Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (3)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (3) – Adrio König

4.2.3 Alles wat verby is

Die tempel: Dis bloot ‘n namaaksel van die ware tempel in die hemel (9:11, 23-24). 

Die offers: Die offers kon onmoontlik die sondes wegneem (10:3, 11), dit het die gelowiges maar net uiterlik rein gemaak terwyl die bloed van Christus ons gewete van sonde bevry (9:13-14).

Die priesters: Die priesters is glad nie met ‘n eed aangetel nie, maar Christus is met ‘n eed deur God self aangestel as Hoëpriester (7:20-21). Priesters was sterflike mense wat mekaar moes opvolg, maar Christus is vir ewig priester (7:23-25). Die priesters moes elke keer weer offers bring, terwyl Christus net eenmaal sy offer gebring het (10:11-13). Die priesters moes diere se bloed bring maar Christus het sy eie bloed gebring, Hy het Homself geoffer (7:27; 9:12). Die priesters moes eers vir hulleself offer en dan vir die volk, maar Christus het nie vir Homself geoffer nie omdat Hy sonder sonde was (9:27).

Die wet van Moses: Dit was slegs ‘n skadubeeld, nie eens ‘n werklike beeld nie, van dit wat Christus kom dien het (10:1). 

Josua: Hy het Israel nie in die ware rus ingelei nie. Ons moet nou in God se sabbatsrus ingaan (4:8-11).  

Die ou verbond: Dit was uitgedien en moes deur ‘n nuwe vervang word (8:7, 11). Die ou verbond is die verbond by Sinaï wat God deur Moses met Israel gesluit het (Jer 31:31ev). 

 

Dit is amper oorweldigend. Daar is geen moontlikheid dat die ou sisteem ná Christus nog kan voortgaan nie. En nie net die tempel-priester-offerdiens nie, maar die ou verbond (8:7, 11) en die wet van Moses! (10:1). “Die vroeëre bepalings is afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan. Die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het ‘n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God kan nader (7:18-19).  

 

Dit is radikale uitsprake. En dit is omvattend. Dit gaan oor die totale diens rondom die tempel. En daar is geen manier om die feeste of die Sabbat hiervan uit te sluit nie. Dit was deel van die wet, en Paulus se uitsprake daarteen is net so sterk. Hy is selfs bang dat die Galasiërs wat hiermee wil aanhou, nooit regtig tot geloof gekom het nie (Gal 4:11). 

 

Dit lyk my ons leer hier tenminste twee dinge:

  • Die Hebreërbrief sluit die totale godsdiensprogram van die Ou Testament in wanneer hy die Joodse Christene waarsku om nie na die Ou Testament terug te gaan nie.
  • En die rede is dat Christus só groot is dat Hy alles wat in die Ou Testament was, totaal oorskadu. 

 

Dit lyk my dus verkeerd om nou enkele dinge uit te sonder en daarmee voort te gaan.

  • In Galasiërs leer ons as jy een of twee uitsonder en dink dit sal jou geloof verryk, moet jy besef dit kan nie, jy verloor vir Christus self.
  • En in Hebreërs leer ons waarom. Christus is eenvoudig oneindig groter was enige iets in die Ou Testament, en selfs as alles saam.

 

Wat ook al in die Ou Testament na Hom vooruitgewys het, was net skaduwees. En niemand klou vas aan ‘n skaduwee as die Een wie se skadu dit is, verskyn het nie! (Kol 2:16-17). Dit was net beelde, en dan nie eens werklike beelde nie, maar net skadubeelde (Heb 10:1).

 

Christus oorskadu die Ou Testament totaal, en daarom is enige terugkeer so gevaarlik. 

 

Maar beteken dit alles nie dat hierdie skrywer volkome negatief is teenoor die Ou Testament nie? Is daar dan geen waarde meer in die Ou Testament vir ons nie? Vee hy die hele Ou Testament eenvoudig van die tafel af?

 

Wie dit dink, moet tog weer netjies na hierdie Brief kyk. Word die Ou Testament regtig in sy totaliteit hier afgeskryf? Of gaan dit net om ‘n netjies omskrewe faset van die godsdiens van die Ou Testament? Watter deel? Die deel wat sommige die kultus nie, die gestruktureerde manier waarop God gedien moes word, waarvan dit in hierdie Brief hoofsaaklik oor die tempelkultus gaan. Want onthou net ook die ander fasette soos die Sabbat en die feeste is hierby ingesluit want dit was ook deel van die wet en die ou verbond wat volgens Hebreërs afgeskaf is.

 

Om hieroor sekerheid te kry, is dit goed om net ‘n oomblik te kyk na die positiewe manier waarop hierdie skrywer juis die Ou Testament gebruik. Ons kyk eers net na ‘n paar kleiner opmerkings. 

 

  • Die heel eerste paar verse in die Brief is ’n vergelyking tussen die Ou Testament en Christus. Sy tema is dadelik duidelik: Christus is groter as die Ou Testament. Maar intussen beklemtoon hy dat dit inderdaad God is wat óók in die Ou Testament gepraat het.
  • Sy verwysings na die engele is almal positief, al is sy punt dat Christus veel groter is as hulle (hoofstuk 1).
  • Sy gebruik van Melgisedek (ook uit die Ou Testament) is volkome positief. Christus is juis hoëpriester op Melgisedek se manier, en nie in die lyn van die Levitiese priesters in Jerusalem nie  (hoofstuk 7).

 

Net hierdie paar opmerkings sê al klaar hierdie skrywer is nie uit beginsel negatief oor die Ou Testament nie. Maar daar is meer. 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (2)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (2) – Adrio König

4.2 Hebreërs 

4.2.1 Joodse Christene wil terug na die Ou Testament

Maar intussen het ons in die Nuwe Testament een merkwaardige voorbeeld van ‘n radikale terugkeer na die Ou Testament, die Brief aan die Hebreërs. Die skrywer doen eintlik niks anders nie as om die lesers te waarsku hoe gevaarlik dié soort terugkeer is wat hulle oorweeg, ‘n terugkeer wat baie radikaler is as dié in Galasië. Dit kan dus verhelderend wees om hierna te kyk.

In Galasiërs het die Judaïste nog gemeen hulle erken Christus se betekenis ten volle, hulle wil net iets byvoeg. Maar in Hebreërs oorweeg die gelowiges skynbaar regtig om Christus self prys te gee en volledig terug te gaan na die Ou Testamentiese vorm van die godsdiens.

 

Daar is heelwat waarskuwings wat in dié rigting wys.

  • “Hoe sal ons kan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het” (2:3).
  • Ons behou deel aan Christus as ons enduit volhard in die vertroue waarmee ons begin het” (3:14).
  • Hulle moet oppas “dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agter gebly het nie” (3:1).
  • “Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het …” (10:29).  
  • “Volharding is wat julle nodig het om … te ontvang wat Hy beloof het” (10:36).   

 

Wat is die omstandighede? Die Brief is duidelik gerig aan Joodse gelowiges. En dit is mense wat alreeds erg vervolg is oor hulle geloof (11:32-34). Maar waarom dan terug na die Ou Testament?

 

Daar was taamlik algemene vervolging van Christene in hierdie tyd. Maar nie van Jode nie. Die Romeinse owerheid het die Joodse godsdiens erken, maar nie die Christelike godsdiens nie. Jode is nie vervolg nie. Ons weet dit al uit Paulus se sendingreise. In elke stad gaan hy sinagoge toe, en die Jode vergader daar openlik, sonder enige probleme. Trouens die Jode het selfs taamlik vry toegang tot die owerheid gehad want hulle kon Paulus telkens aankla (Hand 16:19-34; 18:12). 

 

Dit was dus skynbaar vir hierdie Joodse Christene net teveel om so vervolg te word. Hulle onthou goed dat hulle nie vervolg was voor hulle bekering nie, en hulle weet as hulle hierdie geloof los, sal die vervolging weer ophou.

