Kan die Kerk agente vir verandering wees?

 “Our death died at the cross. It did not faint. It died.” Conrad Mbewe

 Kan die Kerk agente vir verandering wees?

Gemeentes kan hulle nie net bekommer oor hoe om met hulle eie gemeenskap te verbind nie. Hulle moet buite hulle mure beweeg. Die vraag is: Hoe? Dit is nie maklik nie, want baie gemeentes word vasgevang in die manier waarop hulle dinge doen. Dan gaan dit oor behoud van die gemeente en nie oor transformasie van die omliggende gemeenskap nie.

 Ons model kry ons in die Bybel. Paulus besoek Atene (Handelinge 17). Dit is duidelik dat Paulus hulle kultuur verstaan. Hy haal Epikureërs en Stoïsynse filosowe aan. Daarna bou hy doelbewus ‘n brug na die evangelie. Ons sal nou nie meer hierdie filosowe sommer aanhaal nie, maar dit wat Oprah en ander sê, is dieselfde. Dit is deel van die wêreldsiening wat sê dat die waarheid relatief is en dat die doel van spiritualiteit persoonlike vrede is.

 

 

Paulus se strategie vir evangelisasie is tydloos. Hy oorreageer nie, hy ignoreer nie en hy teenreageer nie. Nee, hy betrek kultuur, maar op ‘n onderskeidende wyse. Ons moet Paulus se strategie volg: bou brûe sodat ons meer doeltreffend die evangelie kan verkondig. Die werklikheid is dat die hoe van bediening deur die “wie, wat en waar” van die kultuur gevorm word. Kultuur is die poel waarin ons swem en die lens waardeur ons die wêreld sien.  Dit is die konteks waarbinne ons getrou die evangelie wat nooit verander nie, moet verkondig.

 

Gemeentes mag van mekaar verskil, maar hulle moet steeds getrou aan die Bybel wees. Waar ons is, mag die manier waarop ons oor Jesus praat, beïnvloed, maar die gesprek gaan steeds oor Jesus. Hoekom moet ons ‘n brug bou? Om by die mense aan die oorkant uit te kom. Jy kan nie die brug bou net sodat mense aan die oorkant die gemeente kan kry nie. Die doel is meer dissipels vir Jesus en nie ‘n groter skare nie.

 

Dit is ongelukkig so dat ons kultuur meer weerstandig teen die Christelike geloof word. As ons getrou gaan staan in tye van ongeloof sal ons nie kan bly daar waar ons gemaklik is nie. Ons kan nie doeltreffend betrokke raak deur net saam met die kultuur te gaan nie; ons kan nie evangelisties betrokke raak sonder om in die kultuur te leef nie.

 

Ons kan nie die gebroke wêreld omverwerp deur subtiele ondermyning nie, maar wel deur diegene wat seerkry, te dien en dié wat in nood is van Jesus te vertel. Nou is ons agente van transformasie in ‘n wêreld wat dit desperaat nodig het. Jesus vergelyk ons immers met suurdeeg en klein saadjies wat ingaan, meng, groei en alles verander. Paulus was nie skaam om vir die Ateners te sê: Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle (Handelinge 17:23).

 




Verandering in die wêreld

 “Suffering is actually at the heart of the Christian story.”  -Tim Keller

Verandering in die wêreld
Daar is ‘n teenstrydigheid in feitlik elkeen van ons se lewe: ons hou nie van verandering nie en tog vind verandering feitlik voortdurend plaas. Al hou ons nie van verandering nie, besef ons dat as ons ‘n verskil in die wêreld wil maak, is verandering onvermydelik. Verbetering vereis verandering, maar  ware verandering is meestal moeilik en pynlik. Hier is ses aksiomas oor verandering:

 

  • Die moeilikste model om te verander is die een wat werk

As iets werk waarom moet ons dit verander. Bill Hybels glo dat dit hierdie gesindheid is wat verhoed dat organisasies hulle volle potensiaal bereik. As die mure besig is om inmekaar te stort is almal gereed vir verandering. Dit is juis nie die beste tyd om te verander nie – die goeie mense het reeds gevlug en geld is skaars. As dinge goed gaan, is dit die beste tyd om te verander – en die moeilikste.

  • Mense sal ‘n wêreld wat hulle help maak het, steun

Niemand hou daarvan dat verandering op hulle afgedwing word nie – elkeen wil ‘n stem hê. As jy groot veranderinge oorweeg, dink hieraan. Die sleutel is om mense toe te laat om te help om die wêreld te maak – die skyn van samewerking werk nooit nie. Niemand hou daarvan om gemanipuleer te word om dieselfde gevolgtrekking as die leier te maak nie. Change created in isolation breeds revolt.

  • Niemand is so slim soos almal saam nie

Tensy God die antwoord in klip uitbeitel en dit aan die leier op die bergtop oorhandig, verbeter  alle verandering met insette. Nie groepdenke nie, maar terugvoer en insette uit ‘n wye verskeidenheid van bronne. Met die sosiale netwerke is dit vandag maklik om insette te kry.

  • Die mag van klein wen

Groot veranderinge verlam ‘n organisasie; kleiner, bereikbare veranderinge bemagtig mense. Die groot prentjie is radikale verandering. Ons moet onsself egter afvra: Wat kan ek oor die volgende vier weke doen wat ‘n impak sal hê? Klein oorwinnings kan lei tot groot veranderings.

  • Alles is ‘n eksperiment

Jy moet altyd aanpas en verander. Voeg hier iets by; neem daar iets weg. Toets gedurig – miskien ‘n nuwe tyd vir die erediens, miskien ‘n addisionele erediens elders.

Hierdie ses aksiomas kom van Greg Sturratt. Ek sal eers meer moet dink oor party van hulle.




Positiewe verandering

 

The name of Jesus was not so much written as ploughed into the history of this world – Ralph Waldo Emerson

 

Positiewe verandering

Almal van ons wil graag verbeter – ten goede. Positiewe verandering is moontlik, maar dan moet ons aan drie basiese voorwaardes voldoen:

 

  • Ons moet glo dat God goed is

Dit moet ons doen ten spyte van al die verkeerde dinge in die wêreld. Kom ons gaan terug na Genesis 3. Ons lees dat die slang – die skelmste en agterbakste dier op aarde – vir Eva ewe onskuldig sê:  ek hoor julle mag nie van die bome in die tuin eet nie. God het glo vir julle so gesê, of hoe? Toe Eva dit bevestig sê die slang: Onsin! Julle sal g’n doodgaan nie. God is net bang. Hy weet as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan en julle sal soos Hy word. Julle sal dan goed en kwaad uit mekaar kan ken.  Satan sê dat God Eva se ontwikkeling beperk sodat sy nie haar volle potensiaal kan bereik nie. Ons dink mos altyd ons pad is beter as God s’n. Dit is interessant dat Satan net op een boom fokus. Al die ander waarvan hulle mag eet ignoreer hy. Dit is steeds Satan se strategie – hy laat ons op een saak fokus … en ons vergeet al die ander dinge. As ons dan glo dat God goed is, kan ons ons sonder voorwaardes of vrees aan Hom oorgee. Die heel eerste tree wat ons moet gee, is dat ons bereid moet wees om ons sonde te los wetende dat God dit met iets beter sal verplaas. Doen ons dit slaag ons die eerste toets.

 

  • Neem eienaarskap van jou gedrag

Elkeen van ons is volledig verantwoordelik vir ons eie gedrag en gesindheid. Die probleem is ons onwilligheid om skuld te aanvaar – ons skuif ons verantwoordelikheid na ander. Ons verdedig onsself; ons is selfs bereid om feite te verdraai. Ons wil so graag beter lyk as wat ons werklik is. Luister vir Adam: Dit is alles die vrou se skuld – en dit nogal die vrou wat God vir hom gegee het. En Eva? Dit is die slang se skuld. Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir ons gedrag en gesindheid. Ons kan baie eerlik wees, want ons weet dat God ons liefhet en aanvaar.

 

  • Vertrou op God se genade

Die Nuwe Testament is ‘n boek van hoop. Ons moet  glo dat verlossing moontlik is. Paulus sê vir die gemeente in Korinte: Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met julle sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het (1 Korintiërs 10:13). In hierdie vers sien ons dat ons saak nie uniek is nie en dat God ons die nodige hulpbronne en krag gee om versoekings te hanteer. Petrus sê basies dieselfde ding: Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ‘n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie (1 Petrus 2:9)

 

Niemand kan ‘n oorlog wen as hy nie glo dat dit moontlik is nie.

[Alle teksaanhalings kom uit Die Boodskap.]




Hoe verander mense?

God wants to give us something, but cannot, because our hands are full – there’s nowhere for him to put it – Augustinus

 

Hoe verander mense?

David Brooks het ‘n artikel in die New York Times oor hierdie onderwerp geskryf. Hy sê dat mense nie sal verander as jy vir hulle sê hulle moet beter lewe nie; mense verander nie as jy vir hulle sê dat hulle nie die mas opkom nie. Jy mag dalk emosioneel beter voel, maar die persoon verander nie.

 

 

Mense gedra hulle nie sleg omdat hulle nie inligting oor hulle tekortkomings het nie – hulle weet waar hulle tekortskiet. Mense gedra hulle sleg, want hulle het in patrone van vernietigende gedrag verval. Hulle het nie die vermoë om hieruit te ontsnap nie. Teologies gestel: mense hou aan sonde doen, nie omdat hulle nie weet wat reg is nie, maar omdat hulle van sonde hou.

 

Hy eindig sy artikel deur te sê dat mense nie verander omdat jy hulle swak gedrag afkraak nie, maar net deur die onderliggende konteks te verander. Dit is wat die evangelie doen. Die evangelie is nie ‘n boodskap van “gaan en doen” nie, maar ‘n boodskap dat ons verlossing reeds bewerk is – die onderliggende konteks is reeds verander. Ons verander nie deur iemand wat vir ons vertel wat ons vir God moet doen nie, maar deur te hoor wat Hy reeds vir ons gedoen het.