Geloofsvrae: God se trou

Geloofsvrae: God se trou – Adrio König

God se trou (geduld, onveranderlikheid, veranderlikheid)

Dat God onveranderlik is, staan vir baie gelowiges sondermeer vas. Elke verandering waarin God volgens die Bybel betrokke is (soos die berou van God of dat Hy van besluit verander), word dan só uitgelê dat dit met sy onveranderlikheid rym. Dat Hy berou het en sy beslissing verander, word dan gesien as ‘n mensvormige manier van praat omdat ons nooit sou kon verstaan as Hy sou sê hoe Hy werklik is nie. Wat egter vreemd aandoen, is dat die teoloë wat hierdie standpunt verdedig, dan presies weet hoe Hy regtig is: onveranderlik.

Waarom hierdie reaksie teen enige moontlike veranderinge in God? Omdat die gode van die volke om Israel wispelturig was, omdat mense nie op hulle kon reken nie. As hulle die oggend `met die verkeerde voet uit die bed uit opstaan’ was enigiets moontlik!

Teen hierdie agtergrond is dit vanselfsprekend dat ons sal vashou aan die onveranderlikheid van God. Ons bedoel dan dat Hy getrou is, dat Hy sy woord hou, dat ons op Hom kan reken. Christus word die “ja” op al die beloftes van God genoem (2Kor 1:20). God se Woord staan vas, en daarom ook sy woorde en beloftes. God is dus onveranderlik in die sin dat Hy getrou is. `As ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie’ (2Tim 2:13).

Tog is dit beter om van sy trou te praat as van sy onveranderlikheid omdat daar in die Bybel net so duidelik sprake is van sy veranderlikheid, waarmee dan nie iets negatiefs bedoel word nie.

Die Bybel praat dikwels daarvan dat God berou het (of bedroef is) oor iets wat Hy gedoen het (o.a. Gen 6:6,7; Num 23:19; 1Sam 15:11,35; Jer 4:28) en dan sy plan verander. Die bekendste voorbeeld is die verhaal van Jona. In hierdie verhaal is daar een wat onveranderlik is en een wat verander. Jona is kwaad vir God want, sê hy: `Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het’ (Jona 4:2). Dit is dus nie God wat onveranderlik is nie. Hy sien af van die straf wat Hy aangekondig het. En Jona se grootste probleem is dat God so bekend is daarvoor dat Hy afsien van die straf wat Hy aangekondig het as mense hulle bekeer, dat Jona dit al van die begin af verwag het. God is dus eenvoudig so. Ons het nie hier ‘n uitsondering nie. God verander voortdurend sy besluite sodat Hy aan sy wese getrou kan bly. Wesenlik is Hy die barmhartige God wat berouvolle sondaars vergewe. As die mense hulle bekeer, het Hy dus `berou’ oor sy besluit om hulle te vernietig.

Wie is dan onveranderlik? Jona. Hy wil hê dat God `konsekwent’ moet wees, dat Hy moet voortgaan met die straf waarop Hy besluit het. Hy voel dat hy dan sal weet waar hy aan of af is met God. Dan sou Jona nie in die verleentheid beland het dat die oordeel wat hy (in die Naam van God!) aangekondig het (en heimlik natuurlik geniet het, want die Assiriërs was aartsvyande van Israel), nooit voltrek word nie. Maar nou sal hy beskou word as die profeet wat die vyande van Israel betyds gewaarsku het sodat hulle nie vernietig is nie! Verraaier! Hy moes nooit soveel sukses met sy prediking gehad het nie!

Met sulke skewe waardes sit ‘n mens – en ‘n God – wat onveranderlik is in die sin dat jy nie kan reageer op ‘n nuwe situasie nie.

Daar is min dinge wat duideliker in die Bybel is as dat God verander. Hy leef telkens in nuwe verhoudinge met nuwe verantwoordelikhede. Deur te skep, word Hy Skepper, en ná die skepping is Hy ook Onderhouer. Hy word die God van Abraham, later die God van Israel, die troue verbondsgod wat nooit voor die skepping in ‘n verbond met mense geleef het nie. In Jesus word Hy ‘n mens, en dit ‘n vernederde mens. God kom voortdurend in nuwe situasies en verhoudings te staan. In hierdie sin verander Hy voortdurend.

Maar dit alles net omdat Hy in ‘n ander sin onveranderlik is, of liewer (aan Homself) getrou bly, getrou aan sy wese, getrou aan sy skeppingsdoel as die God wat gemeenskap stig om ander in sy vreugde te laat deel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Mag ‘n Christen wat geskei het weer met iemand anders trou?

Mag ‘n Christen wat geskei het weer met iemand anders trou? – Kobus Kok

Voordat ons hierdie vraag begin beantwoord moet ons vir mekaar dit duidelik stel dat die Bybel van die begin af al dit duidelik maak dat getrouheid ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees. In die Ou Testament word die verhouding tussen ʼn man en ʼn vrou dikwels as analogie (voorbeeld) gebruik om te verduidelik hoe God getrou is aan sy beloftes aan sy volk wat telkens ontrou is. Trouheid is met ander woorde ʼn baie belangrike motief regdeur die Bybel.

Indien ons nou die vraag wil beantwoord of ʼn Christen wat geskei het weer kan trou, moet ons die vraag eers so paar stappe terugvat in die proses, deur daaroor te besin deur die bril van lewenslange getrouheid. Indien getrouheid en lewenslange trou ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees, gaan mens heeltemal anders met jou verhoudingslewe om as wat iemand daarmee sal omgaan vir wie hierdie waarde nie belangrik is nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy keer op keer sal óór begin, dat jy as huweliksmaat aan jouself en jou karakter sal werk sodat jou huwelik kan groei en nie skipbreuk sal lei nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy ander keuses maak as dit kom by die hou van gesonde grense met iemand by die werk of by sosiale geleenthede. Indien mens van die begin van jou huwelik al die saak uitmaak dat jy NIE gaan skei nie, en dat daar nie vir jou ʼn ander opsie IS nie, dan gaan jy anders omgaan met die uitdagings, pyn en teleurstelling wat mens in ʼn huwelik beleef. Omdat God die sentrum van jou lewe is en jy Sy wysheid soek, sal Hy jou in elke seisoen van jou verhoudingslewe op ʼn opwindende karakter-reis van groei en verdieping neem.

Soms gebeur dit egter dat ʼn verhouding eindig, en dat ʼn egskeiding onafwendbaar is. Vat maar net die man wat sy kinders molesteer en jare lank drink en sy vrou emosionele en fisiese geweld aandoen. In sommige gevalle is ʼn egskeiding die weg tot genesing.

Hou die Bybelse konteks in gedagte

Ons moet versigtig wees om die Bybelse teksgedeeltes wat oor egskeiding handel te maklik op ons eie situasie en konteks toe te pas. Die Bybelse tekste verteenwoordig ʼn lang groeiproses en daar was ook bepaalde dinge wat in daardie konteks rondom die dimensie van egskeiding plaasgevind het. Ons lees byvoorbeeld in Matteus 19:9 dat Jesus egskeiding verbied. Hierdie gedeelte in Matteus moet egter in die regte konteks verstaan word en die agtergrond daarvan moet eers belig word. Hier in Matteus 19 vra die Fariseërs vir Jesus ʼn strikvraag om hom uit te daag. Hulle wil weet of dit ʼn man geoorloof is om vanweë allerlei redes van sy vrou te skei?  Die teks waarna die Fariseërs verwys, verwys na ʼn konteks in die geskiedenis van Israel wat lank van te vore ter sprake was. Uit ons navorsing wil dit voorkom dat in die tyd van Jesus, die antieke Mediterreense kultuur grootliks ʼn paternalistiese sisteem was. Dit beteken dat die pa die onbetwisbare hoof van die huis was. Mans in die Grieks-Romeinse wêreld kon selfs so ver gaan as om te besluit of hulle hulle kind se lewe sal spaar of nie. Ons weet van gevalle waar mans aan hulle swanger vrouens skryf dat indien hulle geboorte gee aan ʼn dogter dan moet hulle ontslae raak van die kind, maar as dit ʼn seuntjie is kan hulle die kind maar hou. Dit het dikwels gebeur dat babas op die ashope gegooi is. Die pa het dus die mag oor lewe en dood gehad in die antieke tyd. Verder was die pa die hoof van die huis en die res van die gesin moes maar volgens sy pype dans. Dit wil verder uit ons navorsing voorkom dat baie mans vrouens beskou het as synde nie veel meer as ʼn stuk vleis nie. Hulle kon ook baie maklik van ʼn vrou skei deur eenvoudig vir die vrou ʼn skeibrief te gee as sy die kos een keer te veel gebrand het. Vrouens het baie min regte in ʼn paternalistiese sisteem gehad en so is vrouens eintlik in ʼn baie brose posisie gelaat. Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus se uitspraak dan verstaan moet word. Jesus se uitspraak is dus ook ʼn sterk reaksie teen die uitbuiting van die vrou en die absolute, soms onregverdige optrede aan die kant van mans. Jesus se reaksie op die vraag van die Fariseërs slaan die hamer reguit op die spyker en dring deur tot op die kern van die saak: Dit wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Hier maak Jesus dus ʼn baie sterk stelling wat reguit ingaan teen die algemene kultuur van sy dag. Die Fariseërs het vinnig hierop gereageer en voor al die getuies roep hulle hulle op die gebruik wat volgens hulle terug gaan na die groot leier  van Israel, naamlik Moses. Moses het volgens hulle die ruimte geskep om gewoon ʼn skeibrief te gee aan jou vrou en van haar te skei (vgl. Matt 19:7). As Moses dit gesê het, en geoorloof het, wie is Jesus dan om te stry, was hulle grootste verweer. Jesus het onmiddellik daarop gereageer en die bal weer terug in die hande van die Fariseërs gegooi en hulle skynheilige karakters blootgestel deur te argumenteer dat Moses wel die ruimte gelaat het vir skeibriewe, maar dit gedoen het as gevolg van die hardheid en koudheid van hulle harte. Dit was egter nie van die begin af deel van God se hart of plan vir die mens nie. Jesus kom gee hulle dan ʼn nuwe siening, wat nie teruggaan na Moses nie, maar teruggaan na God se oorspronklike plan, en in sy betoog haal Jesus ʼn teks uit Genesis aan en argumenteer dat ʼn man sy vader en moeder sal verlaat en saam met sy vrou as een vlees/wese/mens leef.  Jesus sê verder dat die implikasie daarvan is dat die wat skei, teen die wil van God optree en niks minder as die sewende gebod oortree nie, naamlik dat mens nie mag egbreuk pleeg nie (Kyk ook Luk 16:18, Mark 10:12 en Matt 5:31, 32). Jesus het dus die ganse paternalistiese sisteem op sy kop geswaai en gewys dat verhoudings, integriteit, karakter en innerlike oriëntasie, radikale self-opofferende liefde, barmhartigheid en diens die belangrikste is.

Terug na ons tyd vandag. Kan ʼn Christen wat geskei het weer trou? Miskien is die vraag nie óf en hoe vinnig ʼn Christen wat geskei is weer kan trou nie maar in hoe verre ʼn Christen kan wys dat opregte verhoudings en trou wat in God gewortel is kan hou! Miskien trou en skei ons heeltemal te vinnig vandag. ʼn Vriend van my wat ʼn prokureur is en egskeidings hanteer is vandag skatryk omdat soveel mense skei, sommiges selfs na ʼn paar maande se getroude lewe. Ek wonder of mens regtig al die huwelik of mekaar ʼn kans gegee het na so ʼn kort tyd. Tog is daar regtig ook situasies waar ʼn egskeiding onafwendbaar is en dikwels die weg tot genesing is.

In Jesus se hantering van die Samaritaanse vrou wat al meer as 5 mans gehad het in Johannes 4 en die vrou wat op ontug betrap is in Johannes 8 sien ons Jesus se radikale hart. Jesus skep tweede kanse en gee lewe. Terwyl ek glo dat lewenslange trou en liefde die reël is, glo ek ook dat God vir ons tweede kanse kan skep en ons mislukkings in verhale van hoop en genesing kan verander. Indien ons opreg in ons verhouding met Hom leef en ons weer trou na ons geskei het, sal Hy ook vir ons die geskenk van vergifnis en nuwe lewe gee. Ek ken mense wat ʼn tweede keer getroud is en wat God in hulle verhouding ten volle eer en wat Hom al meer in die nuwe verhouding ontdek.

Opgesom: God se wil is dat man en vrou in ʼn liefdevolle verhouding van trou leef wat Hom in die sentrum stel. God se hart klop nie vir egskeiding nie, maar vir liefdevolle trou. Soms is egskeiding onafwendbaar. In sulke gevalle kan God weer tweede kanse skep, maar dit moet eerder die laaste uitweg wees.

Lees gerus die volgende boek wat vir my persoonlik baie beteken het:

Thomas, G., 2000, Sacred Marriage. What if God designed Marriage to make us Holy, more than to make us Happy? Zondervan uitgewers.

 

Outeur: Dr Kobus Kok