Versoeking versus swaarkry en tragedie – Hermie van Zyl

Vraag:

‘n Leser vra:

 Hoe moet ons dit verstaan: “Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” (1 Korintiërs 10:13)? Sekerlik is iets soos ’n geliefde se selfdood of ’n verkragting nie ’n “versoeking” nie. Ek vind dit baie “hard” as iemand so ’n slagoffer probeer troos dat dit nie bo hulle kragte is nie. Wat is die verskil tussen versoeking, enersyds, en swaarkry of ’n tragedie wat ’n mens tref, andersyds?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Om die vraag te beantwoord van die verskil tussen versoeking en tragedie, en hoe 1 Korintiërs 10:13 as troos uit die Woord daarin ’n rol kan speel, moet ons eers tussen drie soorte situasies onderskei: Versoekings, beproewings en tragedies.

Tragedies is ’n gerieflike versamelterm om allerlei soorte gebeure te beskryf wat ons lewe uitmekaar kan ruk sonder dat ons die oorsaak daarvan is of enige beheer daaroor het, soos die skielike dood van ’n geliefde, ’n ongeluk wat ’n mens se lewe radikaal verander, ’n natuurramp wat jou besittings vernietig, ’n aanval (fisies of geestelik) wat jou lewe verwoes, vervolging, om jou werk te verloor, ensovoorts. So ’n gebeure laat ’n mens totaal ontredderd; jy weet nie hoe om dit te oorkom nie; jy’s platgeslaan, jy het nie raad met jouself nie, jy weet ook nie hoe om vir ander raad te gee nie.

’n Tragedie kan uit die aard van die saak ’n geweldige impak op ’n mens se geloofslewe hê. Byvoorbeeld, ’n aanval op jou lewe is ’n tragedie wat jou lewe kan verwoes, selfs al oorleef jy dit, maar dit kan terselfdertyd ook as ’n versoeking beleef word wat Satan gebruik om jou geloof, jou verbondenheid aan God, te ondermyn. Dit laat jou met vrae soos: Waar is God in dié situasie; het Hy my nie lief nie; as God almagtig is, hoekom het hy my nie beskerm nie? Wanneer sulke vrae ’n mens begin oorval, word ’n tragedie inderdaad ook ’n versoeking van Satan wat beveg moet word. Natuurlik is dit nie net tragedies wat versoekings inhou nie. Die alledaagse lewe is vol subtiele versoekings wat jou wil verlei om jou diensbaarheid aan God en jou medemens te versaak. Byvoorbeeld, jou swakheid is miskien geld; iets dryf jou om so gou as moontlik ryk te word. En kort voor lank raak jy betrokke by transaksies en gewetenlose mense wat jou lewe begin beheer en weglok van ’n lewe van diens aan God, en jou selfs in die tronk kan laat beland. Punt is, Satan, en ’n mens se eie sondige begeertes, is die bron van versoekings.

Die keersy van versoeking is beproewing. Dieselfde gebeure waarby Satan aanknoop om ons te verlei en te versoek, gebruik God weer as beproewing. Verstaan mooi, God is nie die oorsaak van versoekings nie, want God versoek/verlei niemand nie (Jak 1:13). Hy wil nie hê die gelowige moet faal in die geloof nie, maar juis sterker word. Van God se kant gesien kan Hy dieselfde gebeure wat Satan gebruik om jou te verlei, of waardeur jy deur jou eie sondige begeertes verlei word, gebruik om jou geloof te toets en te versterk. Neem Jesus se versoekings in die woestyn (Matt 4:1-11). Die Satan gebruik ’n hele paar scenario’s om Jesus te verlei en te laat afsien van die gehoorsame weg wat sy Vader vir Hom beplan. Maar God gebruik daardie selfde scenario’s om Jesus aan sy taak en roeping te bind, om Hom aan ons voor te hou as die ware Seun van God wat nie swig voor versoekings nie maar onvoorwaardelik gehoorsaam is aan die wil van sy Vader.

