Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (3)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (3) – Adrio König

8.3 Die tekens van die tye 

Die tekens van die tye is die tekens van die nabye wederkoms van Christus. Sowel Jesus as die skrywers van die Nuwe Testament noem ‘n aantal gebeurtenisse wat sal dien as tekens dat sy koms naby is. Maar let mooi op na hierdie formulering: Tekens dat sy koms naby is, nie tekens wanneer sy koms naby sal wees nie.

Wat beteken dit? Moes die tekens die mense eendag in die verre toekoms help om te bereken wanneer sy koms naby sal wees, of moes die tekens die eerste Christene daagliks daaraan herinner dat sy koms (alreeds in hulle tyd) naby was? Kom ons kyk.

 

8.3.1 Algemene tekens

Daar is algemene tekens en besondere tekens. Die algemene tekens is tekens soos oorloë, aardbewings, hongersnode, verdrukking, geloofsafval (Mat 24:3ev). Maar daar is ook meer spesifieke tekens soos die Antichris, die Jode, en die heidensending.

 

Die algemene tekens is dinge wat deurlopend in elke geslag gebeur: oorloë, aardbewings, hongersnode, verdrukking, geloofsafval. Hierdie tekens sou dus moeilik kon dien as aanduiding wanneer sy koms naby sou wees. Elke geslag beleef hierdie tekens. Dit is bedoel as tekens wat ons voortdurend daaraan herinner dat Jesus se koms naby is.

 

Hoewel hierdie tekens altyd voorkom, is daar ‘n taamlik algemene oortuiging onder baie Christene dat hierdie tekens kort voor die wederkoms intensiewer sal word. Daaraan sou ons dan weet dat sy koms juis dan naby sal wees. Maar Jesus sê nooit so iets soos dat hierdie dinge erger gaan word nie. En indien Hy dit dalk wel so bedoel het,  wanneer sal dit erg genoeg wees? Hoe erg moet hulle dan word voordat ons daaruit moet aflei dat die koms nou naby is?

 

Dit lyk dus beter om Jesus se woorde net so te aanvaar soos dit daar staan: “As julle (sy dissipels) …” Dit was bedoel as herinnering aan sy dissipels (en daarom ook aan elke geslag na hulle) dat sy koms naby is. Dit was nie bedoel as hulp om te bereken wanneer sy koms naby sou wees nie. Immers: “Om dieselfde rede moet julle ook elke oomblik gereed wees omdat die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (Mat 24:44).   

 

Maar wat dan van die spesifieke tekens: die Antichris, die Jode, en die heidensending? Sou hierdie tekens vir ‘n mens ‘n aanduiding kon gee van wanneer Christus se koms naby sal wees? Die vraag self is natuurlik in terme van die Nuwe Testament klaar ‘n vreemde vraag. As Christus se koms al in die tyd van die Nuwe Testament naby was, is dit dan sinvol dat daar sekere tekens is om te help bereken wanneer dit naby sal wees?  Maar kom ons kyk een vir een na hierdie tekens.   

 

Ons sal sien dat hierdie tekens almal in die lewe van die vroeë Christene vervul is.

  • Die evangelie is aan al die nasies verkondig (Rom 16:26; Kol 1:6, 23; 2 Tim 4:17).
  • Die antichris het reeds in baie gestaltes verskyn (1 Joh 2:18, 22; 4:1-3; 2 Joh :7).
  • Paulus was oortuig dat die Jode se verharding sal voortduur en net dié wat jaloers gemaak word deur die heidene se bekering, gered sal word (Romeine 11).

 

8.3.2 Die antichris 

“Antichris” is ‘n Griekse woord wat in die Bybel net in die eerste en die tweede brief van Johannes voorkom. Dit verwys na ‘n figuur in die eindtyd wat radikaal teenoor Christus (anti-Christus) staan en die gelowiges vervolg. Volgens die Briewe van Johannes was daar alreeds in sy tyd baie “antichriste” of misleiers en vyande van Christus wat die gelowiges vervolg het (1Joh 2:18-25; 4:1-3; 2Joh :7-9).

 

Die meeste Christene stem saam dat daar wel ook op ander plekke in die Bybel van hierdie figuur sprake is, o.a. 2Tessalonisense 2:3-12 en Openbaring 13.

 

Sommige mense meen agter dat die antichriste waarvan Johannes in sy Briewe skryf, maar net voorlopers was van die eintlike antichris wat nog moet kom. Hierdie antichris sal dan ‘n politieke wêreldheerser wees wat die mense stelselmatig en vreeslik sal vervolg in wat bekend staan as die Groot Verdrukkingwat sewe jaar lank sal duur. Sommige meen die Christene sal dit nie beleef nie, maar ander meen hulle sal minstens vir die helfte van die tyd ook vervolg word.

 

Dit is egter goed om noukeuriger na hierdie saak te kyk. Dit wat Johannes uitdruklik skryf, maak dit onmoontlik om in hierdie antichriste maar net voorlopers van die eintlike antichris te sien. Johannes skryf dat dit “die laaste uur” is. Dit is dus nie haalbaar dat hy van voorlopers sal skryf nie. As hy van die laaste uur skryf, sal hy tog seker oor die eintlike antichris skryf. En dan herhaal hy ook nog dat die feit dat daar reeds in sy tyd baie antichriste is, bevestig dat hulle in die laaste uur leef. Dan kan hierdie antichriste mos nie voorlopers wees nie. Die feit dat hy van antichriste (meervoud) praat, is nie vreemd nie. Ons weet dat daar verskillende prentjies van die antichris in die Nuwe Testament is: ‘n godsdienstige leier (2 Tes 2), ‘n politieke leier (Openb 13), en mense (meervoud) wat in die gemeente was maar dan die gemeente verlaat het (1 Joh 2:19ev).

 

Verderaan in hierdie deel skryf Johannes nog meer oor die antichris. En dan blyk dit dat dit juis om meer as een persoon gaan, want elkeen wat nie bely dat Jesus werklik die Christus (Messias) is nie, is ‘n antichris (2:22ev).

 

Die antichris het dus alreeds in Johannes se tyd in baie verskillende vorms en persone gekom. Dit kom ooreen met die gedagte dat die eindtyd alreeds met Jesus se aardse optrede aangebreek het en dat sy wederkoms al in die tyd van die Nuwe Testament naby was.

 

Natuurlik het die antichris sedertdien al weer in baie ander vorms/persone verskyn. Hy word dan ook onder verskillende vorms voorgestel in die Nuwe Testament: as ‘n godsdiensleier (2 Tes 2), en as ‘n politieke leier (Openb 13). Ons het hom in die loop van die geskiedenis in al hierdie gestaltes gesien. En natuurlik kan dit nog weer gebeur.

 

Maar elke nuwe verskyning van so ‘n figuur bevestig net dat Christus se koms naby is. Die tekens van die tye was nooit gegee om Christene in staat te stel om te bereken wanneer Christus se koms naby sou wees nie, eenvoudig omdat sy koms van die begin af naby was. Dit was gegee om hulle voortdurend daaraan te herinner dat sy koms naby is. Omdat hulle baie gely het, was dit vir hulle ‘n troos. En vir die ongelowiges ‘n waarskuwing. 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (2)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (2) – Adrio König

8.2 Die laaste dae 

Maar wanneer kom die eindtyd dan, die laaste dae?

Daar is nie een plek in die Nuwe Testament waar “die laaste dae” na die toekoms verwys nie. Die laaste dae, die eindtyd was die tyd waarin die vroeë Christene geleef het, trouens Jesus is in die laaste dae gebore, die Gees is in die laaste dae uitgestort, en Johannes se gemeente het in die laaste dae geleef, ja, selfs in die laaste uur! (Heb 1:1-2; Hand 2:17; 1 Kor 10:11; Heb 9:26; 1 Joh 2:18.)  

Hierdie eindtyd het eenvoudig onverwags langer geword. Ons leef nog in dieselfde eindtyd. Daar is nie ‘n aparte eindtyd wat nog moet kom, of nou eers gekom het nie. Ons leef dus in dieselfde tyd as die vroeë Christene. Dit is onverwags dat Jesus nog nie weer gekom het nie. Dis waarskynlik net God se geduld wat nog mense die kans wil gee om gered te word (2 Pet 3:8-9).   

 

Maar dit beteken dat die Here Jesus van daardie tyd af enige oomblik kon kom, en dat ons, net soos hulle, in die gespanne verwagting moet leef dat sy koms altyd naby is.

 

En op sy beurt beteken dit dat enige voorspelling dat die Here op so of so ‘n tyd sal kom, altyd verkeerd is. Om twee redes. Eerstens omdat ons nie weet wanneer Hy kom nie (Matt 24:36, 42, 44, 50; 25:13). En tweedens omdat enige voorspelling van maande of selfs net weke die toekoms in, nie met die Nuwe Testament rekening hou dat Hy môre al kan kom nie.

 

Hy kan enige oomblik kom. Maar Hy kan ook eers later kom.

 

Hoe lank is sy geduld?

 

Maar wat dan van die tekens van die tye, die tekens dat sy wederkoms naby is? van sy  dan nie vir ons ‘n aanduiding van wanneer sy koms naby sal wees nie?

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (1)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (1) – Adrio König

8 Die wederkoms nou?

8.1 Die wederkoms is naby

Saam met die doop is dit een van ‘n paar sake wat nie regtig so duidelik met “terug na die Ou Testament” verband hou nie. En die punt wat sommige oor die wederkoms van Jesus maak, is nie

  • Dat dit naby is nie – dit was van die begin af naby,
  • Dat dit nou naby is nie – natuurlik kan Hy enige oomblik kom,
  • Maar dat dit juis nou naby is – in teenstelling met enige vroeër tyd.

Uit allerlei dinge wat nou gebeur, lei mense af dat die wederkoms van Christus juis nou moet gebeur in teenstelling met enige vorige tyd. Dit is ‘n verskynsel wat nou al vir ‘n geruime tyd aanhou. Verlede jaar was selfs bepaalde datums aangegee. Mense maak aanspraak op spesiale openbarings of nuwe insigte in gegewens in die Bybel. En dit lei daartoe dat sommige regtig nie verder voorsiening maak vir hulle lewensonderhoud nie. Hoeveel ellende dan agterna daaruit voortspruit, word natuurlik nooit aan die groot klok gehang nie. 

 

Die probleem is nie dat hierdie mense glo die wederkoms van Jesus is naby nie. Dit het almal in die Nuwe Testament al geglo. Die probleem is dat, anders as in die Nuwe Testament, die datum vasgemaak word.

 

  • Die Nuwe Testament sê: Enige tyd.
  • Hulle sê: Nou.

 

Die Nuwe Testament het ‘n baie sterk boodskap dat die wederkoms van Jesus naby is. En dit beteken dan nie dat dit nou eers naby is, in 2013 nie. Dit beteken dat dit toe al naby was.

 

Ons kry dit in byna elke boek. En lees mooi wat daar staan. Dit gaan elke keer oor die tyd waarin die boek geskryf is, nie oor ‘n toekomstige tyd ver die toekoms in nie (Matt 24:33; Luk 21:28,30; Mark 3:29; Rom 13:12; 16:20; 1Kor 7:29; Fil 4:5; 1Tes 4:17, 5:10; Heb 10:37; Jak 5:8-9; 1Pet 4:7; Open 1:1,3; 3:11; 22:7,12,22).

 

Soms word dit misverstaan, asof dit beteken dat die koms juis naby is in ons tyd. Maar dit is bedoel vir die tyd van die vroeë Christene. Die Here se koms was al in die tyd van die eerste gemeentes naby.

 

Jesus en die apostels sê nie dat die mense wat eendag in die verre toekoms sal leef, dan sekere dinge sal beleef en dat hulle dan moet weet dat die einde dan naby is nie. Jesus kyk sy dissipels in die oë met die woorde: Julle sal hoor van …  Hulle sal julle oorlewer … Wanneer julle sien … As iemand vir julle sê … So moet julle weet … (Mat 24:6,9,15,23,33).  Die wederkoms was in daardie tyd naby. Dis duidelik dat Paulus gereken het met die moontlikheid dat die Here Jesus al tydens sy leeftyd sou kon kom. As hy oor die wederkoms skryf, lees ons: “dan sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet” (1 Tes 4:17).

 

Baie van ons ken die uitdrukkings oor die nabye wederkoms uit ons kop: Dit is nie meer lank nie, die regter staan al voor die deur (Jak 5:8,9), die tyd is min, dit is die einde van die tye (1Kor 7:29; 10:11), die tyd is naby, voor die deur (Matt 24:33; Mark 13:29), die nag is byna verby, dit is amper dag (Rom 13:12), dit is die laaste uur (1Joh 2:18).

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (4)

Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (4) – Adrio König

5.5 Is die Hebreeuse Name ‘n moet?

Dit is dus vreemd om nou aan Christene die verpligting op te lê om na die Hebreeuse name terug te gaan. In beginsel kan daar natuurlik niks mee verkeerd wees om die oorspronklike Hebreeuse name te gebruik nie. Ek het reeds verwys na die een Engelse vertaling, die NJB, wat in die Ou Testament God se naam as Jahweh vertaal, en dis lekker om dit te lees omdat dit ons weer meer die gevoel gee dat God regtig ‘n Naam gehad het. “Here” is mos nie ‘n eienaam nie.

Maar om dit verpligtend te maak, is vreemd in die lig van dit wat ons in die Nuwe Testament kry: Griekse vertalings vir die Griekssprekendes, wat seker beteken Engelse vertalings vir die Engelssprekendes, en Afrikaanse vertalings vir die Afrikaanssprekendes.   

 

Trouens is dit nie eerder wat die Moslems eis nie, dat hulle heilige boek, die Qur’an (Koran),

wat oorspronklik in Arabies geskryf is, nog altyd in Arabies gelees en aangehaal moet word al verstaan die mense dit nie. Miskien is hulle net konsekwenter as hierdie Christengroepe. Hierdie groepe se argument is dat hierdie name geïnspireer is en daarom net so gebruik moet word. Maar hulle glo tog die hele Ou Testament is geïnspireer. Dan moet ons mos, soos die Moslems, aanhou om die hele Ou Testament net in Hebreeus te lees. Maar dan word die “probleem” van die Nuwe Testament nog erger.

 

En eintlik is dit nog maar net die helfte van die probleem. As die Hebreeus geïnspireer is, dan tog ook die Hebreeuse skryfwyse. Hoe kan ons dan God en Jesus se name in ons soort letters skryf? Dan moet ons dit in Hebreeuse letters skryf. En die Hebreeuse Bybel lees. Dít is tog wat geïnspireer is. 

 

Skrywer:  Prof Adrio König