Christus se wederkoms – Hermie van Zyl

Jan vra:

Gal 4: 4 en 5 sê: Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons aanneming as kinders kan ontvang.

Jesus het as kind die aarde betree. Op 8 jarige ouderdom vind hulle Hom reeds tussen die leraars om te luister en vrae te vra. Op 30 jarige ouderdom begin Hy sy bediening. Hy word gedoop in die Jordaan en die Heilige Gees daal op Hom neer in die gestalte van ‘n duif en ‘n stem sê uit die hemel: U is My geliefde Seun; in U het ek ‘n welbehae.

Vir 3 ½ jaar het Hy stelselmatig voortgegaan om dit wat die Vader van Hom verwag het uit te voer. By Sy hemelvaart was Sy volgelinge gereed om Sy werk voort te sit nadat hulle met die Heilige Gees gedoop is. En is hulle versekerd van Sy terugkeer.

Skrifuitlêers het nou allerhande voorspellings oor die wat, hoe en wanneer van Sy wederkoms maar soos ek dit verstaan sal Christus op ‘n tydstip op die aarde kom heers waartydens Hy die nasies met ‘n ysterhand sal regeer.

As Hy op hierdie oomblik moet arriveer sal Hy die ganse aarde in sy huidige stand van verwarring, vyandigheid, korrupsie en elke ander ding aantref en ek wonder net wat Sy modus operandi sal wees om beheer daaroor te neem. (Dit is as ou antichrist ook nog klaar is met die plek).

 

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

As ek dit reg verstaan, is daar ‘n aanname en ‘n vraag vervat in die skrywe. Kom ons begin by die aanname. Die skrywer sê: “… maar soos ek dit verstaan sal Christus op ‘n tydstip op die aarde kom heers waartydens Hy die nasies met ‘n ysterhand sal regeer.” Die skrywer sê dit nie pertinent nie, maar dit klink asof hy aansluiting vind by die sogenaamde chiliastiese of millennialistiese standpunt. Hiervolgens sal Christus eers vir ‘n tyd lank (1000 jaar) op aarde regeer, voor die groot verdrukking kom en daarna die finale koms van die koninkryk van God. Daar is dus eintlik ‘n dubbele wederkoms van Christus in hierdie siening vervat: die eerste waar Hy sy duisendjarige vrederyk op aarde stig, en daarna die tweede of finale wederkoms waar die bose vernietig en die koninkryk van God finaal gevestig word. My aanvoeling is dat die skrywer hom breedweg by hierdie standpunt skaar, hoewel dit nie baie duidelik is uit die skrywe nie.

Vervolgens die vraag: Die skrywer vra dan verder presies hoe Christus by sy koms na die aarde (volgens bg interpretasie by die “eerste wederkoms”) beheer sal oorneem van die vyandelike magte om die onreg en kwaad te beveg en uit te roei.

Ek wil die vraagsteller nie sieninge ten laste lê waarmee hy hom nie noodwendig vereenselwig nie, maar bg is hoe ek die skrywe interpreteer en waarop ek in my antwoord kortliks wil reageer. My apologie as die skrywer nie nietjies inpas by my interpretasie van sy skrywe nie. Maar ten minste kan ek dan na aanleiding van my interpretasie ‘n paar opmerkings maak wat in elk geval sinvol mag wees.

Oor die aanname: Laat ek dadelik sê dat ek persoonlik nie die chiliastiese standpunt deel nie. Na my mening spruit dit voort uit ‘n soort fundamentalistiese Skrifbenadering waar te letterlik met die Skrifgegewens omgegaan word. Want gewoonlik word gegewens vanuit verskillende Skrifdele met mekaar geharmonieer wat nie gegrond is op goeie eksegetiese beginsels nie. Bv, gegewens uit Op 20, waar gehandel word oor die duisendjarige vrederyk, word gepaar met die sogenaamde wegraping wat na bewering in 1 Tess 4:13-18 voorkom. Hierdie twee stelle gegewens word dan so met mekaar verbind dat die “wegraping” van gelowiges eers plaasvind. Hulle ontmoet Christus in die lug, word geoordeel, en vier saam met Hom die bruilof van die Lam (Op 19). Die Satan word vervolgens gebind, en dan breek die duisendjarige vrederyk op aarde aan waar Christus die wêreld regeer (Op 20). Ná hierdie tydperk word die duiwel weer vir ‘n kort rukkie losgelaat, waarop die vernietiging van die Satan en die bose magte, die opstanding en oordeel van die ongelowiges volg, en die nuwe hemel en aarde aanbreek. Dit is in baie breë trekke die chiliastiese siening. Dit is nie my bedoeling om lg in diepte te bespreek nie. Daar is op hierdie webblad reeds deeglik hieraan aandag gegee en die leser kan bloot deur die sleutelwoord “chiliasme” in te tik volledig hieroor ingelig word.

Al punt wat ek probeer maak, is dat daar nie so met die Bybelgegewens omgegaan behoort te word nie. Gesonde eksegese behels dat eerder die unieke boodskap van elke Bybelboek vasgestel word, dat rekening gehou word met die ontstaanstyd en -omstandighede van elke geskrif, en dat die literatuursoort (genre) van elke Bybelboek ook in ag geneem word voordat enigsins probeer word om oorhoofse temas tussen Bybelboeke vas te stel. Indien hierdie eksegetiese riglyne gevolg word, sal ten minste twee resultate na vore tree. Die eerste is dat die Openbaringboek nie soseer met opeenvolgende tydperke opereer nie, maar dat dieselfde tydperk, naamlik die hele tyd tussen Christus se eerste en tweede koms (wederkoms), telkens met al groter wordende intensiteit beskrywe word soos wat die drama in die Openbaringboek van begin tot einde ontvou. Vervolgens moet ook in ag geneem word dat ons in Openbaring met die apokaliptiese genre te make het wat veral van simboliek gebruik maak om sy boodskap oor te dra. Hiervolgens word van allerlei beelde, figure, getalle, kleure, ensovoorts (die meeste hiervan afkomstig uit die Ou Testament) gebruik gemaak om sy boodskap te kommunikeer. Dit is nie die bedoeling van die Openbaringskrywer dat hierdie simboliek letterlik opgeneem moet word nie. Dit verteenwoordig eerder ‘n soort kodetaal wat juis nie vir alle lesers sonder meer toeganklik was nie (waarskynlik om die eerste lesers teen vervolging te beskerm), en wat deur die eerste lesers “gedekodeer” moes word om die boodskap te ontdek (vgl bv Op 13:18). Eers wanneer die boodskap van Openbaring so ontsyfer is, kan dit versigtig met gegewens van ander Bybelboeke in verband gebring word.

Wat laasgenoemde betref, moet mens onthou dat verskillende Bybelboeke op verskillende maniere oor die wederkoms praat. Almal praat nie “dieselfde taal” nie. Want die Bybel is nie ‘n teologiese teksboek deur een outeur nie. Verskillende outeurs het op verskillende tye en vanuit verskillende agtergronde en met verskillende begrippe-apparate aan verskillende gehore geskryf. Maar dit beteken nie dat net omdat verskillende begrippe of beelde gebruik word, daar na verskillende wederkomste verwys word nie. Goeie eksegese moet juis uit die soms verwarrende aantal begrippe probeer agterkom wat die gemeenskaplikhede is en hoe hulle met mekaar in verband staan.

Wat my by die tweede resultaat uitbring, en dit is dat wanneer oor die wederkoms van Christus gehandel word, die gegewens van die Nuwe Testament die beste verstaanbaar is as slegs een wederkoms of tweede koms aanvaar word. Dit beteken dat Christus die eerste keer gekom het toe Hy as Kind gebore is, dat Hy ‘n aardse bediening gehad het, en dat (soos ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely) Hy gely en gesterf het en begrawe is, op die derde dag opgestaan het uit die dood, en gaan sit het aan die regterhand van God, vanwaar Hy weer sal kom (die wederkoms) om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Dus: ‘n eerste (aardse) koms, waartydens Hy sy heilswerk volgens die wil van die Vader voltooi het, en ‘n tweede koms (wederkoms) in heerlikheid wanneer sy koninkryk finaal gevestig word.

Binne hierdie siening moet ons Christus se oorwinning oor die bose waarvan die Bybel praat sowel as die voortgaande vernietigingswerk van die bose probeer verstaan. En die beste manier om dit te doen, is om te praat van die “alreeds” en die “nog nie” van God se koninkryk. Dit beteken dat met Christus se eerste koms na die wêreld die koninkryk van God inderdaad alreeds gekom het. Ons sien elke dag hoe hierdie koninkryk van genade, geregtigheid, liefde, vergifnis en erbarming in individue en gemeenskappe wortel skiet en vrug dra. Orals word tekens opgerig dat die mag van die bose gebreek is, en dat die koninkryk van God onstuitbaar deel geword het van die sigbare wêreld. Maar dit is ewe waar dat die bose nog deel is van hierdie wêreld en voortgaan met sy vernietigingswerk (dink hier aan die gelykenis van die onkruid tussen die koring, Matt 13:24-30,36-43). In daardie sin van die woord is die koninkryk van God nog nie hier nie. Die finale konsummasie van die koninkryk en vernietiging van die bose sal eers manifesteer by die wederkoms van Christus. Dan daal die hemel op aarde neer en word die aarde en hemel nuut gemaak, tot in alle ewigheid. Maar in die tyd waarin ons nou lewe, moet ons met ‘n situasie rekening hou waar die koninkryk tegelyk alreeds gekom het én ook nog nie gekom het nie. Beide is gelyktydig waar. Dit is dit realiteit waarin die kinders van God lewe.

Om dus die vraag van ons skrywer te antwoord, naamlik presies hoe Christus beheer sal oorneem van die wêreld en sy mag laat geld, sou ek dit nie graag in terme van die chiliastiese siening wou beantwoord nie. Want wat my betref is dit ‘n verkeerde aanname en sal dit net tot allerlei spekulasies en voorstellings lei wat nie Bybels verantwoord kan word nie, tensy mens natuurlik op ‘n biblisistiese en fundamentalistiese wyse met die Bybel probeer omgaan, ‘n weg wat ek bo reeds afgewys het. Maar as die vraag in terme van die “alreeds” en “nog nie”-skema beantwoord word, kan ons sê dat Christus al die afgelope 2000 jaar besig is om beheer te neem van die wêreld deurdat sy koninkryk van liefde en geregtigheid oor die hele wêreld versprei. In hierdie verband is die boek Handelinge ‘n prototipe van hoe dit gebeur. Ten spyte van al die destydse teenstand – vervolgsugtige Jode; natuurlike gevare (bv Paulus se skipbreuk); die ongeërgdheid, teenstand en onkunde van mense; Romeinse gesagsfigure wat enersyds geen erg het aan die evangelie nie en andersyds tog by geleentheid onwetend beskerming verleen aan die verspreiding van die evangelie – breek die Woord onstuitbaar vir hom ‘n pad oop in ‘n vyandige wêreld, beginnende in Jerusalem en voortgaande in al wyer wordende kringe tot onder die neus van die keiser in Rome. Sodat die boek afsluit met die woorde dat Paulus met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering die koninkryk van God verkondig het (Hand 28:31).

En dít het die patroon geword deur die afgelope 20 eeue. En dit is steeds die pad wat die Woord loop. Daar is nie ‘n ander pad nie. Stadig maar seker word God se koninkryk op aarde gebou, totdat die tyd aanbreek wat God bepaal het vir sy Seun se wederkoms. Maar oor lg het ons geen kennis van of beheer nie. Alleen God bepaal hierdie datum in sy alleenwysheid. Al wat ons – die kerk op aarde – kan doen, is om getrou te wees aan die taak wat Hy ons opgelê het: om Christus se getuies te wees – in eie kring en tot in die uithoeke van die aarde (vgl Hand 1:8). Daar is nie ‘n ander manier waarop Jesus beheer neem van die wêreld nie.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Jesus se wederkoms

Rather than arguing about the superiority of Christianity over world religions, I would rather put forth a light that is so lovely that all would be drawn into his presence – Madeline L’Engle

 

Jesus se wederkoms

Daar is 318 verwysings na Jesus se wederkoms in die Nuwe Testament. Dit is dus ‘n noodsaaklike deel van ons geloof. J. D. Greear noem vier veranderinge wat die naderende koms van Jesus Christus in ons moet bewerkstellig.

  • Geestelike waaksaamheid

Die Nuwe Testamentiese skrywers wag almal gretiglik op Christus se wederkoms. Hulle leef met geestelike waaksaamheid – asof Christus enige oomblik kan terugkeer. Sou jy anders geleef het as jy geweet het dat Christus vannag nog gaan terugkeer?

Sal dit jou nie dwing om die volgende vraag te antwoord nie: “Leef ek so dat ek gelukkig sal wees om Hom vannag te sien?” Dit mag vandag wees. Dit mag jou laaste geleentheid wees om te vergewe.

  • Die sending is dringend

As ons weet dat Christus binnekort gaan terugkom, sal ons nie ons prioriteite herrangskik nie. Met ons optrede vertel ons vir die wêreld dat Christus nie binnekort gaan terugkeer nie en dat ons sending nie so dringend is nie. Belê ons ons talente in sy koninkryk of sit ons op hulle. Ongelukkig sal van ons eendag die stem van Jesus hoor wat vir ons sê: Jy is ‘n slegte en lui slaaf … Vat die muntstuk van hom af weg (Matteus 25:26 – 28).

  • Die krag om te vergewe

As iemand iets verkeerd aan ons doen, soek ons geregtigheid. Maar dit is nie wat ons bedoel is om te doen nie – ons is te klein om op die regterstoel te sit. Hierdie gesindheid veroorsaak dat ons altyd die slegste van ander verwag en blind is vir ons eie sondes. Ons skep ‘n klomp negatiewe stereotipes. As ons weet dat Jesus Christus weer gaan kom en dat sy koms geregtigheid beteken, kan ek vergewe. Ek kan ongeregtigheid verdra, want ek weet dat Hy dit gaan regstel.

  • Hoop in lyding

Dan sal die mense  die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit (Markus 13:26). Dit is belangrik, want dit verwys na die heerlikheid van God in die Ou Testament. Daar, as God aan sy mense verskyn het, was dit dikwels in ‘n wolk – toe Hy hulle uit Egipte gelei het; toe Hy die wet vir hulle gegee het; toe die tempel ingewy is. Die wolk was ‘n teken dat God by sy mense kom woon het – om hulle pyn en vrees weg te nem. Wat Jesus in Markus 13:26 sê, beteken die permanente terugkeer van God se heerlikheid. Hy kom om al die pyn en hartseer in ons lewens vir altyd weg te neem. “The return of Christ is good news for people whose lives are filled with bad news.” (Cornelius Plantinga)

 

As ons swaarkry sê Jesus vir ons: “Kyk boontoe. Ek kom terug en dit mag dalk vandag wees.” Daar is rede om te hoop al verkeer jy in die donkerste vallei. Die goeie ou dae lê nog voor ons.

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (7)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (7) – Adrio König

Konklusie

Die eindtyd of die laaste dae is dus nie ‘n tyd wat Jesus en die apostels eers in die (verre) toekoms verwag het nie. Hulle verkondig

 

  • dat Jesus in die laaste dae gebore is,
  • dat die Heilige Gees in die laaste dae uitgestort is,
  • dat die Regter voor die deur staan,
  • dat die gemeente in die eindtyd leef,
  • dat die einde naby is,
  • dat Jesus gou sal kom.

 

Dit was ‘n troos vir die vervolgde gelowiges, en ‘n waarskuwing vir die ongelowiges.

 

Dit beteken dat die Here Jesus enige oomblik kan kom, regtig voor die son môre-oggend opkom. Maar dit beteken ook dat ons nie weet wanneer Hy kom nie, en dat alle voorspellings en berekenings teen die boodskap van die Nuwe Testament ingaan.

 

Ons moet leef asof Hy vannag nog kom.

En werk asof ons ons lewe voor ons het.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (6)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (6) – Adrio König

8.3.5 Romeine 9-11

Hier het ons die enigste deel in die Nuwe Testament wat enigsins breedvoerig aandag gee aan die toekoms van Israel. Die agtergrond is die feit dat die kerk in Paulus se tyd vol heidene sit met baie min Jode, en dit terwyl Jesus die Jode se Messias is. Dit is vir Paulus ‘n hartseer saak (Rom 9:1-4).

Die rede waarom die heidene “oorgeneem” het in die kerk, is eenvoudig: hulle het die evangelie van vrye genade geglo, terwyl Israel self hul heil deur die wet wou verdien (Rom 9:30-33).

 

En wat nou van die toekoms? Met ‘n baie interessante beeld verduidelik Paulus dit, die beeld van die twee olyfbome (11:16ev). Die mak olyfboom is die volk van God, die wilde boom is die heidene. Die stam of wortel van die mak boom is die gelowiges van die Ou Testament. Die Jode wat nie vir Jesus as Messias wou aanvaar nie, is die takke van die mak boom wat afgekap is. Die heidene wat tot geloof kom, is takke wat van die wilde olyfboom afgebreek is en op die mak boom geënt is (11:17-24). Hierdie beeld verduidelik die huidige situasie baie goed. Die kerk sit vol heidene, en Israel is in die geheel gesien, in ongeloof. 

 

En die toekoms? In ‘n sekere sin is die toekoms oop. Die Jode kan nog inkom. Dié van hulle wat Jesus as Messias aanvaar, is soos afgebreekte takke wat weer op die mak boom geënt word (11:23). En die heidene wat hulleself verhef en nie in die geloof volhard nie, is soos takke wat van die mak boom afgebreek word (11:22).

 

Hier kom nog iets by. As die Here die wilde lote op die mak boom kon ent, sal dit soveel makliker wees om die mak lote wat afgebreek is, weer terug te ent op hierdie boom (11:24). Dit beteken dat Paulus verwag dat dit maklik gaan wees om die Jode te oortuig dat Jesus hulle Messias is. Trouens dit is ook sy eintlike oogmerk met sy sending onder die heidene. Hoewel hy die apostel vir die heidennasies is, strewe hy in sy bediening daarna om sy eie mense jaloers te maak deur die heidene wat tot bekering kom (11:13-14). Dit is sy hoop omdat Jesus eintlik hulle Messias is.

 

Dit beteken dat Paulus nie die bekering van Israel sien as ‘n massale gebeurtenis iewers in die verre toekoms wanneer die hele volk eensklaps vir Jesus as die Messias sal aanvaar nie. Dit kan nooit die betekenis wees van “die hele Israel” wat gered word nie (11:26). Een enkele geslag iewers ver in die toekoms is nie “die hele Israel” nie, maar net een geslag.

 

Daar is Christene wat meen 11:26 volg op 11:25, in plaas daarvan dat 11:26 ‘n  verduideliking is van 11:25. 11:26 begin nie met: “en daarna” nie, maar met “en op hierdie manier.” Hier staan nie dat die hele Israel gered sal word nadat die volle getal uit die heidennasie ingegaan het nie. Daar word niks gesê oor wat sal gebeur nadat die volle getal heidene ingegaan het nie (netsoos in Lukas 21:24). Wat hier gesê word, is hoe die hele Israel gered sal word: As gevolg van Israel se verharding word die evangelie nou aan die heidene verkondig om Israel jaloers te maak. Dus terwyl die heidene tot geloof kom, moet hulle Israel jaloers maak, en só sal “die hele Israel” gered word. Hierdie proses sal aanhou totdat die volle getal uit die heidennasies ingegaan het. Daar is nie goeie rede om te aanvaar dat daar dan op daardie stadium iets anders as die wederkoms van Christus sal plaasvind nie.

 

Daar is nie sprake van ‘n ander toekoms van Israel nie as dat hulle verharding sal voortduur en net dié wat jaloers gemaak word, gered sal word.

 

Die vraag is dan natuurlik hoe dit kan beteken dat die hele Israel gered sal word? Die eintlike vraag is wie “die hele Israel” is. Dit is moontlik dat ‘n mens ‘n antwoord kry in die slotgedeelte, 11:28-32. Dit eindig met die nadruk op die herhaalde woord “almal:” God het almal (Jode én heidene) aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal (Jode én heidene) kan ontferm.”  Hierdie “almal” is die Jode en heidene saam. Elders noem Paulus die gelowiges van die Nuwe Testament ook “Israel” (Gal 6:16). “Die hele Israel” is dus nie die hele volk Israel nie maar die nuwe gestalte van die volk Israel: die volle getal gelowiges uit die Jode en die heidene.     

 

Dit alles beteken dat Paulus nie vir Israel as volk ‘n ander toekoms sien nie as dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word en dus weer deel word van die eintlike “Israel,” die gemeente van die Nuwe Testament.

 

Van ‘n aparte toekoms vir die volk Israel is daar nie in die Nuwe Testament sprake nie.

 

In watter sin is Israel as volk dan ‘n teken van die nabye wederkoms van Christus? Israel se voortdurende verharding en die feit dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word, moet ons daaraan herinner dat Christus enige oomblik weer kan kom. Van ‘n terugkeer van Israel na die staat Israel kort voor die wederkoms van Christus is daar nie sprake in die Nuwe Testament nie. Die profesieë oor die terugkeer van Israel in die Ou Testament is vervul in die terugkeer uit die ballingskap in Babel. 

 

Skrywer: Prof Adrio König