Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (5)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (5) – Adrio König

8.3.4 Israel

Intussen bly Israel vir sommige gelowiges ‘n baie belangrike saak. En in ons tyd kom dit weer sterk na vore. Mense is oortuig dat bepaalde dinge wat nou in Israel gebeur die vervulling van profesieë is.

Kom ons kyk eers wat ons in die Nuwe Testament oor die toekoms van Israel het. 

 

  • Matteus 10:23  Dit is nogal een van die moeiliker uitsprake van Jesus oor Israel, maar dit sê nie meer nie as dat die verkondiging van die evangelie aan Israel sal voortgaan tot Jesus kom.
  • Matteus 19:28  Hier staan net dat Jesus se volgelinge iewers in die toekoms oor Israel sal regeer. Die woorde: “Wanneer alles nuut gemaak word” laat ‘n mens aan die nuwe aarde dink (Openb 21:5), maar dis moeilik om dit daarby in te pas.
  • Matteus 23:39  Dis ‘n besonder interessante uitspraak. Dis eintlik moeilik om te vertaal, want die Griekse vorm van “julle sal uitroep” dui  ‘n moontlikheid aan, nie ‘n voldonge feit nie. Dit beteken iets soos: “Julle sal My nie weer sien nie behalwe as julle sal uitroep …” Is dit nie van Jesus se kant af ‘n oproep tot bekering nie? Kom ons kyk na die verband.

 

Matteus 23 het die skerpste uitsprake van Jesus in die hele Nuwe Testament. Dit is oordeel op oordeel op oordeel. En dan volg die laaste, vernietigende oordeel: Jerusalem sal verwoes word. Dit beteken eintlik dat God se besondere verhouding met Israel verbreek word. Dit het Jesus al vroeër aangekondig (Matt 21:43).

 

Maar dan hou Jesus nie hier op nie. Dan nooi Hy hulle uit om tot bekering te kom. Hy gebruik dieselfde woorde wat die juigende skare kort tevore by sy intog gebruik het: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom” (21:9). Hierdie volksleiers moet soos die skare word: Juigend oor Jesus. Vers 39 beteken dus skynbaar iets soos: Julle sal My net kan sien as julle tot bekering kom. Of: Indien julle tot bekering kom, sal julle My sien.

 

  • Lukas 21:20-24  Dis ‘n deel van Jesus se profetiese rede. Dit gaan oor die verwoesting van Jerusalem. Heidene sal Jerusalem inneem en “vertrap totdat ook hulle tyd verby is”. Die heidene sal Jerusalem dus vir ‘n bepaalde tyd lank vertrap. En daarna? Dit is die vraag. Hier staan niks oor wat daarna sal gebeur nie. Daar is mense wat dan baie dinge inlees wat daarna sal gebeur. Maar dit staan nie hier nie. Dit is dus ook moontlik dat die einde daarna kom, die wederkoms van Jesus en die nuwe aarde. Trouens dis presies waaroor Jesus dan verder praat (21:25-27).
  • Handelinge 3:19-21  Dit is Petrus se oproep aan Israel om hulle te bekeer. “Dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom.” Wat sal in hierdie tye gebeur? God sal alles nuut maak en vir Jesus stuur. Dit verwys tog seker na die wederkoms en die nuwe aarde.
  • 1 Tessalonisense 2:16  “Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.” Dit is die toekoms van Israel.

 

Wat het ons tot hiertoe oor die toekoms van Israel gekry?

  • Ons sal nie klaar kry om die evangelie aan Israel te verkondig voor Jesus kom nie.
  • Jesus se volgelinge sal iewers in die toekoms oor Israel regeer.
  • Die Israeliete wat tot bekering kom, sal die Here Jesus sien en Hom prys.
  • Jerusalem gaan verwoes word, en skynbaar deur heidene vertrap word tot Jesus kom.
  • Die oordeel van God het Israel begin tref.

 

Wat het ons gekry? Israel wat hulle moet bekeer, en die oordeel van die Here is oor hulle.

 

En die vyeboom? Sal die Here Jesus nie kom wanneer die vyeboom blare kry nie? Is die “vyeboom” nie Israel nie, en is “blare kry” nie Israel wat teruggaan na die staat van Israel nie?

 

Nee. Ons kry dieselfde woorde van Jesus in Lukas: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop , weet julle vanself dat die somer naby is” (Luk 21:29ev).

  

As “die vyeboom” Israel is, en as “begin uitloop” beteken teruggaan na hulle land toe, dan moet al die ander volke ook teruggaan na waar hulle vandaan gekom het. 

 

As ‘n vyeboom iewers in die Ou Testament ‘n simbool van Israel is, beteken dit nie dit is elke keer so ‘n simbool nie. Hier is dit nie. Dis ‘n gewone vergelyking: Wanneer bome blare kry, weet ons die somer is naby. Net so weet ons die koms van Jesus is naby wanneer ons die tekens sien waarna Hy verwys het.

 

Wat bly oor in verband met Israel se toekoms? Natuurlik Romeine 11. Dit is ongetwyfeld die belangrikste en insiggewendste deel oor hulle toekoms in die Nuwe Testament.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (4)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (4) – Adrio König

8.3.3 Die heidensending      

Die evangelie moes eers aan alle mense verkondig word voor die Here sal kom. Jesus het self ‘n duidelike uitspraak: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom” (Mat 24:13). 

Beteken dit dat die Here dus nie nou al kan kom nie, trouens dat sy koms selfs nie eens naby kan wees nie? Immers daar is baie mense, selfs volke wat nog nie die evangelie gehoor het nie. Maar pas dit regtig in by die prentjie van die Nuwe Testament? Sy koms was dan al in die tyd van die Nuwe Testament naby. 

 

Wat het Jesus bedoel? Dis interessant om Paulus se briewe hieroor te lees.

  • In Romeine 16:26 skryf Paulus van die evangelie wat “aan alle nasies bekend gemaak is”.
  • In  Kolossense 1:6 skryf hy van die evangelie “wat in die hele wêreld vrug voortbring,”
  • en in Kolossense 1:23 van “die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is”,
  • en later lees ons: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor” (2Tim 4:17).

 

En skielik is dit duidelik waarom Paulus, en al die ander skrywers in die Nuwe Testament, kon verkondig dat die koms van Christus (in hulle tyd!!) naby was. Hulle was oortuig dat die uitspraak van Jesus deur hulle optrede in vervulling gegaan het: al die nasies (waarvan hulle geweet het) het reeds in hulle leeftyd die evangelie gehoor. En dit was ‘n teken dat Jesus reeds in die tyd van die Nuwe Testament enige oomblik kon kom. Ons kan immers nie aanvaar dat Jesus onder “al die nasies’ iets anders bedoel het as wat die apostels daaronder verstaan het nie.

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (1)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (1) – Adrio König

8 Die wederkoms nou?

8.1 Die wederkoms is naby

Saam met die doop is dit een van ‘n paar sake wat nie regtig so duidelik met “terug na die Ou Testament” verband hou nie. En die punt wat sommige oor die wederkoms van Jesus maak, is nie

  • Dat dit naby is nie – dit was van die begin af naby,
  • Dat dit nou naby is nie – natuurlik kan Hy enige oomblik kom,
  • Maar dat dit juis nou naby is – in teenstelling met enige vroeër tyd.

Uit allerlei dinge wat nou gebeur, lei mense af dat die wederkoms van Christus juis nou moet gebeur in teenstelling met enige vorige tyd. Dit is ‘n verskynsel wat nou al vir ‘n geruime tyd aanhou. Verlede jaar was selfs bepaalde datums aangegee. Mense maak aanspraak op spesiale openbarings of nuwe insigte in gegewens in die Bybel. En dit lei daartoe dat sommige regtig nie verder voorsiening maak vir hulle lewensonderhoud nie. Hoeveel ellende dan agterna daaruit voortspruit, word natuurlik nooit aan die groot klok gehang nie. 

 

Die probleem is nie dat hierdie mense glo die wederkoms van Jesus is naby nie. Dit het almal in die Nuwe Testament al geglo. Die probleem is dat, anders as in die Nuwe Testament, die datum vasgemaak word.

 

  • Die Nuwe Testament sê: Enige tyd.
  • Hulle sê: Nou.

 

Die Nuwe Testament het ‘n baie sterk boodskap dat die wederkoms van Jesus naby is. En dit beteken dan nie dat dit nou eers naby is, in 2013 nie. Dit beteken dat dit toe al naby was.

 

Ons kry dit in byna elke boek. En lees mooi wat daar staan. Dit gaan elke keer oor die tyd waarin die boek geskryf is, nie oor ‘n toekomstige tyd ver die toekoms in nie (Matt 24:33; Luk 21:28,30; Mark 3:29; Rom 13:12; 16:20; 1Kor 7:29; Fil 4:5; 1Tes 4:17, 5:10; Heb 10:37; Jak 5:8-9; 1Pet 4:7; Open 1:1,3; 3:11; 22:7,12,22).

 

Soms word dit misverstaan, asof dit beteken dat die koms juis naby is in ons tyd. Maar dit is bedoel vir die tyd van die vroeë Christene. Die Here se koms was al in die tyd van die eerste gemeentes naby.

 

Jesus en die apostels sê nie dat die mense wat eendag in die verre toekoms sal leef, dan sekere dinge sal beleef en dat hulle dan moet weet dat die einde dan naby is nie. Jesus kyk sy dissipels in die oë met die woorde: Julle sal hoor van …  Hulle sal julle oorlewer … Wanneer julle sien … As iemand vir julle sê … So moet julle weet … (Mat 24:6,9,15,23,33).  Die wederkoms was in daardie tyd naby. Dis duidelik dat Paulus gereken het met die moontlikheid dat die Here Jesus al tydens sy leeftyd sou kon kom. As hy oor die wederkoms skryf, lees ons: “dan sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet” (1 Tes 4:17).

 

Baie van ons ken die uitdrukkings oor die nabye wederkoms uit ons kop: Dit is nie meer lank nie, die regter staan al voor die deur (Jak 5:8,9), die tyd is min, dit is die einde van die tye (1Kor 7:29; 10:11), die tyd is naby, voor die deur (Matt 24:33; Mark 13:29), die nag is byna verby, dit is amper dag (Rom 13:12), dit is die laaste uur (1Joh 2:18).

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Ongehoorsaam in die ewigheid

Ongehoorsaam in die ewigheid – Francois Malan

Johan vra:

Is dit ‘n moontlikheid dat God se kinders na die wederkoms van ons Here Jesus Christus ongehoorsaam kan wees aan God, in opstand kom teen God se gesag. Miskien slaan my vraag ook daarop of ons steeds ‘n vrye wil sal hê en ‘n verkeerde keuse sal kan maak wat God se gesag betref.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

‘Steeds ‘n vrye wil’? – die mens het geen vrye wil nie! In Romeine 7:15 sê Paulus: Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. In Rom 7:19 sê hy: die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.’

 

God het die mens geskep om Hom vrywillig (uit vrye wil) te dien uit dankbaarheid en in liefde met sy hele hart en lewe (Gen 1:26-27 as sy verteenwoordiger, as beeld van God, wat liefde is, (1 Joh 4:8). En toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed (Gen. 1:31).

 

Die mens het egter geluister na die vader van  die leuen, die mensemoordenaar van die begin af (Johannes 8:24) en begeer om soos God te wees om kennis te verkry (Gen 3:4-7). Toe het die mens sy eie god geword, ‘n wese wat net vir homself lewe en nie meer vir God nie, met ‘n wil wat nie meer vry is nie, maar ‘n slaaf van die sonde (Rom 7:14 ‘maar ek is aards en soos ‘n slaaf aan die sonde verkoop’; Rom 7:17,18 ‘Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard  nie’). Daar bestaan by my geen vrye wil meer nie!

 

Daarom roep Paulus in Rom 7:24,25 ‘Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.’ En in Romeine 8 beskryf Paulus hoe God ons verlos, deurdat die Heilige Gees ons kom oortuig om in Christus te glo as die enigste wat ons kan verlos, dat die Heilige Gees ons aan Jesus, die Seun van God verbind om saam met Hom kinders van God te wees wat ons  nie deur ons sondige natuur laat beheer nie, maar deur die Gees van God, vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. En Jesus sê in Johannes 8:31-32: ‘As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ 

 

Die werk van die Heilige Gees is om ons te verander om al meer aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:18). Hy wat in alles aan sy Vader gehoorsaam was, wat Homself verloën het en sy lewe gegee het as ‘n liefdesoffer vir ander. Daarom het Jesus gesê: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor sal dit terugkry (Matteus 16:24-25).

 

Die mens behou ‘n vrye wil slegs deur God se wil te doen. Die mens kan slegs ‘n slaaf wees van of die sonde of van God (Romeine 6:16). Jesus het ons kom vry maak om weer vir God te kies en in gehoorsaamheid aan Hom te leef. Iemand wat deur die proses is, sal weet dat om teen God te kies die dood beteken. Om vir Hom te kies beteken die lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan