Vergifnis en tyd saam spandeer

Vergifnis en tyd saam spandeer – Francois Malan

Christina vra:

Is dit reg in God se oë, om jou broer en suster te vergewe vir iets wat hulle gedoen het aan jou, maar omdat hulle nie in God glo nie, is dit reg dat ek nie tyd met hulle wil spandeer nie?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Om jou broer en suster te vergewe vir iets wat hulle gedoen het aan jou

Jesus het gesê elkeen moet sy broers (= medegelowiges) van harte vergewe (Mat 18:35). In Matteus 6:14-15 sê Hy: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander  mense nie vergewe nie, sal julle Vader ook nie julle oortredings vergewe nie.

Die rede waarom Christene moet vergewe, gee Paulus aan in Efesiërs 4:32: Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe. En in Kolossense 4:3:13: Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

 

maar omdat hulle nie in God glo nie…’

Is dit so dat hulle nie in God glo nie – het hulle dit vir jou gesê, of dink jy maar net so?

 

Indien hulle openlik bely dat hulle nie in God glo nie, het jy as kind van God, wat glo dat Jwasua Christus die Seun van God is wat mens geword het en vir jou sonde gesterf het, nog altyd die roeping om vir hulle te bid, dat die Heilige Gees in hulle sal werk om tot geloof te kom in die Here Jesus as hulle Verlosser en die Here van hulle lewe; en as daar vir jou ‘n geleentheid kom, jy ook met hulle sal praat oor die groot liefde van God vir die wêreld, dat Hy uit liefde sy enigste Seun gegee het om ons sondeskuld op Hom te neem, sodat ons vergewe kan word en ons die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16).

            Jakobus 4:16,19-20 sê: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. As een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaling terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.

            In Matteus 5:44-48 sê Jesus: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan verwag? Maak die tollenaars nie ook so nie? En as julle net julle broers (medegelowiges) groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader volmaak is (deur julle vyande lief te hê).

 

‘is dit okay dat ek nie tyd met hulle wil spandeer nie?’

Die vraag het eintlik twee kante. Enersyds het die Here vir jou ‘n broer en ‘n suster gegee vir wie jy eintlik verantwoordelik is, al is daar ‘n vraagteken oor hulle lewe of hulle God al leer ken het as die God wat sy liefde ook vir hulle aanbied, deurdat Hy die straf op al ons sondes klaar in ons plek gedra het. Dit is God se roeping vir elkeen van sy kinders om getuies te wees van sy liefde deur ons woorde en ons optrede.

            Maar as hulle optrede en hulle soort lewe vir jou ‘n bedreiging is van jou lewe of jou geloof in die Here Jesus, om jou weg te lei van die Here af om saam met hulle verkeerd begin te lewe, dan is dit seker reg dat jy nie tyd met hulle spandeer nie. Maar dan bly dit nog jou verantwoordelikheid om vir hulle te bid.   

            In Galasiërs 6:1-2 sê Paulus: Broers (mede-gelowiges), as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Vergifnis en die gemeente in Korinte (2)

If we choose a false way of worship we shall, ere long, choose to worship a false god. — C.H. Spurgeon

Vergifnis en die gemeente in Korinte (2)

Die gemeente in Korinte het Paulus seergemaak. Dit wil voorkom of daar ‘n besondere moeilikheidmaker was. In 2 Korintiers 2:5 – 11 skryf Paulus oor die vergifnis van die oortreder.

Paulus is hier ‘n voorbeeld vir ons oor hoe ons moet optree in gevalle waar ons seerkry of beledig word:

¨       Paulus neem die saak nie persoonlik op nie.  Die seerkry van sy eie persoonlike gevoelens is nie belangrik nie, maar wel die dissipline en eenheid in die gemeente. 

Sommige mense neem alles persoonlik op; kritiek, al is dit opbouend, word gesien as ‘n persoonlike belediging.  Kritiek en raad is meestal om ons te help.

¨       Paulus se doel met dissipline is regstelling – nie wraak nie.

