Poel van Vuur – Hermie van Zyl

Mawiene vra:

Wanneer ’n ongelowige sterf, gaan hy direk na die poel van vuur?

  1. Is dit reg wanneer direkteure kontantgeld uit hul besigheid haal en dit nie verklaar nie?
  2. Is dit reg om na ’n film op TV te kyk waar hulle kras taal gebruik?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

  1. Die uitdrukking “poel van vuur” of “vuurpoel” as finale plek van ewige verdoemenis kom in die Nuwe Testament net in die Openbaringboek voor (19:20; 20:10,14-15; 21:8). Die vuurpoel is naamlik die plek waar eers die dier uit die see (= Antichris) en vals profeet (= dier uit die aarde) gegooi word, en daarna ook die duiwel (= draak), die dood en doderyk, sowel as almal wie se name nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, asook al die banges, ontroues, losbandiges, ensovoorts. Voorts word daar gesê dat hierdie vuurpoel met swael brand, wat waarskynlik as agtergrond het die gebeure rondom Sodom en Gomorra wat met vuur en swael vernietig is (Gen 19:24) vanweë hulle goddeloosheid (Gen 13:13; 18:20). Die poel-gedagte kom vanuit die feit dat hierdie stede vermoedelik in die omgewing van die Dooie See geleë was. Die hele streek het as ’t ware ’n poel of see/meer van vuur en swael geword toe God hulle vernietig het. In die geskiedenis het Sodom en Gomorra en die Dooie See-area gevolglik die simbool van goddeloosheid geword waarin God almal stort wat goddeloos lewe, ’n gedagte wat ook bevestig word deur Judas 7 wat sê dat daardie mense nou gestraf word met die vuur wat ewig brand.

 

Hoewel die term “poel van vuur” net in Openbaring voorkom, is dit inhoudelik gelyk aan die “hel van vuur” in die Evangelies (vgl Matt 5:22; 18:9). Die woord vir “hel” (Gehenna = Dal van Hinnom) verwys na die vallei langs Jerusalem wat as ashoop gedien het en waar die vuur voortdurend gebrand het om van die afval ontslae te raak. Dit het simbool geword vir die plek van pyniging waar die vlam van God se oordeel nooit ophou brand nie. Dieselfde gedagte kom ook in Matteus 25:41 voor waar gepraat word van die “ewige vuur wat voorberei is vir die duiwel en sy engele”. Die oordeel van God wat ná die dood soos ’n vlam brand, kom ook voor in die gelykenis van die ryk man en Lasarus, waar die ryk man in die doderyk in pyn verkeer en verlang om verlos te word van die vlam wat hom pynig (Luk 16:24).

 

Om saam te vat: “vuurpoel”, “vuur/vlam wat ewig brand”, en “hel van vuur” is almal uitdrukkings in die Nuwe Testament wat die na-doodse oordeel van God aandui oor hulle wat hardnekkig geweier het om tot inkeer te kom en so deel van God se kinders te word. In dié sin van die woord kan ons dus sê dat wanneer ’n ongelowige sterf, hy/sy na die poel van vuur gaan. Maar nou moet ons oppas dat ons nie links en regs mense voortydig begin verdoem tot die ewige vuur of poel van vuur nie. Hierdie oordeel kom ons nie toe nie, God sal finaal oor die ewige lot van mense beslis. Die oordeel kom Hom alleen toe. Ons moet altyd onthou, God se genade is omvangryk; Hy vergewe veel eerder as wat Hy veroordeel. Hy skep geen behae daarin om mense die ewige hel in te stuur nie. Waarvan Hy eintlik hou, is om mense te red (Eseg 18:23). Daarvan getuig ook Jesus se woorde aan die kruis toe Hy vir die moordenaar gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk 23:43).

 

  1. Geformuleer soos die vraagsteller dit stel, is dit sekerlik verkeerd as direkteure kontant uit die besigheid onttrek om só die Ontvanger te ontduik. Maar ons het veels te min inligting om ’n finale oordeel te vel. Want daar is allerlei maniere waarop mens inkomstes op ’n wettige manier mag rondskuif om belasting te vermy; let wel, vermy, nie ontduik nie. Belastingvermyding is immers wettig, belastingontduiking egter nie. Maar kom ons laat die saak daar, by gebrek aan voldoende inligting.

 

  1. Kras en vuil taal in flieks is deesdae so algemeen dat mens maar mooi moet kies waarna jy kyk om nie besoedel te word nie. Want as mens voortdurend aan sulke taalgebruik blootgestel word, stomp jy af en pla dit later nie eens meer nie. En dít is nie ’n goeie plek om te wees nie. Christene mag nie vrede maak met ’n vloekery rondom hulle nie. Na alles waarsku die Bybel ons teen vuil taal (Ef 4:29; Kol 3:8). Hoekom? Omdat ’n mens se woorde ten diepste uitdrukking is van wie jy is. Jesus het immers gesê: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. En: ’n Boom word aan sy vrugte geken (Matt 12:33-34). As jy heeldag loop en vloek, reflekteer dit iets van wie jy is. Nee, Christus het ons nuut gemaak (2 Kor 5:17). Ons dink anders, omdat Hy ons denke genees het, daarom praat ons ook anders. En dit geld ook vir waarna ’n mens luister. Dalk moet ons as Christene baie meer in opstand kom teen wat die TV aanbied, briewe skryf en eenvoudig daarop aandring dat ons die opsie kan uitoefen om in alle flieks die vloekwoorde uit te doof.