 

Dit is dus nie vreemd dat die skrywer nie so duidelik besonderhede gee oor waarheen hulle wou terugkeer soos in Galasiërs nie. Hulle wil eenvoudig terugkeer na waar hulle vandaan kom: die manier waarop die godsdiens in die Ou Testament voorgeskryf is. Daarom sluit hy omtrent elke belangrike saak in die Ou Testament in sy bespreking in sy Brief in. En miskien is dit juis die punt wat hier vir ons belangrik is. Hy put eintlik die Ou Testament uit en kry niks wat die moeite werd is as jy dit met Christus vergelyk nie. 

 

4.2.2 Christus is groter as …

’n Mens sien dit sommer dadelik as jy net deur die Brief blaai, hoofstuk vir hoofstuk.

  • Hoofstuk 1    Christus is groter as die engele (oa 1:4).
  • Hoofstuk 3    Christus is groter as Moses (oa 3:3-6).
  • Hoofstuk 4    Christus is groter as Josua en die rus wat hy gebring het (oa 4:8-11).
  • Hoofstuk 7    Christus is groter as die priesters (oa 7:23-25).
  • Hoofstuk 8    Christus bring ’n groter en beter verbond (oa 8:6,7,13).
  • Hoofstuk 8,9 Christus bring ’n groter offer (oa 9:11-14; 10:9-12).
  • Hoofstuk 9    Christus bring sy offer in ’n groter tempel (oa 8:2; 9:11,24).

 

Sy punt is eintlik: As jy as Christen na die Ou Testament kyk, moet jy ver na ondertoe kyk, en as jy regtig mooi kyk, sal jy daar ver onder ‘n paar klein engeltjies sien, en ‘n dan klein mannetjie wat hulle Moses genoem het, en een wat nog kleiner is, Josua …

 

Natuurlik leer ons baie uit die Ou Testament. Natuurlik het die Ou Testament geweldig baie waarde. Natuurlik kan ons glad nie die Nuwe Testament ten volle verstaan sonder die Ou Testament nie. Natuurlik is die Ou Testament onontbeerlik om die werk van Christus ten volle te verstaan.

 

Maar wanneer dit op ‘n keuse aankom, word dit eintlik ‘n onsinnige keuse.

 

Kom ons kyk net vir ‘n oomblik na Moses. Daar was geen figuur in die hele Ou Testament wat selfs net met Moses vergelyk kon word nie. Hy het die wet van God ontvang, en die wet was die wil van God vir die hele godsdiens van die Ou Testament. Wanneer die Jode die Christene in Handelinge beskuldig, is dit juis oor hulle houding teenoor Moses en die wet (Hand 6:11, 14; 15:1, 5; 18:13; 21:28). Dis opvallend dat hulle Moses selfs vóór God noem as hulle Stefanus beskuldig: “Ons het hom teen Moses en God hoor laster”  (6:11).

 

Moses was sondermeer die simbool van hulle hele godsdiens. Sy naam verskyn meer as 700 keer in die Ou Testament teenoor Abraham net meer as 200 keer.

 

Maar in vergelyking met Jesus verdwerg hy. Volgens Hebreërs was hy maar net ‘n dienaar in die huis van God terwyl Christus die Seun oor die huis is (Heb 3:5-6).

 

Dis maar net nóg ‘n voorbeeld van hoe die gety in die Nuwe Testament geleidelik téén Moses en “die wet van Moses” gekeer het. ‘n Mens moet onthou dat die wet van Moses gestaan het vir die manier waarop Israel die Here gedien het: Die besnydenis, die sabbat, die tempel, priesters, offers, feeste. Dit is hierteen wat Hebreërs se negatiewe uitsprake gerig is.

 

En die res van die Nuwe Testament bevestig sy houding. Daar loop eintlik ‘n lyn deur die Nuwe Testament wat Moses se wet téénoor die evangelie stel (Joh 1:17; 2 Kor 3:7-17; Gal 3:2; 4:9-11; Kol 2:16-20).

 

Dink maar net aan Paulus se woorde: “Hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? … Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk onder julle was dalk tevergeefs” (Gal 4:9-11). Negatiewer kan dit beswaarlik! Die wet van Moses word nou “daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls”!

 

En onthou hy som die hele feeskalender van die Ou Testament op, wat al die feeste insluit. Die “dae” sluit die sabbat in, die “maande” die nuwemaansfees, die “feesgeleenthede” die sewe groot jaarlikse feeste, en die “jare” die sabbatsjaar en die jubeljaar. Hy gebruik dus die bekende samevatting van Israel se feesprogram (“dae en maande, feesgeleenthede en jare”) wat in verskillende vorms in die Ou Testament voorkom (1 Kron 23:31; 2 Kron 2:4; 31:3; Neh 10:33; Eseg 45:17; Hos 2:10).

 

Maar kom ons kyk net ‘n bietjie nader na Hebreërs. Kom ons maak net ‘n lys.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (1)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (1) – Adrio König

4 Vorms van terugkeer na die Ou Tesatment: Galasiërs en Hebreërs

4.1 Galasiërs

In hoofstukke 2 en 3 van hierdie boek het ons gekyk na die oortuigings van Christene wat wil terugkeer na die Ou Testament. Daar is verskillende vorms van terugkeer, en elkeen moet op sy eie beoordeel word.

 

Daarom kan dit verhelderend wees om te kyk na twee voorbeelde van terugkeer in die Nuwe Testament. In Galasiërs het ons (maar net skynbaar!) ‘n “sagter” vorm van terugkeer, en in Hebreërs ‘n radikale vorm.

In die gemeentes in Galasië was daar Joodse Christene (Judaïste) wat geëis het dat die Christene uit die heidene die wet moet hou, besny moet word, en die feeste moet vier. Hierdie heidene moes dus eintlik Jode word om gered te word.

 

Vir ons klink dit gewoonlik vreemd. Maar was dit regtig? 

 

4.1.1 Die Judaïste se argument

Die Judaïste het natuurlik nie alles verwerp wat Paulus gepreek het nie. Hulle het veral glad nie vir Jesus en sy verlossing verwerp nie. Maar hulle het beweer dat Paulus die heidene net halfpad geneem en toe gelos het. Daar moes nog iets by Paulus se boodskap bykom. Geloof in Jesus was natuurlik onontbeerlik, maar dit was nie genoeg nie. Die besnydenis en die wet moes bykom. Volgens hulle moes die heidene eintlik, nadat hulle Jesus aangeneem het, net die volgende “logiese” stap ook geneem het: Om hulle te laat besny en die feeste te begin vier, en só die wet te hou.

 

Hulle kon verskeie argumente aanbied om die gemeentes hiervan te oortuig. Hulle kon die heidene in die sinagoge as voorbeeld gebruik. Heidene wat die sinagoge-byeenkomste begin bywoon het, moes in die God van Israel glo – net soos die heidene nou in Jesus moes glo –  en dan moes hulle besny word as die eerste stap om die wet te hou.

 

Dit was ook volkome logies in terme van die godsdiens in die Ou Testament. Abraham was self ‘n heiden wat deur God geroep is, in God geglo het, en toe besny is. Alle heidene wat in die tyd van die Ou Testament in Israel se God begin glo het, moes dus ook besny word en die wet begin hou. Dit het heeltemal logies geklink dat die heidene wat nou tot geloof in Jesus gekom het, dieselfde pad sou loop.

 

Jesus was immers Israel se Messias. Israel was die uitverkore volk. En Israel was die nageslag van Abraham. Die heidene moes dus deel van Israel word, van Abraham se nageslag, om gered te word. Dit het beteken dat hulle, net soos Israel, in Israel se God moes glo en die wet moes hou. Net so moes die heidene wat nou in Jesus begin glo, Israel se Messias aanvaar, en dan die pad van Israel loop: besnydenis en die res van die wet soos die feeste (4:10). Só sou hulle deel van die uitverkore volk word en deel kry aan die beloftes wat God aan Abraham gegee het. 

 

Dit was skynbaar so ongeveer wat die Judaïste gepreek het. Hulle was oortuig Paulus het reg begin om heidene op te roep om in Jesus te glo, maar hy het net nie die volle pad geloop nie.

 

4.1.2 Paulus se reaksie

Wat is Paulus se reaksie hierop? Hy kon dit nie aanvaar nie. Hy het dit gesien as ‘n terugkeer na die Ou Testament. Alles moet bly soos dit was. Dis net Jesus wat bykom. Die wet plus Jesus.

 

Dit is opvallend dat hy, net soos die Judaïste, in sy verdediging ook by Abraham begin, en trouens Abraham die hoofpersoon in sy argument maak.

 

Eintlik pas Abraham sy argument soos ‘n handskoen. Immers Abraham het in God begin glo nog voor daar ‘n wet was. Die wet het nog nie eens bestaan in Abraham se tyd nie, dit het eers 430 jaar later gekom (3:17). Dan kan daar mos nie sprake daarvan wees dat ‘n mens by die geloof ook nog die wet moet byvoeg om gered te word nie. Ons sien mos by Abraham hoe ‘n mens gered word. Hy is gered sonder die wet.

 

Hoe? Deur in God te glo. In Galasiërs 3:6 gebruik Paulus Genesis 15:6: “Abram het die Here geglo en die Here het hom as regverdig gereken” (NLV. Die 1983-vertaling is ongelukkig baie lomp.) Abraham glo dus in God en word gered sonder die wet.  Dis presies wat Paulus preek: Glo in Jesus, en jy word gered sonder die wet.

 

Verder het die Here met Abraham die verbond gesluit in hierdie terme (Gen 17).  Toe Hy die verbond met Abraham gesluit het, was daar nog geen sprake van die wet nie.

 

Maar Paulus hou nie hier op nie. Hy moet nog aandui hoe die heidene aan die verbond en die heil deel kry. Hulle is mos nie die nageslag van Abraham nie. Israel is mos.

 

Of is dit? Wie is “kinders van Abraham? Die Jode? Die wat die wet hou? Nee. “Julle sien dus dat die wat glo, kinders van Abraham is” – of hulle nou Jode of heidene is (3:7).

 

Hoe kan hy dit skryf? “Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo” (3:9). Waar kry hy dit? Presies in die oorspronklike beloftes aan Abraham wat eindig met: “In jou sal al die volke van die aarde geseën word” (Gen 12:3: Gal 3:9). Dit was dus van die begin af in die vooruitsig gestel dat die heidene deel sal kry aan die seën wat God in die verbond aan Abraham toegesê het. En dit alles sonder enige verwysing na die wet.

 

En hoe is dit nou gerealiseer? Deur die kruis “kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het” (3:14). Deur sy kruisdood bewerk Jesus dit wat al aan die begin in die vooruitsig gestel is: Die heidene wat tot geloof kom, word deel van die Abrahamverbond.

 

Is die saak van die Galasiërs hiermee afgehandel: Dis nie nodig om die wet te hou en besny te word om gered te word nie?

 

Nee. Nog lank nie.

 

Die eintlike, ernstige kant kom nou eers.

 

Die Judaïste is oortuig dat hulle die betekenis van Christus ten volle erken. Hulle wil net die pad enduit loop. Die besnydenis en die wet moet net bykom.

 

Hoe reageer Paulus? Sy reaksie is nie maar net dat hierdie byvoeging onnodig is, dat Christus genoeg is nie. Sy reaksie is veel skerper. Indien hulle die wet wil byvoeg, verloor hulle vir Christus! “As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie… Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het die band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur” (5:2, 4).

 

Jy kan nie by Hom iets byvoeg en dink jy behou Hom nie.

  • Dis net Christus.
  • Of nie Christus nie.

 

Waarom? Omdat jy Hom nie net misverstaan as jy dink Hy is nie genoeg nie, maar omdat jy Hom onteer. “As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het” (2:21). Volgens Paulus ontken jy die betekenis van Christus as jy die wet wil bybring. Dis óf Christus, óf die wet.