Om saam te vat: tragedie, versoeking en beproewing is dikwels verweef met mekaar. Gebeure kan dus as tragedies, versoekings of beproewings beskryf word, afhangende van hoe ons dit beleef en hanteer. Soms sal mens dit as ’n versoeking sien (omdat dit appelleer op ons sondige begeertes), ander keer sal mens dit eerder as ’n beproewing beleef, omdat ons ervaar dat God ons geloof daardeur wil versterk. Nog ander kere is ons gewoon net reddeloos omdat die gebeure groter is as enigiets wat ons kan baasraak. Maar hoe ons dit ook al beleef, God is groter as die gebeure en groter as ons hart. Soos Psalm 34:17 sê: “Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy.” Hy is in staat om ons te bewaar van afval, van geloofsversaking of van totale ondergang. Hy is meer as ons omstandighede en dra ons daardeur. Inderdaad, Hy laat nie toe dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Kor 10:13).

Met hierdie vlugtige oorsig oor gebeure as tragedie, versoeking of beproewing, kan ons nou beweeg na die vraag waar 1 Korintiërs 10:13 in die hele prentjie pas. Is dit ’n goeie teks om mense mee te troos in tragedies?

Ten einde hierdie vraag te beantwoord, sal dit die moeite loon om die groter argument waar 1 Korintiërs 10:13 ingebed lê, van naderby te bekyk. Hierdie teks is deel van die argument wat begin in 1 Korintiërs 8 en eers aan die einde van hoofstuk 10 sy afloop het. Paulus handel hier oor die sogenaamde offervleiskwessie. Waaroor het dit gegaan?

Die stad Korinte, in Griekeland, was ’n volslae heidense omgewing waar daar baie tempels vir afgode gebou is. So was daar die tempel van Afrodite, die godin van liefde en vrugbaarheid, wat ook die beskermgodin van Korinte was. Dié tempel is in 146 vC verwoes, maar is later herbou sodat dit steeds ’n groot aantrekkingskrag was in Paulus se tyd. Maar daar was ook baie ander afgodstempels in die eerste eeu nC in Korinte. Van tyd tot tyd is daar feeste in die tempels aangebied, waar offers aan die afgode gebring is. Die vleis van hierdie offers is dan in die tempel en op die markplein vir die gewone bevolking beskikbaar gestel, waarvan almal vrylik gebruik gemaak het omdat vleis skaars en duur was.

Nou het daar ’n dispuut ontstaan in die Christelike gemeenskap van Korinte oor die offervleis – of dit Christene veroorloof is om van dié vleis te eet. Die sogenaamde swakkes het gewetensbesware daaroor gehad. Volgens hulle het mens so deel gekry aan die aanbidding van die afgod, aangesien die vleis spesifiek aan die afgod gewy is. Ander, die sogenaamde sterkes, het weer geroem op hulle kennis – dat daar in elk geval nie so iets soos gode bestaan nie; dit maak dus geen verskil of jy van die vleis eet wat aan sogenaamde gode geoffer is nie. Vleis is vleis, het hulle gesê; ’n mens is vry om te eet wat jy wil, ongeag wie dit voorberei het en aan wie dit gewy is. Paulus stem basies saam met die sterkes se siening, maar waarsku ook dat mens jou “swakker” medegelowiges in ag moet neem. As jy weet dat hulle deur jou sogenaamde kennis en optrede tot ’n val kan kom, dan moet jy jou vryheid so gebruik dat dit nie vir jou medegelowiges tot struikeling is nie. Paulus staan op die beginsel van die liefde: ja, kennis is goed, maar jy moet jou kennis in liefde hanteer. (Vir hierdie hele beredenering, kyk 1 Kor 8.)

In 1 Korintiërs 9 voer Paulus die saak van die verantwoordelike omgang met persoonlike vryheid verder, en illustreer dit aan die hand van sy eie situasie. As apostel het hy die reg en vryheid gehad om gawes van die gemeente vir sy daaglikse onderhoud te ontvang, maar hy het verkies om nie van hierdie vryheid gebruik te maak nie; hy het as tentmaker eerder vir homself gesorg. Hy het niks van die gemeente gevra of ontvang nie. In sy eie lewe demonstreer hy dus aan die gemeente dat die vryheid om iets te doen, nie alles is nie. Vryheid is altyd onderhewig aan ’n hoër gebod, die gebod van die liefde, wat nie daarop uit is om jouself te laat geld nie, maar eerder die ander se voordeel soek sodat die saak van God se koninkryk gedien kan word (1 Kor 9:12,18-23).

In 1 Korintiërs 10 keer Paulus terug na die offervleiskwessie. Maar nou wys hy op die gevare van die sterkes se standpunt, naamlik dat mens so “sterk” kan staan dat jy tot ’n val kom. Hy illustreer hierdie siening aan die hand van Israel se geskiedenis. Tydens die uittog uit Egipte het almal gedeel in die vryheid wat God vir hulle bewerk het, maar tog het die meeste van hulle in die woestyn omgekom weens hulle sondige begeertes en gevolglike afdwaling. Hulle het die goue kalf aanbid, waardeur hulle voorgegee het dat hulle die lewende God aanbid, en hulleself oorgegee aan uitspattighede, en uiteindelik omgekom (10:6-7). Ander het weer onsedelikheid bedryf en ook omgekom (10:8); nog ander het teen God in opstand gekom en het ook gesterf (10:9-10). En dan sluit Paulus hierdie argument af deur te sê dat dit alles vir die Korintiese gemeente tot voorbeeld is om nie jou vryheid so te misbruik dat jy in afgodediens, onsedelikheid en opstand verval nie, want die uiteinde daarvan is die dood. Dit is ’n baie duidelike waarskuwing aan die adres van veral die sterkes in Korinte, dat hulle nie moet dink dat hulle sogenaamde kennis dat afgode niks is en dat hulle maar van dié offervleis kan eet, heeltemal so onskuldig is nie. Hoewel dit nie noodwendig so hoef te verloop nie, kan dit gebeur dat mens in die versoeking kom om aan die afgodediens deel te neem en so jou geloof verloor. Daarom, sê Paulus, hy wat meen dat hy (sterk) staan, moet oppas dat hy nie val nie (10:12).

En dan volg 10:13, waaroor dit eintlik hier gaan. Die versoekings waarvan hier sprake is, is duidelik ’n terugverwysing na die versoekings wat die Israeliete in die woestyn ervaar het, maar ook na wat die Korintiërs in hulle eie konteks beleef het, naamlik om van God afvallig te word. Maar dan sê Paulus dat dit niks meer is as ’n menslike versoeking nie, met ander woorde, dis nie bo ’n mens se vuurmaakplek om te weerstaan nie. Verder, hy gee ook die troos dat God nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie; Hy gee saam met die versoeking ook die uitkoms. Hiermee word nie beweer dat dit God is wat die versoekings oor ons pad bring nie. Nee, Jakobus 1:13 sê duidelik dat ’n mens nie versoekings voor God se deur moet lê nie; God kan nie verlei word nie en self verlei Hy niemand nie. Wat 1 Korintiërs 10:13 wel sê is dat ’n mens hierdie versoekings nie hoef te vrees of daarvoor hoef in te gee nie; jy kan dit weerstaan. Jy hoef nie jou geloof te verloor nie, want God weet dat ons swak is en daarom laat Hy nie toe dat ons bo ons vermoë versoek word nie.

So verstaan handel 1 Korintiërs 10:13 inderdaad nie primêr oor die tragedies van die lewe (in die tegniese sin van die woord, soos aan die begin beskryf) wat ’n mens kan oorval nie, maar spesifiek oor die soort gebeure wat dreig om jou te laat struikel in die geloof, maar wat jy in staat is om met God se krag te weerstaan. Mens hoef nie bang te wees dat die versoekings so erg sal wees dat jy dit nie kan hanteer nie. God is getrou, Hy sal uitkoms gee. Maar jy moet ook weet dat jy jouself nie onnodig in gevaar mag stel deur aan bedenklike praktyke deel te neem waar die kans dat jy afvallig sal word, groot is nie. En dis presies waar die gevaar van die deelname aan die afgodsoffervleis lê. Mens dink dat jy sterk staan met die kennis wat jy oor dié saak het, maar kort voor lank word jy daarin vasgevang (10:14). Mens mag immers nie deel hê aan die tafel van die Here (nagmaal) én aan die tafel van die bose nie (afgodsoffervleis) (10:21). Dus, enersyds, moenie beangs wees oor die lewe nie; geniet alles wat aan jou voorgesit word sonder om onnodig navraag te doen (10:25-27), maar neem ook die ander – veral die swakke – se gewete in ag waar dit ter sake is (10:28-29). Die sterkes se slagspreuk was: “Alles is geoorloof” (10:23), maar Paulus sê: “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God” (10:31).

Indien mens bostaande uitleg aanvaar, kan mens die afleiding maak dat 1 Korintiërs 10:13 nie die mees geskikte teks is om aan mense voor te hou wat deur ’n tragedie getref is wat niks met versoekings te make het nie, soos wanneer ’n mens slegte nuus ontvang omtrent dood, siekte of ’n ramp. Maar dis op hierdie punt dat ons opmerkings aan die begin oor die verband tussen tragedies, versoekings en beproewings weer ter sprake kom. Want dit gaan hier spesifiek oor die woord “versoeking” in 1 Korintiërs 10:13. Die onderliggende Griekse woord is peirasmos, wat, afhangende van die konteks, óf met versoeking óf met beproewing vertaal kan word. (Kyk aan die einde vir verdere toeligting oor peirasmos.) Vroeër het ek verduidelik dat versoeking en beproewing eintlik net twee kante van dieselfde muntstuk is. Dieselfde gebeure wat deur die Satan gebruik word om ons te versoek sodat ons afvallig raak, word deur God gebruik om ons te toets, om ons geloof te versterk. (Vergelyk die voorbeeld wat ek genoem het van Jesus se versoekings in die woestyn.) Daarom sukkel vertalers om peirasmos hier in 1 Korintiërs 10:13 kontekstueel toepaslik te vertaal. So vind ons dat sommige Bybelvertalings peirasmos hier wel met “versoeking” (Engels: temptation) vertaal, maar ander met “beproewing” (Engels: testing of trial), byvoorbeeld: die New Revised Standard Version (“No testing has overtaken you that is not common to everyone. God … wil not let you be tested beyond your strength …”). En so ook Today’s English Version, New English Translation, New English Bible, Revised English Bible, en Die Bybel vir Almal (“Daar gebeur dinge wat vir julle toets …”). Hieruit lei mens af dat vertalers dit nie heeltemal eens is hoe om 1 Korintiërs 10:13 in sy huidige konteks te verstaan nie. Was die gebeure wat Israel in hulle woestyntog en die Korintiërs in die konteks van afgodsoffervleis beleef het, vir hulle versoekings of beproewings, of beide? Dalk moet ons dit so verstaan dat die gebeure wat hier ter sprake is inderdaad versoekings is, met ander woorde, die Satan wou hulle daardeur verlei tot afvalligheid. Maar terselfdertyd was God besig om hulle te toets, te beproef, sodat hulle kon groei in hulle geloof. Die keuse is nie so maklik nie; dalk moet mens nie ’n keuse maak nie maar beide as verstaansopsies aanvaar.

