Seksbuite die huwelik – Jan van der Watt

Vraag:

My Mams is 15 maande gelede oorlede aan borskanker (haar 3de stryd met kanker).
Ek is self nog in remissie van borskanker. My pa het ‘n vrou in April ontmoet. Hulle het in Julie saam met vriende op vakansie gegaan. Na ek hom gevra het, het hy erken dat hy ‘n kamer met haar gedeel het. Hy gaan kuier elke week by haar en slaap dan daar oor, alhoewel sy net ‘n halfuur se ry van hom af bly.

Dit is ‘n groot skok vir my dat my pa skielik na al die jare sy morele waardes oorboord gooi.
My Mams was my pa se 1ste meisie. Hulle sou verlede jaar 43 jaar lank getroud gewees het. Hy het nooit na ander vrouens gekyk of verhoudings aangeknoop nie. My vraag is, word seks wat deur ‘n wewenaar/weduwee/geskeide beoefen word, steeds as buite egtelik beskou? Is dit dieselfde as voorhuwelikse seks by ongetroudes? Tieners en jongmense word vinnig tereg gewys op die gevare van voorhuwelikse seks, maar ek het nog nie gehoor van Senior Burgers wat tereg gewys word op hul buite egtelike kaperjolle as wewenaars/geskeides nie.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord

Die basiese vraag hier is of seks deur ouer mense buite die huwelik beoefen mag word. Die antwoord is eenvoudig. Die tradisionele Christelike etiek sê dat seks bedoel is vir mense in die huwelik. Dit beteken dat dit nie saakmaak hoe oud jy is nie, as jy buite die grense van die huwelik seks het, druis dit teen die eise van die Christelike etiek in. Dit is die kort antwoord.

Tog is daar vandag binne die Christendom sommige mense wat dit sterk bevraagteken en daarop wys dat voorhuwelikse seks vandag as deel van die normale hofmaakproses gesien moet word (hande vashou, soen en seks is deel van een groot hofmaak proses). Daarmee word losbandigheid, naamlik dat daar sommer los en vas saam geslaap word, nie voorgestaan nie, alles behalwe. Dit moet binne ’n vaste verhouding gebeur. Daar word diwels vanuit die aard van die mens geargumenteer, naamlik, dat soos om jou lewe te beskerm en te eet, seks deel van die mens se basiese behoeftes is. Dit is die natuurlike manier om liefde vir mekaar uit te druk. As almal dit doen is dit seker nie verkeerd om dit self te doen nie. Ander sien die Bybel as ’n ou boek wat nie met moderne ontwikkelinge tred hou nie, byvoorbeeld, die ou mense het wel sekere maniere geken om te keer dat die vrou swanger raak, maar het nie die gesofistikeerde voorbehoedmiddels gehad wat ons vandag ken nie. Die risiko om swanger te raak is dus vandag baie kleiner en dit is een van die hoofredes waarom seks voor die huwelik in die ou dae verbied is. Die streng reëls hoef dus nie vir vandag meer te geld nie. So kan aangegaan word om allerlei redes te soek om wel voorhuwelikse seks te beoefen.

Hoe dit ook al sy, die beginsel dat seks sy plek binne die raakwerk van die huwelik het, bly ’n Bybelse beginsel. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Hoe ver mag ek vry?

Hoe ver mag ek vry? – Kobus Kok

ʼn Leser vra:

Ek en my meisie is albei Christene en het besluit dat ons nie gaan seks hê voor die huwelik nie. Daaroor staan ons al twee vas. Dit is nie ‘n kwessie nie! Wat is die perke?? Tot waar kan mens gaan dat dit nie onsedelik is nie?? En dit sal NIE lei tot seks nie. Dit is waar selfbeheersing inkom en ons het die besluit gemaak. Dit is glad nie ‘n kwessie nie! As voorhuwelikse seks verkeerd is, wat is alles ingesluit in die definisie van “seks”??

Antwoord:

Miskien moet die vraag nie wees hoe vér kan ek vry nie, maar hoe ver kan ek dit regkry om my maat op seksuele gebied op te pas en te respekteer.

Die Bybel gaan jou eintlik min raad oor die betrokke saak gee. Soos ek in die vorige artikel oor saambly verhoudings verduidelik het, moet ons verstaan dat die Bybel in ‘n gans andere kulturele konteks as vandag geskryf is. In die Bybelse tyd was enige fisiese kontak binne die Joodse konteks streng gemonitor. Nou die dag was daar ‘n Joodse vrou en haar man by my in die spreekkamer. Na ons gesprek het ek die man en toe die vrou gegroet met die hand, soos ons mos maar doen. Sy het onmiddellik opgemerk dat ‘n Joodse Rabbi dit nooit sou doen nie. Hulle vat nie sommer net aan vrouens nie. Die rede daarvoor is dat daar in die Bybelse tyd geglo is dat mens onrein kan raak as jy aan ‘n onrein persoon raak en dan moet jy deur die hele proses van reiniging gaan. Mense kon jou dus kontamineer. Net so kon onrein kos of onrein objekte jou ook onrein maak. Die punt is dat die Jode ‘n fyn uitgewerkte sisteem gehad het wat hulle reinheid sou beskerm. Daar was ook bepaalde ruimtes waarbinne mense gefunksioneer het. Elke persoon het sy/haar plek en funksie gehad. Soos ek in die vorige artikel gesê het, het Joodse mans en meisies maar nooit voor ‘n huweliksvoltrekking seksuele of ander intieme fisiese kontak gehad nie. Dit was gewoon taboe. Daarom sal jy nooit in die Bybel iets kry wat jou gaan raad gee oor hoe ver jy mag vry nie.

Wat my persoonlik betref, dink ek dat mens in ons tyd, wat gesien kan word as die groot tyd van revolusies (inligtingsrevolusie, tegnologiese revolusie) en by name veral ook die seksuele revolusie, mooi moet verstaan wat aan die gang is. Seks voor die huwelik is nie die uitsondering soos dit in die Bybelse tyd se kulturele konteks was nie, inteendeel! Vrye seks is die algemene aanvaarbare reël in ons kulturele konteks. In die Bybelse tyd het mense ook getrou toe die meeste van hulle maar tieners was. Vandag trou ons dikwels eers hier by 30, wat twee maal langer wag beteken voordat mens seksueel kan verkeer. Die vraag is nou, hoe kan ek as Christen my seksuele verhouding bestuur, en wanneer is ek besig om te sondig deur eintlik seks voor die huwelik te beoefen. Wel, in ons tyd sal verskillende kerkgroepe dit ook verskillend benader wat op ‘n spektrum van uiters links na uiters regs wissel. Sommige groepe is byvoorbeeld van mening dat enige iets meer as hande vashou na die seksuele neig, en dat vryery al klaar seksueel van aard is. Hulle moedig jongmense aan om dan eerder te “court” totdat hulle eendag trou. Hierdie mense fokus op die geestelike, sosiale en emosionele dimensie van  die verhouding en vermy die fisiese so ver moontlik (vgl. silwer ring thing ens). Mense wat “courting” doen beleef dan vir die heel eerste keer seks op hulle huweliksaand. Ander geloofsgroepe verbreed die begrip “huwelik” en is van mening dat mense wat in ‘n hegte verhouding van opregte verbintenis staan en wat wedersydse respek vir mekaar het en in ‘n gesonde verhouding is reeds “getrou” het. Seks in so ‘n verhouding is dan vir hulle iets gesond wat uitdrukking gee aan hulle opregte liefde en die verbintenis versterk.

Myns insiens is daar ‘n verskil tussen seksuele geslagsgemeenskap en fisiese aanraking met ‘n seksuele dimensie. Seksuele geslagsgemeenskap is uit die aard van die saak seks en is myns insiens bedoel vir die huwelik. Fisiese aanraking met ‘n seksuele dimensie is iets wat gesond kan wees tussen twee gelowiges wat God as die kern van hulle lewe sien. Indien God die kern van jou lewe is, is heiligheid ook iets wat vir jou belangrik is. Net so sal respek en vertroue en integriteit vir jou belangrik wees. As so ‘n paartjie dan in fisiese aanraking met ‘n seksuele dimensie verkeer, sal so ‘n paartjie op ‘n volwasse wyse met geloofsintegriteit die aard van die aanraking en koestering hanteer. Ek het gewoon net altyd gevra of my meisie (wat nou my vrou is) se pa tevrede sou wees met die manier waarop ek met haar omgaan. Uit respek vir hom, en omdat dit nie my vrou is nie maar sy dogter, het ek haar liggaam en ons verhouding met respek en heiligheid hanteer. Wat doen jy nou as jou meisie of ou se ouers geen probleem met seks het nie? Wel, dan kan jy vanuit die sogenaamde “significant other” dimensie funksioneer. Hoe sou jou selgroep voel oor die manier waarop julle met mekaar werk? Daarom is dit belangrik om ook ‘n sterk sosiale kring te hê wat op geloofsvlak saam met jou die pad kan loop. Myns insiens is dit die moeite werd om mekaar met respek te hanteer en binne die konteks van jou verhouding met God en die “significant others” in jou lewe (ouers, geloofsvriende, mentors) jou weg te vind in die gesonde uitleef van jou fisiese verhouding.

Praktiese raad: Dit is altyd beter om fisiese grense te stel en in jou verhouding met jou maat dit te artikuleer. Julle kom dan duidelik ooreen en sê vir mekaar dit of dat is die grensdraad en daar vat ons nie of dit doen ons nie. So beskerm julle mekaar en kyk julle na mekaar en sal julle die verhouding se fisiese dimensie mooi kan bestuur. Onthou net altyd dat julle emosioneel, geestelik en fisies saam moet groei. Moet nie net op die fisiese fokus nie. Fokus veral op die geestelike en die emosionele. Daarin lê onuitputbare diepte. Met tyd sal julle sien dat die krag van die fisiese afneem, en dan is dit die emosionele en die geestelike wat geweldig kosbaar is. Investeer nou reeds daarin.

Ten slotte: Soos ek in die begin gesê het: Miskien moet die vraag nie wees hoe vér kan ek vry nie, maar hoe ver kan ek dit regkry om my maat op seksuele gebied op te pas en te respekteer.

Outeur: Dr. Kobus Kok