Wedergeboorte – Jan van der Watt

Trudi vra:

Is dit nodig om wedergebore te word?

Jy hoef nie (noodwendig) wedergebore te wees nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die woord wedergeboorte het sy oorsprong in Joh 3:3 (5) waar Jesus met Nikodemus oor redding praat. Daar word twee woorde langs mekaar in die Grieks gebruik, naamlik gennaô (om gebore te word) en anôthen (kan twee betekenisse hê, nl. ‘weer’ of ‘van bo’ = van God af). Dit kan dus met weer-gebore of met van bo (=van God) gebore vertaal word.

Soek ons deur die Nuwe Testament kom ons agter dat dit eintlik net Johannes is (in sy evangelie en briewe) wat sê dat mens ‘gebore’ (weer of van bo) moet word. 1 Petrus noem dit ook twee maal in sy eerste brief (1:3, 23) en Paulus net in Titus 3:5 (’n moeilike verwysing om te verstaan).

Waarom is dit net eintlik Johannes wat van geboorte praat (en nie die ander Nuwe-Testamentiese skrywers nie? As daar in die Nuwe Testament oor redding gepraat word, word dit feitlik altyd met beelde (metafore) beskryf, omdat dit so wonderlike gebeurtenis tussen God en mens is. Paulus is lief om beelde uit die alledaagse sosiale lewe te neem, soos om vrygekoop te word (soos ’n ‘slaaf’ van sy meester (die sonde), of om met God versoen te word, wat beteken dat Iemand (Jesus) namens die mens onderhandel om die vrede met God te herstel, of regverdigmaking, met ander woorde dat ’n mens regverdig verklaar word, soos iemand in die hof. Matteus of Markus hou daarvan om te praat van navolging, die kruis soos Jesus dra en hom volg, ens.

Toe Johannes aan sy gemeente moes verduidelik hoe redding werk, het hy (en Petrus) die beeld van ’n familie gekies – God is ons vader en ons is Sy kinders. Hy sorg vir ons (hff. 4 en 6) hy beskerm ons soos ’n goeie vader (Joh 10:28-30), deur die Heilige Gees leer Hy ons, ens. Hy gebruik dus al die dinge wat in ’n gewone familie gebeur en pas dit geestelik op ons as gelowiges toe, om so uit te druk dat as ons aan ons redding dink, ons dit wat geestelik met ons gebeur in terme van die aardse bekende kan verstaan, naamlik ’n familie. Nou hoe het ons in ons aardse families ingekom? Ons is gebore. Net so moet gelowiges (van bo, of weer) gebore word om in die geestelike familie van God te kom. Dit is dus duidelik dat Johannes ’n sekere beeld (die familie) verkies om redding te beskryf, terwyl Paulus liewer hofbeelde (regverdiging) of slawe-beelde (loskoping) gebruik.

Die beelde staan nie teenoor mekaar nie, maar vul mekaar aan. Dit is almal maniere om die wonder van ons redding te beskryf. Paulus sou sê: Julle met regverdig word, of losgekoop word, terwyl Johannes sou sê: julle moet wedergebore word.

Uit die verduideliking is dit dus duidelik dat ‘wedergeboorte’ nie die enigste term is wat in die Nuwe Testament gebruik word om redding te beskryf nie. Dit is ’n belangrike manier om redding te beskryf, want dit herinner ons aan die feit dat ons kinders van ’n wonderlike Vader is. Ons moet egter nie maak of dit die enigste manier is om van redding te praat nie – ons mag nie van Paulus, of Markus en die ander vergeet wat ook op hulle besondere maniere van die redding praat nie. Om ‘n Christen te wees moet jy noodwendig gered wees, en in die Nuwe Testament is daar baie wonderlike maniere om daaroor te praat. 