Hoe ook al, die vraag is of 1 Korintiërs 10:13 na alles nie tog ’n goeie teks is om te gebruik as troos en bemoediging nie, selfs in die geval van tragedies. Kan God nie ook tragedies gebruik om ons te beproef, ons vaster aan Hom te bind nie? Weer eens, God is nie die oorsaak van tragedies nie, maar God is ook nie afwesig nie; Hy is ín en mét daardie tragedie bý ons. Ja, ons kan die tragedie beleef as ’n ernstige versoeking, maar ook as ’n manier waardeur God ons toets en beproef. Persoonlik sou ek, gegewe die konteks van 1 Korintiërs 10:13, soos bo verduidelik, eerder verkies om ander tekste as troos en bemoediging te gebruik in die geval van tragedies, byvoorbeeld Romeine 8:35-39 – dat niks ons kan skei van die liefde van Christus nie. Romeine 8:28 is ook goed van toepassing: Ons ly almal onder die onvolmaaktheid van die skepping waarin in soms vasgevang word en wat lyding veroorsaak, lyding wat ons laat verlang na die uiteindelike heerlikheid wat God sal bewerk (Rom 8:18-19). Dan mag ons getroos word met die wete dat selfs te midde van hierdie lyding God in beheer is, in so ’n mate dat Hy selfs uit lyding die goeie te voorskyn kan bring (8:28). Maar ’n mens kan myns insiens 1 Korintiërs 10:13 nie totaal uitrangeer as teks van vertroosting en bemoediging ook in tragedies nie, veral nie waar ’n tragedie dreig om iemand se geloof te ondergrawe nie.

 

Verdere toeligting: peirasmos se gebruik in die Nuwe Testament

Benewens 1 Korintiërs 10:13 is daar is ander gevalle in die Nuwe Testament waar peirasmos ook met “beproewing”, en nie “versoeking” nie, vertaal word, byvoorbeeld 1 Petrus 4:12: “Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer ’n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie” (Direkte Afrikaanse Vertaling [DAV], 2020). (Die 1983-Afrikaanse Vertaling vertaal hier met “vuurproef”, waarin ook die gedagte van beproewing opgesluit lê.) Kyk ook 1 Petrus 1:6: “Jubel hieroor (die uiteindelike redding, HvZ), al moes julle onlangs vir ’n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.” So ook 2 Petrus 2:9: “Die Here weet om dié wat Hom dien, uit beproewing te red …” (Maar interessant: Die DAV 2020 vertaal hier met versoeking, wat weer eens illustreer hoe vertalers soms sukkel om die regte kontekstuele vertalingswoord vir peirasmos te vind.) Die konteks van bogenoemde tekste in die Petrusbriewe is een van lyding as gevolg van sosiale verstoting en vervolging waaraan die Christene van die destydse Klein-Asië onderwerp is. Hier gaan dit nie oor situasies wat die gelowiges oor hulleself bring vanweë hulle sondige begeertes nie, maar situasies waarin hulle hulle bevind waar die egtheid van hulle geloof getoets word. Maar natuurlik kan dit beteken dat dieselfde situasie ook as ’n versoeking dien wat hulle afvallig van God wil maak. En dit is wat Satan begeer en graag wil doen. Die punt is: Dieselfde situasie kan van twee kante bekyk word: Van God se kant, dan is dit ’n beproewing, want God versoek/verlei niemand nie (Jak 1:13). Hy wil nie hê die gelowige moet faal in die geloof nie, maar juis sterker word. Indien mens dit egter van die Satan se kant bekyk, is dit ’n versoeking, want hy wil hê die mens in daardie situasie moet van God afvallig word.

Dus, wat hier in die woord peirasmos opgesluit lê, is wat so dikwels in die werklike lewe van Christene gebeur. Daar kom soms gebeure op ons pad, soos lyding, tragedies, wat op twee maniere hanteer kan word: as ’n versoeking deur Satan wat ons tot ’n val wil bring, of as ’n beproewing deur God wat ons sterker wil maak. Dit is ons keuse hoe ons dit gaan hanteer. Dit het ook baie met ons belewing te doen. Wanneer ons dit beleef as ’n aanval van Satan, dan is dit inderdaad ’n versoeking wat ons so moet hanteer dat ons nie daardeur tot ’n val gebring word nie. In so ’n geval kan ons inderdaad deur 1 Korintiërs 10:13 vertroos word, dat God getrou is en nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Saam met die versoeking sal Hy ook die uitkoms gee. Maar ons kan dieselfde gebeure ook as ’n beproewing beleef, dat God ons daardeur as sterker gelowiges uit die stryd wil laat tree. Dan kan ons ook op sy krag staatmaak om ons daardeur te dra. En eweneens kan 1 Korintiërs 10:13 gebruik word as bemoediging en versterking.

Die gedagte van beproewing hang egter nie net saam met die woord peirasmos nie, maar ook met die woord dokimadzein (om te toets) wat dikwels in die Nuwe Testament gebruik word om God se handelinge met gelowiges uit te druk. Net soos wat vuur gebruik word om die suiwer goud uit die rou gouderts te ontgin, so gebruik God soms ook traumatiese gebeure om ons te louter en te suiwer, om die egtheid van ons geloof te toets. Hierdie gedagte lê 1 Petrus 1:6-7 ten grondslag (reeds hierbo aangehaal). Beide peirasmos en dokimadzein kom hier voor: Ons word soms deur allerhande beproewings (peirasmoi [mv]) bedroef gemaak sodat die egtheid van ons geloof met vuur getoets (dokimadzein) kan word. Dis dieselfde gebeure – vervolging, wat tot groot trouma kan lei – wat deur die Satan gebruik word om ons te laat struikel en val, maar deur God gebruik word om ons sterker te maak, te louter en te suiwer.

Skrywer : Prof Hermie van Zyl




Satan probeer God se woord ondermyn

“The revelation in Christ is not completed with the Life, Death and Resurrection of Jesus: it only attains its goal when it becomes actually manifest; that is, when a man or woman knows Jesus to be the Christ.” – Emil Brunner

Satan probeer God se woord ondermyn

Satan kom na Jesus nadat Hy veertig dae en veertig nagte niks geëet het nie. Jesus was honger. Dan kom Satan met die versoeking: As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word (Matteus 4:3). Weereens, soos met Eva, kry ons hier ‘n subtiele suggestie: As … “As jy dan die Seun van God is, hoekom gaan jy dan van die honger dood in die woestyn? Jy het tog die krag om iets omtrent jou honger te doen.”  Onthou Jesus se versoeking vind net na sy doop plaas. By sy doop het God uit die hemel gesê: Dit is my geliefde Seun (Matteus 3:17). Hier bevestig die Vader in die openbaar dat Jesus sy Seun is, maar die Satan sê: As…  Satan daag dus vir God uit – wat God gesê het, is nie waar nie.

Hoe reageer Jesus op hierdie versoeking van Satan? Hy  haal God se woord aan, want vir Hom is gehoorsaamheid aan die woord van God belangriker as sy honger.

Toe neem Satan vir Jesus na Jerusalem – hulle staan op  die hoogste punt van die tempel.  As U die Seun van God is, spring af! Daar staan moes geskrywe: “ Hy sal sy engele oor jou opdrag gee” en “Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.” (Matteus 4:6). Satan haal hier die Skrif aan. As Jesus glo, kan Hy maar van die tempel afspring, want niks sal gebeur nie. Jesus antwoord deur weer uit die Skrif aan te haal: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. Jesus weet dat die engele oor Hom die wag hou – Hy het nie fisiese bewys daarvan nodig nie.

Laastens neem die Satan vir Jesus na ‘n baie hoë berg en wys vir Hom al die koninkryke van die wêreld: Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.  Satan maak asof die prys maar klein is – aanbid my net. Weereens antwoord Jesus die Satan met ‘n aanhaling uit die Skrif.

Drie keer val Satan aan; drie keer is sy aanval op die geloofwaardigheid van God se woord gerig. Hy gebruik selfs die woorde van die Skrif self. Satan probeer Jesus versoek om die geloofwaardigheid van God se woord te betwyfel. Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Hierdie was egter nie die einde van Satan nie. Dwarsdeur sy lewe het die Satan vir Jesus aangeval. Hierdie versoeking het soms van sy beste vriende gekom. Toe Jesus die eerste keer sy dood aankondig sê Petrus: Dit sal beslis nie met U gebeur nie (Matteus 16:22). Jesus draai na Petrus en antwoord hom: Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.

Jesus bly gehoorsaam ten spyte van versoekings. Jesus het in die waarheid van God se woord vertrou. Al drie Jesus se reaksies op Satan se versoekings is aanhalings uit Deuteronomium 6 – 8. Hierdie hoofstukke waarsku Israel om nie God te vergeet soos die vorige geslag gedoen het nie. Ons kan ook bemoedig word, want Jesus het belowe dat ons nooit so versoek sal word dat ons dit nie kan hanteer nie.




Die Versoeking van Jesus in die woestyn

 

“The witness of the Spirit is not the whole work of the Spirit. The Holy Spirit is not only the One who witnesses and speaks, He is also the God who pours out vitality and creates new life.” – Emil Brunner

Die Versoeking van Jesus in die woestyn

By sy doop ontvang Jesus die Heilige Gees – Hy word vir sy bediening gesalf. Wat is die eerste ding waartoe die Heilige Gees vir Jesus roep? Nie om te preek of te genees of om dissipels te roep nie. Nee, die Heilige Gees lei vir Jesus in die woestyn in sodat die Satan Hom kan versoek.

In die Nuwe Testament word Jesus geroep om die nuwe Adam te wees – Hy moes regkry wat die eerste Adam nie kon regkry nie. Die grootste mislukking van die eerste Adam was dat hy aan versoeking toegegee het. Paulus vergelyk dan hierdie einste Adam wat nie die versoeking kon weerstaan nie met die nuwe Adam, Jesus Christus, wat die versoeking weerstaan het (Romeine 5:12 – 21).

 

Daar is verskille tussen die versoeking van Adam en dié van Jesus:

  • Adam is in die tuin van Eden versoek terwyl Jesus in die woestyn versoek is.
  • Adam is in die teenwoordigheid van sy vrou versoek terwyl Jesus in absolute eensaamheid in die woestyn versoek is.
  • Adam is versoek in ‘n tuin met allerhande vrugte, terwyl Jesus in die woestyn nadat Hy veertig dae en nagte gevas het, versoek is.

Daar is ook ooreenkomste tussen Adam en Jesus se versoekings:

  • Satan se versoeking is baie subtiel. Hy vra wat na ‘n baie eenvoudige vraag lyk: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie (Genesis 3). Natuurlik is dit nie waar nie en Eva help hom reg – hulle mag van al die bome in die tuin eet, behalwe van die boom in die middel van die tuin. Wat die Satan doen, is dat hy vir Eva op die beperking laat fokus en nie op die vryheid nie. Hy gee voor Adam en Eva is nie outonoom nie – hulle is nie vry om te kies nie. Eers daarna kom Satan met ‘n direkte teenstelling van wat God gesê het: Julle sal beslis nie sterf nie. Nou is hy nie meer subtiel nie, maar direk.
  • Satan se aanvalspunt is altyd dieselfde: die woord van God is nie geloofwaardig nie.

 Na hierdie laaste punt kyk ons volgende keer.




Oorwin versoeking (4)

It is your duty to believe and to teach what the Bible teaches, not what you want it to teach. —R.C. Sproul

 

Oorwin versoeking  (4)

Ons het reeds na twee bronne van versoeking gekyk: ons natuur en die duiwel. Vandag kyk ons na die laaste bron.

  • Die wêreld

Die woord wêreld word op verskillende maniere in die Bybel gebruik:

  • Die fisiese wêreld wat God gemaak het.
  • Die wêreld van die mens: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie (Johannes 3:16).
  • Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:2). Dit beteken die wêreld kan ook beteken ‘n plek wie se sienings en waardes teenstrydig met dié van God is.

 

Die wêreld is ‘n manier van lewe wat die wil van God teenstaan. Die wêreld versoek ons deur keuses voor ons te lê asof wêreld se opsies beter is as God se wil vir ons lewens. Ons wil nie aan God die heerlikheid gee wat Hom toekom nie.

 

Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Korintiërs 10:13).

 

Ons kan versoeking weerstaan, maar nie in ons eie krag nie. Bid daarom dat die Here ons die nodige krag sal gee om die versoeking te weerstaan.