¨       Paulus dring daarop aan dat straf nooit iemand moedeloos moet laat nie – dit dryf hom net in Satan se arms.  Straf moet aanmoedig, nie ontmoedig nie.

Die doel van dissipline in die kerk is om die gemeentelewe suiwer te hou en mense wat afdwaal die geleentheid te gee om berou te toon.  Die bose aanslag teen die kerk is ongenaakbaar, daarom probeer dit van kerklike tug iets ongenaakbaars te maak.  Dit het enersyds tot gevolg dat diegene wat die kerklike tug moet toepas, geestelik hoogmoedig word en andersyds dat dié wat getugtig word, verbitterd raak en soms selfs die kerk verlaat.  Ons moet altyd onthou dat ons so iemand deur dissipline na die gemeenskap van gelowiges wil terugbring.  Die doel is nooit om die persoon te vernietig nie.  Ons moetdaarteen waak dat ons nie onder die dekmantel vankerklike tug besig is om uiting te gee aan ons woede nie. 

Die twee groot probleme met kerklike tug is gewoonlik:

  • ØDat sonde te verdraagsaam deur die vingers gesien word; en
  • ØDat die sondaar te hardhandig  hanteer word.

 

 




Vergifnis en die gemeente in Korinte (1)

 “There are a thousand needs in the world, and none of them compares to the global need for the gospel.” – John Piper

 

Vergifnis en die gemeente in Korinte (1)

In die gemeente van Korinte was daar blykbaar ‘n moeilikheidmaker. In 2 Korintiërs 2:5 – 11 lees ons dat die gemeente hom vergeef het. Hieroor skryf Paulus: As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Wat my betref, as ek iets moes vergewe, het ek dit klaar gedoen om julle ontwil. Daarvan is Christus my getuie. 11Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed.

Paulus het die moeilikheidmaker reeds vergewe, net soos die gemeente dit reeds gedoen het.  Paulus wil nie die indruk wek dat dit om eie gewin is nie, maar beklemtoon dat dit ter wille van die gemeente is.  Christus is hiervan sy getuie.  Satan mag nie toegelaat word om enige voordeel te behaal uit die hartseergebeure wat in die gemeente rondom Paulus plaasgevind het nie.

 

Paulus se boodskap is duidelik: “Ek die slagoffer, het hom vergewe en julle kan dit ook doen.” As Paulus en die gemeente hom nie vergewe nie, mag die Satan die oorhand oor Paulus en die gemeente kry. Hulle sal die genadeweg versper.

Christus se vergifnis

Die krag om te vergewe kry Paulus in die teenwoordigheid van Christus. Christus keur dit goed en Hy bemagtig vir Paulus. As ons onwillig is om te vergewe, is dit ‘n bewys dat ons nie Christus se vergifnis ondervind het nie. In die Ons Vader gebed vra ons spesifiek dat God ons sondes sal vergewe soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. Jesus gaan nog verder: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. Mense wat vergewe is, vergewe – hierdie was so ‘n integrale deel van Jesus se onderrig dat Hy ‘n gelykenis daaroor vertel het: die gelykenis van die amptenaar wat nie vergewe het nie (Matteus 18:21 – 35). Hierdie gelykenis sluit Jesus af met hierdie woorde: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.

Toe John Wesley vir Generaal Oglehorpe te na gekom het, sê die generaal: “I never forgive.” Hierop antwoord Wesley: “Then, Sir, I hope you never sin.”

Deur ons harte op Christus te fokus wys Paulus op dié Een wat vergifnis van ons vereis, maar oop op Hom wat ons bemagtig om te vergewe. Ons is vrygestel om te vergewe. Vergewe ons ander sal ons sy genade in oorvloed ondervind.

Die Satan

Paulus eindig hierdie gedeelte oor vergifnis af met die harde werklikheid: ‘n hart wat nie vergewe nie is die hart waarin die Satan die oorhand gekry het. Ons moet dit nie toelaat nie: Ons ken sy planne maar alte goed. Die gemeente in Korinte kon op die rotse geloop het as hulle geweier het om die sondaar te vergewe – dit is ongehoorsaamheid aan God. Satan sou die wenner gewees het.

