Oorwin versoeking (3)

 

Sooner could a fish live upon a tree than the wicked in Paradise. —C.H. Spurgeon

 

Oorwin versoeking  (3)

Ons het gesê dat daar drie bronne van versoeking is: ons natuur, die duiwel en die wêreld. Ons kyk vandag na die tweede bron van versoeking.

 

  • Die duiwel

You can’t stop the birds from flying over your head. But only let them fly. Don’t let them nest in your hair – Matin Luther

Ons moet altyd onthou dat Jesus Christus self versoek is. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan die versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie (Hebreërs 4:15).

Ons moet versigtig wees om te sê dat God ons versoek het: God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie (Jakobus 1:13). God toets ons wel. So sien ons dat Hy Abraham getoets het toe Hy hom beveel om vir Isak te offer. Maar God se toetsing is ontwerp om ons nader aan God te bring.

 

Hoe kan ons versoeking oorwin? Ons moet by Jesus leer. Die duiwel beteken die lasteraar – hy laster en verdraai die waarheid van God. Satan beteken teenstander – hy staan teen die saak van God en sy kinders. Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen (Johannes 8:44).

 

God het aan die duiwel die vryheid gegee om die wêreld te beïnvloed. Die duiwel se invloed word eers by die finale oordeel beëindig. Sonde kry ‘n vastrapplek in ons lewens as ons die vals toekoms wat hy voorspel, aanvaar.

 

In Matteus 4 lees ons van Jesus se versoeking in die woestyn. Die eerste versoeking gaan oor kos: verander die klippe in brood. Hierdie was ‘n wettige behoefte – vir 40 dae het Jesus niks geëet nie.  Dit was egter ‘n onwettige manier om in sy behoeftes te voorsien – om sy mag te gebruik om klippe in brood te verander. Jesus gebruik slegs sy mag as Hy deur die Vader gelei word om dit te doen. Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het (Johannes 5:30). Satan probeer dus vir Jesus te verlei deur ‘n wettige behoefte op ‘n onwettige manier te hanteer. Jesus haal die Skrif aan: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom. Brood bring slegs tydelike verligting van honger, maar God se Woord is voedsel wat vir ewig hou.

 

Die tweede versoeking is om van die hoogste punt van die tempel af te spring. In hierdie geval haal Satan self die Skrif aan – Psalm 91:11 – 12. Hy doen dit egter buite konteks. Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:13 – 14). Die Bybel kan maklik verdraai word. Die Satan versoek Jesus om God te toets. Die sterkste wapen hierteen is God se woord  wat ‘n beter toekoms aan ons belowe.

 

Die derde versoeking was dat Jesus al die koninkryke kon kry as Hy net die duiwel aanbid. Die duiwel probeer hier die tydelike aan Jesus verkoop in plaas van die ewige – die kroon sonder die kruis. Die duiwel wil hê dat Jesus aan God se goedheid moet twyfel.

 

Volgende keer kyk ons na die laaste versoeking – die wêreld.




Oorwin versoeking (2)

Enemy-occupied territory–that is what this world is. Christianity is the story of how the rightful king has landed, you might say landed in disguise, and is calling us to take part in a great campaign of sabotage. —C.S. Lewis, Mere Christianity

 

Oorwin versoeking  (2)

 Beteken dit nou dat ons nooit weer enige innerlike begeertes sal ondervind wat teen die wil van God is nie? Ons is nuwe mense met nuwe verlangens en begeertes; ons is nuwe skeppings van Jesus Christus; die Heilige Gees is ‘n dominante faktor in ons;  ons het ‘n nuwe identiteit. Die natuur het sy beherende mag verloor, maar hy sal jou steeds versoek. Christene ondervind steeds dieselfde begeertes, maar veg daarteen in die krag van die Heilige Gees.

 

 

Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie (Galasiërs 5:16 – 17).

Ons kan ons sondige begeertes deur die Heilige Gees oorwin, maar dan moet ons toelaat dat ons deur die Heilige Gees beheer word. As ons optree volgens die raad, leiding en bemagtiging van die Heilige Gees, kan ons ons sondige begeertes weerstaan. Versoeking sal daar wees, en dit is nie sonde nie, maar om aan die versoeking toe te gee, is sonde. As ons Romeine 7:15 – 20 lees, sien ons dat Paulus ook met versoeking gesukkel het. Dit is deel van die Christen se pad na heiligmaking. Dit verseker dat daar geen trots by ons is nie.

 

Galasiërs 5:16 sê dat ons lewe deur die Heilige Gees beheer moet word. Hoe doen ons dit?

  • Ons moet besef dat ons hulpeloos is om ons natuurlike begeertes te oorwin, tensy die Heilige Gees ons bemagtig.
  • Ons moet verstaan waarom dit so belangrik is dat ons ‘n nuwe identiteit moet kry. Ons identiteit beïnvloed ons gedrag, gesindheid en emosies.
  • Ons moet aktief die genade wat God ons gee om geestelik te groei, van God aanvaar. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal (1 Timoteus 6:12).
  • Ons moet die Woord van God lees, daaroor nadink. Die Heilige Gees gebruik die Woord om ons geloof te versterk.
  • Gebed help ons om ons sondige begeertes te oorwin en nuwe begeertes te kweek.
  • Ons moet ons geloof uitleef deur diens. Dit beteken dat ons God se beloftes moet glo.
  • Wees deel van die geloofsgemeenskap waar ons bymekaar kom, die Woord hoor en mekaar versterk.

 

Volgende keer gaan ons na die volgende bron van versoeking kyk: die duiwel.




Oorwin versoeking (1)

What is laid down, ordered, factual is never enough to embrace the whole truth: life always spills over the rim of every cup. –Boris Pasternak, digter en skrywer (1890-1960)

 

Oorwin versoeking  (1)

Versoeking belowe  vir ons meer plesier en vervulling as wat ons kan kry as ons God se wil sou volg. Versoeking lyk belowend, want die uiteindelike negatiewe gevolge van sonde word weggesteek. In die Bybel is daar veral drie vyande wat ons van God wegtrek: ons natuur, die duiwel en die wêreld.

 

  • Ons natuur

Ons natuur is die vyand in ons – dit genereer begeertes wat teenstrydig met God se wil vir ons lewens is. Ons natuur is die impuls in ons wat God en sy wil vir ons teenstaan.

Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10). Waar kom dit vandaan: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Romeine 5:12). Hierdie een mens is Adam. Ons is dus van nature sondig: So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het (Efesiërs 2:3). Jy hoef nie ‘n kind te leer om ongehoorsaam of selfsugtig te wees nie.

 

Ons sondige natuur is ons sondige begeertes. Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies …  (Galasiërs 5:19 – 20). Maar dan praat die Bybel van ‘n ou en nuwe mens: Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle (Romeine 8:8 – 9). Omdat die Heilige Gees in ons woon, het ons nuwe krag, maar ook ‘n nuwe natuur. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig (Galasiërs 5:24).

 

Volgende keer gaan ons kyk na ons voortgaande stryd teen versoeking




Versoeking: Is ons beskerm?

What is to give light must endure burning. -Viktor Frankl, skrywer, neuroloog en psigiater (1905-1997)

Versoeking: Is ons beskerm?

Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte  versoek word nie; as versoeking kom, sal Hy die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Korintiërs 10:13)

 

In Lukas 22:31 – 32 lees ons: “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Dink aan Petrus. Hy sit naby Jesus; Jesus draai na hom en kyk hom in die oë; Jesus roep hom op sy naam; Jesus sê vir hom dat die Satan hom uit God se sorg en beskerming wil neem. As Jesus Christus so iets vir enigeen van ons sou sê, sou ons baie bekommerd wees.

Petrus was so belangrik dat Satan self hom wou kry. Miskien het Jesus vir hom gesê: “Die Satan is agter jou. Maar Ek het vir jou goeie nuus – ek het vir jou gebid.”  Wat moet ons doen as die Satan aan ons deur klop? Ons moet sê: “Here, sal U omgee om dit te hanteer, asseblief?” Ons kan nie op ons eie  teen die Satan staande bly nie. Maar ons het ‘n baie sterk bondgenoot. Satan is en bly ‘n geskape wese en beslis nie so sterk soos God wat nog altyd daar was nie. Maar ons moenie met die Satan sukkel nie; ons wil agter God, ons Beskermer, staan.

Ten spyte van die Satan se mag en bose agenda, moet hy eers toestemming vra voor hy een van God se kinders aanval, want God het ‘n muur van beskerming om ons geplaas. Dit moet ons altyd onthou.