Wat die artikel oor die split van die NGK betref, dink ek moet ons vir die brief dankie se, maar se dat ons fokus op Bybelse temas en nie kerkpolitiek nie. Daar is egter heelwat artikels in die databank van Bybelkennis wat mens kan help om ‘n verantwoordelike standpunt hieroor in te neem, wat ons is van oortuiging dat die Bybel die vaste fondament van die Kerk van Jesus Christus is. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

 




Wedergeboorte – Francois Malan

Petro vra:

Is dit noodsaaklik dat ‘n mens die datum Moet kan onthou wat jy die Here aangeneem het as jou Verlosser Kan jy jouself beskou as ‘n wedergeborene sonder om die spesifike datem en tyd te onthou?

 ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Volgens die Bybel is wedergeboorte die werk van God, en die mens se verantwoordelikheid lê by die bekering waartoe die Heilige Gees jou lei en daarin versterk.

In Johannes 3:3 sê Jesus vir Nikodemus:  ‘Voorwaar, voorwaar, as iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Die Griekse bronteks gebruik die woorde gennêthênai anōthen – die passief ‘gebore word’ beteken dat jy deur God gebore word, en anōthen verwys na ‘van bo’ en/of ‘weer.’ Nikodemus verstaan dit toe verkeerd en sê ’n mens kan tog nie vir ’n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie.

Jesus sê (3:8) wat uit die mens gebore word, is menslik; en wat uit die Gees gebore word, is geestelik. In Joh 14:26 sê Jesus: die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. In Joh 16:8 sê Jesus: wanneer die Heilige Gees kom sal Hy die wêreld oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel.

Dit is die Heilige Gees van God wat in ons werk om in Jesus te glo as ons Verlosser van ons sonde en ons verhouding met God reg te maak om kinders van God te word. In Joh 3:16 sê Jesus: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

1 Petrus 1:23-24 sê: Julle is immers weergeborenes, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende  en blywende woord van God…die woord van die Here bly vir tot in ewigheid.  Die Griekse woord anagegennêmenoi ‘weergeborenes’ is weer ’n passiewe vorm wat na God verwys wat ons weer/van bo laat gebore word. Dit gebeur deur die woord van die Here te glo. Efesiërs 2:8 sê: Uit genade is julle verlos/gered deur geloof. En dit (verlossing en geloof) kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Titus 3:4-7 sê: ‘Toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos  – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – deur die afwassing van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser. So het ons, geregtig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop.’

Johanns 1:12-13 sê: ‘Aan almal wat Hom aanvaar het, hulle wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word, dié wat nie uit bloed, of liggaamlike drang, of volgens die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.’

Met ander woorde, dit hang nie van jou datum van bekering af nie, maar van jou geloof in die Here Jesus as jou Verlosser. As jy in Hom glo, kan jy seker wees van jou wedergeboorte deur God. Jy word weer gebore deur die Heilige Gees wat in jou werk om in Jesus te glo.  Bekering is ook nie ’n saak van een dag waarvan jy die datum onthou nie, maar die Here roep ons om daagliks tot bekering te kom. Dit is ’n lewenstaak, wat deur jou hele lewe loop. Efesiërs 4:16 sê: ‘…dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Christus toe sal groei..’ 2 Kor 3:18 sê: ‘En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ’n spieël (nl. in sy woord), word ons deur die Gees verander na die beeld van Christus’  sodat ons al meer soos Jesus sal word. Die vrug van die daaglikse werk van die Gees in ons is liefde, geduld, goedheid, getrouheid, vrede, vreugde, vriendelikheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).

Die Griekse woorde in die Nuwe Testament vir bekering is metanoia, strefōmai en epistrefō.

 Metanoia beteken dat jou manier van lewe verander as gevolg van ’n verandering van jou gedagtes en houding oor sonde en die regte verhouding tot God wat vir jou sonde aan die kruis gesterf het, vgl. bv. Romeine 2:4: ‘Of verag jy die rykdom van sy goedheid, sy verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?’

Strefōmai beteken om jou manier van lewe te verander en dat jy doen wat die Here van jou vra in sy Woord; vgl. bv. Matteus 18:3-5 ‘Voorwaar Ek sê vir julle: As julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel ingaan nie. Wie homself dus gering ag soos hierdie kind, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele. En wie een so ’n kind in my Naam ontvang, ontvang My.’

Epistrefō beteken om jou manier van lewe in ’n spesifieke rigting te verander, wat impliseer dat jy na God toe terugkom; vgl. bv. 1 Petrus 2:25 ‘Julle was immers verdwaal soos skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Bewaker van julle siele.’  – dit beteken dat jou lewenswyse heeltemal omdraai. Dat jy begin om nie meer vir jouself te lewe nie, maar vir God, en te vra wat Hy wil hê dat jy moet doen, en om jou lewe in te rig volgens sy Woord.

Die Heilige  Gees werk in ons, om ons te oortuig van ons sonde voor God, en van ons verlossing daarvan deur Jesus se liefdesoffer, wat die straf op al ons sonde aan die kruis vir ons gedra het. En ons bekering bestaan daarin dat ons dit begin glo, en dat ons al meer in dankbaarheid daarvoor  lewe deur ook ander te vergewe wat ons benadeel (vgl. Matteus 5:45-48 julle moet julle vyande liefhê soos ons Vader ons liefhet), en mense in nood by te staan (vgl. Matteus 25:31-45: Wat ons vir een van die geringste behoeftige gelowiges gedoen het, kos gegee het, water gegee het, klere gegee het, verwelkom het, besoek het, het ons vir Jesus gedoen).

Skrywer: Prof Francois Malan




As ‘n Christen afvallig word – kan hy/sy nooit weer terugkom nie!?

As ‘n Christen afvallig word – kan hy/sy nooit weer terugkom nie!? – Kobus Kok

Helene vra:
Kan u asseblief vir my meer duidelik gee oor Hebreërs 6:4-6? Kan dit met ‘n wedergebore Christen gebeur en op wie het dit betrekking? Baie dankie.

Antwoord:
Dr. Kobus Kok antwoord:

As ‘n Christen afvallig word – kan hy/sy nooit weer terugkom nie!?
Perspektiewe op Hebreërs 6:4, 6

In Hebreërs 6:4-9, volgens die Ou Afrikaanse vertaling, lees ons:
Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het-om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking-die einde daarvan is verbranding.

In hierdie gedeelte poog die skrywer van Hebreërs om op oortuigende wyse retories die lesers te waarsku teen afvalligheid. Dit het in die vroeë kerk gebeur dat sommiges die geloof waartoe hulle gekom het, verlaat het. In die lig hiervan sê die skrywer dat dit onmoontlik is vir dié wat eers een keer die liefde en genade van God beleef het om ooit weer tot bekering te kom as hulle na hulle bekering weer ongelowig word. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die wat afvallig word dit self doen en self die keuse teen God maak. Die skrywer gebruik die Griekse woord adunaton (onmoontlik), wat definitief ‘n sterk manier is om die saak ondubbelsinnig te stel dat dit onmoontlik is om terug te keer. Wat die skrywer hier bedoel is nie dat God hulle nie sal vergewe of dat daar nou een of ander onoorbrugbare kloof vir altyd sal bestaan nie. Die skrywer gebruik twee metafore – die een tipe mens is soos vrugbare grond (Hebreërs 6:7) en die ander tipe mens is soos dorre land (Hebreërs 6:8). Diegene wat die geloof verwerp het, is soos die dorre land wat nie vrug dra nie. Die skrywer probeer die leser oortuig om nie soos diegene te wees wat soos ‘n dorre land is nie. Die wat soos die vrugbare land is sal vrug dra – hulle sal hoop, geloof en liefde as deel van hulle lewe uitleef. Ons moet die hele NT in hierdie verband lees. Neem byvoorbeeld die geval van Petrus wat na sy verloëning van Jesus deur die verrese Jesus self herstel word, of vir die ongelowige Thomas wat in Johannes 20 deur Christus ‘n tweede kans gegee is.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok