Wêreldsiening: Relativisme

Take the first step in faith. You don’t have to see the whole staircase, just take the first step – Martin Luther King Jr

Wêreldsiening: Relativisme

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

Relativisme is die wêreldsiening dat daar nie so iets soos die objektiewe waarheid is nie. Wat ons dus die waarheid noem, is altyd relatief tot iets anders. Sommige mense wat so dink, aanvaar dat die waarheid altyd relatief tot ‘n individuele persoon is. Hulle praat dus van “wat vir my waar is” en wat vir jou waar is. Hierdie twee “waarhede” hoef nie noodwendig dieselfde te wees nie. Maar daar is ook die kulturele relativiste – hulle sê dat die waarheid relatief tot ‘n persoon se kultuur of gemeenskap is. Hulle sal praat van wat waar is vir mense van verskillende godsdiensgroepe – wat waar is vir Christene is nie noodwendig waar vir Boeddhiste nie.

 

Relativisme sê nie net dat mense verskillende dinge glo of verskillende idees het nie. Wat hulle sê is dat die waarheid verskil van persoon tot persoon en van kultuur tot kultuur. Hulle ontken dat daar objektiewe feite is oor die werklikheid wat vir almal dieselfde moet wees. Feite is net so relatief soos die waarheid. Relativisme is vandag algemeen. Daar is egter twee ernstige probleme:

  • Dit is strydig met ons basiese intuïsie van die waarheid. As ek sê dat planeet aarde een maan het, is dit tog waar vir almal.
  • Relativisme is selfvernietigend. Hulle aanspraak dat daar geen objektiewe waarheid is nie, is dit objektief waar? Hier is duidelik ‘n teenstrydigheid. As dit nie objektief waar is nie, kan relativisme tog nie aanspraak maak op universele aanvaarding nie.

Vir die relativis is almal reg – relatief. Beteken dit nou dat nie-relativiste net so reg soos relativiste kan wees? Dit klink nie reg nie. Dit is baie moeilik om te sê dat daar geen objektiewe waarheid is nie.

Hierdie gedeelte lei onmiddellik na ‘n volgende vraag: Is dit moontlik om die waarheid te ken?




Wêreldsiening: Het jy die mag om vry keuses te maak?

Some things in life do not fit neatly into a schedule – Laura Schroff

Wêreldsiening: Het jy die mag om vry keuses te maak?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

 

Ons maak keuses – die hele tyd. Soms kom ons dit nie eers agter nie. Maar is hierdie keuses vry? Is ons keuses slegs die stimulus gevolg deur reaksie uitsette van jou brein? Of is hulle die vrye keuse van ‘n moreel verantwoordelike agent. Het jy die mag om vrye keuses te maak?

Mense, anders as rekenaars en robotte, het die vermoë om vrye keuses te maak. Ons kan nadink oor ons opsies en dan kies tussen verskeie moontlike optredes. Ons word verantwoordelik gehou vir ons keuses – en dit met reg. Hoe jy kies om te reageer mag baie belangrike implikasies vir jou lewe en die lewens van ander hê.

 

Voordat ons ‘n keuse maak, moet ons eers besluit of daar iets soos die objektiewe waarheid is. Is alles nie maar net relatief nie? Wat waar is vir een persoon is nie noodwendig waar vir die volgende persoon nie; wat waar is vir mense in een kultuur is nie noodwendig waar vir mense in ‘n ander kultuur nie. Mense wat so dink, glo nie dat die waarheid “daar buite”  – iets wat ons moet ontdek –  is                                                                                                                                                                                                                                                                                        nie. Hulle glo die waarheid is iets wat jy self skep of vir jouself kies. Die waarheid is altyd in ons en  nie “buite” ons nie. ‘n Stelling soos “daar is ‘n God” is waar vir sommige mense, maar nie vir alle mense nie. Wat waar is, is altyd relatief tot jou siening, konteks of kultuur. Ons kan dus nie van “die waarheid” praat asof dit vir almal geld nie. Ons moet dus eerder van my waarheid praat.

Daar is ander mense wat glo dat sekere waarhede – insluitend die belangrikste waarhede – objektief waar is. Daar is sekere dinge wat waar is, maak nie saak wat jy dink of voel of hoop oor hierdie sake nie. Die objektiewe waarheid is vir almal waar, want dit berus op objektiewe feite oor die werklikheid – dit staan los van die idees, begeertes en gevoelens van mense.  Is daar enige objektiewe waarheid?

Om verder hierna te kyk, gaan ons volgende keer na relativisme kyk.




Wêreldsiening: Wat is dit?

“All you Christians, missionaries and all, must live more like Jesus Christ.”  –  Mahatma Gandhi 

 

Wêreldsiening: Wat is dit?

James N. Anderson het ‘n baie interessante, interaktiewe boek geskryf: What’s your Worldview? Ek gaan onder andere hiervan gebruik maak in ‘n aantal blogs.

 

‘n Wêreldsiening is ‘n oorhoofse siening van die wêreld. Dit is nie ‘n fisiese siening nie; dit is ‘n filosofiese siening van die wêreld. Maar dit is ‘n siening nie net van ons planeet nie, maar van die totale werklikheid – dit is ‘n allesomvattende perspektief op alles wat bestaan en vir ons saak maak. Jou wêreldsiening verteenwoordig die fundamentele van wat jy glo en jou aannames oor die heelal waarin jy woon. Dit weerspieël hoe jy al die groot vrae van die mens se bestaan – daardie fundamentele vrae wat ons oor die lewe, die heelal en alles – sal antwoord. Is daar ‘n God? Hoe is Hy? As daar nie ‘n God is nie, maak dit saak? Wat is die waarheid en kan iemand dit antwoord? Waar kom die heelal vandaan en waarheen is dit op pad? Wat is die sin van die lewe? Het my lewe ‘n doel, en indien wel, wat is dit? Is daar lewe na die dood?

Almal van ons het ‘n wêreldsiening, maar ons praat selde daaroor. Ons kan nie daarsonder leef nie, maar nie almal is bewus daarvan dat hulle een het nie. Dit is onontbeerlik vir ons denke – ons kan nie in ‘n vakuum dink nie. Jou wêreldsiening sit altyd in die agtergrond van jou denke. Dit beïnvloed wat jy sien en hoe jy dit sien.

 

Jou wêreldsiening bepaal grotendeels jou opinie oor etiese sake en oor politiek. Jou siening oor aborsie, genadedood, homoseksualiteit, buitelandse hulp, die gebruik van militêre mag word tot ‘n groot mate deur jou onderliggende wêreldsiening bepaal. Ons wêreldsiening speel ‘n sentrale en beslissende rol in ons lewens. Dit vorm wat ons glo en wat ons gewillig is om te glo, hoe ons ons ondervindings interpreteer, ons verhouding met ander.

Ons kies nie ‘n wêreldsiening nie, want ons het reeds een al is ons nie daarvan bewus nie. Ons moet bepaal wat ons wêreldsiening is. Dit is nie so maklik om jou wêreldsiening te verander nie.  Om jou wêreldsiening te bepaal, moet jy vir jouself ‘n paar vrae vra. Die eerste vraag waarna ons gaan kyk, is: Het jy die mag om vrye keuses te maak?




Die moderne wêreldsiening – ‘n groot misverstand.

. —Jerry Bridges

Die moderne wêreldsiening – ‘n groot misverstand.

Die groot verskil tussen die wêreldsiening van die vroeë Christene en ons vandag is dat die een antiek en die ander een modern is. Omdat ons in ‘n moderne wêreld leef, moet ons die antieke siening verwerp. Dit is immers ontwikkel voor die moderne wetenskap en is gebaseer op onkunde en bygelowe. Ons aanvaar die moderne wêreldsiening, want dit is op die fondament van die wetenskap, tegnologie en wysheid van die moderne “vry” samelewing gebou.

N. T. Wright (The Case for the Psalms) sê dit berus op ‘n groot misverstand. Die groot verskil het niks met antiek en modern te doen nie; dit het feitlik niks met die ontwikkeling van die moderne wetenskap te doen nie.

Die groot verskil was dat die vroeë Christene eerste eeuse Jode was wat geglo het dat Israel se God sy ou beloftes in Jesus Christus vervul het. Hulle glo aan een God, Skepper van alles, wat die wêreld gemaak het en steeds ‘n aktiewe en dinamiese verhouding met die hele skepping het. Hulle het geglo dat God belowe het om na sy mense terug te keer en om sy soewereine heerskappy op die aarde soos in die hemel te vestig. Hulle het in Jesus van Nasaret en die krag van die Heilige Gees wat in hulle lewens aan die werk was, geglo. Dit is hoe God sy beloftes vervul het.

Dit glo die vroeë Christene in ‘n wêreld met baie verskillende wêreldsienings en filosofieë. Een van hierdie filosofieë was dié van Epikurus. Hy glo dat die wêreld nie deur God of die gode geskep is nie. As daar wel sulke wesens bestaan, is hulle ver van die wêreld en sy mense verwyder. Volgens hom leef ons in ‘n wêreld wat deel van ‘n selfontwikkelende heelal is – ‘n wêreld wat onder eie stoom ontwikkel, vooruitgaan en agteruitgaan. Hierdie filosofie was aantreklik, want dit verwyder die mens se vrees vir die gode – hulle is immers ver weg. Die gevolg is die mens kan maar net sy skouers optrek en die lewe na die beste van sy vermoë geniet.

Is dit nie die filosofie wat ons moderne wêreld grootliks aanvaar het nie? Die probleem is nie dat as ons byvoorbeeld die psalms lees hulle oud is en ons moderne siening nuut is nie. Daar was ‘n hele aantal antieke wêreldsienings. Party se fondament was die Bybel; ander was op ander sienings en filosofieë gebou. Ons huidige moderne wêreldsiening is niks meer modern as die wêreldsiening van die vroeë Christene nie. Wetenskaplikes interpreteer hulle waarnemings binne die raamwerk van Epikurus – God staan los van die wêreld. Dit is nie ‘n moderne siening nie, alhoewel ons dit as iets nuuts beskou.

Die Bybelse wêreldsiening is meer antiek en terselfdertyd meer modern as die siening van Epikurus wat vandag beskou word as ons “moderne” wêreldsiening – ‘n groot misverstand en misleiding.