Die Ons Vader-gebed: En vergeef ons ons oortredings (2)

It is impossible for a man to be freed from the habit of sin before he hates it –  Ignatius

If people really see that Christ’s righteousness has been given to them entirely as a gift, they’ll do whatever Hy wants – John Bunyan

 

Die Ons Vader-gebed:  En vergeef ons ons oortredings  (2)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree

Hier word iets van die mens verwag – die enigste verwysing na menslike aktiwiteit in hierdie gebed.

Die beginsel van wedersydse vergifnis as kernelement in hierdie gebed word beklemtoon deur wat net na die gebed volg: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie (Matteus 6:14 – 15). Hier is ‘n paar belangrike punte in hierdie frase:

  • God se vergifnis van ons is nie afhanklik van ons vergifnis van ander nie. Ons vergifnis van ander verdien nie die reg dat God ons moet vergewe nie. Ons onderhandel nie hier met God nie. Maar wat beteken dit dan? Die gelykenis van die ongenadige amptenaar (Matteus 18:23 – 35) help ons. Nadat hy deur die koning vergewe is,weier hy om ‘n ander te vergewe. Ons kan nie twee gesindhede handhaaf nie – een teenoor God en een teenoor mense nie.
  • Ons kan nie ons vergifnis met dié van God vergelyk nie. Ons skuldenaars is nie so afhanklik van ons vergifnis soos ons van God se vergifnis is nie. Ons vergifnis bepaal nie hulle lewens soos God se vergifnis van ons ons lewens bepaal nie. Ons vergifnis is maar ‘n dowwe skaduwee van God se vergifnis.
  • Die woord oortredings in sy oorspronklike beteken skuld. Letterlik beteken dit dat ons ons skuldenaars moet vergewe – ons kanselleer die skuld van diegene wat ons geld skuld. Ons kan hierdie gedeelte van die gebed nie net as godsdienstig sien nie, maar ook sosiaal en ekonomies.
  • Hier is nog ‘n werklikheid te sprake: die moontlikheid van ‘n oortreding waarvan die oortreder totaal onbewus was. Die Fariseër in Lukas 18:9 – 14 was oortuig dat hy onskuldig was – hy was ‘n sondaar sonder dat hy dit besef het. Hierdie gesindheid is moontlik in ons verhouding met God, maar ook met ander mense. Die mense in Matteus 25:31 – 46 wat nie vir die mense kos en water en klere gegee het nie omdat hulle hulle nooit bewustelik raakgesien het nie, word nie deur  Jesus vrygespreek nie, maar veroordeel. Hierdie mense sê dat hulle onskuldig is, want hulle het nie geweet nie. Hulle is skuldig, want hulle behoort te geweet het. Ons moet altyd bid dat God ons  bewus sal maak van ons skuld waarvan ons onbewus is.
  • Vergifnis lê die fondament vir verhoudings in ons samelewing. Dit geld vir beide ons vertikale en horisontale verhoudings. Vergifnis lei tot dieper verhoudings – dit bind ons dieper aan mekaar.  Vergifnis kry nooit klaar nie

 

Volgelinge van Jesus wat vir vergifnis bid word aanmekaar en aan die Vader gebind. Hulle is die kern van die nuwe gemeenskap wat wag op die voltooiing van God se koninkryk.

 

 




Die Ons Vader-gebed: En vergeef ons ons oortredings (1)

Spiritual disciplines can trim the roots of sin, but only the gospel pulls up the roots (John Owen)

Reading the Bible doesn’t create intimacy with God, but it does make room for it (Paul Miller).

 

Die Ons Vader-gebed:  En vergeef ons ons oortredings  (1)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

En vergeef ons ons oortredings

Net soos die mens materieel nie sonder brood kan leef nie, kan hy nie geestelik en sosiaal sonder vergifnis leef nie. Vergifnis was die hele doel van Jesus se bediening.

In Jesus se tyd was daar drie kategorieë sondaars:

  • Jode wat kon reken op God se genade en vergifnis;
  • Heidene – hulle kon wel na Israel se God kom, maar hulle hoop om gehoor en vergewe te word, was maar min; en
  • Jode wat soos heidene was – tollenaars, prostitute, ens – was verlore en kon nie op God se genade aanspraak maak nie.

Maar dit is juis diegene in die laaste twee kategorieë wat nou hierdie blye nuus van vergifnis gehoor het. Ons sien dit in Jesus se gelykenisse oor genade – die verlore seun/skaap/muntstuk, die Fariseër en die tollenaar en ander. Dit was beslis nie die norm onder die Jode destyds nie. Geen wonder Jesus word vir ‘n vraat en ‘n wynsuiper uitgekryt nie (Matteus 11:19). Kyk net wat doen Hy:

  • Hy roep ‘n tollenaar, Matteus, om ‘n dissipel van Hom te wees (Matteus (9:9);
  • Hy belowe die koninkryk van God aan heidene (Matteus 8:11 – 12);
  • Hy genees ‘n melaatse man en maak hom weer deel van die samelewing (Matteus 8:4).

 

Jesus bring ‘n nuwe idee na vore: God is primêr die God van sondaars; die Messias bevry ons van ons skuld en die las van ons gewetes. Diegene wat die Ons Vader-gebed bid besef dat hulle nie self hulle skuld kan betaal nie – hulle draai na God en vertel Hom van hulle probleem. Wat opvallend is, is dat daar baie mense is wat nie eers besef dat hulle skuldig was nie – dink maar net aan die Fariseërs en skrifgeleerdes. Hulle het geglo hulle is regverdig en daarom het hulle nie vergifnis nodig nie. Geen wonder dat die meerderheid van Jesus se gelykenisse  oor vergifnis en genade nie aan tollenaars en prostitute gerig is nie, maar aan diegene wat oortuig was dat hulle geestelik gesond was – diegene wat geglo het dat hulle nie ‘n dokter nodig gehad het nie (Markus 2:17).

 

Maar wat vra ons dat God moet vergewe? Die 1933 Bybel verwys na skulde;  die 1983 Bybel na oortredinge. Die oorspronklike woord beteken eintlik skuld van geld, maar dit ontwikkel mettertyd ‘n sekondêre betekenis: dit verwys na die persoon in sy totaliteit. Almal van ons skiet tekort – ons kan nie eers probeer om vir God terug te gee wat Hy vir ons gegee het nie. soos die ryk jongman glo sommige van ons dat wat God vir ons gegee het aan ons behoort. Vergeef ons ons oortredings impliseer basies dat ons verhouding met God herstel word.

 

 




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (12)

Worry, like a rocking chair, will give you something to do, but it won’t get you anywhere. —Vance Havner

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (12)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Vergifnis: Ek glo aan … die vergewing van sondes

 

Vergifnis maak vriendskap moontlik; dit laat vrede vyandskap oorwin. Die vergifnis van sonde volg logies op die gemeenskap van die heiliges, want vergifnis is die fondament vir ons lewens saam. Geen vergifnis nie, geen geloofsgemeenskap nie. Sonder vergifnis kry ons nie toegang tot die gemeenskap van heiliges nie.

 

Sonder God se vergifnis staan ons buite die gemeenskap van heiliges. Ons het almal vergifnis nodig: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). God het ons na sy beeld geskape en gesê dat dit goed was. Maar nou is ons so selfgesentreerd en trots – ons aanbid ons eie begeertes in plaas daarvan dat ons die lewende God aanbid. Selfs jong kindertjies het probleme. Geen ouer leer sy kind om te sê: Myne, nie – dit kom vanself.

 

Sonde bring skeiding tussen ons en God. Ons kan ons nie voor sy aangesig aanvaarbaar maak nie: nie deur ‘n stel reëls te onderhou nie, nie deur een of ander vorm van verborge wysheid nie, nie deur godsdiens te beoefen nie. Alle menslike pogings om God te bereik, is nutteloos. Ons het hulp nodig; God besef dit en daarom het Hy sy Seun gestuur. God in Christus het die straf wat ons verdien, weggeneem. Dis die vergifnis wat ons ontvang het – onverdiend.

 

Toe Jesus sy dissipels geleer het hoe om te bid, leer hy hulle onder andere: en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Matteus 6:12). Ons gewilligheid om vergifnis te aanvaar, impliseer ons gewilligheid om ander ook te vergewe. Petrus vra vir Jesus hoeveel keer hy sy broer wat teen hom gesondig het, moet vergewe. Hy maak ‘n voorstel: Selfs sewe keer? Dit klink vir hom redelik. Maar dan antwoord Jesus: Nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer (Matteus 18:22). Daarna vertel Jesus die verhaal van ‘n koning wat saam met sy amptenare sy boeke nagegaan het. Jesus eindig hierdie verhaal met die volgende woorde: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie (18:35).

 

Die mens is meer op vergelding as vergifnis ingestel. As ons nie vergewe nie, is die gevolge haat en vergelding. Ons het ‘n keuse: vergeef of nie vergeef nie. Vergeet is nie ‘n opsie nie, want ons pogings om te vergeet, is  futiel. Al wat ons doen, is dat ons ons pyn en seerkry onderdruk. Ons vergeef ook nie deur ontkenning of deur die blaam te verskuif nie. Vergifnis verberg nie die waarheid nie.

 

Vergifnis beteken ons kies doelbewus om nie te vergeld nie. Ons oordeel nie, want slegs Jesus kan oordeel Vergifnis is iets wat ek gee – mense kan my nie dwing om te vergeef nie. Dit is iets wat ons vrylik gee. Maar vergifnis vereis geloof. Ons moet glo dat God ons seer emosies sal genees.

 




Doen aan ander

Therefore, let us willingly remain hedged in by those boundaries within which God has been pleased to confine our persons, and, as it were, enclose our minds, so as to prevent them from losing themselves by wandering unrestrained – Calvyn

 

Doen aan ander

Kom ons kyk weer na een van Henri Nouwen se stukkies.

Paulus skryf aan die Romeine: Seën julle vervolgers … moet hulle nie vervloek nie … moenie self wraak neem nie … As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink … Moenie jou deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Romeine 12:14 – 21).

 

 Hierdie woorde sny in die kern van ons geestelike lewe in. Dit maak dit baie duidelik wat dit beteken om lewe en nie die dood te kies nie; om seëninge en nie vervloeking te kies nie. Maar wat hier van ons gevra word, gaan teen die grein van ons menslike natuur. Ons sal net kan reageer volgens Paulus se woorde as ons met ons hele wese weet dat dit wat ons gevra word om vir ander te doen, is dit wat God vir ons gedoen het.