Die verskillende Afrikaanse Kerke

Die verskillende Afrikaanse Kerke – Kobus Kok

Herman vra:

Hoe verskil die NG,Geref,Hervormde en APK van mekaar? Waarmee verskil die APK van die res?

Antwoord:

Dr Johan van der Merwe antwoord:

Die Nederduitse  Gereformeerde Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika , Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk: Ooreenkomste en verskille.

Al vier hierdie Afrikaanse kerke vind hulle wortels terug in Reformasie van die 16e eeu en staan  daarom bekend as Gereformeerde kerke. Met die koms van Jan Van Riebeeck in 1652, is die eerste kerk van Gereformeerde oorsprong aan die Kaap gevestig. Die eerste gemeente is in 1665 amptelik gestig met die koms van die eerste predikant, ds. Johan van Arkel.  Daar word algemeen aanvaar dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk die kerk is wat deur van Riebeeck hier geplant is alhoewel hierdie standpunt deur die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika betwis word.  Na die Groot trek van 1834-35 het verdeeldheid egter vinnig op Transvaalse bodem onstaan.  In 1853 is die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika onder leiding van ds. Dirk van der Hoff gestig.  Politieke vrese en ʼn meer liberaal teologiese benadering was die vernaamste redes vir die ontstaan van die kerk. Slegs ʼn paar jaar later is die  Gereformeerde Kerk in Suid Afrika onder leiding van ds. Dirk Postma gestig in 1859.  Weerstand teen die “Evangelische gezangen” was die vernaamste rede vir hierdie wegbreek aksie.  Vir die volgende bykans 130 jaar sou hierdie drie Afrikaanse Gereformeerde Kerke ʼn groot rol in die geskiedenis van Suid Afrika speel.  Al drie die kerke het die apartheidsbeleid van die Nasionale Party Bybels fundeer en was kerke uitsluitlik vir wit Afrikaners, sogenaamde volkskerke.  In 1986 het die Nederduitse Gereformeerde Kerk ʼn nuwe beleidsdokument “Kerk en Samelewing” aanvaar.  Hierdie dokument het die beleid van apartheid veroordeel en kerklidmaatskap oopgestel vir mense van alle rasse.  In reaksie op die verandering van die beleid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, het meer as 100 000 lidmate van die kerk weggebreek om in 1987 die Afrikaanse Protestantse Kerk te stig.  Alhoewel daar ook teologiese verskille tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Afrikaanse Protestantse Kerk bestaan, was die hoof rede vir die stigting van die kerk polities van aard.

ʼn Voëlvlug oor die ontstaansgeskiedenis van die 4 kerke toon aan dat daar veel meer ooreenkomste as verskille tussen die verskillende kerke is.

Die volgende ooreenkomste is belangrik:

  • Al vier die kerke gryp terug na dieselfde Gereformeerde wortels en onderskryf die drie Gereformeerde Belydenisskrifte naamlik: die Dordtse Leerreëls, die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis.
  • Al vier die kerke se voertaal is Afrikaans.
  • Al vier die kerke bestaan grotendeels uit wit Afrikaanssprekende lidmate.
  • Al vier die kerke is gegrond op ʼn Sinodaal Presbiteriaanse vorm van kerkregering waar die ampte van leraar, ouderling en diaken onderskei word.

Die volgende verskille kan getipeer word:

  • Op die terrein van die teologie vertoon die Nederduitse Gereformeerde Kerk baie duideliker evangeliese tendense as die ander drie Afrikaanse kerke. Dit is grootliks te wyte aan die invloed van die Skotse predikante en met name Andrew en John Murray wat ʼn sterk piëtistiese invloed op die Nederduitse Gereformeerde Kerk uitgeoefen het. Die groot herlewings wat in 1860 – 1861 in die Kaap plaasgevind het, staan in die teken hiervan. Dit is waarom die sogenaamde “Pinksterbidure” slegs in die Nederduitse Gereformeerde Kerk voorkom.
  • In aansluiting by die teologiese verskille verskil die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika van die ander drie Afrikaanse kerke omdat daar steeds slegs psalms en sogenaamde “skrifberymings” in die kerk gesing word terwyl Gesange saam met die Psalms in die ander kerke gesing word.
  • Politiek het deur die jare ʼn groot rol in al vier die Afrikaanse kerke gespeel. As die grootse van die vier kerke was die Nederduitse Gereformeerde Kerk se wegdraai van die Bybelse ondersteuning van Apartheid in 1986 baie meer dramaties en het dit direk aanleiding gegee tot die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika sowel as die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het reeds die Bybelse fundering van Apartheid verwerp en met die gedagte van die kerk as ʼn kerk uitsluitlik vir die Afrikanervolk gebreek. Die Afrikaanse Protestantse Kerk beskou haarself egter steeds as ʼn volkskerk vir slegs blanke Afrikaners.
  • ʼn Laaste beduidende verskil tussen die kerke wentel om die hele saak van die vrou in die amp. In die Nederduitse Gereformeerde Kerk en in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika word vroue tot die amp van predikante, ouderlinge en diakens toegelaat. Die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk laat nie vroue in die amp toe nie.

Alhoewel daar in veel meer detail na die onstaan van die vier kerke gekyk kan word en die verskille fyner genuanseer kan word, vertel bogenoemde kursories die tragiese verhaal van kerklike verdeeldheid en verskeurdheid.  Persoonlike voorkeur en vooroordeel sowel as politieke verskille,  veel meer as teologiese verskille,   het waarskynlik ʼn groot rol gespeel in die onstaan van  vier Afrikaanse  kerke.  Of die verskeurdheid ooit weer herstel sal net die tyd en die omstandighede in Suid Afrika leer.

 

Skrywer: Dr Johan van der Merwe




Die Groot Geloofswoordeboek: Afrikaanse kerke – Susterskerke

Die Groot Geloofswoordeboek: Afrikaanse kerke – Susterskerke

Daar is drie kerkgenootskappe wat bekend staan as die “Afri­kaanse kerke”: die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK), en die Gereformeerde Kerke (GK). Dit is kerke wat tradisioneel net wit lidmate aanvaar het en net Afrikaans gebruik het. Vandaar die naam “Afrikaanse kerke”. Die drie denominasies het dieselfde belydenisskrifte: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, wat almal dateer uit die tyd kort na die Kerk­hervorming.

Uit hierdie name is dit duidelik dat die kerkgenootskappe oor­spronklik uit Holland gekom het, en wel sedert die wit mense in die sewentiende eeu in Suid-Afrika aangekom het. “Ne­der­duits” is ‘n baie interessante woord. Dit beteken “onder Duitsland”. Ne­derland, ‘n ander naam vir Holland, is eintlik ‘n groot vlakte wat aan Duitsland grens, en onder Duitsland lê. Nederland is dus die “onderland” of “lae land”. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk be­teken dus die Gereformeerde Kerk wat (in die vlakte) onder Duits­land gelê het.

Hierdie kerke het dan ook sterk bande met Duits­land gehad, soos een van hulle belydenisskrifte, die Heidel­bergse Kategismus, aandui. Dit is ‘n geskrif wat in Heidelberg in Duitsland geskryf is. En die Dordtse Leerreëls is ‘n ander belydenisskrif wat in 1618-1619 in Dordt (eintlik Dordtrecht) in Holland opgestel is waar ‘n sinode van die Gereformeerde Kerke vergader het om die *Arminianisme te veroordeel. (*Be­lyde­nisskrifte)

Hierdie belydenisskrifte lê besondere nadruk daarop dat ons geloof gefokus is op Jesus Christus, op die genade, op die ge­loof en op die Bybel (solus Christus, sola gratia, sola fide, sola Scriptura). Ons word net deur Christus gered, net uit genade, net deur die geloof, en ons laaste toets vir ons geloof/leer is die Bybel.

Die vreemde meervoud, die Gereformeerde Kerke (meer­voud), kom uit hul oortuiging dat elke plaaslike gemeente op sigself ten volle ‘n kerk is. Hulle is dus ‘n klomp “kerke” wat saam ‘n de­no­mi­nasie vorm.

Dit is vreemd dat dié drie kerkgenootskappe dieselfde be­ly­de­nis het, maar drie afsonderlike kerkgenootskappe bly. Dit wys hoe sterk historiese oorsake kan wees wat dikwels nie baie met die wese van ons geloof te doen het nie. Die redes vir die ontstaan van die Gereformeerde Kerke in die negentiende eeu lê in ver­skille wat hulle met die NG Kerk ontwikkel het. Hulle het die NG Kerk veral van “metodisme” en “sinodokrasie” beskuldig. In die NG Kerk is daar sedert die negentiende eeu duidelik twee tradisies: ‘n strenger *Gereformeerde tradisie wat formeler en meer nugter is, en ‘n *Evangeliese tradisie wat spontaner en meer emosio­­neel is. (Andrew Murray, Hallelujaliedere, Pinksterbidure, *CSV, *Sen­ding) Dit was hoofsaaklik hierdie rigting wat die beskuldi­­ging van “me­to­disme” uitgelok het. Daar is baie klem gelê op sekere dinge, soos ‘n bepaalde vorm van bekering (“dag en datum”), spesiale reekse bekeringsdienste, kleiner groepe in die kerk (kon­ventikels), en bid­ure waartydens gewone gemeentelede ge­bid het. Verder was daar ander gebruike wat die Gereformeerde Kerke teen die bors ge­stuit het, soos die “Gesange” wat in die NG Kerk ge­sing is ter­wyl die Gereformeerde Kerke net Psalmberymings sou sing, en die kelkies wat vir nagmaal gebruik is in plaas van die gesamentlike beker. On­der “sinodokrasie” het hulle bedoel dat die sinode van die NG Kerk ‘n te groot beheer oor die afson­der­like gemeentes van die kerk­genootskap uitgeoefen het.

Die Gereformeerde Kerke lê tradisioneel baie klem op leersui­wer­heid en kerkli­ke tug. Hulle is teologies baie “streng” gere­for­meerd en laat nie vrouens toe om ouderlinge of predikante te wees nie. Hulle vereis dat daar deurlopend Kategismuspreke gehou moet word wat die sterk nadruk bevestig op die leer van die kerk.

Die Nederduitsch Hervormde Kerk het hom tradisioneel sterk met die Afrikanervolk verbind. Daar was egter altyd meer same­werking tussen hulle en die NGK. Hulle het byvoorbeeld saamgewerk aan die kerkliede­re en die liturgiese formuliere van die kerk, soos die bevestiging van predikante, ouderlinge en diakens.

Die NGK, wat verreweg die grootste van die drie “Afrikaan­se kerke” is, was by uitstek die kerk wat baie sendingwerk in Suidelike Afrika en selfs so ver noord as Nigerië gedoen het – hoofsaaklik geïnspireer deur die Evangeliese vleuel. Aanvanklik het die be­keer­linge in Suid-Afrika lidmate van die NGK geword, maar teen die einde van die negentiende eeu is hulle (wat hoof­saaklik “Kleur­linge” in die Wes-Kaap was) in ‘n aparte kerk­genootskap geor­ga­niseer, die NG Sendingkerk. Daarna is in oor­eenstemming met die apartheidsbeleid ook kerke vir die be­keerlinge uit die ander be­vo­l­kingsgroepe gestig: die NG Kerk in Afrika vir swart mense, en die Reformed Church in Africa vir Indiërs. Teen die einde van die vorige eeu het die NG Sending­kerk en die NG Kerk in Afrika verenig in die Verenigende Gere­formeerde Kerk, maar ‘n aantal gemeentes in die Vrystaat en die Noord-Kaap het voortgegaan as die NG Kerk in Afrika. Tot vandag (2006) probeer hierdie vier kerkgenootskappe tevergeefs om te verenig.

Die NGK het wel in 1986 besluit dat mense van kleur lidmate mag word. Dit het gelei tot die afskeuring van die Afrikaanse Pro­­te­stant­se Kerk (APK).

Die spiritualiteit van die NG Kerk word onder *spiritualiteit be­handel.

Woorde gemerk met ʼn * sal later weer behandel word.

 

Outeur: Prof. Adrio König