Verantwoordelik vir, verantwoordelik aan

Either these are not the Gospels, or we are not Christians – Thomas Linacre nadat hy die vier evangelies gelees het.

 Verantwoordelik vir, verantwoordelik aan

Vandag is daar ‘n soeke na morele verantwoordelikheid. Ons hoor die wêreld verkeer in ‘n morele krisis wat reggestel moet word. Tot die 19de eeu was verantwoordelikheid nie ‘n deug nie – dit was die fondament waarop die ander deugde gebou was. Vandag is dit saam met deugde soos verdraagsaamheid van die enkele deugde wat nog oor is. Die probleem is dat ons verantwoordelikheid van sy wortels losgemaak het. Sonder wortels kan verantwoordelikheid net kwyn en mettertyd sterf.

 

Moderne verantwoordelikheid plaas ‘n swaar las op ons – ons is verantwoordelik vir onsself, ons persoonlikheid, ons toekoms, ons familie, ons omgewing … Hierdie verantwoordelikhede word elke jaar groter en minder bereikbaar. Ons word moedeloos. Nog erger: ons word nie gesê aan wie ons verantwoordelik is nie. Hierdie kombinasie van verantwoordelikheid wat te groot word en verantwoordelikheid aan niemand beteken dat alle verantwoordelikheid in duie stort.

Ons roeping gee ‘n vaste basis vir verantwoordelikheid. Die mens is verantwoordelik, want hy kan reageer – ons kan op God se woord aan ons reageer. Maar, ons word nie gedwing om ja te sê nie. All the shrewdness of ‘man’ seeks one thing: to be able to live without responsibility (Kierkegaard). Jesus het dikwels gesê dat mense wat ore het, moet luister. Natuurlik het almal wat dit gehoor het ore gehad, maar nie almal het geluister nie. Vir ‘n Christen is versoeking ‘n ander woord vir gehoorsaamheid.

Lees weer die verhaal van Josef en Potifar se vrou in Genesis 39. Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap. Hier was niemand wat Josef dopgehou het nie – geen menslik gehoor nie, maar wel ‘n gehoor van Een. Hierdie is roeping in aksie.

Die soeke van verantwoordelikheid vir kan net opgelos word deur vas te stel aan wie ons verantwoordelik moet wees. Die antwoord is verantwoordelik vir plus verantwoordelikheid aan.




God se soewereiniteit en ons verantwoordelikheid

 “When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves.” 

Victor Frankel

God se soewereiniteit en ons verantwoordelikheid

Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit (Nehemia 4:9).

Die groot gevaar van ons aanvaarding van God se soewereiniteit is ‘n fatalistiese gesindheid van ons kant. In Handelinge 4 verskyn Johannes en Petrus voor die Joodse Raad. Hulle kom terug by hulle medegelowiges en vertel wat alles met hulle gebeur het. Wat was die reaksie van almal daar bymekaar? Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid (vers 24).

Later lees ons: Hulle (Herodes en Pontius Pilatus) het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. Die dissipels erken God se soewereiniteit, maar sien dit as ‘n rede om te bid – omdat God soewerein is, kan Hy hulle gebede verhoor. As Hy nie soewerein was nie, sou dit geen doel gedien het om te bid nie.

 

Hou sommer ook my huisvesting gereed, want ek hoop dat God, in antwoord op julle gebede, my aan julle sal teruggee (Filemon 22). Paulus maak nie asof hy God se wil ken nie; hy sê nie dat hy terugkom nie, maar dat hy hoop om na hulle terug te keer. Hy weet dat God se soewereiniteit kan verseker dat hy losgelaat word uit die gevangenis Daarom vra hy vir Filemon om te bid vir hom. Gebed is die uitdrukking van Paulus se vertroue in God se soewereiniteit.

 

Maar as ons dan so afhanklik van God is, is dit dan nodig dat ons self iets moet doen? ‘n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie (Spreuke 20:4); Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek (Prediker 10:18). Ja, ons moet op die soewereine wil van God vertrou. Hy werk in die alledaagse omstandighede van die lewe. Dit beteken egter nie dat ons nie ook ‘n verantwoordelikheid het nie.