Twyfel Christene ooit?

The Word is the chosen weapon by which the devil must be confronted and confounded – J. C. Ryle

 

Twyfel Christene ooit?

Daar is ‘n neiging om te dink dat Christene nooit twyfel nie. Dit is nie waar nie. Hier is ‘n paar redes waarom Christene twyfel:

  • Persoonlikheid: Sommige mense is geneig om te twyfel – dit is deel van hulle DNS. Party mense is van nature skepties – hulle glo nie sommer enigiets nie. Hulle sukkel om mense – selfs hulle vriende – te vertrou.
  • Geskiedkundig: Hierdie beïnvloed ons vermoë om te vertrou. Die oorsaak is nou gebeure van die verlede – een of ander troumatiese gebeurtenis soos mishandeling as kind wat jou vermoë om te vertrou ondermyn.
  • Fisies: ongesonde eetgewoonte en gebrek aan oefening kan beteken dat ons gemoedstemming baie kan wissel.
  • Spanning: spanning bepaal hoe ons dink en hoe ons die werklikheid beoordeel.
  • Teologies: mense twyfel aan God, maar dikwels is dit nie die God van die Bybel nie. Hulle dig eienskappe aan Hom toe wat nie waar is nie. Ons glo dat God ons moet beskerm teen fisiese skade en as Hy dit nie doen nie, twyfel ons. As ons glo dat God beloftes gemaak het, wat Hy nie gemaak het nie, twyfel ons.
  • Sonde: sodra ons begin kompromieë in ons lewe aangaan, begin ons twyfel. Soms gebruik ons selfs twyfel as ‘n verskoning om te sondig. Ons geloof word dan deur twyfel vervang.

 

Gelowiges twyfel ook soms. Daar is baie redes daarvoor. Dit is nie sonde om soms te twyfel nie, maar dan moet ons iets aan ons twyfel doen.

 




Twyfel en die dood

God uses men who are weak and feeble enough to lean on him. —Hudson Taylor

 

Twyfel en die dood

As ons met die dood gekonfronteer word, vra ons: “Jesus, waarom laat U toe dat dit gebeur?” Die verhaal van twee wondertekens in Markus 5 help ons om sekere waarhede raak te sien.

  • Vir Jesus is die dood ‘n probleem wat maklik reggestel kan word

Toe Jesus by die bed van Jaïrus se dogtertjie kom sê Hy vir haar in Aramees: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!”

 Dink daaraan: Hier sit Jesus by die dogtertjie, vat die kindjie se hand en sê: “Kindjie, dit is tyd om op te staan.” Jesus sit by die gelowige op sy sterfbed, neem sy hand en as hy wakker word, is die eerste gesig wat hy sien dié van Jesus Christus – sy stem is die eerste wat jy hoor.

 

  • Jesus se vertraging weerspreek nie sy liefde nie

Ons kan aanvaar dat Jaïrus gefrustreerd was met Jesus. Nadat Jaïrus vir Jesus gevra het om sy kind gesond te maak, genees Jesus eers ‘n vrou wat aan bloedvloeiing ly – ‘n chroniese toestand. Alles goed en wel vir haar, maar Jaïrus se dogter se lewe hang aan ‘n draadjie. Jaïrus sou hierdie onderbreking as ‘n waagstuk gesien het. Dit was ook so, want intussen sterf sy kindjie. Waarskynlik het Jaïrus gedink dat as Jesus werklik omgegee het, sou Hy Hom na sy dogter se bed gehaas het. Wat Jaïrus nie besef het nie, is dat die vertraging geen blywende verskil gemaak het nie – die dogtertjie se dood was vir Jesus net ‘n tydelike terugslag.

 

Beteken dit nou dat donkerte nie werklik is nie? Nee. Wat dit wel beteken is dat tussen ons donkerte Jesus steeds met ons is. Hy het nie van ons vergeet nie.

 

  • Jesus bied meer aan en vereis meer as wat ons ooit gedink het

Beide Jaïrus en die vrou met bloedvloeiing kom na Jesus vir een doel. Jaïrus kom na Jesus vir genesing en hy kry opstanding. Hy moes die pyn van die dood beleef en Jesus midde in alles vertrou. Die vrou met bloedvloeiing word genees en Jesus sê vir haar Dogter, jou geloof het jou gered. Sy word deel van sy familie nadat sy haar aan Jesus blootgestel het. Dit is hoe Jesus is: Hy gee ons meer as wat ons dink ons nodig het: Alles van Hom vir alles van jou.

