Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (3)

Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (3) – Adrio König

5.4 Jesus

Met die naam “Jesus” het dit effens anders verloop. Sy naam was waarskynlik iets soos Jehoshua – al is daar verskillende spelwyses moontlik. Maar toe Paulus die Griekse wêreld in is, het hy dit dadelik in Griekse letters oorgesit – Jysous, wat eintlik Jêsoes uitgespreek word.

Die Griekse spelling is effens vreemd, dit klink nie regtig na Jehoshua nie. Dit laat ‘n mens vermoed dat ons nie té seker moet wees oor presies hoe sy Hebreeuse naam in sy omgewing uitgespreek is nie. Maar dit sou natuurlik vir Paulus vreemd gewees het om met ‘n Hebreeuse naam die Griekse wêreld in te gaan. Trouens dit was vir hierdie “buitelandse” Jode ‘n taamlik algemene praktyk om sowel ‘n Hebreeuse naam as ‘n Griekse naam te hê. Paulus het self twee name gehad. Saul of Saulus was sy Hebreeuse naam (Hand 9:1, 4), en Paulus sy Griekse naam. Selfs lank ná sy bekering word hy nog Saulus genoem (Hand 9:26; 13:2), en eers as hy op sy eerste sendingreis die Griekssprekende wêreld intrek, slaan Lukas oor na sy Griekse naam, Paulus (Hand 13:9). Daar was meer sulke dubbelname soos Silas en Silvanus.

 

Dit is dus terloops nie so dat Paulus se naam by sy bekering verander het van Saulus na Paulus nie.

 

Dit is dus nie vreemd dat Paulus eintlik skynbaar ‘n soort aanpassing in Jesus se Hebreeuse Naam gemaak het om eg Grieks te klink nie. En dit bevestig net die vryheid wat hulle met sy en God se Name gehad het.  

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (2)

Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (2) – Adrio König

5.2 Die Septuagint

Kom ons dink net ‘n oomblik terug aan die ontstaan van hierdie Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint. Dit is deur die Jode self gemaak, waarskynlik so ongeveer twee eeue voor die geboorte van Jesus. Waarom? Baie Jode het geëmigreer en iewers in die buiteland geleef. Hulle kinders het op skool Grieks geleer, wat die algemene omgangstaal rondom die Middellandse See was. Na twee of drie geslagte het die kinders eenvoudig nie meer Hebreeus geken nie. Dit was dus eintlik uit nood, sodat die buitelandse Jode net weer hulle Bybel kon lees, dat die Jode toe die Ou Testament in Grieks vertaal het.

Dit beteken dat Paulus glad nie net vir die heidene wat tot bekering gekom het, Grieks geskryf het nie, maar ook terwille van die Jode self wat Hy op die sabbat in die sinagoge gekry het! In baie gevalle het die Jode selfs Grieks gebruik tydens hulle byeenkomste in die sinagoge – terwille van hulle eie kinders en die heidene wat hulle byeenkomste bygewoon het.

 

Dink maar net wat gebeur met Afrikaanssprekendes wat vandag in die tweede of derde geslag in die buiteland bly. 

 

5.3 Jahwe – Here?

Dit alles beteken onder andere dat die skrywers van die Nuwe Testament nie self die Griekse  vertaling van God se Naam “Here” (kourios, uitgespreek as koerios) uitgedink het nie, maar eenvoudig die woord gebruik het wat al ‘n paar eeue lank in die Septuagint gestaan het en deur die buitelandse Jode gebruik is.

 

‘n Mens kan nogal ‘n bietjie kyk na hierdie vertaling. Die Septuagint vertaal die Hebreeuse Naam “Jahwe” met die Grieks “Kourios” – Here. Jahwe is ‘n naam, maar  Kourios is ‘n titel. Waar kom so ‘n vertaling vandaan?

 

Die Jode het teen hierdie tyd – twee eeue voor Christus – lankal nie meer God se Naam uitgespreek nie. Hulle was bang hulle oortree die derde gebod. Hulle het later eenvoudig nie meer geweet wat die uitspraak was nie, omdat hulle Bybel net medeklinkers gehad het, en geen klinkers nie. Daar het dus net jhw gestaan. Vroeër het mense gedink dit was Jehowa. Vandag weet ons (maar net met redelike sekerheid” dat die iets soos Jahwe was, eintlik Jagwe met ‘n sagte g.)

 

Dink terloops net hoe goed hulle die Ou Testament moes geken het dat hulle dit sonder klinkers kon lees. Vra iemand om ‘n deel uit die Ou Testament oor te skryf sonder die klinkers, en kyk hoe ver kom jy!

 

In die Septuagint is jhw dus vertaal met Kourios, Here, ‘n Griekse woord wat iets beteken soos baas, eienaar, die een in beheer. Waar het hulle dit gekry?

 

Hulle het die Hebreeuse woord vertaal wat die Jode gelees (uitgespreek) het as hulle by die Naam jhw in die Bybel gekom het. Soms het hulle net die Hebreeuse woord vir “Naam” gelees (sheem), maar meestal die Hebreeuse woord “adonai” wat baas, eienaar, die een in beheer beteken.  Dit is natuurlik baie jammer want met hierdie vertaling het die gevoel dat God ‘n eienaam het, eintlik verlore gegaan.

 

Twee dinge het nou hieruit voortgekom. Die skrywers van die Nuwe Testament het eenvoudig hierdie vertaling by die Septuagint oorgeneem en God se naam in die Nuwe Testament as Kourios (wat ons ken as “Here”) vertaal in plaas van Jahwe. Waarom? Wel, hulle het natuurlik self nie geweet hoe sy Naam oorspronklik uitgespreek was nie. Dus het hulle ook nie veel van ‘n keuse gehad het nie.

 

Maar presies dieselfde het toe ook in ons vertalings van die Ou Testament gebeur. Alhoewel daar in die Hebreeus Jahwe staan, is dit deurgaans met “Here” (Lord, Herr) vertaal en nie as Jahwe behou nie. En die hele westerse wêreld het dit gedoen. Dis interessant dat die vertalings in Afrikatale vroeg in die vorige eeu, die Naam behou het in die ou Engelse vorm van Jehovah.  

 

Dit is dus jammer dat ons nie meer in ons vertalings van die Ou Testament iets soos “Jahwe” in plaas van “Here” het nie, en daarom is dit so lekker om byvoorbeeld die NJB te lees waarin dit wel gebruik word. En natuurlik kan ‘n mens dit ook persoonlik doen.

 

Maar of dit ‘n verpligting moet wees, is ‘n ander vraag wat ons later sal bespreek.  

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (1)

Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (1) – Adrio König

5 Net die Hebreeuse Name van God en Jesus?

5.1 Die oorspronklike Bybeltale

Dit is ‘n tendens wat ook by sommige Christene voorkom. Hulle is oortuig dat hulle die presiese Hebreeuse name van God en van Jesus moet gebruik. Hierdie oorspronklike Name word deur verskillende groepe op verskillende maniere gespel en uitgespreek.  

Die Naam van God: Jahwe  Die spellingwyses wat deur die verskillende groepe aangegee word, is onder andere Jehova, Jahwe, Jahweh, Jahueh, Jahuweh.

 

Die Naam: Jesus  “Jesus” is eintlik die Afrikaanse weergawe van die Griekse vorm van Jesus se Naam wat in Grieks as “Jêsoes” uitgespreek word. Maar in Hebreeus was dit dieselfde naam as “Josua” van die Ou Testament. Groepe se uitspraak wissel: Jehoshua, Jahushua, Jeshua of Jahüah.

 

Daar word verskillende redes aangegee waarom God en Jesus se name net in hierdie oorspronklike vorm gebruik mag word. Dis uit eerbied, of omdat dit die “geïnspireerde” Name is. Dit is immers die name wat ons in die Hebreeus van die Ou Testament kry.

 

Moet ‘n mens dit regtig só aanvaar?

 

Die Bybel is in twee verskillende tale geskryf, die Ou Testament in Hebreeus (en ‘n paar dele in Aramees), en die Nuwe Testament in Grieks. Dit beteken dat beide God en Jesus se Name in twee tale voorkom.

  • God se naam  kom in die Ou Testament voor as “Jahwe” en in die Nuwe as “Kurios”. Ons ken dit as :”Here”.
  • Jesus se Naam kom in die Ou Testament voor as Jehoshua (Josua in Afrikaans). Maar in die Nuwe Testament kom dit voor in die Griekse vorm: Jêsous. Sy tydgenote het Hom waarskynlik Jehoshua genoem (hulle het Hebreeus, of liewer Aramees gepraat), maar in die Nuwe Testament word Hy Jêsoes genoem. 

 

 Van sowel God se Naam as Jesus se Naam het ons dus in die Bybel twee vorms, een in die Hebreeuse Ou Testament, en een in die Griekse Nuwe Testament.  

 

Waarom sou ons nou juis die Hebreeuse vorms moet gebruik? Die Griekse vorms staan mos ook in die Bybel, net in ‘n ander deel van die Bybel.

 

Sommige is egter oortuig dat die Nuwe Testament in werklikheid oorspronklik ook in Hebreeus geskryf is, en later eers na Grieks vertaal is. En hierdie vertalers sou dan die fout gemaak het om die Name in Grieks te vertaal. Albei Name moes presies in hulle Hebreeuse vorm behoue gebly het omdat dit die oorspronklike Hebreeuse vorms is. En ons mag net hierdie geïnspireerde vorms gebruik.

 

Maar die Nuwe Testament is nie oorspronklik in Hebreeus geskryf nie. Waarom sou Paulus vir ‘n gemeente in Griekeland (byvoorbeeld die gemeente in Korinte of in Tessalonika) in Hebreeus geskryf het as die gemeentelede Grieks gepraat het en sekerlik nie eens Hebreeus kon lees nie? Waarom sou Lukas, wat vir die Griek Teofilus skryf, in Hebreeus vir hom skryf?

 

Grieks was die spreektaal rondom die Middellandse See, en dit is waarheen die evangelie versprei het. Daarom is dit eintlik vanselfsprekend dat die Nuwe Testament in Grieks geskryf is. Selfs die Brief aan die Hebreërs wat aan Joodse Christene geskryf is, is in Grieks geskryf.

 

Trouens wanneer die skrywers van die Nuwe Testament uit die Ou Testament aanhaal, haal hulle by voorkeur uit die Griekse vertaling van die Ou Testament aan omdat hulle juis hierdie vertaling in hulle sendingwerk moes gebruik. Ons moet immers onthou dat baie van die Jode teen hierdie tyd al so lank ingeburger was in vreemde lande rondom die Middellandse See, dat Grieks hulle omgangstaal was en baie van hulle glad nie eens meer Hebreeus geken het nie. Hulle het dus glad nie meer in hulle Bybel die Hebreeuse name van God en Jesus gekry nie.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5) – Adrio König

7.5 Los opmerkings

Daar is ‘n paar stellings aan die begin van die hoofstuk waaraan ons nog nie genoeg aandag gegee het nie.

Daar is twee groepe kerke.

  • Die een groep doop net mense wat self glo, en verwerp die kinderdoop.
  • Die ander groep doop ook mense wat self glo, maar dan ook hulle kinders.

Daar is geen kerk wat die doop van gelowiges verwerp nie. Dit sou onsinnig wees.

Dit werk net dieselfde met onderdompeling en besprenkeling.