 

Kortom, ons is nou eenmaal deel van ’n wêreld wat nie noodwendig Christelike waardes eerbiedig nie. En dit slaan in die flieks ook deur. Maar dit beteken nie ons moet maar altyd net gedwee aanvaar wat aangebied word nie. Mens kan steeds keuses uitoefen oor waaraan jy blootgestel wil wees. Of beswaar maak teen blatante en vulgêre taalgebruik. Hoe lui die spreuk?: Christene is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

 




Die einde met vuur

Die einde met vuur – Francois Malan

Jan Smith vra:

[Hierdie is ’n opvolgvraag]

Is dit die bedoeling dat die huidige aarde en hemele met vuur sal vergaan soos wat Petrus aandui? In 11 Petrus 3: 12 en 13 is daar vermelding van “julle” wat die koms van die dag van die Here verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt maar “ons” verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Saamgelees met vers 7: Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf (destruction) van die goddelose mense.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In 2 Petrus 3 waarsku Petrus die gemeentes teen die dwaalleraars wat nie meer die wederkoms van die Here verwag nie, en ook nie ‘n oordeelsdag nie (v4). Hy wys eers daarop dat die dwaalleraars gerieflik die feit ignoreer dat dit  God is wat die hemel en die aarde geskep het deur sy woord, en deur sy woord die hemel en die aarde onderhou (v5). Deur sy woord is die wêreld in die ou tyd deur water verwoes/vernietig (v6, NAV vergaan). Deur die woord van God bestaan die hemel en die aarde vandag nog tot by die wederkoms van Christus om die goddelose mense te oordeel en te verdelg (v7, dieselfde woord van God wat deur water die aarde verwoes/ vernietig het volgens v6).

Die vergelyking met die sondvloed waardeur die wêreld verwoes is, gee ietwat van ‘n aanduiding dat die nuwe hemel en nuwe aarde wat deur die woord van God geskep gaan word na die verbranding van die hemel en die aarde, wel ‘n verband sal hê met die huidige hemel en aarde wat die Here deur sy woord geskep het en in stand hou; maar dat dit heeltemal nuut sal wees.

Die nuwe aarde wat te voorskyn sal kom as God sy oordeel oor alles laat gaan het, as die hemele verbrand en die elemente in die vuur weggesmelt het (3:12), as die son verduister het en die maan sy glans nie meer gee nie, as die sterre van die hemel geval het en die magte van die hemel wankel (Markus 13:24-25; Mat 24:29) – die nuwe aarde wat dán te voorskyn sal tree, sal die ou aarde wees wat God geskep het, maar deur God se oordeel gereinig is van al die sonde en die gevolge van die sonde. Dit sal die aarde wees soos God dit oorspronklik bedoel het en sou gewees het as daar geen sonde was nie.

Die Bybel praat van ‘n wêreld wat verbygaan of ondergaan (Markus 13:31 vgl. Jes.34:2,4; Joel 2:10), wat verdwyn of bevry word van diensbaarheid aan die verganklike (Openbaring 21:1; Romeine 8:19-22), wat soos ‘n kledingstuk verwissel word, of deur vuur gelouter word. Hoe dit gebeur weet ons nie. In die Skrif gaan dit nie om ‘n presiese beskrywing van ‘n ou wêreld wat ondergaan of ‘n nuwe wêreld wat opstaan nie. Alleen enkele en algemene buitelyne word vir ons getrek: die nuwe aarde sal anders wees as die ou aarde, maar steeds die aarde wat God geskep het, waarop alles tans doodgaan weens die sonde van die mens, maar wat smag om van die dood verlos te word saam met die kinders van God.

Na die eerste argument teen die valse leraars, volg die tweede oor God wat ‘n ander tydsmate het as die mens (2 Petr.3:8) en die derde argument oor God se lankmoedigheid om die oordeel uit te stel en mense nog ‘n kans gee om tot bekering te kom (v9). Dan volg die vierde argument in vers 10 om die gemeente lewendig gereed te hou, dat Jesus onverwags sal kom soos ‘n dief in die nag op ‘n tyd wat niemand ken nie. Daarby word dan uitgebrei oor die vernietiging van die hemel en die aarde. Die hemel sal met ‘n groot gedruis verbygaan, ophou bestaan, die hemelliggame sal brand en wegsmelt en die aarde met alles daarop sal vergaan (die woord ‘sal vergaan’ is ‘n groot vertaalprobleem – die Griekse woord wat gebruik word in die beste manuskripte uit die vroeë derde eeu n.C., nl. ‘sal gevind word’,  pas nie in die konteks van die vers nie (vgl. by v12). Daarom het ou manuskripte dit probeer verander (‘n derde eeuse teks voeg ‘n ‘nie’ in: ‘sal nie gevind word nie; ‘n 4e eeuse manuskrip voeg ‘n woord by: ‘sal versmelt/ontbind gevind word’;  5e eeu se tekste verander die woord na: ‘sal verdwyn’;  of: ‘sal verbrand word’).

Met die vier argumente wil Petrus die gemeente wakker skud om aan God toegewy te lewe (v11), terwyl ons uitsien na die dag wanneer God kom om die hemel en die elemente te laat verbrand en wegsmelt, soos met Sodom en Gomorra gebeur het, sodat ons kan woon op die nuwe aarde met die nuwe hemel waar geregtigheid sal heers, dat ons met God in die regte verhouding sal lewe as sy kinders wat sy wil doen en daarin ons vreugde vind om Hom en ons naaste uit liefde te dien (v12,13). So waarsku Petrus teen die dwaling van beginsellose mense wat ons van ons standvastigheid wil beroof (3:17), maar dat ons steeds moet toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (v18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan