Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (4)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (4) – Adrio König

2.3.2 Jesus het self die Sabbat gehou

Ons het alreeds daarna gekyk. Jesus het inderdaad self die Sabbat gehou. Hierdie Christene is nou oortuig dat ons moet aanvaar sy volgelinge het ná sy opwekking daarmee voortgegaan.

Dit gaan hier oor twee sake: Oor Jesus, en dan oor die eerste Christene.

 

Jesus  Natuurlik was daar keer op keer ‘n konfrontasie oor die Sabbat tussen Hom en die godsdiensleiers, maar dit het gegaan oor die vraag hoe die Sabbat gehou moet word. Daar is geen teken dat Jesus self met die Sabbat as ‘n instelling ‘n probleem gehad het nie. Jesus se aanvaarding van die Sabbat was eenvoudig deel van sy lewe as getroue Ou Testamentiese Jood. 

 

Moet ons Hom dan nie hierin navolg nie? Hy is tog ons voorbeeld.

 

As ons na die lewe van Jesus kyk, is dit gou duidelik dat Jesus ook baie ander dinge gedoen het wat ons as Christene nie meer doen nie.

  • Hy is besny (Luk 2:21)
  • Hy is in die tempel aan die Here gewy (Luk 2:21, 22).
  • Hy het gereeld die sinagoge en die tempel besoek.
  • Hy het die feeste van die Ou Testament gevier.
  • Hy het onreines wat Hy genees, beveel om hulle by die tempel aan die priesters te gaan wys (Luk 17:14).
  • Hy het aanvaar sy volgelinge neem hulle offers in die tempel na die altaar toe (Matt 5:23, 24).

 

Daar is regtig baie min Christene wat Jesus nog in al hierdie gebruike navolg! Kies ons nou eenvoudig watter, en los die ander? Kom ons kyk mooi hierna.

 

Jesus was nie ‘n Christen nie. Hy was ‘n Jood. Sy volgelinge is later eers Christene genoem. Selfs die dissipels en die eerste bekeerlinge was nog Jode. Die verskil met die ander Jode was net dat hulle geglo het die Messias het al gekom.

 

Jesus was, godsdienstig gesproke, ‘n Ou Testamentiese gelowige. Hy het die Ou Testamentiese gebruike aanvaar, al het Hy baie kritiek gehad op die manier waarop die godsdiensleiers dit uitgevoer het. 

 

Natuurlik is Jesus ons voorbeeld (1 Pet 2:21). Natuurlik moet ons Hom navolg. Maar waarin? In sy besnydenis? In sy sinagoge-besoeke? In sy Joodse kleredrag? In die feit dat Hy nie ‘n vaste werk of ‘n vaste adres of vaste eiendom gehad het nie?

 

Is dit nie ‘n bietjie willekeurig om juis sy Sabbatsonderhouding uit te soek tussen die baie ander dinge waarin ons Hom nie navolg nie? Het die vroeë Christene Hom hierin nagevolg? Ons lees dan nie van een enkele byeenkoms van Christene op die Sabbat ná die opwekking van Jesus nie. 

 

Waarin is ons geroepe om Jesus na te volg? In sy kruisdra, in sy diens aan mense in nood, in sy nederigheid, in sy reinheid, en noem maar op. Dit beteken tog nie in die formele dinge nie, maar in die geestelike dinge.

 

Volgende keer kyk ons na Matteus 20:24 waar Jesus sê dat sy volgelinge moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat moet vlug nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (3)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (3) – Adrio König

2.3 Terugkeer na die Sabbat?

Waarom is daar dan die terugkeer na die Sabbat? Is dit nie duidelik nie dat, alhoewel die Sabbat nog uitdruklik gegeld het in die Ou Testament en tydens Jesus se aardse bediening, dit verdwyn het ná sy opwekking? En is dit nie hoe dit gegaan het met baie ander uiters belangrike dinge in die Ou Testament soos die tempel, die offers, die priesters, die besnydenis en die feeste nie? (Hoofstukke 3 en 4.)

Die Christene wat wil terugkeer na sekere Ou Testamentiese gebruike, is oortuig dat daar voldoende rede is, selfs dwingende redes, waarom die Sabbat nog net so (moet) geld as in die tyd van die Ou Testament. 

  • Die Sabbat is ‘n ewige instelling.
  • Jesus het self die Sabbat gevier. Daarom kan ons nie daaraan twyfel dat die Christene ná Jesus se opwekking daarmee aangehou het nie, al word daar nie spesifiek daarna verwys nie.
  • Die Sabbat is deel van die tien gebooie, en Jesus verklaar self dat niks daarvan sal verander nie (Matt 5:17-20).
  • Die Here sê self dat almal op die nuwe aarde elke sabbat voor Hom sal buig (Jes 66:23), en Jesus impliseer dat die Sabbat kort voor sy wederkoms nog steeds gevier sal word (Matt 24:20).   

 

Kom ons kyk een vir een na hierdie argumente.

 

2.3.1 Die sabbat is ‘n ewige instelling

Hier word verwys na Eksodus 31:16, 17 waar ons uitdruklik in die 1953-vertaling lees dat “die kinders van Israel” die sabbat moet vier “as ‘n ewige verbond”, en weer: die Sabbat moet vir hulle “vir ewig ‘n teken wees”. Dit sou tog nie iets anders kon beteken nie as dat die Sabbat vir ewig onderhou moet word.

 

Dit is opvallend dat die 1983-vertaling nie meer die woord “ewig” hier gebruik nie. Daar lees ons van ‘n blywende verpligting wat altyd ‘n teken sal wees.

 

Kom ons doen twee dinge: Ons kyk na hierdie Hebreeuse woord wat met “ewig” vertaal word, en ons kyk na ander sake wat ook vir “ewig” moet geld.

 

Die Hebreeuse woord wat hier in die 1953-vertaling met “ewig” vertaal is, word nogal dikwels gebruik. Maar dis opvallend hoe selde ook die 1953-vertaling dit regtig met “ewig” vertaal het. In al die voorbeelde wat hieronder volg, het die Hebreeus dieselfde woord wat in verband met die Sabbat in Eksodus 31:16, 17 met “ewig” vertaal is, maar wat nou anders in die 1953-vertaling vertaal word.

 

“Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon” (Jos 24:2).

“Want van ouds af het jy jou juk verbreek” (Jer 2:20).

“Kyk en vra na die ou paaie” (Jer 6:16).

“Die profete wat … van ouds af was” (Jer 28:8). 

“Die mense van die voortyd” (Eseg 26:20).

Die Here bring “‘n eeue-oue nasie” teen Israel (Jer 5:15).

 

In al die gevalle is dit duidelik dat dit sinloos sou gewees het om hierdie Hebreeuse woord met “ewig” te vertaal. Trouens die een ander keer wat die 1953-vertaling dit wel gedoen het, lees ons dan van die tempel se “ewige” deure (Ps 24:7, 9). Maar die deure was tog net baie oud. 

 

Die woord wat in Eksodus 31:16, 17 met “ewig” vertaal is, het dus eintlik die betekenis van ‘n lang tyd.

 

Maar iemand sou natuurlik tog nog daarop kon aandring dat juis wanneer dit vir die Sabbat gebruik word, dit werklik “ewig” moet beteken.

 

Maar wat dan van die besnydenis? Net soos die Sabbat, is die besnydenis ook ‘n “ewige verbond” (Gen 17:13). Maar ons weet dat Paulus baie sterk daarop aangedring het dat die besnydenis ná Christus nie kan voortgaan nie (Gal 5:2).

 

Maar kom ons kyk ook na die “tent van samekoms”, die tent wat tydens die uittog as ontmoetingsplek met die Here gedien het. Die ou mense het dit nog geken as die “tabernakel”, wat die Hebreeuse woord is wat net in ons letters oorgeskryf is, soos “halleluja”. Hierdie tent was natuurlik net ‘n tydelike ontmoetingsplek solank Israel in die woestyn was tydens die uittog. Maar omtrent elke bepaling en reëling oor hoe die priesters en die volk in hierdie tent moes optree, word ‘n “ewige instelling” genoem (1953-vertaling). Hier volg net ‘n paar van die talle voorbeelde (Lev 6:18, 22; 7:34, 36; 10:9, 15; 16:29, 31; 17:7; 23:14, 21, 31, 41; 24:3). Trouens in een geval het selfs hierdie vertaling nie “ewig” gebruik nie, maar “vir altyd”, eenvoudig omdat “ewig” geen sin sou maak nie (Lev 25:30).

 

In al hierdie voorbeelde kan die Hebreeuse woord nie “ewig” beteken nie omdat die tent net vir ‘n bepaalde tyd gebruik is. Daarom vertaal die 1983-vertaling dit met “’n vaste instelling”. 

 

‘n Mens kan dus nie sondermeer aanvaar dat die Sabbat regtig vir ewig gehou sal moet word nie. Dan sal ons ook moet teruggaan na die besnydenis en al die gebruike in die tabernakel. Maar uit die gebruik van hierdie woord vir die tent van samekoms, die besnydenis en talle ander dinge, is dit duidelik dat die woord eerder sien op ‘n bepaalde (lang) tyd. 

 

Volgende keer kyk ons na die argument dat Jesus self die Sabbat gehou het en daarom moet ons dit ook doen.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (2)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (2) = Adrio König

2.2 Die Nuwe Testament

Daar is in verhouding baie meer verwysings na die Sabbat in die Nuwe Testament as in die Oue. Hierdie verwysings is beperk tot die Evangelies en Handelinge met net een uitsondering: die negatiewe verwysing in Kolossense 2:16.

Die Evangelies  Die meeste verwysings in die Evangelies is oor Jesus se optrede. Daar is

  • “onskuldige” insidente soos wanneer Jesus wonderwerke doen met positiewe reaksie by die skare (Mark 1:21-28 en Luk 4:31-37) of waar die skare negatief reageer maar sonder dat die negatiwiteit in verband staan met die Sabbat (Mark 6:2-6; Luk 4:16-30),
  • konfrontasies oor sy genesings op die Sabbat (Matt 12:9-14; Mark 3:1-6; Luk 13:10-17; 14:1-6),
  • en die konfrontasie oor die dissipels wat op die Sabbat koringare pluk – ‘n insident wat in al drie die Sinoptiese Evangelies opgeteken is (Matt 12:1-8; Mark 2:23-28; Luk 6:1-5).
  • Dan is daar die verwysings na die Sabbat in verband met Jesus se kruisiging, begrafnis en opwekking (Matt 28:1; Mark 15:42; 16:1; Luk 23:56; 24:1).
  • En die verwysing na die toekoms wanneer sy volgelinge sal moet vlug vir die verdrukkers en moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat sal moet vlug nie (Matt 24:20).

 

Handelinge  In Handelinge is daar  nege verwysings na die Sabbat. Drie het nie verband met wat mense in Handelinge op die Sabbat doen nie (Hand 1:12: ‘n sabbatsreis, en 13:27 en 15:21 waar eers Paulus en dan Jakobus verwys na die profete en die wet van Moses wat elke Sabbatdag voorgelees word).

 

In die ander ses gaan dit almal oor dieselfde saak: Paulus se sendingreise (Hand 13:14, 42, 44; 16:13; 17:3; 18:4). Paulus was oortuig dat die evangelie eers vir die Jode, en dan vir die heidene bedoel was (Rom 1:16). Daarom het hy in elke stad waar hy gekom het en waar daar ‘n sinagoge was, op die Sabbat sinagoge toe gegaan om die Jode te probeer oortuig dat Jesus die Messias is (Hand 17:3; 18:4).

 

En dan die enkele verwysing na die Sabbat in die Briewe. Dit is ‘n negatiewe verwysing  waar ons lees dat gelowiges hulle nie moet laat voorskryf dat hulle die Sabbatdag moet vier nie (Kol 2:16).

 

Uiteindelik kry ons dan die een merkwaardige verwysing na die “Sabbatsrus” wat oorbly vir die volk van God (Heb 4:9).     

 

Dit alles is ‘n oorsig oor die verwysings na die Sabbat in die Bybel.

 

As ‘n mens so vinnig hierna kyk, lyk dit asof die Sabbat in die Bybel baie belangrik is tot op ‘n sekere punt, die kruisiging en opwekking van Jesus. Dit kom egter nie daarná voor in die lewe van die vroeë Christene nie. 

 

Dit is opvallend dat ons nooit lees van Christene wat die Sabbat hou of iets op die Sabbat doen nie. In Handelinge gaan dit oor Paulus wat Jode op die Sabbat in die sinagoge probeer oortuig dat Jesus die verwagte Messias is. Hierdie byeenkomste op die Sabbat was nie Christene wat bymekaar gekom het om die Here te aanbid nie, maar sendingsituasies waar Paulus met die Jode geredeneer het om hulle van Jesus te oortuig (Hand 17:1-2, 17; 18:4). Die Sabbat was natuurlik die dag waarop hy Jode bymekaar sou kry.

 

Ons lees eintlik selde in Handelinge van Christene se byeenkomste. Daar is wel die een keer waar ons spesifiek lees dat hulle op die eerste dag van die week (Sondag) bymekaar is wanneer Paulus preek (Hand 20:7).

 

In die Briewe, waar dit oor die lewe van die Christene gaan, verdwyn die Sabbat eenvoudig, behalwe die een keer waar daar negatief na die Sabbat verwys word (Kol 2:16).

 

Skynbaar het die Sabbatdag eenvoudig uit hulle lewe verdwyn.

 

Onder 2.4 sal ons breedvoerig daarna kyk hoe belangrik dit is dat daar geen verwysings in die Briewe is dat Christene die Sabbat gevier het nie. Dit is nie maar net “toevallig” dat dit nie vermeld word nie. Dit beteken eenvoudig dat hulle nie die Sabbat gevier het nie. 

 

Volgende keer kyk ons na die terugkeer na die Sabbat.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (1)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (1) – Adrio König

2. Die Sabbat

Die Sabbat is sekerlik een van die belangrikste gebruike waaroor dit gaan. Dit het nie nou eers tussen Christene ‘n probleem geword nie, maar alreeds ver terug in die geskiedenis. Daar was waarskynlik deur al die eeue sedert Christus se koms Christene wat geglo het die Sabbat moet nog net soos in die tyd van die Ou Testament onderhou word.

Wat beweeg hulle tot hierdie oortuiging?

 

Kom ons kyk eers wat ons oor die Sabbatdag in die Bybel het.

 

2.1 Die Ou Testament

Die Sabbat is ‘n belangrike saak in die verhouding van die Here met Israel. Dit word in die eerste skeppingsverhaal vermeld (Gen 2:2-3), en kom dan tydens die uittog na vore as een van die tien gebooie. Daar is geen teken dat dit vroeër deur die aartsvaders onderhou is nie. Eers tydens die uittog uit Egipte (Eksodus en Levitikus) word aandag aan die Sabbat gegee.

 

Ons kry die eerste verwysing na die Sabbat tydens die uittog, toe die Here vir die volk manna gegee het. Hulle is verbied om dit op die Sabbat op te tel. Hulle moes rus en só die dag aan die Here wy (Eks 16:22-30). Die gebod vermeld net die verpligting om te rus (Eks 20:8-10). Dit word dan ook ‘n “rusdag” genoem. Die laaste deel van die opdragte van die Here op die berg aan Moses handel ook oor die Sabbat, en lê nogeens net die verpligting op om te rus en só die dag aan die Here te wy (Eks 31:12-17). In hierdie deel word dit selfs ‘n teken tussen die Here en die Israeliete genoem.

 

Later kom daar dan ‘n paar bepalings oor wat gedoen en nie gedoen mag word nie:

  • Geen vuur maak (Eks 35:3).
  • ‘n Gewyde byeenkoms hou (Lev 23:3).
  • Die priesters moes elke Sabbat nuwe brood “in die heiligdom” voor die Here neersit (Lev 24:8).
  • Elke Sabbat moes daar ekstra offers aan die Here gebring word (Num 28:9-10).

 

Die eerste vermelding van ‘n oortreding op die Sabbat, hout bymekaarmaak, is met die dood gestraf (Num 15:32-36).

 

In die historiese boeke (Josua tot Kronieke) is daar min verwysings na die sabbat, eintlik net ‘n paar in 2 Konings en in Kronieke.

 

Eers ná die terugtog uit die ballingskap kom die Sabbat weer onder Nehemia sterker na vore. Tydens ‘n dag van berou deur die hele volk verwys die Leviete na die Sabbat wat die Here deur Moses aan hulle gegee het (Neh 9:14). Nehemia verbied kort daarna alle handel in Jerusalem op die Sabbat, en neem sterk maatreëls om die verbod af te dwing (Neh 13:15-22).

 

Ook in die profete het ons min verwysings na die Sabbat.

Jesaja  In Jesaja is daar drie verwysings.

  • Eers is daar ‘n seënspreuk oor almal wat die Sabbat hou, en dan spesifiek oor alle ontmandes en mense uit ander volke wat hulle bekeer en die sabbat getrou hou (Jes 56:2-7). 
  • Dan is daar weer ‘n seënspreuk oor almal wat die Sabbat getrou hou (Jes 58:13-14). Soos in Nehemia word veral verwys na die sonde van handeldryf op die Sabbat.
  • En in Jesaja 66:23 sê die Here dat alle mense op die nuwe aarde elke nuwemaansfees en elke Sabbat in aanbidding voor Hom sal buig.

 

Jeremia is daar net een verwysing na die Sabbat. Dis ‘n baie sterk seënspreuk oor almal wat die Sabbat getrou hou deur geen werk te doen nie, en ook ‘n erge vloek oor almal wat nie die Sabbat hou nie (Jer 17:19-27).

 

Esegiël Ook in Esegiël is daar net een verwysing. Wanneer die tempel herbou is ná die terugkeer uit die ballingskap, moet die oospoort net op die Sabbat en op die nuwemaanfeeste oop wees. Verder word die offer voorgeskryf wat “die regeerder” op die Sabbat vir die Here moet aanbied, en voorskrifte vir vrywillige offers gegee wat hy moet bring soos op die sabbat (Eseg 46:2, 4, 12).

 

Amos  Onder die klein profete is daar net in Amos 8:5 ‘n verwysing na die Sabbat wat skynbaar net uit dwang gehou is.

 

Volgens die Ou Testament is die Sabbat dus

  • ‘n dag van rus
  • wat aan die Here gewy moet word,
  • waarop bepaalde offers gebring moet word,
  • waarop ‘n gewyde byeenkoms gehou moet word,
  • waarop die priesters sekere verantwoordelikhede het.

 

In die geheel is daar dus opvallend min verwysings na die Sabbat in die Ou Testament, maar dié wat daar wel is, beklemtoon die feit dat dit ‘n baie belangrike saak was.

 

Volgende keer kyk ons na die Sabbat in die Nuwe Testament.

 

Skrywer: Prof Adrio König