Gemeentes en mense is dieselfde – as daar mense is wat ons weier om te vergewe ten spyte daarvan dat hulle berou het, moet ons ernstig nadink oor ons geloof. Ware vergifnis is ‘n saak van gehoorsaamheid in alles. Ons kan dit doen.




Vergeef ons hierdie foute

Creation culminates in humanity where the spiritual and material world are joined together.” ~Herman Bavinck 

 Vergeef ons hierdie foute

John Newton, eienaar van ‘n slaweboot en latere Anglikaanse predikant, was ‘n goeie prediker, maar hy was veral bekend as herder en raadgewer. Sy pastorale briewe is ‘n skatkis. In een van hierdie briewe – Some Blemishes on Christian Character –  sê hy dat baie Christene daarin slaag om baie sondes te vermy, maar van werklike geestelike groei is daar maar min sprake.

 

Hy gee dan ‘n oortuigende en spesifieke voorbeeld van Christene wat fokus op hulle sterkpunte en niks aan hulle swakpunte doen nie. Hulle sien hierdie tekortkominge as slegs swakpunte. Dit lyk nie asof hulle enige uitgesproke opdrag in die Skrif oortree nie. Tog is hulle sondig, want hulle dra nie die vrug van die Gees wat gelowiges veronderstel is om te dra nie.

Hierdie klein “foutjies” in ‘n groot deel van die gelowige bevolking, beteken dat hierdie mense min invloed vir Christus by ander mense het. Ons foute lyk altyd klein vir onsself as gevolg van selfregverdiging, maar vir ander lyk hulle nie so klein nie. Newton het ‘n lys van hierdie “tekortkominge” opgestel.

Tim Keller  het hierdie lys uitgebrei, maar dit berus steeds grotendeels op Newton se oorspronklike lys. Newton het in elke geval ‘n humoristiese Latynse naam gebruik.

  • Austerus – ‘n soliede en gedissiplineerde Christen, maar krities, nie vrygewig en kwasterig. Hulle is temperamenteel, gee selde komplimente, prys nie sommer ander nie en is feitlik nooit nederig nie.
  • Infitialis – ‘n persoon met ‘n doelgerigte en versigtige karakter, maar  gewoonlik sinies, negatief,  pessimisties en altyd besig om ander te ontmoedig (dit sal nooit werk nie). Hulle ondersteun nie ander nie; hulle is nooit werklik gelukkig nie.
  • Pulsus – passievol, impulsief en ongeduldig; hulle deurdink nie dinge nie; hulle praat te gou; hulle kla gou en moet dikwels verskoning maak vir kras stellings.
  • Querulus – ‘n persoon met sterk oortuigings, maar luister swak. Hy argumenteer graag; leer nie graag nie; stadig om te erken dat hy verkeerd was.
  • Subjectio – ambisieuse persoon. Hy is dikwels geneig om die waarheid so effens te draai; bevorder homself; baie partydig; beskerm sy terrein
  • Potestas – kry dinge gedoen, maar hy moet in beheer wees; sukkel om mag te deel; wil alles graag self doen; baie suspisieus – vertrou nie ander nie.
  • Fragilis – vriendelik. Soek vriende, maar sy gevoelens word gou seergemaak; neem dikwels aanstoot; baie ontsteld deur ware of verbeelde kritiek van ander.
  • Curiosus – sosiaal, maar hy hou daarvan om negatiewe dinge van ander te weet. Hy skinder graag; dra vertroulike inligting oor; hou daarvan om ander te konfronteer.
  • Volatilis – Goedaardig en saggeaard. Hierdie persone help graag, maar hulle is onbetroubaar. Hulle is nooit betyds nie; kom nie beloftes na nie; hulle aanvaar te veel en doen daarom dikwels afskeepwerk.

Kyk om jou en jy sien hierdie eienskappe in baie mense om jou. Kyk na jouself: hoeveel van hierdie eienskappe sien jy nie in jouself nie? Heelwat.