 

Hoe het dit betrekking op die rigting wat ons in hierdie boek behandel, op Christene wat wil terug na die Ou Testament? Eenvoudig net dit: Oppas om allerlei dinge uit die Ou Testament te wil bybring asof dit net ‘n verryking van jou geloof sal wees. Dit kan wees dat ‘n mens dit ten koste van Christus self doen.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Feeste (5)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (5) – Adrio König

3.3 Moet Christene nog dié feeste vier?

Dit is ‘n tweede vraag oor die feeste. Sommige eis dat alle Christene en Messiaanse Jode nog die feeste moet vier.

 

Maar het die feeste nie maar net dieselfde pad geloop as die Sabbat nie? Het hulle nie eenvoudig ná Jesus se opstanding geleidelik verdwyn uit die lewe van die Christene nie, net soos die Sabbat?

Ná Jesus se opstanding word daar nie weer na enige van die feeste verwys nie, behalwe drie keer na die pinksterfees en een keer na die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6).

  • Die Heilige Gees is op die Ou Testament se pinksterfees uitgestort (Hand 2).
  • Die pinksterfees as ‘n blote tydsaanduiding (1 Kor 16:8).
  • Paulus se begeerte om vir die pinksterfees in Jerusalem te wees (Hand 20:16).
  • Die fees van die ongesuurde brode as ‘n blote tydsaanduiding (Hand 20:6).

 

Dit is nie vreemd dat Paulus wel nog ‘n keer by die pinksterfees wil wees nie. Ons vergeet maklik dat die vroeë Christene Jode was wat eintlik net van die ander Jode verskil het in hulle oortuiging dat die Messias al gekom het. Hulle het aanvanklik nog tempel toe gegaan (Hand 3), sommige het selfs nog taamlik lank hulle seuntjies besny en die gewone “Joodse gebruike” onderhou ( Hand 21:21).

 

Maar twee belangrike dinge het geleidelik gebeur. 

  • Hulle het verwyder geraak van die Joodse leiers en van die Joodse godsdiensgemeenskap omdat die Jode hulle al meer vervolg het (Hand 20-26).
  • Hulle het los geraak van die tempel, die wet en al die “Joodse gebruike”. Dit het baie ingesluit: die besnydenis, die Sabbat, die feeste, die tempelkultus (priesters, offers).

 

En is Paulus nie baie duidelik daaroor nie?

 

Ons het reeds gekyk na sy houding oor die Sabbat (hoofstuk 2). En nou die feeste. Hy bespreek nooit die feeste breedvoerig nie. Daar is eintlik net twee spesifieke opmerkings (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17).

 

Kolossense is ‘n sagter uitspraak as Galasiërs. In Kolossense vermaan hy die gemeente om hulle nie te laat voorskryf om sekere gebruike na te kom nie, terwyl hy in Galasiërs die vrees uitspreek dat hy dalk tevergeefs die evangelie aan die gemeente verkondig het as hulle met die feeste voortgaan.

 

Waarom is hy sagter in Kolossense? Is dit omdat die situasies in die twee Briewe verskil?

 

In Galasiërs was dit ‘n radikale saak: Geloof in Jesus sonder die wet of saam met die wet. En sy antwoord was radikaal: Christus óf die wet. Waarom so radikaal? Omdat dit gegaan het oor die vraag hoe mense gered word. Indien die wet by Christus moet bykom om ons redding te verseker, beteken dit dat Hy nie volle voorsiening gemaak het vir ons redding nie. Dit onteer Hom. Daarom is dit uit.

 

Dit beteken om nog te besny of die feeste te vier, is uit.

 

Maar in Kolossense is die posisie nie so radikaal nie. Die groot saak in hierdie Brief is nie die wet nie. Daarom kom die sabbat en die feeste meer terloops ter sprake. Dit kom nie voor in die verband van hoe mens gered word nie, maar hoe ‘n gelowige leef. En dan is Paulus se posisie eerder iets soos: Dis nie meer nodig nie. Sou dit beteken indien gelowiges tog gekies het om daarmee voort te gaan, hy inskiklik sou wees?