  • Die een groep kerke doop net deur onderdompeling, en verwerp besprinkeling.
  • Die ander groep doop deur besprinkeling of onderdompeling.

 

Maar daar is mense wat nie daarvan bewus is nie, wat oortuig is hierdie groep kerke doop net deur besprinkeling. Gelukkig sê die Gereformeerde doopsformulier duidelik dit kan ook onderdompeling wees.  

 

‘n Kerk behoort mense ‘n keuse te gee tussen die twee metodes omdat dit nie in die Bybel gaan oor die manier van doop nie, maar oor die betekenis van die doop.

 

Die Christelike doop behoort net een keer aan ‘n persoon bedien te word. Die “een keer” het direk verband met die betekenis van die doop. Deur die doop gee God ons deel in die heil. Ons moet daarop reageer en dit aanvaar. God gee ons nie oor en oor deel aan die heil nie, net soos Christus nie oor en oor aan die kruis sterf nie.

 

Die nagmaal is die sakrament wat ons oor en oor gebruik en ook moet gebruik, omdat dit verband hou met die voortdurende voeding en versterking van ons nuwe lewe. Daarom moet dit herhaal word.

 

Dit is ‘n oorvereenvoudiging om te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Die betekenis van die doop is veel ryker as dié van die besnydenis. En vir ‘n tyd lank het doop en besnydenis gelyktydig voorgekom, minstens in die gemeente in Jerusalem (Hand 21:21).

 

Die besnydenis het ‘n diep geestelike betekenis gehad. Ons lees van die besnydenis van die hart, lippe en ore (Lev 26:41; Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 9:25-26; Eseg 44:7, 9), dit beteken die vernuwing van ‘n mens se lewe. Deur die besnydenis is mense opgeneem in die Abrahamverbond waarin hulle hierdie nuwe lewe moes leef. Die doop het dieselfde betekenis. Ons word deur die doop opgeneem in die verbond met Abraham om as gedooptes ‘n nuwe lewe te lei (Gal 3:27-29). Daar is dus verband tussen die betekenis van die doop en die betekenis van die besnydenis

 

Maar die doop het ‘n veel ryker betekenis as die besnydenis. Die doop het nie net verband met die besnydenis nie, maar ook met die groot versoendag, die dag wat die offer gebring is vir die sonde van die volk. Deur die doop gee God ons vergifnis en reiniging van sonde.

 

Maar daar is nóg meer. Deur die doop word ons só met Christus verenig dat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Dit is iets nuuts in die Nuwe Testament sodat hierdie betekenis nie kan aansluit by enigiets in die Ou Testament soos die besnydenis en die versoendag nie. Dit is eenvoudig die plus van die doop bo enigiets in die Ou Testament. En miskien is juis dít die  wonderlikste betekenis van die doop. 

 

Wat maak die Christelike doop uniek in onderskeid van ander dope soos Johannes die doper se doop of die Jode se proseliete-doop? Al drie is “doop” genoem, al drie is met water gedoen. Wat uniek is in die Christelike doop is die doopformule: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. ‘n Doop waarby hierdie formule nie gebruik is nie, kan nie beskou word as ‘n Christelike doop nie. En dis duidelik dat Johannes die doper ook nie hierdie formule gebruik het nie.

 

Wanneer Jesus die doopbevel gee, gebruik Hy hierdie formule. Dit onderskei juis die Christelike doop van Johannes s’n. Johannes se doop was ‘n bekeringsdoop. Hy het mense gedoop is deel van hulle getuienis dat hulle hulle bekeer het.  Maar in die Christelike doop gaan dit om dit wat God doen. Daarom word dit in die Naam van God bedien. Om God se Naam oor iemand uit te roep, is om sy gesag oor iemand af te kondig.

 

Die verskil tussen Johannes se doop en die Christelike doop is dus die verskil tussen dit wat die mens doen en dit wat God doen.

 

Skrywer: Prof Adrio König