Ons bid vir Christus se wederkoms – wat van sy eerste koms?

God would never permit any evil if he could not bring good out of evil. —Thomas Watson

Ons bid vir Christus se wederkoms – wat van sy eerste koms?

In Handelinge 1:1 – 11 som Lukas vinnig sy evangelie op – verse 2 – 5. Nie minder as agt sleutelgebeure word in hierdie paar verse beskryf nie: die onderrig en optrede van Jesus; die uitverkiesing van die apostels; Jesus se lyding; Jesus se verskynings na sy opstanding; Hy eet saam met hulle; sy opdrag aan hulle om sy getuies te wees; die belofte van die gawe van die Heilige Gees; Jesus se hemelvaart.

 

Lukas doen moeite om hierdie gebeure met dié van Elia te koppel.  Elia is in ‘n stormwind op – die hemel in (2 Konings 2:9 – 22) – terwyl sy opvolger Elisa alles aanskou.  Volgens Joodse tradisie sou Elia voor die koms van die Messias kom om alles vir die Messias voor te berei. Daarom word ‘n plek vir Elia by elke Paasmaaltyd gedek.

In Handelinge 1 laat Lukas vir Jesus van die toneel verdwyn, sodat die Heilige Gees op sy volgelinge kan neerdaal. So word Jesus se volgelinge bemagtig om sy werk voort te sit. Die apostels verstaan dit nie.  Daarom vra hulle: Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk van Israel weer gaan oprig?  Jesus antwoord hulle: Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.

Ja, Jesus gaan weer die koninkryk van Israel oprig, maar nie op die manier wat hulle gedink het nie. Hulle sal krag van die Heilige Gees ontvang om uitgestuur te word  in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Hulle sal nie die grootheid van Israel verkondig nie, maar hulle sal verklaar dat God heers oor diegene wat Jesus as Messias aanvaar het.

Vers 9 – 11 is eintlik komies.  Nadat hulle gehoor het dat Jesus sê dat hulle in Jerusalem moet bly totdat hulle die heilige Gees ontvang het, sien hulle hoe Jesus in ‘n wolk weggeneem word – hulle kyk stip na die hemel. Skielik verskyn twee mans in wit klere en vra vir hulle: Waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.

Gebeur dit nie met ons ook nie? Ons staan en opkyk na die hemel en wag op die wederkoms van Jesus. Ons bid vir die wederkoms, maar in die proses vergeet ons dat Jesus reeds hier was. Jesus wil hê dat ons die Heilige Gees moet ontvang en getuig van God se heerskappy.




Die Apostoliese Geloofsbelydenis (8)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (8)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Wederkoms: Ek glo in Jesus Christus … wat sit aan die regterhand van God … van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het

 

Jesus verskyn aan ‘n klein groepie van sy volgelinge. Uit hulle midde word Hy in die hemel opgeneem. Hy verdwyn, maar nie vir altyd nie. Hy kom weer terug, maar dan in ‘n gebeurtenis wat die wêreld se aandag sal vasvang. Hy kom weer om te oordeel. Na sy hemelvaart sê twee mans in wit klere vir die klein groepie volgelinge: Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het (Handelinge 1:11).

Jesus se oordeel is regverdig en Hy temper sy oordeel met genade en liefde. Hy kom om te beloon en te straf. Jesus self beskryf hierdie tweeledig rol van Hom deur na Homself as ‘n Herder te verwys – Hy skei die skape van die bokke. Die bokke word veroordeel na ‘n bestaan buite sy koninkryk. Jesus beloon die regverdiges, die skape, met die ewige lewe in die teenwoordigheid van die Vader, Seun en Heilige Gees.

Geloofsvrae: Die Antichris

Geloofsvrae: Die Antichris – Adrio König

Die Antichris

Die Antichris is ‘n teken dat die einde naby is. Paulus het in sy prediking dikwels nadruk hierop gelê (2Tes 2:5). Alreeds vroeg in sy bediening verwag hy hom dan ook enige oomblik (vgl die woordjies `nog’ en `al’ in 2Tes 2:6,7). Daarom is dit nie vreemd nie dat Johannes later kan aankondig dat hierdie profesie alreeds vervul is, en dat die Antichris alreeds in baie vorme in die gemeente teenwoordig is (1Joh 2:18-22; 4:3; 2 Joh 7). Dit is jammer dat die NAV sonder goeie gronde gekies het vir die vertaling `die gees van die antichris’ (4:3) Daar is geen getuienis dat Johannes iets minder bedoel het as die Antichris self nie.

As ons Johannes (die enigste skrywer wat die term Antichris gebruik!) ernstig neem, kan ons net een gevolgtrekking maak en dit is dat daar al baie persone in sy tyd was wat hy die Antichris noem, en dat hierdie Antichriste bevestig dat Johannes se gemeente in die laaste uur geleef het (2:18) sodat Christus enige oomblik kon kom.

Meer as een …

Die meervoud (Antichriste) in Johannes is nie vreemd nie omdat daar geen rede is om aan te neem dat die Antichris as net een persoon moet verskyn nie. Trouens hy word in die NT onder verskillende gestaltes voorgestel:

  • as iemand wat in die kerk optree (1Tes 2),
  • as ‘n aantal persone wat die kerk verlaat het (1Joh 2), en
  • as die gesag van die staat (Open 13).

Verder is dit duidelik dat Open 13 ‘n kollektiewe begrip veronderstel. In Dan 7 is daar vier diere waarvan die vierde een tien horings het. Dan verskyn daar ‘n ekstra klein horinkie tussen hulle en dié word dan gesien as die Antichris. Maar in Open 13 is al vier Daniël se diere verenig in een aaklige monster en dié is dan die Antichris. Johannes verenig dus al vier diere in Daniël wat op hulle beurt magte verteenwoordig wat oor ‘n lang tydperk optree. Ons het dus duidelik die neiging tot kollektiwiteit en tot meer as een Antichris.

Wat sê dit vir ons vandag?

Wat beteken hierdie teken van die nabye wederkoms van Christus nou vir Christene vandag? Presies soos in die tyd van die NT en sedertdien deur al die eeue heen, verskyn die Antichris vandag nog in verskeie gestaltes wat radikaal teen die gelowiges optree en die kerk probeer vernietig. Elke keer as ons van sulke magte bewus word, moet ons net soos die vroeë Christene weet dat die Here enige oomblik kan kom en dus altyd gereed wees.

Maar dit is vreemd aan die Bybel om te maak asof die `eintlike’ Antichris nog eers iewers in die toekoms moet verskyn en dat ons dan eers sal kan sê dat die koms van die Here naby is. Dit sou ‘n weerspreking wees van die oorweldigende getuienis van die NT dat die Antichris toe al gekom en die koms van die Here toe al naby was.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die tekens van die tye

Geloofsvrae: Die tekens van die tye – Adrio König

Die tekens van die tye

Die wederkoms was van die begin af naby.

Hierdie agtergrond dat Christus se wederkoms al in die tyd van die NT naby was, help ons om te begryp wat bedoel word met die tekens van die tye, die tekens dat Christus se koms naby is. Die beginsel is eenvoudig: Jesus en die apostels het nie dié tekens bedoel as aanduidinge wat die gelowiges sal help om te bepaal wanneer sy koms naby sal wees nie – immers sy koms was van die begin af naby – maar as staande herinneringe dat sy koms (altyd!) naby is en ons altyd gereed moet wees om Hom te ontvang. Wie dus die tekens (soos die Antichris of die wêreldwye verkondiging van die evangelie of die Jode) gebruik om te probeer bereken wanneer Christus gaan kom – ook net naastenby – misken die wese van die tekens.

Op net twee bladsye in die NT lees ons vyf keer dat ons nie die tekens moet gebruik om die tyd van sy koms te bereken nie, omdat dit eerder waarskuwings is dat ons altyd gereed moet wees (Mat 24:36,42,44,50; 25:13; vgl ook 1Tes 5:2ev; 2Pet 3:10ev). Die oproep van Jesus is duidelik: Julle weet nie wanneer die Seun van die mens kom nie, wees dus elke oomblik gereed, Hy gaan juis kom wanneer julle dit nie verwag nie.

Wat verder duidelik is, is die feit dat Jesus sy dissipels aanspreek as Hy oor die tekens praat. Daar staan nêrens iets soos: Wanneer ‘n geslag in die verre toekoms eendag dié tekens in vervulling sien gaan, moet hulle gereed wees omdat Jesus dan op ‘n onverwagte oomblik kan kom nie. Hy spreek direk sy dissipels aan – tereg, want sy koms was toe al naby (vgl `julle’ in Mat 24:6,9,15,20,23,26,32).

Elke interpretasie van die tekens wat daartoe lei dat ‘n mens nog eers sekere gebeurtenisse verwag voor Christus weer kan kom, is dus ‘n miskenning van die duidelike getuienis van die NT. Dit is die rede waarom ons nie aandag gee aan onderwerpe wat in ander kringe baie populêr is nie, soos die groot verdrukking, en Armageddon nie.

In hierdie lig sou ‘n mens kon verwag dat die tekens alreeds in die lewe van die vroeë Christene in vervulling sou gaan. Dit was immers allereers vir hulle bedoel. Dit is dan ook wat ons in die NT vind. Drie baie interessante voorbeelde is die Antichris, die sending, en die Jode, drie van die heel belangrikste tekens van sy koms.

Ons gaan elk van hulle afsonderlik hanteer.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König