 

  • Ons oorwinning oor die dood het ‘n groot prys van Hom geëis

Ons lees dat toe die vrou aan Jesus geraak het daar van Hom groot krag uitgegaan het.  As dit kom by ons reiniging gebeur dit teen ‘n groot koste vir Hom – sy dood.

 

  • Persoonlike statuur dra niks by om die dood te oorkom nie

Die twee karakters in hierdie gedeelte is nie gelykes nie. Jaïrus was ‘n godsdiensleier; die vrou was onrein as gevolg van haar gesondheidstoestand. Jaïrus is ryk – die vrou is arm; almal in die stad ken vir Jaïrus … in hierdie verhaal word die vrou se naam nie eers genoem nie. Jesus genees beide as gevolg van hulle geloof. Hulle statuur en wat hulle bereik het in die lewe was nie vir Jesus belangrik nie. Al is jy arm en onrein kan Jesus jou sy dogter maak.

 

Onthou: God vul net leë hande.

 




Ek twyfel aan God

He who complains of the weather, complains of the God who ordained the weather! —William Law

Ek twyfel aan God

Bestaan God werklik? Kom God sy beloftes na? As ek twyfel – en almal van ons twyfel op een of ander stadium – waar in die Bybel kan ek weer sekerheid kry? Bible Gateway het hulle lesers gevra om verse wat hulle help as hulle twyfel, te identifiseer. Hier is die vyf algemeenste verse:

 

  • Jeremia 29:11 – 13: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.
  • Psalm 91: Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.” (Eintlik die hele psalm.).
  • Psalm 27:13 – 14: As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … ! Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!
  • Jesaja 54:16 – 17: Dit is Ek wat die ambagsman geskep het, die ambagsman wat die vuur aanblaas en allerhande wapens daarin smee. Dit is Ek wat die verwoester geskep het om af te breek. Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.
  • Spreuke 3:5 – 7: Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is.

Feitlik al die verse erken terugslae en beproewings, maar almal bevestig die gesag en trou van God




Ek twyfel aan my geloof

Ek twyfel aan my geloof

Niemand hou daarvan om te twyfel nie. Twyfel destabiliseer ons en ons doen alles in ons vermoë om dit te vermy. Dit geld veral vir geloofsake. Twyfel en geloof kan nie saam bestaan nie – dit is of die een of die ander. As jy twyfel moet jy daarvan ontslae raak. Ons weet tog dat twyfel lei tot onaanvaarbare optrede soos depressie, geïrriteerdheid en stres.

Dit is duidelik dat God wil hê dat ons van alle twyfel ontslae moet raak. Reg? Verkeerd.

 

Daar is voordele in twyfel. Twyfel is ‘n gawe van God, want dit beteken dat ons nie meer op onsself vertrou nie, maar op Hom. Twyfel dwing ons om weer vas te stel wat ons van God glo. Dit kan nogal ontstellend wees. Dan sien ons dat ons God na ons eie beeld gevorm het – nie andersom soos dit hoort nie. Twyfel lei ons na ‘n nouer verhouding met God waar Hy en nie ek in beheer is.

As jy twyfel vra vir God wat Hy besig is om jou te leer – van Hom en van jouself. As jy die Bybel lees – Psalms, die Prediker, Job en ander – sal jy sien dat jy nie die enigste een is wat twyfel nie. Hier sien ons hoe hierdie proses van destabilisering lyk. Om deur hierdie twyfel-tye te gaan – nie om hulle nie –  lei dikwels tot geestelike diepgang.

Die Christen se lewe is ‘n reis. Soms kom daar dinge in jou lewe wat jy nie verwag het nie of waarvan jy nie hou nie. Nou begin jy twyfel. Dit is nie die einde van jou geloof nie … dit is die begin van jou geloofsreis.

Om ‘n Christen te wees, beteken nie dat ek van alles seker is nie. Twyfel in die lewe van ‘n Christen is normaal. Juis as dit lyk asof God afwesig is, praat Hy baie duidelik met jou. Dan besef jy dat geloof ‘n reis is waarin God jou verder wil neem.