 

Miskien. Maar dit sou tog vreemd wees. Hy noem daar die voedselvoorskrifte, die sabbat en die feeste ‘n skaduwee, terwyl die werklikheid Christus is. Dit sou tog vreemd wees om aan ‘n skaduwee vas te hou as die een wie se skaduwee dit is, gekom het! 

 

Hebreërs stel dieselfde saak nog sterker. Hy is ook met die wet besig, hierdie keer in die vorm van die tempelkultus. Volgens hom is die wet van Moses nie eens ‘n werklike beeld van die heil wat deur Christus gekom het nie, maar “net ‘n skadubeeld” (10:1). Negatiewer kan dit amper nie. Dan het dit geen sin om daarmee voort te gaan nie.  

 

Skaduwee  Maar nou word die gedagte dat die wet ‘n skaduwee was wat vooruitgewys het na Christus, soms juis positief deur hierdie Christene gebruik. Dit word veral in verband met die feeste gebruik. Dit sou beteken dat die feeste vooraf die hele heilsplan van God afgebeeld het. Een vir een sou ‘n mens in die afsonderlike feeste na die groot heilsdade kon kyk.

 

Na die vraag of die feeste wel die groot heilsdade voorafskadu, het ons reeds gekyk (3.2). 

 

Maar nou kyk ons na Paulus en Hebreërs se gebruik van die begrip “skaduwee”. In beide Kolossense en Hebreërs word dit in ‘n negatiewe sin gebruik om te sê hulle het hulle waarde verloor, hulle word vervang met Jesus self. En nêrens word gesê dat hulle inderdaad dié besondere betekenis gehad het om een-een na die groot heilsdade te verwys nie.

 

Daar is nie regtig ‘n verantwoordelike manier om die sterk uitsprake van Paulus téén die feeste soveel te versag dat Christene maar kan aanhou daarmee nie.

 

Sabbat en feeste op die nuwe aarde?

Op twee plekke in die Ou Testament lees ons iets hiervan:

Jesaja 66:22-23: “Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef voor My in aanbidding kom buig.” Dit staan in die oudste gedeelte wat handel oor die nuwe hemel en die nuwe aarde.

 

Sagaria 14:16-19. Hier word geskryf dat iewers in die toekoms die huttefees gevier sal word. Dit is nie duidelik na watter geleentheid verwys word nie, maar dis in die toekoms.

 

Hieruit lei sommige dan af dat die Sabbat en die feeste nou nog gevier moet word omdat hulle in die toekoms, en selfs op die nuwe aarde nog gevier sal word.

 

Die vraag is of ons nie hier die tipiese verskynsel het dat iemand in die taal van sy of haar tyd iets oor die toekoms sê, terwyl dit nie noodwendig presies só sal wees wanneer dit gebeur nie.

 

Kom ons kyk na ‘n uitspraak van Jesus in die Evangelies. Hy stuur die dissipels uit op ‘n sending onder Israel (Matt 10:16-23). Dit is ‘n sending wat nie voltooi sal word voor sy wederkoms nie (10:23). En dan verklaar Hy dat hulle vervolg sal word en in die sinagoges gegésel sal word. Die uitspraak moet ook vir ons tyd geld, die tyd voor sy wederkoms. Maar daar word nie meer mense in sinagoges in Israel gegésel nie. Maar Jesus het die toekomstige vervolging uitgedruk in die terme van sy tyd.

 

Jesus vertel die gelykenis van die tien meisies wat vir die bruidegom wag (Matt 25:1-13). Dit gaan ook oor sy wederkoms. Hulle wag met olielampe. Maar dit beteken tog nie mense sal nog olielampe gebruik by die wederkoms nie. Jesus praat oor die toekoms in terme van sy tyd.     

 

Wil God in Jesaja en Sagaria nie maar net in terme van daardie tyd sê dat Hy in die toekoms gedien sal word nie?

 

Skrywer:  Prof Adrio König