Vas en Vier – Kerkbode 12 Maart 2018 Redakteursbrief

Een van die ou kerklike gebruike wat herleef, is om tydens Lydenstyd van iets kleins te vas. Sjokolade of wyn of iets dergeliks. Dis iets simbolies. Een aspek van dié soort vas is dat dit ’n herinnering is. Die tydelike prysgawe van ’n klein vreugdetjie herinner ons aan die groot prysgawe wat Jesus gedoen het. Hy het, lees ons in Filippense 2, nie aan sy Goddelikheid vasgehou nie, maar Homself verneder. Hy het soos ’n slaaf geword. Uiteindelik het Hy aan die kruis gesterf. ’n Klein stukkie “lyding”, die ontbering van ’n klein plesiertjie, word vir 40 dae lank ’n herinnering aan die lyding van Jesus Christus. Maar van Aswoensdag tot Opstandingsondag is daar eintlik 46 dae. Die ses Sondae word nie as deel van Lydenstyd gereken nie. Dit is omdat die Sondag die dag van die opstanding is. Dit is die dag van oorwinning. Van vreugde. Op die Sondag vas jy nie. Jy vier. En so ontstaan daar in Lydenstyd ’n ritme van ses dae vas en een dag vier, ses dae vas, een dag vier. Ses dae van nadink oor die lyding. Een dag van viering van die opstanding. Ses dae van verootmoediging. Een dag van leef uit die oorwinning. Dit is ’n ritme wat ’n diep betekenis vir die lewe van ’n gelowige dra. Want deur die hele jaar kom daar tye van swaarkry en tye van pyn. Hierdie ritme van Lydenstyd help ’n mens om dán die oorwinning te onthou. As die spreekwoordelike vyebome nie bot nie en lande geen oes lewer nie, help dit ’n mens om soos die profeet Habakuk in die Here te bly jubel. Want soos die 40 dae ’n mens aan Jesus se lyding herinner, herinner die Sondag ’n mens aan die oorwinning. Elke Sondag. Reg deur die jaar.

Artikel met dank aan Kerkbode 12 Maart 2018 Redakteursbrief




Vas – Hermie van Zyl

Ina vra

Ons kerk het ‘n 21 dae vas uitgeroep. In dié tyd het ek na ‘n preek van pastoor Deon Allers geluister wat juis handel oor vas en gebed. In die preek het hy ook genoem dat daar nie so iets soos ‘n Daniëlsvas is nie. Ek het die preek ge-“share” op ons selgroep sonder om regtig ag te slaan op die gedeelte oor die Daniëlsvas. Ek is verskriklik daaroor aangevat omdat ek “teachings” opsit wat nie in lyn is met wat ons pastoor glo en “teach” nie. Ek mag net na “teachings” luister wat deur hulle aanbeveel word. Is ‘n gewone vas nie maar dieselfde as ‘n Daniëlsvas nie? Ek voel alles is nou onnodig uit verband geruk. Ek is deurmekaar, weet nie wat is reg en wat nie.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die Daniëlsvas word ontleen aan Daniël 10:2-3 waar genoem word dat Daniël homself vir drie weke lank onthou het van “lekker kos”, soos vleis en wyn, en ook nie reukolie gebruik het nie. Die oogmerk was kennelik om, soos v12 sê, insig te verkry en hom voor God te verootmoedig. Die aanleiding tot hierdie verootmoediging was sy bekommernis oor wat van sy volk sou word. Dat hierdie vastyd ook met diepe rou oor sy volk se omstandighede gepaard gegaan het, lei ons af uit die feit dat hy homself ook nie met die gebruiklike welriekende reukolie gesalf het nie, wat tipies by maaltye gebeur het (vgl Luk 7:46). Die onthouding aan salwing was tipies van mense wat gerou het, terwyl die einde van die routyd weer met salwing gepaard gegaan het (2 Sam 12:20).

Die Daniëlsvas van drie weke is nie wesenlik iets anders as ander vastye waarvan ons in die Bybel lees nie. Trouens, vas was ’n algemene gebruik in die destydse midde-Ooste, wat by alle godsdienste voorgekom het. In Israel het dit veral as middel gedien waardeur individue of die volk hulle rou en droefheid betoon het (1 Sam 31:13), God se guns en hulp gesoek het in tye van nood (Rig 20:26), of hulle voor God verootmoedig het (1 Kon 21:27). Daar was ook ’n noue verband tussen vas en gebed (1 Sam 7:6).

In Nuwe-Testamentiese tye het veral die Fariseërs vas as ’n verdienstelike werk gesien, en tot twee keer ’n week gevas (Luk 18:12). Jesus waarsku dan ook dat mens nie so moet vas dat almal sien hoe godsdienstig jy is nie, want dan het jy jou loon weg (Matt 6:16-17). Jesus het wel by geleentheid gevas (Matt 4:2), maar andersins het Hy dit weer afgewys, omdat, volgens Hom, ’n mens tog nie vas as die bruilof aan die gang is nie (Hy het Homself as die Bruidegom gesien) (Matt 9:15). Terwyl Johannes die Doper se dissipels gevas het, het Jesus se dissipels bekend gestaan as mense wat nie vas nie (Matt 9:14). Die vroeë kerk het wel later gevas as deel van hulle gebed (Hand 13:2-3).

Ons kry dus ’n baie gevarieerde prentjie van vas in die Bybel. Enersyds is dit ’n normale uiting van rou en verootmoediging, andersyds is dit weer onderhewig aan bepaalde voorwaardes en waarskuwings. Trouens, die Nuwe Testament is baie ernstig daaroor dat ons godsdiens nie wetties moet wees nie, veral nie deur allerlei reëls op mense af te dwing en dit as voorwaarde te stel vir God se seën nie. So waarsku Paulus byvoorbeeld in Kol 2:16 dat die gelowiges hulle nie moet laat voorskryf oor wat hulle moet eet of drink, of oor watter feeste hulle moet hou of nie. Wat God van ons verlang, is nie die onderhouding van allerlei pligpleginge en wettiese voorskrifte nie, maar om onsself aan God te gee as lewende offers; dít is die wesenlike van ons godsdiens (Rom 12:1). God verlang van ons niks anders nie as dat ons God sal liefhê en loof, en sal goed doen en mededeelsaam sal wees (Heb 13:15-16).

Dus, gebruike soos die Daniëlsvas (of enige ander vorm van vas) is nie deel van ons wesenlike godsdiens nie. Hulle is bykomstige simboliese gebare wat by geleentheid uitdrukking kan gee aan hoe ons God en die lewe ervaar. Indien die Daniëlsvas as ’n vrywillige daad van verootmoediging en toewyding gesien word, kan daar seker nie mee fout gevind word nie. Maar sodra daar dwang is, gepaardgaande met ’n onbuigsame voorskriftelikheid, met die bykomstige gedagte van verdienstelikheid, begin die rooiligte aangaan.

Prof Hermie van Zyl




Die Vastyd (Lent)

Die Vastyd (Lent) – Coen Slabber

Ons hoor dikwels dat mense praat oor Lent. Lent het op Aswoensdag (22 Februarie) begin. Gereformeerdes het nog nooit  die kerkjaar so noukeurig gevolg soos die Rooms-Katolieke en Anglikaanse Kerke nie. Meeste van ons het net so ‘n vae idee oor wat Lent is.

Lent is die veertig dae voor Paasfees (Sondae uitgesluit). Christene probeer Jesus se fokus op God naboots deur dissiplines en praktyke wat geloof en liefde versterk en ‘n gees van berou beliggaam. Dit is ‘n tyd om na te dink oor gewoontes, besittings en begeertes. Dit begin met Aswoensdag en eindig op Heilige Donderdag – die dag net voor Goeie Vrydag. [Daar is verskille tussen die Westerse en die Oosterse Kerke en ook kleiner verskille tussen verskillende Westerse kerke.] Lent eindig met drie belangrike dae:

•             Heilige Donderdag – die dag toe Jesus saam met sy dissipels die paasmaaltyd geniet en die nagmaal ingestel het.

•             Goeie Vrydag – die dag van Jesus se kruisiging.

•             Paassondag – die dag van Jesus se opstanding.

Lent begin op Aswoensdag. Dit word so genoem omdat gelowiges op hierdie dag as op hulle voorkoppe smeer  – in die vorm van ‘n kruis. Aswoensdag herdenk die aankondiging van Jesus se geboorte deur die engel Gabriël. Jesus se geboorte word op 25 Desember gevier. Daarom word bereken dat die aankondiging van sy geboorte nege maande vantevore was. Maar omdat Paasfees nie elke jaar op dieselfde datum val nie, val Aswoensdag ook op verskillende datums.

Dit is ‘n dag van vas en onthouding. Dit is meestal ‘n beperkte vas. Mense jonger as 18 jaar en ouer as 60 jaar word gewoonlik vrygestel. Ander mense eet een maaltyd en ‘n peuselhappie. Alhoewel kinders nie hoef te vas nie, moet ouers hulle onderrig in die dissipline van vas. Op Vrydae mag daar geen vleis geëet word nie. Die agtergrond hiervan is Daniël 10:1 – 3. Daar lees ons dat Daniël drie weke lank getreur het en geen lekker kos geëet het nie – my mond nie aan vleis of wyn gesit nie. Onthouding is juis op ‘n Vrydag omdat Jesus Christus op ‘n Vrydag vir ons sondes gesterf het.

Hoekom word Sondae uitgesluit? Sondag is die dag van Jesus se opstanding. Dit is ‘n dag van vreugde en feesvier – nie ‘n dag van vas en rou nie.

Hoekom word hierdie veertig dae nou juis Lent genoem? Lent was die ou Engelse woord vir lente – die tyd van die jaar waarin Lent val – die noordelike halfrond se lente. In meeste ander tale word een of ander afleiding van Quadragesima (quadraginta is die Latyn vir veertig) gebruik.

Hoekom nou juis veertig dae? Veertig dae is die tradisionele tyd van dissipline, aanbidding en voorbereiding in die Bybel:

•             God sê aan Noag dat Hy dit veertig dae en veertig nagte gaan laat reën (Genesis 7:4).

•             Moses bly veertig dae en nagte op die berg (Eksodus 24:18. Ook in Eksodus 34:28).

•             Die verkenners wat Moses uitgestuur het, het veertig dae lank vir Kanaän verken (Numeri 13:25).

•             Elia loop veertig dae en veertig nagte om by die berg Horeb uit te kom (1 Konings 19:8),

•             Jona waarsku Nineve dat hulle na veertig dae verwoes sal word (Jona 3:4)

•             Die belangrikste is dat Jesus vir veertig dae en veertig nagte niks geëet het voodat die Satan Hom in die woestyn versoek het nie (Matteus 4:2). Jesus het veertig dae en nagte gevas en gebid voordat Hy sy bediening begin het. Christene vas en bid ter voorbereiding van die hoogtepunt van Jesus se bediening – sy kruisiging en opstanding.

Die laaste week van Lent is intens. Dit begin met Palmsondag wat Jesus se intog in Jerusalem herdenk. Op die Donderdag word die instelling van die nagmaal gevier; Vrydag is Goeie Vrydag; Saterdag lê Jesus in die graf; Sondag is Paassondag.

Die prominente kleure tydens Lent is pers en blou – die koninklike kleure. Ons vier immers die koms van ons Koning. Baie kerke verwyder die kerse van hulle altare. Kruise en ander godsdienstige simbole word met pers materiaal bedek.

Lent word deur Katolieke, Anglikane, Lutherane, Metodiste, Presbiteriane en sekere Baptiste gevier. Sekere Protestantse kerke, veral dié wat gereformeerd is – dié wat uit die leer van Calvyn en Zwingli in die laat sestiede eeu ontstaan het– vier nie Lent nie. Hoekom nie? Ulrich Zwingli, aanvanklik die leier van die gereformeerde beweging in Switserland, het geglo dat Lent die verskil tussen die sakramentalisme van die Katolieke Kerk en die sola fide van die gereformeerdes verteenwoordig (sola = Latyn vir alleen of slegs; fides = Latyn vir geloof; sola fides – geloof alleen.) Zwingli en ongeveer twaalf van sy ondersteuners het doelbewus in die openbaar Lent verbreek deur twee varkworse te sny en uit te deel.

Hierdie is ‘n baie kort uiteensetting van Lent, maar gee tog ‘n idee waaroor dit gaan

 

Skrywer: Coen Slabber