Nou maar wanneer het die Bybel nou eintlik die Bybel geword?

Nou maar wanneer het die Bybel nou eintlik die Bybel geword?

So ongeveer 300 jaar na Jesus het die keiser van die Romeinse Ryk (wat destyds die wêreldmag was) ʼn Christen geword.

Daar en dan besluit hy die Christendom moet die godsdiens van al die mense van die Romeinse Ryk word, wat dit toe ook ʼn paar jaar later geword het. Nou wou al die mense in die Ryk weet wat die Christene glo, want tot op daardie stadium was dit  mos nie so bekende godsdiens nie. Die Christenleiers het toe bymekaargekom en die lys van boeke waarop hulle hulle geloof baseer amptelik vir almal gegee om te lees. Daarom sê party mense dat die Bybel toe eers “ontstaan” het. Dit is egter nie heeltemal waar nie. Die lys is wel toe amptelik vir almal gegee, maar die lys het bestaan uit die boeke wat van die begin af deur die Christene gebruik is as hulle “Bybels”. En nie sommer enige boek is gebruik nie. Die boek moes deur ʼn apostel of iemand wat een geken het, geskryf gewees het; Christene moes dit oral gebruik het en die boeke moes van die begin af gebruik gewees het. Dit moes ook die waarheid van God akkuraat uitdruk. Die Bybel is dus nie sommer saamgeflans nie. Daar is goeie redes waarom die Bybel die Bybel is.

Jy kan dus die Bybel met vertroue optel en lees. Dit gaan vir jou van God vertel… nee, jy gaan God deur die woorde en bladsye van die Boek van nader leer ken.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Waarom kan ons die Bybel glo?

Waarom kan ons die Bybel glo?

Ons kan die Bybel glo omdat dit soos ʼn “antieke TV-program” oor God is. As ons daarna “kyk,” sien ons hoe God is. Die hoofakteur is natuurlik Jesus.

Daar word sommer ʼn klomp ongelooflike dinge oor Jesus gesê: Hy is die Seun van God, nee, God self. Hy is die beeld van God en sulke dinge. As Hy dit is… is dit beslis waar ons God gaan kry. As Hy dit nie is nie… is al die Christene oor die eeue vir groot gekke gehou. Dis of die een of die ander.

Wat maak Jesus so spesiaal dat ons in Hom moet glo? Daar word woeste bewerings oor Hom gemaak… byvoorbeeld, dat Hy God is! Hoe op aarde kan jy dit bewys? Wel, as jy sê jy’s ʼn miljoenêr moet jy kan uithaal en wys; of as jy sê jy is ʼn TV ster moet jou gesig darem gereeld op die kassie verskyn, anders is jy ʼn namaaksel, dis verseker. As Jesus sê Hy is God, moet Hy darem seker kan doen wat God doen. En wat kan net God doen? Net Hy kan lewe gee. Dit kan mense nie doen nie. As Jesus dan ook lewe kan gee, moet ons dus aflei dat Hy God is. Hoe anders? En Hy het dit gedoen… met Lasarus (Johannes 11) en nog meer: Hy het self uit die dood opgestaan (Johannes 11:17-18; Johannes 20; 1 Korintiërs 15). Ja-nee, Hy het dood aan ʼn kruis gehang en drie dae later springlewendig met sy volgelinge gepraat. Net God kon van ʼn dooie Jesus ʼn lewendige Jesus maak. Daarom weet ons Jesus staan aan die kant van God. En onthou, God lieg nie en Hy verdra nie ʼn gejokkery nie. Jesus sou ook nie vir ons gejok het nie, juis omdat Hy aan die kant van God staan. Hy kan tog nie aan die eenkant vir God wees en aan die ander kant nie. Ons kan maar glo wat Hy sê. Sy boodskap is die waarheid. Daarom kan ons die Bybel maar glo.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Waarom moet ons die Bybel glo?

Waarom moet ons die Bybel glo?

Waar leer jy God regtig ken?

Party mense sal jou probeer vertel dat jy net moet mediteer – jy ontdek dan sommer god hier binne in jou. Nou wie dink mense gaan jy kry as jy in jouself “ronddelf”. Natuurlik net jouself. Ander stel weer ʼn soektog in die natuur voor. As jy hard genoeg in die bome en blomme soek, gaan jy… bome en blomme kry. Dis verseker. Jy gaan miskien bewus word van die wonder en grootheid van die natuur. Maar die natuur is nie God nie, maar is net die “padteken” na God toe. Jy sal moet verder stap.

Die soektog hou by ʼn Persoon op. Sy naam is Jesus. Hy het vir ons kom wys hoe God lyk en wat God van ons wil hê (Johannes 1:1,18; Kolossense 1:15). Ons hoef God nie uit te dink nie. Hy het deur Jesus vir ons kom wys hoe Hy lyk… ja, ons kon sy liefde en genade sien wat vir ons hoop in die wêreld gee. God het Hom dus aan ons kom openbaar. Hiervan lees ons in die Bybel en daarom noem ons ook die Bybel die Woord van God. God praat daar met ons deur die inspirasie van die Heilige Gees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy