Vereistes vir ‘n wêreldsiening

 

“Pride is the devil’s dragnet in which he takes more fish than in any other, except procrastination.” C. H. Spurgeon

Vereistes vir ‘n wêreldsiening

‘n Wêreldsiening moet sekere sleutelvrae kan beantwoord:

  • Die werklikheid: Wat is werklik? Hoekom bestaan iets? Bestaan God?
  • Oorsprong: Waarvandaan kom ons?
  • Die menslike natuur: Wie is ons? Het ons regte en waarde? Wat is die oplossing vir ons probleme?
  • Bestemming: Wat gebeur as ek doodgaan? Is daar lewe na die dood en wat is die aard daarvan?
  • Kennis: Hoe weet ons? Hoekom moet ons in enigiets glo?
  • Etiek: Bestaan objektiewe morele waardes? Hoe kan ons reg van verkeerd onderskei?
  • Geskiedenis: Het die geskiedenis ‘n doel? Het die lewe enige betekenis?

‘n Wêreldsiening is nie net iets wat ons intellektueel glo nie. Dit behels ook ‘n oriëntering na of weg van God. Hierdie wêreldsiening is dikwels onbewus – soos ‘n huis se fondament: jy sien die nie, maar jy weet dit is daar. Voldoen jou wêreldsiening aan hierdie vereistes?




Wêreldsiening: Die Christelike wêreldsiening

Every living soul has a sphere of influence. Let him see to it that he fills it (J. C. Ryle)

 

Wêreldsiening: Die Christelike wêreldsiening

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Die Christendom is vandag die grootste godsdiens in die wêreld. Die middelpunt is Jesus Christus. Christene glo dat Hy nie alleen ‘n groot profeet en geestelike leermeester is nie, maar dat Hy die Seun van God en self ook God is – die Verlosser van die wêreld. Daar is ‘n persoonlike God wat volmaak in goedheid, kennis en mag is. God het die heelal uit niks geskep nie en onderhou dit voortdurend. Ons as mense is na die beeld van God gemaak om in ‘n persoonlike liefdesverhouding met Hom en ons naaste te leef. Daar is dus objektiewe morele standaarde vir die lewe: God se goeie en wyse gebooie wat opgesom kan word as liefde vir Hom en liefde vir die naaste.

 

Maar die mens het in opstand gekom teen sy Skepper en sy wette oortee. Daarmee bederf ons God se skepping en plaas onsself onder sy regverdige oordeel. Diep in ons harte is ons almal opstandig en verdien veroordeling. As gevolg van sy groot liefde en genade stuur God vir ons ‘n Verlosser – sy Seun Jesus Christus. Jesus Christus versoen ons met God. Dit doen Hy met sy kruisdood vir ons sondes en sy opstanding. God het sy verlossingsplan deur sy profete, apostels en veral deur Jesus Christus onthul. Hierdie openbarings kry ons in die Bybel.

Die grootste probleem vir die Christelike wêreldsiening is ongetwyfeld die probleem van die bose. As God volmaak is en alles goed gemaak het, hoekom is daar boosheid in die wêreld. Die Bybel gee ‘n aantal redes, maar nie een verklaar al die vrae nie. Maar as ons die Christelike wêreldbeeld met al die ander wêreldsienings vergelyk, bly dit die beste verklaring  vir die onderskeid tussen goed en sleg en ons ondervinding van goed en sleg in hierdie wêreld.

Die Christelike wêreldsiening het een baie belangrike bate: Jesus van Nasaret – die invloedrykste mens in die geskiedenis van die wêreld. Jy kan Hom nie ignoreer nie; iewers moet Hy in jou wêreldbeeld inpas. As jy hom nie in die middelpunt plaas nie, waar wil jy Hom dan plaas?

 




Wêreldsiening: Het Jesus van Nasaret uit die dood opgestaan?

There is an intolerance which is downright praiseworthy – that is, the intolerance of false teaching in the pulpit (J. C. Ryle)

Wêreldsiening: Het Jesus van Nasaret uit die dood opgestaan?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Om uit te vind wat mense van Jesus dink, is waarskynlik die doeltreffendste manier om die veld van jou wêreldsiening te vernou.  Elke teïstiese wêreldsiening het ‘n onderskeidende siening van wie Jesus is, wat Hy gedoen het en wat met Hom gebeur het. So byvoorbeeld maak die Christendom daarop aanspraak dat Jesus gekruisig is en op die derde dag weer opgestaan het. Dit was ‘n letterlike, fisiese en liggaamlike opstanding. Jesus keer terug uit die graf met dieselfde liggaam waarmee Hy die graf ingegaan het. Dit was nie net ‘n geestelike opstanding nie. Teïste wat nie Christene is nie, ontken die opstanding van Jesus.

 

Volgens die Nuwe Testament  as Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, is Hy nie die Seun van God nie en is die Christelike geloof nutteloos – dit is vals. As iemand Jesus se opstanding ontken, het hy ‘n nie-Christelike teïstiese wêreldsiening. Maar wat doen ons dan met Jesus van Nasaret? Dit is moeilik om te ontken dat Hy nie ‘n geskiedkundige persoon was nie. Hy het ook gesê dat Hy die Seun van God is en Hy het sy dood en opstanding voorspel. As Jesus nie was wat Hy gesê het Hy is nie, was Hy dan mal of het Hy mense mislei? Die beeld wat ons van Hom in die evangelies kry, is dié van iemand wat volledig in beheer van Homself en sy bestemming was en wat gewillig sy lewe vir ander neergelê het.

Ander mense sê dat Jesus ‘n groot leermeester was. Watter soort leermeester sal die aansprake maak wat Jesus gemaak het? Sal iemand wat net ‘n leermeester was daarop aanspraak gemaak het dat Hy uit die hemel gekom het, dat Hy en God een is, dat Hy die reg het om sondes te vergewe en dat Hy gesag het oor die heelal?

Ander sê dat Jesus opreg was in sy aansprake, maar dat sy aansprake verkeerd was. Jesus se aansprake was nie eksentries nie – hulle was fantasties. Kan ‘n goeie man by sy volle verstand nou so verkeerd in sy aansprake wees?

Jesus se aansprake is misverstaan. Wat Hy eintlik bedoel het, was dat ons almal in een of ander sin goddelik is. Dit beteken dat Jesus ‘n baie swak leermeester was – almal het Hom misverstaan.

As ons die tradisionele siening van Jesus verwerp, hoe hanteer ons dan die geskiedkundige bewyse vir sy opstanding. Al vier die evangelies beskryf sy opstanding as historiese getuienis van ooggetuies, Historici erken Jesus was ‘n ware persoon wat deur die Romeine gekruisig is in ongeveer 30. Dit word ook aanvaar dat sy dissipels oortuig was dat hulle Jesus na sy begrafnis weer lewend gesien het. Hulle sê selfs dat hulle met Hom gepraat het en saam met Hom geëet het. Die Christelike kerk se oorsprong was juis die getuienis van hierdie ooggetuies en dat Hy hiermee die profesieë van die Ou Testament vervul het. Sy volgelinge was gewillig om gespot, vervolg en selfs doodgemaak te word eerder as om hulle aansprake te verwerp.

As dit nie is wat gebeur het nie, wat het dan gebeur? Is daar ‘n beter verklaring vir die historiese bewyse?




Wêreldsiening: Het God met mense gekommunikeer?

Christ’s truth is seldom made a nation’s property, and kept a nations property, without pains, without struggles and without trouble.

 

Wêreldsiening: Het God met mense gekommunikeer?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

 

‘n Persoonlike wese het die vermoë om te kommunikeer. Mense kommunikeer met mekaar en hulle doen dit op verskillende maniere. Natuurlik kan God kommunikeer as Hy wil. Het Hy al gekommunikeer? Ja. Ons verwys hierna as God se openbaring. Dit is tog wat ons van ‘n persoonlike Opperwese sou verwag. Sy openbaring is in die openbaar: God het met mense individueel en kollektief gepraat – deur profete en deur sy geïnspireerde woord. Alle mense kan God se kommunikasie hoor of lees. Dit is nie ‘n geheime, private openbaring nie.

 

Mistisisme is die wêreldsiening wat die bestaan van God bevestig, maar die idee dat God met mense deur ‘n oop en openbare openbaring gekommunikeer het, verwerp. Hiervolgens praat God altyd met mense privaat en individueel. Dus: net ek kan weet wat God vir my gesê het. Wat God vir my sê, mag dan ook verskil van wat Hy vir jou sê. Hulle mag aanvaar dat God deur die Bybel praat, maar die hoogste en belangrikste kennis kom deur ‘n direkte, persoonlike ondervinding van Hom. Hulle glo ook dat as God deur die Bybel met mense praat hy dit op verskillende maniere vir verskillende persone doen. Met dieselfde teks kan God iets aan my kommunikeer en iets totaal anders as iemand anders. Die ware woorde van die Bybel is aan almal beskikbaar, maar wat God deur hierdie woorde wil kommunikeer is altyd privaat en individueel.

Vir baie mense is hierdie siening aantreklik, want dit impliseer dat God aan elkeen van ons persoonlike aandag gee. Daar is ook nie ‘n tekort aan mense wat daarop aanspraak maak dat hulle direkte, privaat openbarings van God ontvang het nie! Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat God dit as sy primêre vorm van kommunikasie sou kies. As God iets aan mense as ‘n groep wou kommunikeer, sou Hy eerder ‘n oop en openbare  wyse verkies het – dit sou tog net meer gepas en prakties gewees het.

Die probleem met mistisisme is dat ons geen manier het om tussen teenstrydige aansprake te oordeel nie. Hoe weet ons nou wat God van ons verwag? Ons het tog ‘n openbare en objektiewe manier nodig om te bevestig wat God aan ons gekommunikeer het. Nou is dit altyd my woord teen jou woord. Dit lei tot godsdienstige anargie. Dit is tog nie die toestand waarin God wil hê ons moet wees nie.

Het God openlik met mense gekommunikeer? As ons glo dat God ‘n persoonlike Opperwese is, sou ons verwag dat Hy openlik met ons sal kommunikeer. God praat met mense openlik en kollektief (deur profete en die Bybel), eerder as in die geheim en individueel. Dit mag wees dat sekere mense nie direkte toegang tot God se openbaring het nie, maar in beginsel kan alle mense God se openbaring hoor of lees. Dit is nie ‘n geheim of verborge of privaat nie – dit is vir almal beskikbaar. God is nie soos ‘n onderwyser wat privaat lesse vir sy leerlinge gee nie.

Volgende keer gaan ons oor nog ‘n belangrike vraag praat: Het Jesus uit die dood opgestaan?