand en doderyk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt