Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (1)

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Eindtyd (1)

Berekenings

Die eindtyd is die tyd van die wederkoms van Christus. Daar is verskillende oortuigings onder Christene oor die eindtyd. Hulle verskil veral oor wanneer dit sal wees. Deur die eeue is daar telkens berekenings gemaak. Teen die jaar 70 nC was baie Christene oortuig dat dit die tyd vir sy koms is, en weer teen die jaar 100, 150, 350, 380, 500, 530, 1000, 1290, en talle datums daarna, tot onlangs in die jaar 2000. Daar is in hierdie verband ‘n opvallende verskynsel. Christene wat só bereken, bereken altyd dat Hy juis in hulle tyd sal kom. Daar was nie Christene wat in die jaar 100 bereken het dat Hy in 500 sal kom, of in die jaar 1000 dat Hy teen 2000 sal kom nie. Elke geslag soek getalle iewers in die Bybel wat op hulle tyd dui. Dit gee ‘n ongeloofwaardige trek aan hierdie berekenings. Getalle word taamlik willekeurig iewers in die Bybel gekry en “bewerk” tot dit juis op hulle tyd dui.

Dit is ook nie vreemd dat die berekenings nie werk nie. Op net twee bladsye in Matteus staan vyf keer dat ons nie sal weet nie wanneer Hy weer sal kom (Matt 24:36, 42, 44, 50; 25:13).

Daar is ‘n tweede rede waarom berekenings nie werk nie. Wag ons nog op die eindtyd, of leef ons lankal in die eindtyd? Het die apostels al in die eindtyd geleef?

  • Die laaste dae/Die eindtyd

Daar is ‘n aantal uitdrukkings wat in die Bybel in verband met die eindtyd gebruik word: die laaste dae, die einde, die voleinding, die laaste uur. Gewoonlik dink mense die tyd waarna hierdie uitdrukkings verwys, het in die tyd van die apostels nog ver in die toekoms gelê en dat ons maar nou eers hierdie tyd ingaan. Maar hierdie uitdrukkings het direk op die tyd van die Nuwe Testament betrekking.

“Die laaste dae” word nooit in die Nuwe Testament gebruik vir ‘n toekomstige tyd nie. In Hebreërs 1:2 lees ons dat God “in hierdie laaste dae met ons gepraat het deur die Seun” en dit verwys na die aardse optrede van Jesus. Volgens Petrus is die Heilige Gees in “die laaste dae” uitgestort (Hand 2:17). Jakobus noem die tyd waarin hy leef “die laaste dae” (5:3). Johannes noem sy tyd selfs “die laaste uur” (1 Joh 2:18). In dieselfde terme praat Paulus oor sy tyd as “die einde van die tye” (1 Kor 10:11) en die skrywer aan die Hebreërs verwys na Jesus se eerste koms as “die voleinding van die tye” (9:26). Vir baie lesers sal dit na ‘n vreemde siening lyk. Maar is dit nie wat duidelik in die Bybel staan nie?

Daar is ‘n paar verwysings wat wel geïnterpreteer kan word asof dit op die toekoms slaan. 2 Timoteus 3:1 lui: “In die laaste dae sal daar swaar tye kom.” Dui dit op die verre toekoms? Skynbaar tog nie. Die skrywer vervolg dat daar slegte mense sal kom, en eindig: “Bly weg van sulke mense af” (3:5). Die bedoeling is dus dat Timo-teus nog self hierdie slegte mense gaan beleef. “Die laaste dae” is dus die tyd waarin hulle geleef het. Dieselfde geld van 2 Petrus 3:3.

Daar is ook ander uitdrukkings wat daarop dui dat die laaste dae of die einde van die tye alreeds met Jesus se eerste koms aangebreek het. Hy kom om die *koninkryk van God te bring, en as Hy ‘n bose gees uit iemand uitdryf, verklaar Hy: “Aangesien Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom” (Matt 12:28).

Beteken dit dat Jesus se eerste koms regtig die laaste dae of eindtyd ingelui het? Dan kon daardie tyd mos nie vir die skrywers van die Nuwe Testament in die (verre) toekoms gelê het sodat ons nou eers die laaste dae ingaan nie.

Twee ander sake kan ons help om ‘n antwoord te probeer kry: Die nabyheid van die wederkoms en die tekens van die tye.

  • Die nabyheid van die wederkoms

Daar is min sake wat so algemeen deur so baie skrywers van die Nuwe Testament be­nadruk word soos die nabyheid van Christus se koms. Baie van ons ken hierdie uitdrukkings uit ons kop: dit is nie meer lank nie, die regter staan al voor die deur (Jak 5:8-9); die tyd is min, dit is die einde van die tye (1 Kor 7:29; 10:11); die tyd is naby, voor die deur (Matt 24:33; Mark 13:29); die nag is byna verby, dit is amper dag (Rom 13:12); dit is die laaste uur (1 Joh 2:18). Dit is almal uitsprake oor die wederkoms van Christus. Die Nuwe Testament is vol daarvan (Matt 24:33; Luk 21:28, 30; Mark 13:29; Rom 13:12; 16:20; 1 Kor 7:29; Fil 4:5; 1 Tess 4:17; Heb 10:37; Jak 5:8-9; 1 Pet 4:7; Op 1:1, 3; 3:11; 22:7, 12, 20).

Wat ons partykeer vergeet, is dat dit nie in die eerste plek vir ons tyd bedoel is nie, maar vir hulle tyd, die tyd van die eerste Christene. Die boodskap wat ons in die Nuwe Testament kry, is nie dat die einde teen die jaar 1000 of 2000 naby sal wees nie, maar dat dit teen die jaar 50 en 70 nC naby was. Jesus sê nie vir sy dissipels dat die mense wat in die verre toekoms leef, eendag sekere dinge sal beleef en dat hulle dan moet weet dat die einde naby is nie. Hy kyk sy dissipels in die oë met die woorde: “Julle sal hoor van … Hulle sal julle oorlewer … Wanneer julle sien … As iemand vir julle sê … So moet julle weet … ” (Matt 24:6, 9, 15, 23, 33). Die wederkoms was in daardie tyd naby.

Terloops, omdat die Here nog nie weer gekom het nie, glo ons vandag nog dat sy koms naby is. Ons sal later in hierdie bespreking aandag gee aan die vraag hoe om dit na soveel eeue te hanteer. (*Vertraging van die wederkoms)

Bring nou hierdie twee sake met mekaar in verband: die eind­tyd en die nabye wederkoms. Jesus se geboorte en die koms van die Gees was in die laaste dae. Trouens, die *opstanding van Jesus was die begin van die algemene opstanding. En die vroeë Christene glo die wederkoms is naby. Die twee pas presies byme­kaar. Hulle verwagting dat die wederkoms van Christus naby is, was volko­me logies. As Jesus in die laaste dae gekom het, moes sy weder­koms naby wees. En omdat hulle swaar gekry het en baie van hulle vervolg is, was dit ‘n brandende verlange dat die Here gou moet kom. Daarom lees ons in byna elke boek in die Nuwe Testament van die nabye wederkoms.

Ons kan dus nie daaraan twyfel nie: die vroeë Christene was oortuig dat hulle in die eindtyd geleef het en die Here enige oom­blik weer kon kom.

Dit bring egter dadelik die vraag na die tekens van die tye na vore, die tekens van die nabye wederkoms van Christus. Hoe kon die koms van Christus toe al naby gewees het as die tekens toe nog nie vervul is nie?

Outeur: Prof Adrio König




Die wederkoms van Jesus Christus

Die wederkoms van Jesus Christus – Francois Malan

Erika Taylor vra:

Inligting oor die wederkoms van Jesus

Antwoord:

Dr. Francois Malan antwoord:

1.     Jesus kom weer

Jesus het vir sy dissipels gesê Hy gaan om vir hulle plek gereed te maak in die huis van sy Vader, en as Hy gegaan het en vir hulle plek gereedgemaak het, kom Hy terug ‘en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is‘ (Johannes 14:2,3).

Paulus skryf: ‘Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees’ (1 Tessalonisense 4:16-17).

2.     Jesus kom as Regter oordeel

In Matteus 25:31-46 sê Jesus: ‘Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word en Hy sal die mense van mekaar skei soos ʼn wagter die skape van die bokke skei.’ Vir die skape sal Hy sê ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit…’ Vir die bokke sal Hy sê ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is…’

3.     Die oordeel is klaar gevel

Johannes 3:18 sê: Wie in die Seun van God glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. Vers 36 sê: ‘Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.’

4.     Ons sal verander word

Paulus sê: ‘Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. By die laaste trompet sal dit in ʼn oomblik, in ʼn oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike‘ (1 Korintiërs 15:51-53).

5 Wanneer?

Jesus het gesê: ‘…niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie’ maar ons moet altyd gereed wees (Matteus 13:32-37)

Oor die mense wat spot met die belofte van die wederkoms, sê Petrus vir die gelowiges hulle moet onthou ‘vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.’ Die dag van die Here sal so onverwags soos ʼn dief kom. Ons moet egter lewe in die verwagting dat die dag van God kom, met ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde waar die wil van God sal heers (2 Petrus 3:8-13).

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




Jesus kom weer (wederkoms)

Jesus kom weer (wederkoms)

Jesus is gekruisig, maar het uit die dood opgestaan. Hy is terug na sy Vader in die hemel toe. Maar die Bybel sê dat Hy weer terugkom om ons te kom haal (1 Tessalonisense 4:16-17; Johannes 14:1-3). Dan sal Hy ons na die huis van sy Vader in die hemel toe vat om vir ewig daar saam met God te leef. Dit noem ons sy wederkoms.

Daar is al van die vroegste tye af bespiegel wanneer die wederkoms van die Here gaan plaasvind. In 2 Petrus 3:8-9 word ons gewaarsku om nie te veel somme te maak nie. Die Here se tyd werk nie soos ons tyd nie. Vir Hom is ʼn duisend jaar soos een dag en omgekeerd. Jesus sal wel as die tyd ryp is weer kom. Dat die wederkoms gaan plaasvind, is seker. Ons weet net nie wanneer nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy