Aanbid in Gees en waarheid

Aanbid in Gees en waarheid – Francois Malan

Johan vra:

In Johannes 4:23 staan daar dat “daar kom ‘n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid”. Kan u asseblief verduidelik wat dit beteken om in Gees en waarheid te aanbid. Ek het al baie verduidelikings gehoor, maar sal graag u mening wil hoor.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Johannes 4:19,20 Die Samaritaanse vrou draai  die gesprek met Jesus van haarself af weg, met ‘n vraag na die regte godsdiens. ‘Ons voorouers’, van beide Israel en die Samaritane, ‘het op hierdie berg aanbid’ – die put van Jakob lê aan die voet van die berg Gerisim. Deutr. 12:5,14 bepaal dat daar slegs een plek van aanbidding sal wees vir die hele volk. Volgens Deutr.11:29 moes hulle die seën op Gerisim afkondig en die straf op Ebal (vgl. 27:9-26). Volgens Deutr.27:3 moes hulle op die beg Ebal ‘n altaar bou waar vir Here geoffer moes word – in die Samaritaaanse Bybel, wat net uit die eerste vyf boeke van Moses bestaan, staan daar Gerisim en nie Ebal nie (wat moontlik reg is, en later deur die Jode in hulle Bybel, uit teenstand teen die Samaritane, verander is na Ebal, waar die vervloekings uitgespreek is). Die Samaritane aanvaar nie die profetiese en ander geskrifte van die Ou Testament nie. Daarom aanvaar hulle ook nie die opdrag van die profeet Gad aan Dawid om ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna van Jebus, dit is Jerusalem, te bou nie (2 Sam.24:18; vgl. 1 Kron.22:1). Dit was die plek waar Salomo in 950 v.C. die tempel vir die Here gebou het (2 Kron.3:1). Salomo se tempel is in 586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes. Serubbaäl herbou die tempel na die 70-jarige ballingskap, en laat nie die Samaritane toe om saam te bou nie. In die 4e eeu v.C. bou die Samaritane toe hulle eie tempel op Gerisim, wat deur die Joodse hoëpriester/koning Johannes Hyrkanus in 128 v.C afgebreek is. Daarna aanbid hulle in die ruïnes van hulle tempel totdat Pilatus die Samaritane op Gerisim uitroei en slegs ‘n klein klompie Samaritane in Nabloes, die ou Sigem, oorbly. Herodes die Grote begin die tempel in Jerusalem vergroot sedert 15 v.C. en die Romeine breek dit af in 70 n.C., 5 jaar nadat die bouwerk voltooi is.

            Die vrou sê: ‘En julle sê Jerusalem is die plek waar aanbid moet word’ – moet, volgens God se bevel. Wat sê die ‘profeet’, wat God se wil bekendmaak, daarvan.

 

4:21 Jesus, die enigste Seun van God antwoord beleefd: ‘Vrou, glo My, die uur is aan die kom dat julle die Vader (van alle volke) nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie.’ ‘n Nuwe bedeling het aangebreek met die koms van die Messias. Die aanbidding van die Vader is nie langer aan ‘n plek verbind nie (vgl. Openb 21:22).

 

4:22 Met hulle vyf-boek Bybel het die Samaritane nie die volle openbaring van God nie, al verwag hulle ook ‘n profeet soos Moses (Deutr. 18:15,18). Hulle aanbid ‘wat’ hulle nie ken nie, hulle ken nie ‘n persoonlike verhouding met God nie. By baie Jode het hulle God ook ‘n ‘wat’ geword, en nie ‘n ‘Wie’ nie. Dit is juis die Profete-boeke en Geskrifte van die Ou Testament wat die verwagting van ‘n verlossing verkondig; ‘n Verlosser vanuit die Jode, wat God uitgekies het, waaruit sy Verlosser sou kom  (vgl. Jes.2:2-5 se verheffing van Sion bo alle berge, waar alle volke na die Here sal kom luister, Hom sal dien, en in vrede begin lewe; die vervulling van dié profesie is met Jesus se koms begin, Lk 2:32, en sal voltooi word wanneer alles aan Hom onderwerp is (1 Kor 15:25).

 

4:23 Nie op Gerisim of in Jerusalem nie; die nuwe tyd het aangebreek met Jesus se menswording, soos reeds met die tempelreiniging aangekondig is (Johannes 2:19-22 sy liggaam word die tempel waardeur ons tot God kom) .

Jesus beweeg verder as die vrou se persoonlike en huislike tragiek, haar skuld en haar skuiling agter die godsdiens. Ware aanbidders volg die wil van die Vader. Hulle aanbid Hom deur  Gees en Waarheid: deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om hulle te lei; en deur die Waarheid – in Johannes 14:6 sê Jesus ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’

 

4:24 God is Gees – nie aan ‘n plek verbonde nie, maar oral teenwoordig deur die Heilige Gees. Die Gees leer ons hoe om God te aanbid; die Gees is verbonde aan die Waarheid, wat vir ons die weg na God open deur sy liefdesoffer aan die kruis

Johannes 14:26 Die Helper/Voorspraak/Trooster, nl. die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alls onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.

Johannes 15:26 Wanneer die Helper/Voorspraak/Trooster kom wat Ek van die Vader af aan julle stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader kom, sal Hy oor My getuig.

 

In Romeine 8:26-27 sê Paulus: So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtiginge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heilige intree.

 

1 Johannes 2:1-2 sê: wanneer iemand gesondig het, het ons Jesus Christus, die Regverdige, as Helper/Voorspraak by die Vader. Hy is die soenoffer vir ons sondes en ook vir die sondes van die hele wêreld.

 

Deur die God die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons tot geloof te lei en ons deur ons hele lewe wil lei deur die woord van God; en deur Jesus, die weg en die waarheid en die lewe, wat vir ons by die Vader intree, is die weg vir ons geopen om met die Vader te praat in gebed.

Jesus sê in Johannes 15:7: As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. Vers 7 beklemtoon bly in die woorde van Christus, die openbaring van God, wat Hy, as die Woord van God, gebring het. Om daarin te bly beteken dat ons sy woord te aanvaar as die mag wat ons lewe rig en aandryf (vgl. Kor 5:14 die liefde van Christus dwing ons…). So ‘n gelowige kan seker wees dat sy gebede beantwoord sal word, want sy gebede sal gerig wees deur die begeerte om te dien in die koninkryk van God, waar God regeer met sy woorde in ons – v4 sê: Jesus is self in ons. So word die skatkamers van ons Hemelse Vader oopgestel vir elkeen wat ‘Hom deur die Gees en in waarheid aanbid’

Johannes 14:13-14:  En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik sal word.

 

Uit die Skrif lyk dit dat om God in Gees en waarheid te aanbid, beteken dat gelowiges moet bid volgens die leiding van die Heilige Gees wat in hulle woon om hulle in die hele waarheid in te lei; en dit is: volgens die wil van God, soos Jesus, wat die waarheid is, dit geopenbaar het deur sy hele lewe en sy woorde.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




‘n Bietjie waarheid

In this age, telling the truth is tough business and not for the fainthearted. —Albert Mohler

 

‘n Bietjie waarheid

Ravi Zacharias vra ‘n interessante vraag: Is daar nog kontakpunte tussen die kerk en die gedensentifiseerde kultuur waarin ons woon? Paulus is op pad na Rome. Hy staan voor Feliks om homself te verdedig (Handelinge 24). Tertullus  is die aanklaer. Hy is klaar met sy toespraak. Paulus moet nou sy saak stel. Hy verseker vir Feliks dat hy geen wette oortree het of mense tot oproer  aangehits het nie. Hy glo dat die ware rede vir die teenstand teen hom is dat hy ‘n volgeling van Jesus Christus wat opgestaan het, is. Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, onderbreek die verhoor. Wanneer Lisias, die kommandant, kom, sal ek julle saak afhandel.

 

Feliks en sy vrou Drusilla, ‘n Jodin,  laat na ‘n paar dae vir Paulus kom om meer van hom te hoor oor die geloof in Christus Jesus. Paulus praat met hom oor ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God,, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel.  Feliks word bang en eindig die gesprek net daar. Intussen het hy gehoop dat Paulus hom omkoopgeld sou aanbied.

Ons moet nadink oor die verskillende maniere waarop God mense as sy instrumente vorm. Hoe kan God iemand so eenvoudig gebruik om groot dinge te laat gebeur? Paulus het waarskynlik dieselfde vraag gevra. Paulus se agtergrond plaas sy vormingsproses in perspektief. Hierdie proses het begin lank voor hy voor Feliks moes verskyn. By sy bekering sê God vir Ananias om na Paulus toe te gaan, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly (Handelinge 9:15 – 16). Tog uit hom vloei ‘n derde van die Nuwe Testament. Wat het God in hom gedoen? Hoe verstaan ons die metodes wat hy gebruik het en kan ons daar iets kry vir vandag?

Ons moenie dink dat dit makliker was in Paulus se tyd as vandag nie. Hy het ook voor groot uitdagings gestaan – veral in Korinte. En nou kom hy voor Feliks te staan. Die eerste ding waaroor hy praat is ‘n lewe van gehoorsaamheid. Paulus praat met iemand wat allermins ‘n lewe van gehoorsaamheid geleef het oor ‘n lewe van gehoorsaamheid.

Wat ons kultuur nodig het is nie argumente vir Christus nie maar ‘n lewe wat vir Hom geleef word – met passie. Mense moenie net hoor nie, maar ook sien. Onthou ons leef in ‘n konteks – die postmodernisme – wat met sy oë hoor.




God: Die Bron van Waarheid

Martin Luther.

God: Die Bron van Waarheid

(John M. Frame, Apologetics To The Glory Of God)

Baie jare gelede het ‘n man gevra: Wat is die waarheid? (Johannes 18:38). Hierdie man was natuurlik Pilatus tydens Jesus se verhoor.

Dan is daar mense wat glo dat daar nie so iets soos die absolute waarheid is nie – en hulle is ook absoluut oortuig daarvan dat hulle reg is. Hoe nou gemaak? Wie is reg? Wie se “waarheid” is waar? Hoe hanteer ons dit?

Om die vrae te kan beantwoord, moet ons na die definisie van waarheid gaan kyk. Daar moet ‘n standaard wees anders kan ons nooit die aansprake op die waarheid meet nie. Elke mens kan tog nie sy eie standaard bepaal nie. Dan is die waarheid relatief sonder ‘n absolute standaard. Wat vir die een man die waarheid is, sal dan vir die ander een ‘n leuen wees.

Maar wat is hierdie standaard? Dit moet absoluut wees, want as die waarheid gedurig verander is daar in werklikheid geen waarheid nie – die doelpale is gedurig besig om te skuif. David Hume, die groot skeptikus het gesê niemand weet wat die waarheid is nie. Gelukkig weet ons wat die Bron van absolute waarheid is: God

God lieg nooit nie (waarheid)

God lieg nooit nie (waarheid)

Baie mense sê daar is nie meer iets soos absolute waarheid nie. Alles is relatief. Ek kan glo wat ek dink en jy wat jy dink. Wat ek glo, is vir my waar en wat jy glo, is vir jou waar.

Mense wat so redeneer vergeet van God. As ons na waarheid en egtheid soek, kry ons dit by God. Hy het alles gemaak en weet hoe alles werk. Hy weet wat eg en reg is, want Hy het ook die reëls en wette vir die wêreld gemaak. En as ons werklik God wil leer ken, moet ons die weg na die waarheid loop, naamlik Jesus (Johannes 14:6). Om dus te ontken dat daar werklik ʼn absolute waarheid is, is om God te ontken. Hy is waar en wie in Hom glo, is mense van die waarheid

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy